
Grafika: Canva
Nagenoeg 30 miljoen mense het reeds geregistreer om in vanjaar se algemene verkiesing te stem.
Of hulle almal wel uiteindelik gaan stem, is ’n ope vraag, maar ’n groot aantal van hulle (en diegene wat nog moet registreer) gaan inderdaad stem. Dit beteken dat daar wel weer lede van provinsiale wetgewers en die parlement sal wees wat besluite neem wat ons lewens tasbaar beïnvloed. Provinsiale premiers en kabinetslede sal aangestel (of bloot behou) word.
Dan is daar ook mense wat weier om te stem. Dit is te verstane, gegewe die gemors in die land en die swak reputasie van politici en regeringsamptenare. Dit is hul goeie reg om te doen (of nie te doen nie) wat hulle wil, maar ek kan opreg sê dat baie van hulle onder ’n wanindruk verkeer.
Daar is wel goeie politici wat uitmuntende werk in ’n menigte dele van die land doen. Dink maar net aan Chris Pappas, burgemeester van die uMngeni plaaslike munisipaliteit in KwaZulu-Natal, en sy ampsgenote in Midvaal in Gauteng, Peter Teixeira, en Geordin Hill-Lewis in Kaapstad. Hierdie mense laat die boeke klop, verseker skoon oudits en maak seker dat die basiese (en soms niebasiese) dienste gelewer word. Daar is nog ’n menigte voorbeelde in veral die Wes-Kaap se wetgewer, munisipaliteite en opsluit ook die parlement.
In vergelyking
Die uitdaging op baie plekke (die parlement en metro’s is pertinente voorbeelde) is dat die goeie mense uitgelewer is aan wispelturige koalisies, minderheidsregerings wat enige tyd kan kantel weens ’n gebrek aan steun, en sabotasie. In Johannesburg is die metro na die 2021- plaaslike verkiesing deur ’n DA-geleide koalisie regeer. Hierdie koalisie het vernuwende en realistiese planne vir die metro gehad, maar is later vervang deur ’n koalisie van die ANC, EFF en die piepklein Al-Jama-ah. Laasgenoemde se kandidaat beklee ook tans die burgemeesterspos.
Ek het onlangs na maande weer in Gauteng en Johannesburg (waar ek al die langste gewoon het) besoek afgelê nadat ek verlede jaar na die Boland getrek het. Ek was geskok om te sien hoe vervalle, vuil en verwaarloos als lyk. Die gras is lank, die paaie vol slaggate, werkende verkeersligte is die uitsondering en vuilgoed en bedelaars is oral te sien. Tshwane (oftewel Pretoria as die kernstad daarvan) lyk ook taamlik voos en vervalle op baie plekke. ’n DA-geleide koalisie regeer steeds daar, en hoewel ek nie verskonings vir swak dienslewering wil maak nie, moet daar begryp word dat hulle met ’n see van ANC-gesinde amptenary daar te make het. Dit gaan altyd ’n ruk (en wetlike prosesse) vat om swak gesindhede en amptenare te verwyder, en intussen gaan daardie amptenare staak, saboteer en hul werk halfslagtig doen om sodoende die huidige ampsbekleërs te verneder. Dit het ook ’n ruk in die Wes-Kaap en Kaapstad geduur om die ANC se brouwerk om te keer.
........
Die uitdaging op baie plekke (die parlement en metro’s is pertinente voorbeelde) is dat die goeie mense uitgelewer is aan wispelturige koalisies, minderheidsregerings wat enige tyd kan kantel weens ’n gebrek aan steun, en sabotasie.
........
Gedagtig hieraan staar baie mense hulself bloot vas in hul plaaslike omstandighede en steur hulle nie aan provinsiale en nasionale politiek en beleidmaking nie. Of hulle is onkundig oor watter positiewe veranderinge goeie regering op ander plekke teweeg gebring het. Ons stem juis vanjaar oor die provinsies en nasionale regering. Die verskil tussen Gauteng (en eintlik enige ander provinsie) en die Wes-Kaap lê juis daarin dat heelparty munisipaliteite al vir ’n wyle deur eendersdenkende, stabiele en skoon koalisies of partye regeer word. Die provinsiale regering is lankal nie meer onder die ANC (of soortgelyke partye) se beheer in die Wes-Kaap nie.
Derhalwe het ’n hele reeks funksies, soos onderwys, werkskepping, paaie, rampbestuur, landbou, streeksbeplanning en gesondheid baie beter ontwikkel as in Gauteng, want hierdie bevoegdhede val ten minste deels onder provinsiale beheer. Hulle bied ook beter ondersteuning aan die onderskeie munisipaliteite in die provinsie. Dieselfde kan nié gesê word van Gauteng onder Panyaza Lesufi se wanbestuur nie. Indien daar nie genoeg openbare funksionele skole in ’n provinsie is nie, die provinsiale ekonomie onderpresteer en allerlei infrastruktuur verbrokkel, raak dit jou waar jy ook al bly. Dieselfde geld die nasionale ekonomie en belangrike nasionale funksies, soos polisiëring en vervoer. Wanfunksionering op hierdie vlakke stoot jou kospryse op, en laat misdaad en ander maatskaplike euwels in jou buurt gedy, om net ’n paar uitdagings te noem. Dink net wat Eskom en Transnet se treurmare al aan jou gedoen het.
