Essay: Richard van der Ross se In our own skins

  • 3

Die verskyning van Richard van der Ross se nuutste boek oor die politieke geskiedenis van die bruin mense, In our own skins, is ’n oproep vir die Kaap om haar ereskuld aan dié gemeenskap te betaal.

 

Franklin Sonn, Richard van der Ross, Heindrich Wyngaard en Patricia de Lille

(T)he great majority of South Africans grow up and pass through courses in history without any contact with, or knowledge about, the people with whom they live, or the way in which history has treated them. – Richard van der Ross, In our own skins

Die bekendstelling is op ’n weeksoggend in die banketsaal van die Kaapstadse burgersentrum gehou; die gasvrou was Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad. Dit was ’n klein, intieme funksie; eintlik was net ’n handvol mense teenwoordig – meestal, het dit gelyk, tydgenote van die skrywer, gekomplementeer deur ’n beduidende mediakontingent.

Hier aan die onderpunt van die stad, ’n klipgooi van Tafelbaaihawe af, om die draai van waar Jan en Maria van Riebeeck (vir ewig?) geanker staan, hier, het dit my opgeval, het dit alles begin. Hier het die politieke geskiedenis van die bruin mense begin, en ook hier, min of meer, setel die gemeenskap se politieke mag tans – in die vorm van De Lille as burgemeester.

Agterna het ek gewonder of dit haar, Van der Ross self en die skrywer van die voorwoord van die boek, Franklin Sonn, opgeval het dat die bekendstellingsfunksie in werklikheid ook – en dalk veral – ’n samekoms was van hul onderskeie, afsonderlike persoonlike geskiedenisse, oftewel hul uiteenlopende individuele politieke geskiedenisse.

Van der Ross was onder meer die eerste bruin rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland geword het, stigterleier van die ou Arbeidersparty, en die eerste en enigste bruin ereburger van die stad (die ander is Nelson Mandela, Desmond Tutu, Barack en Michelle Obama).

Uiteindelik dan het Van der Ross hom, tot die verbasing van vele, in die 1994-verkiesing, die eerste demokratiese, nierassige verkiesing in die land, aan die kant van die Demokratiese Party (voorganger van die DA) geskaar en ’n DP-lid van die Wes-Kaapse wetgewer geword.

Bowenal, en van kritieke belang in die konteks van hierdie opstel, was hy nog altyd iemand wat hom, waar hy hom ook al mag bevind het, as onbeskaamd “bruin mens” voorgedoen het. Soos hy by die boekbekendstelling afgekap het: “Ek is ’n bruin man.” En: “Dis lekker om coloured te wees.”

Sonn, wat as opvoedkundige en rektor van die destydse Technikon Skiereiland deel was van die binnelandse UDF-gedrewe stryd teen apartheid, is wel minder eksplisiet oor sy bruinmanskap, wat geensins dui op enige ontkenning van sy “bruin wortels” nie, dalk eerder op sy kenmerkende diplomatiese ingesteldheid: hy was darem, was hy nie, Madiba se eerste ambassadeur in Amerika ná Suid-Afrika se oorgang van ’n muishondland na (met apologie aan David Kramer) “ammil se pêl”.

Selfs al sou jy dan ook, soos hy so graag oor homself en byvoorbeeld die Trevor Manuels vertel, as ’n “Coloured comrade” deur “African comrades” beskou word, het hy strykdeur getrou gebly – of probeer bly – aan die ANC se (gemaak) nierassigheid.

Dit bring ons by De Lille, wat haar politieke tande in die vakbonde en toe die Afrikanistiese PAC geslyp het, in navolging van Biko se swart bewussyn en van Sobukwe wat die land “Azania” wil (wou?) herdoop.

Einde ten laas het sy die PAC vaarwel toegeroep, op die rug van haar reputasie as ’n moedige teenwapenskandaalstryder, en het sy haar eie party, die Onafhanklike Demokrate, gestig en aanvanklik goeie aftrek gekry – hoofsaaklik onder bruin kiesers. Dié onafhanklikheid het sy egter prysgegee om deel van Helen Zille se DA te word. Nie lank daarna nie het sy haar in Zille se provinsiale kabinet bevind en mettertyd die pad uit Waalstraat gevat, af met Adderleystraat tot onder in die strandgebied waar die burgersentrum geleë is.

Nou is sy nie net DA-burgemeester van die Stad Kaapstad nie, maar ook die onlangs-verkose Wes-Kaapse leier van die party – die eerste bruin vrou wat hierdie pos beklee, as dit enigsins betekenisvol is in die doen en late van ’n party wat sy lyf steeds liberaal hou, waar kleur en ras kwansuis nie bestaan nie, waar die skep van ope geleenthede (glo) voorop gestel word.

Dit bring my terug na die bekendstelling van Richard van der Ross se boek oor die politieke geskiedenis van die bruin mense: ’n lang geskiedenis van ’n skynbaar nimmereindigende strewe vir – en ’n eeue oue versugting na – erkenning.

