
Danie van Wyk (foto: verskaf)
“Dit is duidelik dat die DA nie oor ’n praktiese en werkbare taalbeleid beskik nie. Die afwesigheid is hoorbaar en strek nie die inwoners tot eer nie,” sê Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van DAK Netwerk.
Suid-Afrika het 11 amptelike tale. Daar is ’n beroep op die owerhede om gebaretaal asook die Khoi-taal by te voeg en as amptelik te erken. Na 30 jaar van ’n demokratiese bestel wat almal moes akkommodeer, kon ons nog nie daarin slaag om beslag aan hierdie grondwetlike opdrag te gee nie.
Die Wes-Kaap gee erkenning aan drie amptelike tale, te wete Afrikaans, Engels en isiXhosa. Dit is egter duidelik dat Engels die voorkeurtaal is en dit word ook so deur die regerende DA geёndosseer. Engels is die dominante taal en dit is duidelik dat Afrikaans en isiXhosa as minder geag word en nie dieselfde status as Engels geniet nie. DA-beheerde munisipaliteite se webwerwe is in Engels; al is dit ook die kleinste (let wel – Afrikaanse) dorpie – Engels voer altyd die botoon. Dit laat my dink aan die gedig van CP Hoogenhout aan die begin van die vorige eeu:
Engels! Engels! Alles Engels
Engels wat jy sien en hoor.
In ons skole, in ons kerke
Word ons moedertaal vermoor …
Wie hom nie laat anglisere nie,
Word geskolde en gesmaad.
Dit word openlik deur die DA bevorder – en dui op geen respek vir die ander twee tale nie. Daar is nog nie hoorbare ondersteuning vir moedertaalonderrig of veeltaligheid deur die party genoem nie. Die stilte is hoorbaar alhoewel daar uitsprake was oor die erkenning van Afrikaans as ’n inheemse taal. Dit was dus geen verrassing toe daar skielik op die wa gespring is om Afrikaans as inheemse taal erken te kry nie. Alhoewel dit as ’n gesamentlike poging gesien was, het die DA die oorwinning opgeëis.
Wat ironies is, is dat die ANC-beheerde Mangaung-stadsraad hul Hansard publiseer in Afrikaans, Engels en Suid-Sotho, iets waarvan die DA kennis kan neem en van kan leer. Kaapstad klink en lyk soos ’n Europese stad. Dit herinner my sterk aan Sydney, Australië, toe ek daar besoek afgelê het. Jy merk dit op vandat jy in die aankomssaal is tot jou wandeling en reise deur die stad.
Met die arrivering op Kaapstad Internasionaal word jy onmiddellik gekonfronteer met slegs Engelse aankondigings en aanwysingsborde, en dit geld vir alle lughawens in Suid-Afrika. Op lughawens soos Schiphol in Amsterdam, Berlyn, Parys, en stede wat ek in Suid-Asiatiese lande besoek het, is daar kennisgewings in die plaaslike taal, asook in Engels. Jy weet onmiddellik waar jy jou bevind.
Die Wes-Kaap is die enigste provinsie wat ’n grondwet aanvaar het ingevolge hoofstuk 6 van die Grondwet van die Republiek. Dit is op 11 September 1997 in die wetgewer aanvaar en op 15 Januarie 1998 deur die premier, Hernus Kriel, onderteken. Hierdie grondwet stel dit onomwonde dat die drie amptelike tale van die Wes-Kaap Afrikaans, Engels en isiXhosa is. Die sensusopname van 2011 het dit duidelik gestel dat 95% van die bevolking van die Wes-Kaap een van die tale as huistaal besig. ’n Opname van 31 Oktober 2022 het bevind dat die sprekers van die verskillende amptelike tale as volg daar uitsien: Afrikaans 49,7%, Engels 20,3% en isiXhosa 24,7%. Dit het verder sonder twyfel bewys dat die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekers is, met minder isiXhosa, en dat die minste Engelssprekendes is.
..............
Die gebruik van Afrikaans in howe en in plaaslike regerings is afgeskaal tot nul. Dit is asof die DA die plaaslike bevolking ignoreer as dit by Afrikaans en/of isiXhosa kom.
...............
Die gebruik van Afrikaans in howe en in plaaslike regerings is afgeskaal tot nul. Dit is asof die DA die plaaslike bevolking ignoreer as dit by Afrikaans en/of isiXhosa kom. Daar sou wou gesien word dat die party ’n doelgerigte taalbeleid het om alle tale en hul sprekers te akkommodeer. Ook lees jy nêrens dat die DA uitsprake maak ter ondersteuning van moedertaalonderrig nie. Dit is onduidelik wat hul taalbeleid is. Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het totaal verengels. Amptelike kommunikasie geskied grootliks in Engels. Aanlyn aansoeke vir vakatures in skole moet in Engels geskied. Dit benadeel Afrikaans en isiXhosasprekers. Indien die WKOD ernstig sou wees met hul taalbeleid, sal hulle hul aanlyn platforms in al drie amptelike tale van die Wes-Kaap beskikbaar maak.
