Staatsrede 2024

  • 0

Grafika: Canva

In sy boek Recursion beskryf Blake Crouch ’n siektetoestand wat hy false memory syndrome (FMS) noem. FMS laat mense met perfekte herinneringe, tot in die fynste besonderhede, van ’n verlede wat hulle nooit geleef het nie.

Totdat president Ramaphosa op Donderdag 8 Februarie 2024 om 19:00 met sy staatsrede begin het, was ek onder die indruk dat FMS wetenskapsfiksie is. Nou weet ek dit bestaan, en ons staatspresident ly daaraan. Hoe anders kan hy dinge waardeur ek geleef het, so anders onthou as ek? (Of dalk is dit ek wat aan FMS ly.)

So byvoorbeeld beskryf hy hoedat “ons” in 1994 ure in lang toue in die son gestaan het om ons kruisie te trek in die eerste demokratiese verkiesing. Dalk moes hy eerder “julle” gesê het, want hy het nêrens in ’n tou gestaan nie. Hy was triomfantelik eerste by watter stemlokaal hy ook al gestem het, en iewers is daar ’n foto hoe hy sy stembriefie vou en in die stembus ingooi. Ek sou gedink het dat terwyl hy nou by verkiesings draai, hy sommer sou sê wanneer ons vanjaar stem. Dis tog on topic, en almal wag daarvoor; maar nee wat, ons moet maar nog wag.

Maar die denkbeeldige Tintswalo was selfs beter. Het Ramaphosa probeer om Zuma se meer populistiese aanslag te probeer volg? Ten minste het Zuma gewoonlik ’n regte persoon in die gehoor gehad wat kon opstaan en na wie hy kon wys. Dalk ken Uncle Cyril nie regtig mense wat in HOP-huise woon en in geen-fooi-skole skoolgaan en gebruik moet maak van die staat se gratis mediese sorg nie. Maar iemand op sy personeel moes tog iewers iemand ken wat hulle staatsrede toe kon sleep? Of hulle kon ’n aktrise gehuur het om die rol van Tintswalo te speel? Op die ou end het die sage van Tintswalo tog vir heelwat vermaak gesorg. Soos een persoon op X gesê het, sy self is in 1995 gebore, en sy kan waarborg Tintswalo sou skoolgegaan het in ’n skool sonder boeke waar sy waarskynlik ’n substandaard opvoeding sou ontvang het en heeldag sou moes wag om by die kliniek gespreek te word en dan uiteindelik sonder pille huis toe gestuur is. Dis dalk tong-in-die-kies bedoel, maar daar is meer as ’n grein waarheid in. Gratis is nie noodwendig kwaliteit nie.

Maar kom ons spring gou terug na die begin van die staatsrede. Daar is ’n paar opmerkings wat gemaak moet word. Die burgemeester van Kaapstad het groter applous gekry as voormalige staatspresident Thabo Mbeki, en dit in ’n vertrek wat veronderstel is om ’n oorweldigende ANC-teenwoordigheid te hê.

Dit was heerlik om ’n staatsrede te hê wat min of meer op die beplande tyd kon begin en nie kort-kort onderbreek is deur EFF-peuters wat hulle speelgoed uit die kot gooi nie. Dit sê waarskynlik iets omtrent my toewyding tot vryheid van spraak, maar ek wens hulle kan vir nog so ’n jaar of wat wegbly (of weggehou word; ek is nie kieskeurig nie) van staatsredes af.

........
Die staatsrede was ongewoon niksseggend en onsamehangend. Indien ek byvoorbeeld ’n drinkspeletjie sou gespeel het waar ek ’n sluk hardehout moes neem elke keer wanneer staatskaping, korrupsie of Madiba genoem word, dan sou ek teen halfagt onkapabel gewees het.
........

Ek het geweet arme Madiba gaan weer uitgesleep en sy herinnering gebruik word om simpatie vir die ANC te probeer wen, en ons is nie teleurgestel nie. Dit is immers ’n verkiesingsjaar. Ek het met myself ’n weddenskap aangegaan dat sy naam binne tien minute van die aanvang van die staatsrede genoem sou word. Dit was nader aan drie minute. Ek is seker daarvan as hulle ’n manier kon vind om Madiba op te grawe en sy oorskot van plek tot plek te kon neem om stemme te werf, dan sou hulle.

Die staatsrede was ongewoon niksseggend en onsamehangend. Indien ek byvoorbeeld ’n drinkspeletjie sou gespeel het waar ek ’n sluk hardehout moes neem elke keer wanneer staatskaping, korrupsie of Madiba genoem word, dan sou ek teen halfagt onkapabel gewees het. En hoekom struikel hy elke liewe keer oor die woorde “state capture”? Dis amper asof ons president ’n skuldige gewete het. Of dalk het hy vergeet die EFF is nie daar om hom uit te jou nie, en het hy by voorbaat vir hul reaksie probeer keer.

