Die omslagfoto van ’n nuwe boek oor bruin mense wys ’n wit hand en ’n swart hand wat ’n bakkie sop vashou – ’n heerlike dik sop: heelwat vleisbene en ook geelwortel kan op die foto gesien word; sprietuie lê bo-op gesprinkel. Mmmmm, lékker. Dit is nie sommer enige bene dié nie, gewis nie die legendariese sopbene (meer been as vleis aan die been) van kindertyd se armoede nie, of wat armlastiges vandag steeds in sommige barmhartigheidsrye van sopkombuise bedien word nie.
Wat in die foto geïllustreer word, is uiteindelik die bedoeling (boodskap, filosofie) agter die boek se titel, Daar is ’n bruine in my sop? (Nie seker watter funksie die vraagteken verrig nie.) Die skrywer is Charley Pietersen, stigter van die Growing Up Without A Father-stigting, motiveringspreker en lewensafrigter. “Ons is soos ’n beesstertbeen in ’n bak sop,” verduidelik hy die titel in die inleiding. “Swart en wit eet daaraan,” sê hy, “totdat daar niks vleis oorbly nie, en die been later weggegooi of vir die honde gegee word.”

Foto: Heindrich Wyngaard
Om dit verder te beklemtoon, skryf Pietersen: “Bruin mense is nét goed genoeg terwyl die vleis aan die been is, en almal wil net van die lekker vleis eet totdat dit klaar is.” Wat hier voorgehou word, is ’n variasie op – of ’n herinterpretasie van – die nou reeds bekende, indien geykte, refrein (versugting, klaaglied, pleitroep) uit bruin gemeenskappe dat hulle gedurende die Afrikaner-oorheersde apartheidsbestel nie wit genoeg was nie en nou in die African-gedomineerde demokratiese bestel nie swart genoeg sou wees nie.
Hierdie ingesteldheid, waarsku die akademikus Kevin Teise, ’n senior dosent in Opvoedkunde aan die Sol Plaatje-universiteit, spreek moontlik van ’n gemeenskap wat in ’n “bruin mens-groef” verval het. Dit word van geslag tot geslag oorgedra. Maar dit sal die gemeenskap baat om dit te ontgroei, stel Teise voor in sy bydrae tot Pietersen se boek: “Bruin kinders moet geleer word om na hulself om te sien; om hul gemeenskappe te dien.”
Teise, wie se proefskrif handel oor opvoedkunde vir volhoubare ontwikkeling, gaan voort: “Hulle moet die waarde van onderwys en opvoeding geleer word.” Om alles saam te vat, hulself uit die “bruin mens-groef” te verlos en die uitsigloosheid agter te laat, stel Teise die volgende voor: “Hulle moet geleer word om hul horisonne te verbreed – om te besef dat daar baie meer is as net die vier mure van die gemeenskap waarbinne hulle hulself bevind.”
Dié “vier mure” word ’n naam gegee – marginaliteit – in Jason Lloyd se onlangse LitNet-artikel oor hoedat die “saak van die bruin mense” klokslag voor verkiesings ’n gewilde gesprekspunt raak. Dit is nie slegs ’n marginaliteit wat voortspruit uit die groep se ervaring van hul behandeling vanaf owerheidskant en deur ander nie, haal Lloyd uit “klassieke studies” aan, maar ook is dit ’n uitdrukking van selfdefinisie – “in soverre,” kwalifiseer hy die stelling, “daar sprake van ’n kollektiewe definisie binne soveel uiteenlopendheid kan wees.”
Selfdefinisie is een van die fasette van “bruinwees” wat Pietersen in Daar is ’n bruine in my sop? aanroer. Die boek delf in die geskiedenis; huldig onder andere Danny Titus, in lewe die stigter van die DAK Netwerk vir histories agtergestelde Afrikaanssprekendes en vroeër ook die Bruin Belange Inisiatief; en dit probeer om bruin gemeenskappe se “horisonne te verbreed” deur ’n oproep om en voorstelle vir ’n “bruin ekonomiese model”.
Slegs in een hoofstuk kom partypolitiek ter sprake – en dit by wyse van ’n bespreking oor die bruin kiesers as “kingmakers” en of Gayton McKenzie, leier van die Patriotic Alliance, “die laaste bruin hoop” is.
Hierdie boek is die nuutste aanbod in ’n reeks boeke – geensins op die skaal as wat daar boeke in ons land gepubliseer word oor, sê maar, die Grensoorlog nie – oor bruinwees. Of kan ’n mens ook praat van “bruinheid”? Dit is ’n onderwerp wat aan die bod kom in werke waarvan die publikasiedatum so ver terug strek as 1964 toe die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede Die Kleurlingbevolking van Suid-Afrika, onder die redakteurskap van Erika Theron, uitgegee het, en waarin die medewerkers almal sonder uitsondering wit is.
