Bruin nasionalisme in die Wes-Kaap?

  • 0

Dit is nogal heel aandagtrekkend hoe Peter Marais die Wes-Kaap as ’n semi-onafhanklike federale staat wil laat onvorm om bruin mense se herkoms en politieke regte te wil uitbou en beskerm.

In ’n onlangse toespraak by die Maynardville-jeugfees in Wynberg het Marais, ‘n voormalige Wes-Kaapse premier, ‘n interessante en ook hoogs aanvegbare stelling gemaak oor die politieke en ekonomiese posisie van bruin mense in postapartheid Suid-Afrika.

Hy sê: “Die opkoms van bruin nasionalisme was aangewakker deur die verslag van die VVO se gesant oor inheemse volke in Suid-Afrika in 2005 wie ons as Eerste Nasie verklaar het.”

Van watter “bruin nasionalisme” praat Marais? Miskien moet hy ons vertel, want nasionalisme is ’n gevaarlike speletjie wat versoening op die duur skade kan berokken.

In 1951 het NP Van Wyk Louw hom in ’n essay soos volg uitgelaat: “Die nasionalistiese selfverheerliking van volke lei tot minagting van ander volke en is uiteindelik die oorsaak van die meeste oorloë.”

Dat daar ’n hindernis is by baie bruin mense oor hul politieke en ekonomiese posisie sedert 1994 is nie te betwyfel nie. Afstigting in die vorm van ’n semi-outonome federale staat in die Wes-Kaap is egter nie die antwoord nie. Die heil van bruines lê reeds daarin opgesluit om saam met Suid-Afrikaners van alle politieke, taal-, ras- en etniese oortuiging ’n gesamentlike toekoms binne die grense van die huidige grondwetlike bestel te bou.

Hoekom moet bruines binne die konteks van ’n federale grondwetlike bedeling weg van die meerderheid Suid-Afrikaners polities en ekonomies beskerm word? Teen wie moet bruines beskerm word? Hoekom kan bruines nie binne die heersende multikulturele politieke opset gedy en hulle polities en ekonomies suksesvol handhaaf nie?

Indien die Wes-Kaap ’n semi-onafhanklike federale staat sou word, wat gaan van bruines buite die Wes-Kaap word? Wat gaan word van ander groepe – soos wittes en swart mense – wat tans in dié provinsie woon?

Die belangrikste vraag is of bruin mense in staat sou wees – ten spyte van die feit dat hulle die meerderheid in die Wes-Kaap is – om dié provinsie alleen te kan regeer. Die huidige toedrag van sake is dat die Wes-Kaap deur hoofsaaklik wit mense – wat meestal voormalige lede van die ou Nasionale Party is wat intussen by die DA aangesluit het – beheer en regeer word.

Bruines in die land, en veral in die Wes-Kaap, het tans die laagste studentegetalle by hoëronderwysinstellings. So ook is die meerderheid jeugdiges wat in die tronk is, bruin. Hoe gaan die situasie hanteer word om te verseker dat bruines wel in staat sou wees om ’n suksesvolle regering, soos in die vorm waarvoor Marais voorspraak maak, in die Wes-Kaap vorm?

Marais noem ook in sy toespraak dat die Wes-Kaap 80% Afrikaans is en dat dit groter outonomiteit ten opsigte van dié taal as kommunikasiemiddel en vakkeuses by skole en universiteite in dié provinsie sal beteken.

Die problematiek is dat die bruin middelklas nou al vir jare besig is om te verengels. Hulle stuur hul kinders na oorwegend Engelse skole. Hoe gaan Marais dié probleem oplos?

Dit lyk eerder vir my asof bruines meer hoofbrekens het as wat daar antwoorde vir dié uitdagings bestaan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top