Dit geld vir alle provinsiale staatsdepartemente – van gesondheid, vervoer, plaaslike regering en landbou tot die res. Opleiding in hierdie departemente geskied slegs in Engels. Ek het ’n geval in Atlantis gehad waar ’n departementele amptenaar, wat ek ken en wat Afrikaanssprekend is, opleiding aan die lede van skoolbeheerliggame in Atlantis in Engels aangebied het. Tydens teetyd het van die lede na my gekom en genoem dat hulle nie verstaan wat gesê word nie, want hulle verstaan nie Engels nie. Ek het die amptenaar meegedeel, en sy verskoning was dat die leermateriaal slegs in Engels beskikbaar is.
Dissiplinêre verhore geskied grootliks in Engels, want die klagstate word slegs in Engels beskikbaar gestel. Daar is voorsittende beamptes wat nie Afrikaans magtig is nie en dit benadeel persone wat verhoor moet word. Departementshoofde gee nie veel aandag hieraan nie. Dit is asof hulle ’n opdrag van hulle politieke hoofde het dat die taal van kommunikasie Engels moet wees.
Twee jaar gelede het ek ’n afvaardiging gelei na die destydse minister van onderwys, Debbie Schäfer, waarin ons haar gaan spreek het oor die klaarblyklike verengelsing van die WKOD. Sy het dit uit die aard van die saak ontken, en in die teenwoordigheid van haar onderwyshoof, Brian Schreuder, gesê dat ons kommer en die kwessies aangespreek sal word en dat hulle daaraan aandag sou gee. Daar kan getuig word dat van daardie besoek niks gekom nie. Ons het agterna besef dat dit slegs leë woorde was.
Ek was ook deel van ’n afvaardiging van die Afrikaanse Taalraad (ATR) wat die destydse premier, Helen Zille, ook oor dieselfde kwessie gaan spreek het – naamlik die verengelsing van die Wes-Kaap se provinsiale departemente. Soos enige ander politikus het sy ons hand en mond belowe dat sy persoonlik die kwessies sou aanspreek. Daarvan het ook niks gekom nie. Op ’n stadium het ons Ivan Meyer, Anchen Dreyer en ander DA- lede van die parlement gespreek en spesifiek ook verwys na die aanwysings by Kaapstad Internasionaal wat nie die taaldiversiteit van die Wes-Kaap weerspieël nie.
...........
Daar was ook verwys na die webwerwe van munisipaliteite onder DA-beheer, waarvan die meerderheid in die Wes-Kaap is, en wat slegs in Engels beskikbaar is. Soos die geval by die ander samesprekings was, het dit ook op dowe ore geval.
.............
Daar was ook verwys na die webwerwe van munisipaliteite onder DA-beheer, waarvan die meerderheid in die Wes-Kaap is, en wat slegs in Engels beskikbaar is. Soos die geval by die ander samesprekings was, het dit ook op dowe ore geval.
Die volgende kan aanvaar en afgelei word:
- Die DA neem nie die grondwet van die Wes-Kaap in ag as dit by taalkwessies kom nie. (Ek verwys spesifiek na die hierdie grondwet wat onderhewig is aan die Nasionale Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996.)
- Die DA kom nie hul grondwetlike verpligting na deur die handhawing van die amptelike tale van die Wes-Kaap nie.
- Die DA beskik oor geen werkbare Wes-Kaap-taalbeleid nie.
- Die DA ondersteun nie die belang van moedertaalonderrig nie.
- Die DA het geen erns met die bevordering van isiXhosa nie.
DAK Netwerk en ander organisasies vra vir ’n taalberaad waar al hierdie uitdagings aangespreek kan word en waar verskeie rolspelers betrokke sal wees. Slegs dan sal ons weet wat die toekoms van veeltaligheid in die Wes-Kaap sal wees.
Danie van Wyk
Uitvoerende voorsitter
DAK Netwerk
Lees ook:
’n Dekoloniale toekoms? Musiek, ras en taal aan die Universiteit Stellenbosch
#NtuliMustRepresentAll: Nuwe UV-Taalbeleid moet ook Afrikaanse studente verteenwoordig
US-taaldebat 2021: Stellenbosch se taalbeleid lankal onsmaaklik en toksies
US-taaldebat 2021: Die wat en waarom van die Maties-Taalbeleid
Power crisis: Will Cape Town go completely off the Eskom grid?
Top-tien-opvoeders in die Wes-Kaap: ’n onderhoud met Robyn van de Rhede
Kommentaar
Danie, jy is heeltemal reg. Die DA het nie ’n taalbeleid nie (andersins sou ons daarvan geweet het). Die vraag is dan: kan hulle vertrou word as hulle oor meertaligheid praat?