Afrikaans gons behoorlik op die luggolwe van die Wes-Kaap die afgelope paar maande met die totstandkoming van twee nuwe radiostasies in Kaapstad. Die een is ’n gemeenskaps- en die ander ’n kommersiële radiostasie. Beide radiostasies moet volgens hul ooreenkoms met die uitsaai-owerhede ’n programinhoud van 60% in die een geval en 50% in die ander in Afrikaans hê. Wat dit verder interessant maak, is dat die inisiatiewe vanuit die bruin gemeenskap ontstaan het.
Dit bevestig die bevinding van die sensusopname van 2011 dat daar ’n toename is in die aantal Afrikaanssprekers, waarvan die meeste bruin is. ’n Moslemgemeenskapsradio, ook in Kaapstad, het onlangs bevind dat daar ’n afname in hul luisteraarstal was. Hul navorsing het bewys dat daar ’n groot aanvraag was vir Afrikaanse inhoud van hul programme. Hulle het die aanpassings gemaak en die gevolg was dat die luisteraarstal met 20% gestyg het. In ’n onlangse bespreking oor die toekoms van Afrikaans op een van hierdie gemeenskapsradiostasies het ’n graad 7-leerder van Mitchell’s Plain dit die beste opgesom deur te sê dat Afrikaans nie ’n vervaldatum het nie. Weer eens was die inbellers bruin Afrikaanssprekendes. In die Suid-Kaap, Atlantis en die Boland is ook aktiewe gemeenskapsradiostasies waar daar daagliks in die keurigste Afrikaans gekommunikeer word.
Afrikaans is lewend en is voorwaar ’n tuiste vir almal.
Twee persoonlike gebeurtenisse het my ook die gevoel laat kry dat die taal ook onder nietradisioneel-Afrikaanssprekendes gedy. Die skoolbeheerliggaam van ’n isiXhosa-sprekende skool op Oudtshoorn het ’n versoek tot die Wes-Kaapse onderwysdepartement gerig om ’n graad 1 Afrikaanse klas by die skool te begin, omdat die kinders vlot in Afrikaans is en nie so goed met Engels vaar nie. Die meeste van daardie leerders woon later die nabygeleë bruin (Afrikaanse) hoërskool vir hul hoërskoolopleiding by, waar hulle uitstekend presteer. ’n Skool in Lenasia, in die suide van Johannesburg, het die SBA ook onlangs genader om Afrikaanse boeke aan hulle te voorsien. Groot was my verbasing toe ek die passie kon waarneem waarmee hierdie oorwegend Indiër-leerders Afrikaans aanleer.
Daar is so baie mooi dinge wat in en vir Afrikaans gedoen word. Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) is tans besig, in samewerking met die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), met ’n inisiatief om fokus te plaas op bruin mense se spreektaal. ’n Woordelys en ’n lys van uitdrukkings/gesegdes wat op ’n daaglikse basis en gereeld deur bruin mense gebruik word, word in die vooruitsig gestel en om ook van hierdie woorde in die WAT op te neem.
Afrikaans is voorwaar vry en kan nie meer in ’n boks gedruk word nie. Die taal het geen grense nie en bied ’n tuiste vir almal.
Danie van Wyk
Hoof Uitvoerende Beampte, SBA
Kommentaar
Danie van Wyk laat alles positief klink. Maar wanneer begin bruines om by voorkeur (1) Afrikaanse name aan hulle kinders te gee, (2) Afrikaanse name aan bv hulle klopsegroepe te gee en (3) Afrikaanse name aan bv daardie radiostasies te gee? Bowenal behoort bruines (4) Afrikaanse skole en (5) Standaardafrikaans te ondersteun pleks van alewig die voordele van verdeeldheid (die predikante praat van verskeurdheid) en dus taalvariante te besing.
