Gewaarwordinge van die eerste verkiesingsdag, 27 April 1994

  • 0

Foto van Danie van Wyk: verskaf

...........
Die dag het aangebreek met groot verwagting en afwagting. Vir almal was dit ’n geskiedkundige dag wat ons vir jare nog sal onthou – 27 April 1994 was die dag waarop ek, soos baie ander voorheen benadeeldes en ontneemdes, vir die eerste keer die reg kon geniet om ons stemme uit te bring in ’n demokratiese Suid-Afrika – of moet ek dit ’n voorreg noem – wat ons nooit voorheen beskore was nie. Ek onthou dat daardie dag ’n koue en triestige dag in die Kaap was, maar dit het niemand teruggehou om hul kruisies te gaan trek nie.
..............

Die dag het aangebreek met groot verwagting en afwagting. Vir almal was dit ’n geskiedkundige dag wat ons vir jare nog sal onthou – 27 April 1994 was die dag waarop ek, soos baie ander voorheen benadeeldes en ontneemdes, vir die eerste keer die reg kon geniet om ons stemme uit te bring in ’n demokratiese Suid-Afrika – of moet ek dit ’n voorreg noem – wat ons nooit voorheen beskore was nie. Ek onthou dat daardie dag ’n koue en triestige dag in die Kaap was, maar dit het niemand teruggehou om hul kruisies te gaan trek nie.

Vir my het dit onwerklik gevoel, want ons het altyd daaroor gepraat en daarvan gedroom. Die stryd om die verwesenliking van ons reg om uiteindelik erken te word as ware burgers van die land waarin ons gebore en getoë was, was uiteindelik gewonne. Ons het die demokrasie omarm soos geliefdes dit doen om uitdrukking te gee aan hul gevoel vir een die ander. Dit gaan gepaard met opgewondenheid en aanvaarding met ’n wedersydse gevoel vir mekaar asook met opgewondenheid en ’n gevoel van stille van verlange wat altyd daar was. Só het daardie historiese dag vir my gevoel toe ek my stemreg kon uitoefen.

Vir die eerste keer in my lewe kon ek deelneem aan ’n verkiesing om die ware politieke leiers van die land op daardie stadium op ’n demokratiese wyse, te verkies. Dit was verder die dag wat in my geheue sal bly as die dag toe Suid-Afrika politieke volwassenheid bereik het om sy plek in te neem langs ander demokrasieë in die wêreld. In my leeftyd was dit my beskore om ’n kruisie te trek langs die politieke party van my keuse – iets wat nie vroeër denkbaar was nie. Dit het plek-plek onwaar geklink toe ek hoor hoe mense van verskillende bevolkingsgroepe spontaan met mekaar geskerts en gesels het.

Ek het vroeg my plek gaan inneem by die gemeenskapsaal in Sarepta, Kuilsrivier, om te gaan stem. Toe ek by die stemlokaal uitstap, kon ek voel dat die juk van apartheid finaal van my skouers afgewerp was. Dit was ’n verligting, want nou was ek volledig polities vry. Daar het ’n gevoel van samehorigheid geheers soos nooit voorheen nie. Worsrolletjies is uitgedeel en by ’n ander party se tafel kon jy sop kry. Buite die gemeenskapsaal het ’n feestelike atmosfeer geheers.

Ek onthou hoe ek betrokke was om politieke byeenkomste te reël vir leiers soos Allan Boesak en Franklin Sonn. Dit was die aanloop tot die finale dag van die verkiesing. Ons het die destydse Kaapprovinsie deurkruis om mense in te lig waarom hulle moes gaan stem en hulle ook op te lei in die stemprosedure wat gevolg gaan word. Tydens daardie tyd het ek en medeaktiviste kennis gemaak met waarnemers van verskeie lande wat die verkiesing kom monitor het. Op die dag van die verkiesing self het ons verskeie stemlokale gaan besoek om waar te neem hoe die verkiesing verloop. Ek het my motor beskikbaar gestel om mense wat nie vervoer gehad het nie, na hul stemlokale te vervoer. Sommige was so ooropgewonde en het sonder om te blik of te bloos hul keuse vir wie hulle gaan stem, bekendgemaak, alhoewel ons dit duidelik aan hulle gestel het dat jou stem jou geheim is. 

............
Dit was vir my ook ’n persoonlike oorwinning, want ons het lank en hard gewerk gedurende die stryd teen apartheid om ons stemreg te bekom. Ek onthou hoe ek my dogter en seun saam met my geneem het om deel te wees van die geskiedkundige oomblik, alhoewel hulle klein was en nie die omvang van die gebeurtenis kon snap nie.
..............

Dit was vir my ook ’n persoonlike oorwinning, want ons het lank en hard gewerk gedurende die stryd teen apartheid om ons stemreg te bekom. Ek onthou hoe ek my dogter en seun saam met my geneem het om deel te wees van die geskiedkundige oomblik, alhoewel hulle klein was en nie die omvang van die gebeurtenis kon snap nie. Vandag is hulle volwassenes wat stemgeregtig is en weet wat dit gekos het om te kom waar ons vandag is. Ek onthou hoe ’n bruin oom gesê het dat hy vir die Nuwe Nasionale Party (NNP) gaan stem, want volgens hom was dit “better the devil you know”. Groot was my verbasing toe ek later hoor hoeveel bruin mense toe uiteindelik vir die NNP gestem het. By die lokaal waar ek later deel was van ’n span wat die tellery waargeneem het, was die meeste stemme ten gunste van die NNP, en dit in die woonbuurt waar ek woonagtig was, naamlik Nooiensfontein in Kuilsrivier.

Ek kon dit nie verstaan nie, maar vandag is dit vir my duidelik waarom mense daardie vreemde opsie uitgeoefen het. Vir ons wat so diep betrokke was in die stryd teen apartheid, was dit iets wat ons nie kon verstaan nie. Die verdrukte het die verdrukker se party ondersteun en so ook indirek ’n proksie aan hulle verleen deur middel van hul stem. Die propaganda van die NNP was suksesvol in baie bruin woonbuurte. Ek onthou die pamflet van NNP:

  1. Jongmense: Moenie toy-toy met jou toekoms nie.
  2. Vrouens: Verseker die welvaart van jou gesin!
  3. Oupa/Ouma: Onder wie is jou nageslag … en jou pension safe?

                              Die Nuwe Nasionale Party natuurlik!!

                              JA! Stem vir Vrede en Voorspoed.

Dit was opvallend hoeveel partye vrede en voorspoed gepredik het. Hoe vreedsaam en voorspoedig hulle was, en of hulle daarin geslaag het, is ’n vraag vir ’n ander dag. Ek het nog van daardie propagandapamflette van die NNP in my besit wat ek by ’n vriend gekry het. Ek sien dit as iets wat deel vorm van ons geskiedenis. Die 27 April 1994-verkiesing het my laat besef dat my bydrae tot die bereiking van ons ideaal nie tevergeefs was nie.

Die Amerikaanse vryheidslied wat gesing is tydens die vryheidsoptogte van swart Amerikaners, naamlik: “Freedom isn’t free, freedom isn’t free. You’ve got to pay a price, you’ve got to sacrifice for your liberty”, het by my opgekom die dag toe ek my stemreg kon uitoefen. My boodskap aan my volksgenote is steeds: Gaan oefen jou stemreg uit, want dit was duur gekoop.

  • Danie van Wyk, Uitvoerende voorsitter, DAK Netwerk

Lees ook:

Journey from apartheid to freedom

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top