Goeie regering is onontbeerlik
Sommige mense is goedgelowig genoeg om te dink al hierdie funksies gaan bloot deur ander rolspelers verrig word. As dit die geval is, sou dit al gebeur het. Die vraag is dus: Hoekom is daar steeds miljoene slaggate, gemors, lang wateronderbrekings en lang gras oral in Gauteng en in ander provinsies? Enersyds is dit omdat swak regering dit toegelaat het, maar andersyds ook omdat niemand anders werklik die hulpbronne en wil het om dit volhoubaar op ’n massaskaal te beredder nie.
Wat ek onlangs in Gauteng opgelet het, is dat daar oral min werk geskied. Hier en daar sal ’n munisipale werker alleen vuilgoed optel. In die Wes-Kaap is die munisipale en provinsiale werkers egter oral te sien. Hulle sny daagliks gras, tel papiere op, teer en herstel paaie, sny bome en verf padstrepe. In Hilton in uMngeni ook. Ek sidder om te dink wat al sou gebeur het indien die Wes-Kaap se rampbestuur nie so doeltreffend brande in toom sou kry nie. Ek betaal met graagte my munisipale belasting aan die Drakenstein plaaslike munisipaliteit, want ná jare se reis deur hierdie land, weet ek dis nie ’n gegewe nie. Indien ek nie gaan stem nie, is daar ’n moontlikheid dat dit kan verander. Nie als is perfek in die Paarl nie, maar hulle doen kennelik en oorwegend goeie werk.
........
Sonder beter regering veg mens eintlik net teen – en betaal duur vir – die impak van swak regering. Bowendien verwelkom en gebruik talle partye in Suid-Afrika (weliswaar nie die ANC nie) private betrokkenheid by regering – veral wat kragopwekking betref. Kom ons vat eerder hande as om te dink dis die een óf die ander in een of ander nul-som-speletjie.
........
Ek is geensins gekant teen burgerlike aksies nie en dis noodsaaklik, want selfs die beste munisipaliteite kan nie by als uitkom nie. Sluit by ’n buurtwag aan en kry groepe bymekaar om ’n park skoon te maak. Hou die area buite jou huis skoon. Maar burgerlike organisasies en selfs die private sektor het eenvoudig nie die staat se geld, werkers, mandaat en baie keer die wil om als (of selfs die minimum) te doen wat munisipaliteite, provinsies en veral die nasionale regering regtens moet doen nie. Niks gaan byvoorbeeld verander indien geregtigheid nie begin verbeter nie. En dit gaan nie verander indien die Nasionale Vervolgingsgesag en polisie nie verbeter nie. ’n Buurtwag kan ’n nodige sigbare teenwoordigheid handhaaf en misdadigers vastrek, maar dis wat daarná gebeur wat werklik tel, en daaroor het hulle nie veel beheer nie.
Dit verhoog ook die kostes van dienste wat reeds deur die regering gelewer moet word deurdat burgers en besighede ekstra geld en moeite moet opdok. Sonder beter regering veg mens eintlik net teen – en betaal duur vir – die impak van swak regering. Bowendien verwelkom en gebruik talle partye in Suid-Afrika (weliswaar nie die ANC nie) private betrokkenheid by regering – veral wat kragopwekking betref. Kom ons vat eerder hande as om te dink dis die een óf die ander in een of ander nul-som-speletjie.
Nie alle politici is edel en doeltreffend nie – inteendeel. Baie is korrup, vrot en net daar om hul goed besoldigde posisies te beskerm. Maar baie is nie, en as jy dink jy gaan enigiets verander deur nie te stem nie, is daar ’n wesenlike koste daaraan verbonde. Daar sal owerhede met magte en bevoegdhede na vanjaar se verkiesing wees of 2 000 of 20 miljoen mense gaan stem. En daarna sal mense weer in verkiesings gaan stem en daar sal owerhede wees wat beleid en wette skep. Jy verloor niks deur vir een van die talle (kennelik onvolmaakte) partye te stem nie, en die groot aantal wegblyers maak juis jou stem groter, maar dis roekeloos om die ANC en EFF se steun verder te vergroot. Daar sal straks nie vanjaar ’n nasionale regering sonder die ANC tot stand kom nie, maar verandering is besig om van onder na bo gebou te word deur talle munisipaliteite en provinsies wat uit hul greep val.
Kommentaar
In 2024 bevry ons die Wes-Kaap van die blou liberale! Meningspeilings dui aan hulle steun het reeds teruggesak na 42 % en sal waarskynlik nog veel verder val.