Johannes Comestor
Wat 'n goeie inisiatief. Ek het al probeer om mense se belangstelling te prikkel om in Kwaaizoeloe Natal ook 'n ordentlike radiostasie op die been te bring. Tot dusver was ek om dIe minste te sê nie baie suksesvol nie en toon die mense met wie ek gesels het nie juis belangstelling nie. Ek dink die grootste rede is geld. Geld is mos maar skaars. Daar is verbasend baie Afrikaanssprekendes in Kwazulu Natal. Sefs in Durban. Op die Suidkus, Noordkus en die binneland is daar baie Afrikaanssprekendes. Ek het al met mense in die geweste gepraat en is hulle redelik gatvol vir East Coast Radio. Daar word geen, soos in geen Afrikaans op die stasie gehoor nie. Hulle het sover ek weet een lied wat hulle voos, soos in voos speel en dit is Lianie May en Jay. Die omroeper-kwaliteit is swak. In die aande het hulle 'n etniese lid wat die grootste klomp snert kwytraak en poog om 'n inbelprogram te bedryf. Ek weier volstrek om East Coast te luister. Daar is meer Indiese en swart omroepers as blankes wat my laat wonder. Jy hoor glad nie blankes op Radio Lotus of Zoeloe radio nie. Jy hoor ook nie tradisionele Afrikaanse musiek op die stasies nie. Daar is mos twee of drie stelle reëls waar dit op blankes betrekking het. Ek het al met mense van Radio Pretoria gepraat om net 'n herleisender hier te plaas maar dit het ook op dowe ore geval. Is daar iemand wat wil,en kan help asb.
Ek stem een honderd persent saam met jou, Danie! Afrikaans ken geen perke nie, en mag ook nooit ooit verdwyn nie. Dit is tog immers so 'n mooi taal! Is dit nie altyd lekker om na Afrikaanse omroepers te luister wat die interessantste staaltjies en stories vertel nie? En dit, sommer net so sonder om eers twee keer te dink nie. En weet jy wat is die lekkerste ding daarvan? Elke Afrikaner kan "relate" tot dit wat vertel word. Ons Afrikaners verstaan net mekaar!
Reusedwerg, kom ek sê dit sommer so met die intrap-slag: Ek verstaan jou pyn. Ek ken dit baie baie goed. Ek het onlangs in die selfde situasie gesit, met dieselfde uitkomste. Dit het my laat wonder of ek nie self 'n radiostasie moet begin nie. Vandat ek daardie gedagte gekry het, het ek bietjie gaan navorsing doen oor dit, en kom ek sê net een ding vir jou: Jy gaan NIE 'n radiostasie kan begin sonder ten minste R500 000 nie. Vergeet daarvan! Skryf dit op jou maag en vee dit af. Die toerusting is die duurste, gevolg deur die ICASA FM lisensie. Die frekwensie-lisensie is omtrent so duur soos die toerusting saam. Dis belaglik. En dan reageer ICASA nie eers as jy meer wil weet oor die prosedures nie. Om vir jou 'n idee te gee, indien Radio Pretoria 'n herleisender moes opsit, sou dit beteken dat hulle 'n 30kW FM uitsaaitoestel moes aankoop (~R150 000), hul antennas moes opgradeer (~R30 000), hul FM lisensie afstaan en 'n nuwe een kry (in die tyd wat hulle hul lisensie afstaan kan iemand anders dit neem; ~R82 000). Hulle sou ook grond moes kry waar hul herlei-antenna moes opgesit word het. Mens betaal ontsaglik baie huur vir so iets. En omdat Radio Pretoria 'n dienslewerende-maatskappy is, is dit eenvoudig net nie die moeite werd om dit te doen nie, tensy iemand vir hulle 'n finansiële hupstoot gee, en sommer 'n grote! Ek hoop dit help jou om die situasie beter te verstaan?
Kontak my gerus as jy nog vrae het. Skiet 'n noodsein in die lig op en ek sal jou vind! Haha.
Johan Brink
(Johan.Brink1@telkomsa.net)