
Foto van Robyn van de Rhede: verskaf
Robyn van de Rhede, wat op LitNet se #opdielug te hore is, is onlangs as een van die Wes-Kaap se top-tien-opvoeders aangewys. Sy praat met Naomi Meyer oor haar passie vir die onderwys.
- Robyn, jy is onlangs as een van die top-tien-onderwysers in die Wes-Kaap aangewys. Baie geluk! Dis ’n groot prestasie. Vertel my asseblief wat die toekenning vir jou beteken het.
Ek is nog steeds oorweldig en geskok. Om in dieselfde asem genoem te word as soveel goeie onderwysers in die Wes-Kaap, is werklik ’n groot eer vir my! Dit is vir my ’n bevestiging dat harde werk, deursettingsvermoë en om die leerder eerste te plaas nie ongesiens verbygaan nie. Ek is innig dankbaar vir hierdie toekenning en dit sal my altyd bybly!
- Jy is ’n drama-onderwyser by Apex High School in Eersterivier. Vertel my asseblief hoe jou daaglikse roetine en werk lyk.
Ek is soggens 06:30 by die skool vir my eerste vergadering wat reeds 07:00 begin. As graad 8-graadvoog moet ek ouers se werksure tegemoet kom, en sien hul dus 07:00. Twee keer ’n week is daar ook ’n seniorbestuursvergadering en ’n vergadering met die coaches. (Ons volg ’n model waar elke onderwyser in ons skool, insluitende die hoof, ’n coach het. Net soos ’n atleet ’n coach nodig het om te verseker dat hy/sy altyd aan tegniek werk, het onderwysers ook ’n coach nodig om te verseker dat hulle daagliks aan hul tegnieke werk.) In die coach-vergadering kyk ons na data wat in die week ingesamel is. Hierdie data sal dan aandui op watter area ons moet fokus – op die bestuur van die klas of op die manier waarop die les aangebied word. Ek het dan ook geskeduleerde coach-sessies met die vier onderwyseresse saam met wie ek werk – ek besoek hul klasse daagliks en observeer elkeen, en ons het gevolglik ’n weeklikse terugvoersessie waarin ons die data van die observasie bespreek en analiseer. Een periode per dag word afgestaan aan my graad 8’s – hier let ek op hul dissipline soos aangeteken op ons demerit-stelsel. Naas die vergaderings en observasies bied ek Dramatiese Kunste vir graad 10–12 aan. In die klas saam met my leerders is die beste deel van my dag!
- Waarom het jy besluit om ’n onderwyser/opvoeder te word, en is jou redes vandag nog dieselfde as toe jy besluit het dis wat jy gaan studeer?
Ek wou verskeie beroepe volg – tandarts, veearts ... Maar ek het toe uiteindelik op drama en teater besluit. Ek het nog altyd ’n passie daarvoor gehad om voor mense te praat en hulle te entertain! Ek het vanaf graad 1 in skoolkonserte gespeel, maar die toneelspeelgogga het amptelik gebyt toe ek in graad 6 die rol van Mrs Potiphar in Joseph and the amazing technicolour dreamcoat gespeel het. Op hoërskool neem ek die vak Dramatiese Kunste en neem deel aan verskeie dramakompetisies. Dis toe dat ek besluit het om aansoek te doen vir Drama- en Teaterstudie. Na my drie voorgraadse jare het ek besef die akademiese kant van die teater interesseer my! So studeer ek verder en voltooi my honneurs en meesters in Drama- en Teaterstudie. My fokus verskuif toe na die Kaapse Kleurling en hoe ons verteenwoordig word binne ’n post-1994 teaterruimte. Tydens my nagraads jare het ek afgelos in dramaposte. Dis daar waar ek ’n liefde daarvoor ontwikkel het om saam met kinders te werk. Daar is iets spesiaals daaraan om saam met rou talent te werk! Ek het uiteindelik my Nagraadse Onderwyssertifikaat behaal en van daardie tyd af skoolgegee. Ek doen nog steeds werk in die industrie, maar my groot liefde lê by skoolgee. In ’n klas met leerders is waar ek tuis voel!

Foto: verskaf
- Wat is vir jou belangrik om vir kinders te leer, of wat is doodgewoon belangrik om as onderwyser te leer as jy in die roeping is?