In 1982 publiseer PJ Coertze ’n versameling van sy voordragte, getiteld Die Afrikanervolk en die Kleurlinge, “met die hoop dat dit [...] kan bydra tot die verkryging van omvangryker kennis oor en ’n dieper insig in die wese van die volkeverhoudingsituasie in Suid-Afrika”.
Hierna verskyn in 1987 die verwerking van Gavin Lewis se doktorale tesis, “Between the wire and the wall – A history of South African ‘Coloured’ politics”. Behalwe dat Lewis die kwessie van bruin identiteit en etnisiteit op ’n nuwe wyse ondersoek het, het hy homself ook onderskei deur die opkoms van strydende “accommodationist” en militante “non-collaborationist” (bruin) politieke bewegings teenoor mekaar op te stel. Op laasgenoemde se ideologiese werf is geen ruimte toegelaat dat op enige manier met die onderdrukkers se stelsel saamgewerk word nie, terwyl eersgenoemde daarop toegespits was om die stelsel van binne te beveg en sodoende verandering teweeg te bring.
Die laaste sin in “Between the wire and the wall” is ’n skerp aanklag teen die bepalers van die politieke orde van die twintigste eeu wat deur die uitsluiting en verwerping van swart (in die generiese sin van die woord) leiers en organisasies “a wastage of talents, intellect and goodwill” veroorsaak het. Geen land – minder nog ’n verdeelde land soos Suid-Afrika – kan só iets op só ’n skaal bekostig sonder dat dit ernstige en langdurige skade aan toekomsmoontlikhede inhou nie, aldus Lewis.
Dit het die vorige bestel lank geneem om tot hierdie besef te kom – en selfs toe is die talent, intellek en welwillendheid aan die “swart” kant ook maar krummeltjie kanse gegee. Net jammer dat die nuwe bestel skynbaar nie uit die foute van die verlede geleer het nie, want nou word dieselfde afjak wit én bruin mense toegedien, kamstig alleenlik as ’n remedie vir die kanse wat swart (African) mense in die verlede ontneem is. Juis daarom die hedendaagse gesanik onder bruin mense dat hulle eers nie wit genoeg was en nou nie swart genoeg is nie.
Hiervan was oudpres Nelson Mandela reeds ’n jaar ná die aanvang van die demokrasie terdeë bewus toe hy by die Instituut vir Demokrasie in Suid-Afrika (IDASA) se konferensie oor “National unity and the politics of diversity: The case of the Western Cape” gepraat het. “For some within the coloured community, perhaps the most pressing concern is the fear of being marginalised,” het hy gesê, soos nou opgeteken in die konferensiebundel, Now that we are free – Coloured communities in a democratic South Africa (IDASA, 1996). “If left unattended,” het Madiba gewaarsku, “this fear could undermine the very foundation of non-racial democracy that we all have struggled to achieve.”
Die “dringende besorgdheid” was toe nie misplaas nie; gemarginaliseerdheid het vir baie bruin mense ’n geleefde ervaring geword. Hierdie ervaring van verstotelingskap – die gevare daarvan en die geleenthede daarin – word in meer onlangse publikasies (meestal memoires) ontbloot en ontleed, soos in die gospelsanger Simon Khoi Seekoei se Coloured ... To be or not to be? “That’s the question” (Reach Publishers, 2019); in die nuusman Malvory Adams se Als is nie net swart en wit nie (Naledi, 2021); en ook (kop onderstebo in die aanslag) die rubriekskrywer en akademikus Ismail Lagardien se Too White to be Coloured, too Coloured to be Black (Melinda Ferguson Books, 2022).
Ander boeke, soos Living Coloured: Because Black & White were already taken (Jacana, 2019) deur Yusuf Daniels, bevat humoristiese én ernstige sketse oor “bruin” belewenisse op die Kaapse Vlakte, in sy geval dié van ’n Moslem-persoon. In Georgie Calverley se A Coloured in full flight (self-publikasie, 2018) word die beskouings gedeel van ’n gay man uit KwaZulu-Natal wat verpleging as beroep kies, en die psigologiese trauma wat voortspruit uit die vooroordele en afknouery wat hy moes verduur.