 

Richard van der Ross en Heindrich Wyngaard

Dit het alles in 1652 begin, sou ’n mens kon sê, toe Jan van Riebeeck en sy geselskap aan die Kaap geland het om ’n verversingstasie (nogal) vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie te begin. En die inheemse bevolking, die Khoi en die San, die stamouers van die bruin mense, moes geweet het, soos wat die karakter Philida in die openingsin van André P Brink se gelyknamige roman afkap: “Hier kom kak.”

Toegegee, dit was eers lekker: al die nuwighede wat die Hollanders hier aangebring het – die anderste klere, spieëls, messe, tabak, alkohol; en kort voor lank het die “getallespel” onder die kombers (of was dit die karos?) ook begin.

Van der Ross skryf: “Van Riebeeck started the settlement with 100 European men and eight European women. The interaction between the European men and indigenous women soon started (...)”

Jy kan mos dink.

 

Marius Titus (bron: stellenboschwriters)

Of soos Marius Titus gedig het, heeltemal tereg was Van Riebeeck met sy aankoms “grondloos/ en immers ook/ doosloos”.

Van der Ross gee perspektief oor die bruin gemeenskap as ’n onderskeibare antropologiese groep (of rasgroep, as jy wil) om die digter se woorde te versag: “When Van Riebeeck landed at the Cape in 1652, the Coloured people did not exist. We were begotten, made, produced, developed, moulded – use whichever term you like – here, in South Africa.” En verder: “There are elements of the San and the Khoi in us, but there are elements of so many other races in us too. There is evidence of Dutch, German, British, Irish, French, Spanish, Filipino, Scandinavian, Arabic, Xhosa, and many more ...”

In hierdie vermenging, sou ’n mens seker veilig kon aflei, lê die beweegrede agter die titel van Van der Ross se boek, maar dit het ook baie te doen met die feit dat die skrywer self, om uit Franklin Sonn se voorwoord aan te haal, geheel gemaklik in sy eie vel is.

In our own skins, aldus Van der Ross, het as hoofdoel om te boekstaaf hoe bruin mense tot ’n redelik identifiseerbare groep gevorm is en hulself oor die jare georganiseer het – grootlik ongesiens, meen die skrywer, “except, perhaps, for its nuisance value and possibly some pricking of the conscience of those in the upper layers of the total society”.

Van der Ross som die ervaring van die bruin gemeenskap as volg op: “As this group, the Coloured people, moved on through some three and a half centuries, we have endured the problems and the pains of being despised and rejected, sometimes by our own members, and patronised by others who often did not – could not – appreciate our feelings as we listened and smiled, with half-lidded eyes, to their protestations of sincerity.”

Ook in die politieke geskiedenis verander die weer gelukkig, skuif dit van ongure weer na deels bewolk en matig na mooiweer en warm: “And as we grew to maturity, we reached out to claim and enjoy the benefits of citizenship and labour that were rightly ours – which were taken from us, and which we wanted back.”

Die boek waarin hy hierdie ervarings nou opgeteken het, bied waarskynlik die omvattendste lys van historiese gebeure in die politieke ontwikkeling van die bruin mense – en ook waarskynlik die omvattendste lys van historiese figure wat ’n rol in die genoemde gebeure gespeel het.

Jy lees weer (pynlik) van wetgewing soos die ou Bevolkingsregistrasiewet, die Wet op Aparte Geriewe, die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike en die Ontugwet wat seks oor die kleurgrens verbied het, sowel as die Groepsgebiedewet, wat die bruin gemeenskap sekerlik die hardste getref het.

Jy lees oor verskeie politieke organisasies uit bruin geledere, soos die – ja – African People’s Organisation en later die Arbeidersparty en Unity Movement; oor kommissies wat ingestel is om die lot van die bruin mense te ondersoek, soos die Theron-kommissie; en oor instellings soos die Verteenwoordigende Kleurlingraad, Presidentsraad en die Driekamerparlement, alles in (apartheid)sonde gebore, maar gemik daarop om (tydelike) verligting vir die bruin gemeenskap te bring in terme van die voorsiening van behuising, gesondheid en onderwys.

 

Krotoa, Abdullah Abdurahman, Allan Hendrickse en Alex la Guma

Jy lees ook oor die rol van leiers so ver terug as Krotoa, Autshumato, Abdullah Abdurahman, Cissie Gool, Clements Kadalie, Sonny Leon, ID Morkel, Richard Dudley, Allan Hendrickse, die skrywer Alex la Guma en sy pa, Jimmy, wat saam met John Gomas van die eerste bruin kommuniste was – en ook oor destydse (onsuksesvolle) pogings om die vroeëre ANC so ver te kry om alle rasse as lede toe te laat.

Nie in laasgenoemde nie, maar in talle van die gebeure het Van der Ross self ’n vername rol gespeel, wat hom ’n uiters bekwame en geloofwaardige optekenaar van die politieke geskiedenis van die bruin mense maak. Maar dít sluit nie sonder meer die geskiedskrywer se eie vooroordele (of voorkeure?) uit nie, of maak hom immuun teen historiese eenogigheid nie, en so vind ’n mens dat In our own skins “dikvellig” staan teenoor die meer onlangse struggle-geskiedenis van die bruin mense.