Terug  na die President se FMS. In my herinnering van die staatskapingsjare was Ramaphosa tweede in bevel, en was hy elke keer teenwoordig wanneer daar gestem moes word oor ’n mosie van wantroue in Zuma. Ek herinner my hy het heeltyd bankvas agter Zuma gestaan, en elke keer gestem om Zuma aan bewind te hou. As hy destyds voet neergesit het, dan kon dinge baie anders verloop het. Maar te oordeel aan die manier waarop hy gisteraand oor daardie jare gepraat het, was hy glad nie teenwoordig en deel van staatskaping nie! En ek weerhou my heeltemal daarvan om te praat of te spekuleer oor die Phala Phala-bank. Natuurlik verwag ek nie dat hy sal erken hy’t sy politieke mantel na die wind gedraai nie, maar die skaamteloosheid waarmee hy die geskiedenis probeer herskryf, verstom my.

........
Hy bedank ook die weermag en polisie wat tydens die grendelstaat pasiënte versorg het. Is dit my valse herinnering dat daar skietvoorvalle was waar die weermag burgers gedood het?
........

Hy bedank ook die weermag en polisie wat tydens die grendelstaat pasiënte versorg het. Is dit my valse herinnering dat daar skietvoorvalle was waar die weermag burgers gedood het? Is dit my valse herinneringe aan die polisie wat kragdadig opgetree het teen mense wat net winkels toe wou gaan om kos te koop, of teen ou vroue wat goed verkoop het net om geld te hê sodat hulle nie vergaan van honger nie? Is dit my vals herinneringe dat politici geld wat geoormerk was vir behandeling van mense, gesteel het?

Ek moes lag toe hy aankondig dat daar nou ’n fonds gestig is om klimaatsverandering te bestry. Ja, die Wes-Kaap gaan gebuk onder brande. Ja, daar is vloede in ander landsdele, en droogtes. Ja, klimaatsverandering is ’n werklikheid. Nee, ek dink nie daai geld gaan uitkom waar dit moet nie. Hierdie fonds is net nog ’n voertuig vir politici om hul eie sakke vol te stop.

Ek was baie verbaas om te verneem dat beurtkrag baie verbeter het, en binnekort iets van die verlede sal wees. Want binne ’n uur na die staatsrede was my dorp se krag vir twee en ’n halfuur af, en vandag kan ons uitsien na sewe en ’n half ure van beurtkrag. Beter as wat dit is wanneer ons basies ’n volle werksdag aan beurtkrag afstaan? Is hy onbewus daarvan dat dit onproduktief is om net twee ure te kan werk voordat beurtkrag weer inskop? Is hy bewus daarvan dat transformators blaas wanneer die krag weer aangaan, en dat mense dan vir dae sonder elektrisiteit sit want Eskom kan nie voorbly met die herstelwerk nie? Is hy onbewus dat mense se toerusting vernietig word, hulle vleis vrot raak, hulle werk in die slag bly want niemand kan bekostig om voortdurend sulke kragonderbrekings te hê nie? Natuurlik is hy onbewus daarvan, want hy word nie geraak deur kragonderbrekings nie. Daar is nooit kragonderbrekings waar hy is nie.

Dis die enigste rede waaraan ek kan dink hoekom hy so opgewonde is oor die idee van elektriese voertuie in ’n land wat beswaarlik ’n gloeilamp aan die brand kan hou. Weet hy nie Volvo het net vandeesweek aangekondig dat hulle disinvesteer mbt die ontwikkeling van elektriese voertuie, en dat hulle dit oorweeg om hulle vennootskap met ’n Chinese maatskappy wat elektriese voertuie ontwikkel, te beëindig? Weet hy nie ander voertuigmaatskappye beweeg in dieselfde rigting nie?

Dalk moet die staatsredes hul eie temamusiek kry. My voorstel vir ’n verkiesingsjaar? “The sun always shines on TV”. Alles is rooskleurig. Die party in beheer is die heel beste.

........
Om die staatsrede in een sin saam te vat? Slaggate is weg, beurtkrag is weg, meer en beter polisie, meer en beter opvoeding, meer en beter werksgeleenthede is in ons toekoms. The sun always shines on TV
........

Maar as Ramaphosa ooit weer die geleentheid kry om ’n staatsrede te hou, wil ek voorstel dat hy die populisme los vir iemand wat weet wat hulle doen. Ek het byvoorbeeld regtig gedink hy weet nie wat die naam is van die kunstenaar wat ’n Grammy gewen het nie. Hy moes op die bladsy soek vir Tyla se naam. En wie ook al met die idee van Tintswalo vorendag gekom het, moet afgedank word.

Om die staatsrede in een sin saam te vat? Slaggate is weg, beurtkrag is weg, meer en beter polisie, meer en beter opvoeding, meer en beter werksgeleenthede is in ons toekoms. The sun always shines on TV.

Die realiteit? Die realiteit is dat beurtkrag, peperduur kos, duur petrol, onbevoegde polisie, gebrek aan dienslewering ons elke dag in die gesig staar. Dalk gaan dinge effens beter tussen nou en die verkiesing, maar die dag daarna is die wittebrood oor.

Dalk is Recursion  gepas wanneer daar na ons verlede verwys word, maar ons toekoms? Dit voel asof die keiser se kleed dáárvoor meer gepas is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top