Afgesien van die inhoud van jou vak, moet jy ’n leerder voorberei vir die lewe daar buite. Ons skool bied vir ons leerders ’n veilige hawe met struktuur, maar die wêreld daar buite is wreed. As onderwyser het ek die geleentheid om ’n jong individu te help vorm en bou vir die toekoms, en drama as vak help hulle baie! Drama help jou om selfvertroue te bou, om buite die boks en kreatief te kan dink, om met mense te kan werk, om empatie te toon en om emosies te kan ervaar en verwerk. Dis alles vaardighede wat nodig is vir enige werk. Ons behandel alledaagse kwessies en leerders moet daarmee kan worstel en opinies vorm. Ons is passievol en kyk die kwessies vierkantig in die oë! Ons praat oor die wreedhede van die wêreld en ons praat oor hoe ons anders moet lewe om te kan wegkom van die wreedheid. Dit mag onmoontlik klink, maar leerders moet leer dat hulle iets moeiliks kan aanpak – live with that growth mindset!
- Ek verwys daarna as ’n roeping, maar dalk stem jy nie saam nie. Ek het al gehoor onderwysers sê dit moet jou passie wees. Want sowaar, dis nie maklik om met jongmense te werk nie. ’n Mens het ’n droom en ideale, maar elke dag het sy uitdagings. Is ek reg? Vertel wat is vir jou moeilik, as jy bereid is om dit te deel.
Dramatiese Kunste is ’n keusevak, dus wíl die leerders in my klas daar wees – of dit nou is om ’n droom uit te leef van akteur word, om selfvertroue te bou, of selfs om te leer hoe om sin te maak van emosies! Drama is harde werk en hulle sukkel by tye om by te bly, want ek is geneig om hard op hulle te wees – ons verwys daarna as “stretching the talent” – daar moet ten minste een volwassene, naas ’n ouerfiguur, wees wat ’n leerder druk om elke keer beter te doen as ’n vorige keer. Maar dis nie altyd maklik nie. Ek werk in ’n area met bendegeweld, alkohol- en dwelmmisbruik, tienerswangerskap, geslagsgebaseerde geweld, gebroke huise en armoede – hierdie kwessies affekteer my leerders op ’n daaglikse basis. Ek is by tye verstom oor hul keuse van tekste vir hul prakties. Ek wonder dan: Kies jy hierdie stuk omdat jy daarmee kan vereenselwig? Het dit al met jou gebeur? Ken jy iemand met wie dit gebeur het? Of is dit die norm rondom jou? Hierdie jaar het ek leerders wat, onder andere, uittreksels doen uit Dis ek, Anna (Elbie Lötter) en Susters van Eva (Dalene Matthee). ’n Mens is dan bekommerd. Maar hierdie tekste gee hulle die geleentheid om daardeur te werk – om die emosie van die verskeie karakters te verwerk en keuses te maak rondom hoe om te reageer.
...........
Ek is by tye verstom oor hul keuse van tekste vir hul prakties. Ek wonder dan: Kies jy hierdie stuk omdat jy daarmee kan vereenselwig? Het dit al met jou gebeur? Ken jy iemand met wie dit gebeur het? Of is dit die norm rondom jou? Hierdie jaar het ek leerders wat, onder andere, uittreksels doen uit Dis ek, Anna (Elbie Lötter) en Susters van Eva (Dalene Matthee). ’n Mens is dan bekommerd. Maar hierdie tekste gee hulle die geleentheid om daardeur te werk – om die emosie van die verskeie karakters te verwerk en keuses te maak rondom hoe om te reageer.
.............
Maar ongelukkig kan ek nie altyd almal help nie. Ek soek altyd hulp vanaf borge om byvoorbeeld teateruitstappies te kan reël of om aan kompetisies deel te neem, want ek weet my leerders sal dit nie kan bekostig nie.
- Hoe maak ’n mens ’n verskil as onderwyser/opvoeder in ’n skool met baie uitdagings in ’n omgewing soos waar Apex High is (https://www.news24.com/parent/learn/learning-difficulties/super-school-apex-high-we-showed-that-we-are-willing-to-do-whatever-it-takes-20201126)?