Jy lees byvoorbeeld hoofsaaklik oor die era waarin Van der Ross die meeste belangstel en ten nouste by betrokke was, maar nie oor gebeure soos die Trojaanse Perd-voorval van 1986, waartydens veiligheidsmagte, versteek onder kartondose agterop lorries, op niksvermoedende skoolkinders losgebrand het nie. Of oor struggle-helde soos Ashley Kriel wat ook aan die hand van die veiligheidspolisie ontkom het; of Allan Boesak se onmisbare bevrydingsrol; of die dood in ballingskap van Vernie February se neef, Basil February, ’n lid van die ANC se destydse gewapende vleuel.

Jy sal ook nie die naam van die onderwyseres Dulcie September in die indeks raak lees nie – sy wat as ANC-verteenwoordiger in Frankryk in ’n sluipmoordaanval gesterf het, die tema van ’n verhoogstuk wat tans by die Baxter-teater te sien is; en sy oor wie Breyten Breytenbach gedig het (hier uit my geheue aangehaal): “arme Dulcie van die Kaap/ met haar soet slawenaam en haar heimwee vir hanepoot/ ’n moedige bruin vrou/ in die vreemde vrek geskiet”.

Nogtans behoort hierdie boek verpligte leesstof te word vir bepaalde mense wat hulself bruin noem of wat deur ander as bruin beskou word. Eweneens moet dit sy weg vind na Kaapse skole en universiteite, maar ook die res van die land. (Dit was daarom goed om van burgemeester De Lille te hoor dat sy beplan om eksemplare van die boek na skoolbiblioteke te neem.) Bowenal, sou ek dink, behoort hierdie boek bestudeer te word deur enige party of politikus wat hoop om politieke steun van die bruin mense te wen, of gewoon net insig in die politieke psige van hierdie gemeenskap wil verkry.

Ná alles gesê is, lê die hoër waarde van die boek daarin opgesluit dat Richard van der Ross die gedeelde burgerskap van bruin en swart en wit beklemtoon: “At no time did we deny the rights that we sought for ourselves to other ethnic groups,” beklemtoon hy. “When they suffered, we suffered; when they wept, we wept.”

En só lewer hy deur hierdie optekening van die politieke geskiedenis van die bruin mense uiteindelik ’n blywende bydrae tot groter begrip onder al die mense van die land. Neem ons as lesers dít ter harte – ons: bruin, swart én wit – sal dit tot in lengte van dae as eerbetoon dien, ’n monument selfs, van Van der Ross se nalatenskap en dié van die gemeenskap waaruit hy stam.

Burgemeester De Lille as provinsiale leier van die party wat in die stad én die Wes-Kaap regeer, is goed geplaas om te verseker dat die stad en provinsie hul ereskuld betaal deur voldoende erkenning te gee aan, allereers, inheemse en bruin rolspelers van weleer.

Die boekbekendstelling in die banketsaal van die burgersentrum op Donderdagoggend 7 Mei 2015 was in dié opsig haar nooiensvaart.

In Our Own Skins – A Political History of the Coloured People
Richard van der Ross
ISBN 9781868426676

Besoek Jonathan Ball vir nog inligting oor die boek.

• Heindrich Wyngaard se bundel rubrieke oor die bruin gemeenskap en ook hul verhouding met spesifiek Afrikaners heet ONS: Standpunte van Annerkant die Treinspoor. Dit kan teen R69,99 by heinw@mweb.co.za bestel word.

 

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Heindrich Wyngaard

    *Regstelling: Die Trojaanse Perd-voorval het, inderwaarheid, op 15 Oktober 1985 plaasgevind. (Verwys: Hein Willemse en Hans Pienaar se "Die Trojaanse Perd" - onderhoude oor die 1985-noodtoestand in die Kaap).

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Ek ken Richard van der Ross as 'n fyn beskaafde en Westersgeorienteerde mens. Hy het hom waarskynlik opsetlik van lof vir onbetaamlike, misdadige gedrag weerhou. Daarom verwys hy nie na bv die Trojaanse Perd-voorval nie, want dit was nie "niksvermoedende", onskuldige kinders wat daarby betrokke was nie, maar kinders wat herhaaldelik misdadig opgetree het. Van der Ross sou hom ook kwalik kon vereenselwig met simpatie vir Ashley Kriel, wat hom as opgeleide terroris in woonbuurte skuilgehou het, ens.

  • Avatar
    Anthony Wilson

    Dankie Heindrich vir ʼn puik resensie! Ek dink ALLE Suid-Afrikaners MOET “In our own skins” lees want dit praat immers hier van die egte Suid-Afrikaners – voor die wit klomp Masala kom soek het en die nader klomp met hulle stamme hiernatoe geloop het. Dit is belangrik omdat die boek vanuit en deur een van ons EIE geskryf is. Te veel het reeds oor ons geskryf!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top