Wat op die voorafgenoemde titels volg, is die 2023-aanbod deur ’n heelwat jonger generasie skrywers, Tessa Dooms en Lynsey Chutel. Hulle Coloured: How classification became culture was anders in dié sin dat dit die idee uitgedaag het dat bruinwees hoofsaaklik ’n Kaapse “entiteit” is. Dit is, soos hulle baie goed illustreer, ook ’n identiteit waarmee in provinsies so uiteenlopend as KwaZulu-Natal, Gauteng en Limpopo geworstel en mee saamgeleef word.
Die meeste van als het hulle sonder omhaal die idee van bruin identiteit as ’n rasidentiteit deur hul boek die nek omgedraai: Wanneer mense hulself vandag bruin noem, argumenteer hulle, is dit lank nie meer ’n vasklou aan of verheerliking van bruin as ’n rasseklassifikasie soos wat die apartheidsbedoeling daarmee was nie. Dit is nou gewoon en geheel en al die bevestiging van ’n kultuur wat gedeel word deur ’n groep mense wat na hulself as “bruin”, “Coloured”, “Kleurling” en soms ook “bruin Afrikaners” verwys.
Maar die (tot nog toe) mees omvattende werk oor bruin mense is steeds dié wat in 1974 gepubliseer is: AJ Venter se Coloured: A profile of two million South Africans. Oor byna 600 bladsye gee Venter nie slegs ’n breedvoerige historiese agtergrond van bruin mense nie, maar ook skets hy die “bruin” ekonomiese, maatskaplike en kulturele landskap van nou 50 jaar gelede. Wat hy oor dié magnus opus met sy lesers deel, is dié gewaarwording oor wat moontlik die rede is waarom niemand voorheen (of ná hom, moet ’n mens bysê) só ’n taak aangepak het nie: “The scope and nature of this volatile human tapestry is as vast and complex as these people themselves.”
In die laaste hoofstuk – “An assessment of the future” – maak Venter ’n stelling wat uiteindelik vir bruin mense ’n raakpunt tussen die apartheidsverlede (onder wit beheer) en die hedendaagse (swart-regeerde) demokratiese era sou kon aandui: “The ideals of our ‘White’ society have created some of the biggest social ills yet seen in modern history.” Dié maatskaplike euwels sluit in drankmisbruik, dwelmverslawing, huishoudelike konflik, tienermisdaad en werkloosheid – en vandag sien jy ’n voortsetting daarvan, weliswaar onder ’n meer menslike bestel, nie uitsluitlik nie, maar genoegsaam weens die ewe skadelike uitwerking wat die voorkeur aan “swart ideale” geniet.
Terug na Lloyd wat dié gedagte aan ons voorhou: “In ’n samelewing so divers en kompleks soos ons s’n wat homself probeer vind en herdefinieer ná ingrypende politieke omwentelinge, is enige indringende en ernstige gesprek oor sosiale diversiteit en die akkommodering daarvan belangrik.”
Wat die “saak van die bruin mense” betref, soos hy dit in die inleiding van sy betoog noem, gaan draai hy by ’n velerlei gedagtes en intellektuele boksgevegte waardeur dié netelige “vraagstuk” oor die jare gekenmerk is. Onder meer is heterogeniteit teenoor homogeniteit opgestel; swart bewussyn teenoor bruin etnisiteit; selftrotsheid teenoor stereotipering.
Maar hoe veralgemeen jy oor – in Venter se beskrywing van die bruin bevolking – ’n “menslike tapisserie”, “gróót en kompléks”, wat sedert die verskyning van sy boek tot die tweede grootste bevolkingsgroep (5,3 miljoen) gegroei het – selfs al steek dit erg af by die African-meerderheid van sowat 49 miljoen (teenoor 4,6 miljoen wit en 1,5 miljoen Indiër/Asiër). Persentasiegewys, aldus Statistieke SA, staan sake só: 8,2% bruin; 81,4% African; 7,3% wit; en 2,7% Indiër/Asiër.
Lloyd keer dan terug na dit wat hom beweeg het om die artikel te skryf, naamlik die onvermoë van “hierdie ryke mosaïek van mense en gemeenskappe” om hulle polities “as ’n effektiewe groep te organiseer, te vestig en te laat geld”. Sowel Lewis as die opvoedkundige en geskiedskrywer Richard van der Ross (In our own skins: A political history of the Coloured people, Jonathan Ball, 2015) het egter suksesverhale opgeteken van selfgeldende politieke organisasies in bruin geledere, waarvan die African People’s Organisation (APO) van Abdullah Abdurahman waarskynlik die mees prominente was, soos ook die destydse UDF waarin leiers uit bruin gemeenskappe, soos Allan Boesak, Trevor Manuel en Cheryl Carolus, die prominentste rolle vertolk het.