............
Jy doen whatever it takes! Of dit nou beteken jy bel verskeie maatskappye op soek na borge, of jy spandeer 12 ure by die skool vir repetisies, of jy doen networking in die industrie op soek na komplimentêre kaartjies, of jy gaan laai ’n leerder in die aand in die hartjie van die township af ... Jy doen whatever it takes!
................
Jy doen whatever it takes! Of dit nou beteken jy bel verskeie maatskappye op soek na borge, of jy spandeer 12 ure by die skool vir repetisies, of jy doen networking in die industrie op soek na komplimentêre kaartjies, of jy gaan laai ’n leerder in die aand in die hartjie van die township af ... Jy doen whatever it takes! Baie van hierdie leerders soek net daardie een volwassene wat vir hulle sê “you’ve got this”, en jy kan ’n kind se wêreld verander! En jy volg die trends – almal het die Jerusalema challenge gedoen en ons het ook! Ons staan op die oomblik op 42 000 views vir ons video! En deur iets so eenvoudig te doen soos deelneem aan ’n challenge, laat jy hulle so normaal voel soos enige ander leerder. En dis tog al wat hulle wil hê – iemand wat daaroor omgee om hul skoolloopbaan so fun as moontlik te maak!
- Ek het jou op ’n LitNet-insetsel hoor praat oor kinders wat tuis Afrikaaps praat, maar by die skool in Afrikaans (of Engels) hul vrae moet beantwoord. Deel asseblief jou gedagtes hieroor met mense wat die onderhoud lees.
Soos voorheen genoem, het ek in my nagraadse navorsing gefokus op die Kaapse Kleurling en gevolglik die Kaapse Vlakte en alles wat daarmee gepaardgaan. Ek het my skoolloopbaan in voormalige model C-skole voltooi, maar het nog net skoolgegee in skole op die Kaapse Vlakte – hier waar leerders Afrikaaps praat, maar tog verkies om in ’n Engels Huistaalklas te sit. Hulle sukkel om hulself te kan uitdruk in Engels en is amper skaam as dit kom by Afrikaaps.
............
Soos voorheen genoem, het ek in my nagraadse navorsing gefokus op die Kaapse Kleurling en gevolglik die Kaapse Vlakte en alles wat daarmee gepaardgaan. Ek het my skoolloopbaan in voormalige model C-skole voltooi, maar het nog net skoolgegee in skole op die Kaapse Vlakte – hier waar leerders Afrikaaps praat, maar tog verkies om in ’n Engels Huistaalklas te sit. Hulle sukkel om hulself te kan uitdruk in Engels en is amper skaam as dit kom by Afrikaaps.
..............
Elke graad in ons skool het twee Afrikaanse klasse en vier Engelse klasse. Die Afrikaans wat ons vir die kinders leer, is Standaardafrikaans – taamlik hoogdrawende terme en woorde. Ek is baie bly dat van die literatuur Afrikaapse skrywers en tekste insluit, want hulle moet sien dat Afrikaaps, hul tong en dialek, erken word. Maar ongelukkig word dit nog nie op so ’n wyse erken dat jy in Afrikaaps jou vrae kan beantwoord nie. En dis vir my ’n ietwat vreemde konsep – die werk is in Afrikaaps, maar ek moet in Standaardafrikaans beantwoord. Tog kan jy Engelse vrae in Engels beantwoord ... Ons Afrikaanse leerders moet trots wees op hul dialek en hul herkoms, en iets soos ’n dialek, ’n taal, is ’n sterk invloed. Ek is natuurlik mal daaroor as my leerders kies om Afrikaapse tekste te doen, hetsy hulle in ’n Afrikaanse of Engelse klas is! Perform in ’n taal, in ’n dialek, wat vir jou gemaklik is. Niemand hoef voor te gee in die dramaklas nie!
- Jy is nie net ’n onderwyser/opvoeder nie. Jy is intens betrokke by drama in die land en dien in panele van feeste-toekennings. Watter rol kan drama in kinders se lewens speel, dink jy, as hulle dalk nie in wonderlike omstandighede grootword nie? En is daar geleenthede wat vir hierdie kinders gebied word?