Wat Lloyd egter in gedagte het, is dié dat bruin mense “nog nooit daarin [kon] slaag om as ’n eenheid op die politieke toneel hul krag en invloed te wys nie”. Dit blyk boonop vir hom – aan die hand van dalende bruin en groeiende swart bevolkingsgetalle in die Noord- en Wes-Kaap – “dat daar nie enige hoop [daarvoor is] nie”. Die leser kom hier in die versoeking om Lloyd se slotsom as ’n teregwysing van bruin mense se politieke aspirasies te lees, asof hy sê: “Toe julle die meerderheid inwoners in die Noord-Kaap was, kon julle nie behoorlike politieke voordeel daaruit trek nie, en nou is dit te laat, óók wat die Wes-Kaap betref.” Maar daar is vir hom steeds sin daarin om “agter die kap van die kompleksiteit van bruin gemeenskappe” te kom omdat “hierdie bevolkingsgroep [...] juis van die mees diverse in ons land [is]”. Derhalwe, stel hy voor, “sal ’n wetenskaplik-gegronde begrip daarvan [tot] ons algehele begrip bydra”.
Om dit te beklemtoon, sluit hy as volg af: “So ’n klein bietjie intelligente wetenskap kan dalk net help om groter helderheid te bring. So kom ons begin so ’n wetenskap-gefundeerde studie.”
Maar hy laat ons nie met ’n voorstel oor hoe die navorsingsvraag geformuleer behoort te word nie. Wat staan ons te doen, wonder ’n mens, wanneer ons dan op ’n dag danksy ’n “wetenskaplik-gegronde begrip” oor die voordeel van ’n beter “algehele begrip” oor “die kap van die kompleksiteit van bruin gemeenskappe” beskik?
Dit staan in elk geval te betwyfel, vermoed ek, dat groot getalle navorsers sal hand opsteek vir só ’n studie inaggenome die boggerop met die laaste poging, naamlik die studie oor “Age- and education-related effects on cognitive functioning in Colored South African women”, waardeur Sharné Nieuwoudt, Kasha Elizabeth Dickie, Carla Coetsee, Louise Engelbrecht en Elmarie Terblanche bevind het dat bruin vroue ’n “toenemende risiko vir lae kognitiewe vermoëns in die gesig staar weens lae opvoedkundige vlakke en ongesonde leefstyl-gedrag”. Hul joernaalartikel hieroor is uiteindelik onttrek weens probleme met die modellering en interpretasie van die resultate van hul studie, maar dit het tegelykertyd ’n geleentheid geopen om presies oor die onderwerp van die omstrede studie gesprek te voer.
In die afwesigheid van ’n studie, soos dit wat Lloyd voorspraak voor maak, kan ’n mens net hoop dat bruin mense onderling met mekaar sal begin praat oor die “kompleksiteit” van hul ganse bestaan. Ons sal self moet sorg – as ek Pietersen se bedoeling met Daar is ’n bruine in my sop? akkuraat lees – dat ons nie langer soos beesstert van die bene af geëet word “totdat daar niks vleis oorbly nie” en ons dan vir die honde van (wit, swart én bruin) politieke opportuniste gegooi word nie.
Lees en kyk ook:
Die effek van marginaal- en hibriedwees op die bruin politieke landskap
Bruin wees in hierdie tyd: repliek op Jason Lloyd se artikel
Video: Yusuf Daniels – "Die Coloured laaitie van die Flats"-gesprek by Toyota US Woordfees
Off-centre and out of focus: Growing up “coloured” in South Africa by Nadia Kamies: a book review
Kommentaar
Ek dink die sogenaamde Bruinmense het 'n paar verkeerde keuses gemaak die afgelope paar honderd jaar. In 1805 het hulle die engelse ondersteun met die se inval in die Kaap. So ook in die Boere oorlog het hulle aktief teen die Boere geveg. Geen wonder dat toe die "Boere" in 1948 aan bewind gekom het, is die Bruinmense van die kiesersrol verwyder. Daarna het hulle die ANC as bedmaats gekies, wat nou klaarblyklik weer die verkeerde keuse was. Die les is waarskynlik dat politieke keuses jou nie vooruit neem nie, maar dat jy as gemeenskap self moet besluit om deur harde werk en doelgerigtheid jouself en jou gemeenskap vorentoe te vat.
Tjaaa Schalk. Ja ons Boerkies was natuurlik meesterlik strategies in elke opsig en het nie eintlik enige foute gemaak nie. Ons kon die Engelse ook eintlik maklik gewen het. As ons maar het harder gebid het en nie so baie joiners in ons midde gehad het nie. Dis eintlik onverstaanbaar dat die Boere verloor het. Paul Kruger was dan deur God self gestuur as leier.