Daar is verskeie vaardighede en tegnieke wat drama enige leerder kan leer! Daar is talle kompetisies om aan deel te neem wat deure vir jou kan oopmaak! Hierdie jaar het ek nege leerders ingeskryf vir Dramaweb SA se aanlyn dramakompetisie. Al nege leerders was in die finaal – in die Afrikaanse kategorie het ons ’n tweede plek behaal en in die Engelse kategorie het ons tweede plek asook eerste plek behaal! Verlede jaar het ons ook die eerste plek gewen – hierdie leerder studeer tans Film en Televisie by die Universiteit van die Witwatersrand. In 2018 het ek drie leerders ingeskryf vir KykNET se Nasionale Toneelkompetisie. Die een leerder, Joshwin Dyson, het die kompetisie gewen (uit 500+ inskrywings)! Hy het ’n beurs ontvang om Drama en Teater by Northlink College te studeer. Verder het hy ’n rol gekry in Arendsvlei en speel tans in die produksie Hostel lights wat later hierdie jaar by die Vrystaat Kunstefees te sien is. Drama gee vir ’n leerder selfvertroue, nie net om te kan perform voor mense nie, maar net daai boost om te besef maar jy kan eintlik achieve! En ewe skielik begin hul net goed doen in ander vakke ook! Ek het nou ’n graad 12-leerder wat in graad 8 en graad 9 ’n taamlik moeilike kind was. Maar in graad 10 het hy drama begin en het net absoluut excel in graad 11! Hierdie jaar kry hy byvoorbeeld 90% in Religion Studies! Hy het ook deelgeneem aan Dramaweb SA se kompetisie, waar hy cum laude vir sy werk ontvang het! Hy het natuurlik aansoek gedoen om drama te studeer, maar wag nog om te hoor of hy aanvaar is. My graad 11-leeerders het ook hierdie kwartaal ’n AFDA-filmkursus voltooi. Hulle het dit so geniet dat hulle almal nou film wil doen as praktiese komponent in graad 12! Net daardie blootstelling aan ’n ander aspek van die industrie het hulle laat besef dat hulle eintlik ’n liefde daarvoor het. En dalk eendag in daardie rigting wil werk. Drama het verskeie komponente waarin daar verskeie werksgeleenthede is, en ek probeer my bes om hulle daaraan bloot te stel.
- Wat is jou droom vir die onderwys en vir kinders van hierdie land?
.............
My droom is dat elke leerder in Suid-Afrika ’n kwaliteitopvoeding sal ontvang, ongeag die area waarin hulle woon. Net omdat dit ’n no-fee-skool is, beteken dit nie dat hierdie leerders nie kan presteer nie. As jy vir ’n kind die geleentheid skep, en jy maak die commitment om saam met hulle die pad te stap en altyd hul nommer-een-ondersteuner te wees, selfs na skool, kan enige kind presteer.
.............
My droom is dat elke leerder in Suid-Afrika ’n kwaliteitopvoeding sal ontvang, ongeag die area waarin hulle woon. Net omdat dit ’n no-fee-skool is, beteken dit nie dat hierdie leerders nie kan presteer nie. As jy vir ’n kind die geleentheid skep, en jy maak die commitment om saam met hulle die pad te stap en altyd hul nommer-een-ondersteuner te wees, selfs na skool, kan enige kind presteer.
- Watter ander passies geniet jy, of wat is die dinge wat vir jou die lewe betekenis gee?
Dis vir my belangrik om te kan “afsny” van skool en tyd saam met familie en vriende te spandeer. Maar ek werk dan ook vir LitNet se #opdielug, waar ek maandelikse insetsels doen vir die Barakat-program op Radio 786. Ek dien ook in die Fiësta-paneel, waar ek al die groot kunstefeeste in ’n jaar bywoon en die debuutproduksies beoordeel! Dis my manier om steeds radio en teater as passie te laat voortleef tesame met my passie vir die onderwys. ’n Droom van my is om eendag nog my eie geselsprogram te hê (ek hou duim vas)!
Lees ook:
Afrikaans en Kaaps op skool: Faeed Amardien se pad met die onderwys


Kommentaar
Die konferensie kon nie op beter tyd gekom het nie. Elkeen vir homself.