Verkiesing 2024: Wat soek kiesers?

  • 4

Bo: Kragstasie (Canva). Onder: Markus Spiske op Unsplash

Die datum vir die algemene verkiesing is nog nie bekend nie, maar verkiesingskoors loop alreeds hoog, veral onder politici wat alreeds hulle oorwinningstoesprake slyp.

Die meeste partye fokus op elektrisiteitsvoorsiening as ’n ANC swak punt om uit te buit. Al wat dit bewys, is hoedat hulle net na konsultante uit die middelklas luister. Of dalk dink hulle bloot nie dat arm mense stem nie.

Die derde moontlikheid is dat hulle nie dink arm mense se stem is van belang nie. Dis waar hulle ’n fout maak.

Vir baie arm mense, en dis die oorgrote meerderheid van ons bevolking, is beurtkrag eenvoudig nie die einde van die wêreld nie. Hulle het nie rekenaars wat heeltyd moet werk nie; die huiswinkel op die hoek met sy dieselkragopwekker laai hulle selfone teen ’n minimale bedrag; hulle maak buite vuur vir kos, of gebruik Wonderbags wat teen gesubsidieerde bedrae versprei word. Geld vir ’n vrieskas vol vleis is daar in elk geval nie, so vrieskaste wat afloop, is nie iets waaroor hulle kop breek nie. En vir yskaste? Baie mense vries Coke-bottels vol water om die yskas vir dae koud te hou selfs wanneer daar nie elektrisiteit is nie. Boonop word baie informele nedersettings as hoërisiko-misdaadgebiede geklassifiseer. Hulle kry glad nie beurtkrag nie, en hulle het hoëmasligte wat die hele nedersetting elke nag verlig.

........
Beurtkrag is net ’n probleem vir besighede en vir middelklasgesinne. Politieke partye wat hulle verkiesingsplan om elektrisiteit setel, maak ’n fout.
........

Beurtkrag is net ’n probleem vir besighede en vir middelklasgesinne. Politieke partye wat hulle verkiesingsplan om elektrisiteit setel, maak ’n fout.

Ditto slaggate in die paaie. Hoekom sal enigeen wat nie ’n motor het nie, en wat van openbare vervoer gebruik maak, hulle koppe breek oor slaggate? Minibustaxi’s ry bloot ’n nuwe pad langs die amptelike pad oop. Busse se eienaars is ongelukkig, maar gewoonlik is die busse se wiele so groot dat hulle bo-oor die meeste slaggate kan ry. Weer eens is dit middelklas privaatvoertuigeienaars wat meer as enigeen anders verontrief word.

Die meeste mense gee wel om oor voedselpryse wat styg. Basiese goedere word gesubsidieer, maar daardie pryse is nog steeds besig om te styg. Petrolpryse styg en dit maak voedselpryse duurder. Dit maak ook openbare vervoer duurder. Een manier vir die huidige regering om hulle kiesers gelukkig te hou, is om in die komende begrotingsrede Sassa-bedrae aan te pas en om die toelaag vir werkloses te behou of uit te brei. Maar daar moet steeds ’n manier gevind word om voedselpryse laag te hou.

........
Regstellende aksie moet meer effektief aangewend word. Indien dit in die verlede reg gedoen was, sou die behoefte vir regstellende aksie nou reeds verdwyn het
.......

Werkloosheid is die ander area waaroor almal besorgd is. Kaderontplooiing is maar een enkele faktor wat hierop inspeel. Regstellende aksie moet meer effektief aangewend word. Indien dit in die verlede reg gedoen was, sou die behoefte vir regstellende aksie nou reeds verdwyn het. Soos dinge staan, is ’n piepklein elite bevoordeel ten koste van al die ander groepe. Boonop het die meeste swart mense ook nie voordeel getrek uit regstellende aksie nie. ’n Klein groepie het dus superryk geword, en die oorgrote meerderheid mense bly nog steeds in plakkershutte.

’n Derde area waaraan partye meer aandag moet gee, is effektiewe planne om voedselsekerheid te vestig. Voorsien sade, grond en water sodat mense hulle eie groente kan kweek. Leer mense hoe om in die grond te werk. Ons oupas en oumas het as standaard groente geplant en gekweek om hul behoeftes aan te vul. Deesdae weet bitter min mense nog hoe om plante aan die lewe te hou. Begin met grootskaalse gratis opleiding oor hoe om te plant en te oes.

Laastens – en dit is een area wat oor die volgende klompie jare krities belangrik gaan wees – moet watervoorsiening verseker word. Droogtes is een gevaar, maar so ook swak instandhouding van bestaande infrastruktuur, en natuurlik speel beurtkrag hier ’n rol. Wanneer daar vir lang rukke fase 6-beurtkrag is, kan die waterpompe nie byhou nie, en dan kom daar dae dat hele dorpe sonder lopende water is.

........
Dis tyd dat politieke partye van dwarsoor die spektrum begin om in die gemeenskappe uit te gaan en insette van alle vlakke van die samelewing verkry. Hulle sal gou genoeg uitvind dat mense presies weet wat nodig is om hulle omstandighede te verlig.
........

Mense kan nog honger ly, maar net ’n paar dae sonder water klaarkom, en tussen siekte en dors wag daar tragedies.

Dis nie genoeg vir politieke partye om net te fokus op die behoeftes van die middelklas belastingbetaler nie. As hulle behoorlik ag slaan op die realiteite rondom hulle, sal politieke partye besef dat om die hele samelewing op te hef, voordeel inhou vir almal. As mense werk, sal hulle op een of ander manier belasting betaal. Dit verlig die druk op die klein groep belastingpligtiges, en dit maak ook ander verbeterings in die samelewing moontlik.

Dis tyd dat politieke partye van dwarsoor die spektrum begin om in die gemeenskappe uit te gaan en insette van alle vlakke van die samelewing verkry. Hulle sal gou genoeg uitvind dat mense presies weet wat nodig is om hulle omstandighede te verlig. Mense wil werk. Mense wil op hul eie twee bene kan staan en nie bakhand hoef te staan nie.

Die vraag is net: Watter politieke party het nie belang daarby om ’n groot groep mense te hê wat afhanklik is en afhanklik bly van staatsuitgifte nie?

Lees ook:

Staatsrede 2024

Die 2024-verkiesing: Is ’n Suid-Afrikaanse Lente op pad?

Staatsrede 2024

 

  • 4

Kommentaar

  • Net soos wat die politieke sisteem maar gedoem is, so is dit met die geldsisteem. Regerings en banke kan na hartelus geld uit wind uit produseer. Die gevolg is dat inflasie 'n ingeboude aspek van die sisteem is. En met die brandstofskokke wat voorlê, gaan die situasie net vererger.

  • Daar is 'n paar punte wat óf wys dat die volkie nie verkiesings mooi deurdink nie óf dat die artikel nie goed deurdink is nie. Een so punt is beurtkrag. Om te dink dat dit net 'n middelklas probleem is, toon absolute gebrek aan insig. Beurtkrag, werkskepping en ekonomiese groei gaan hand aan hand. As jy klein tot middelslag besighede lamlê deur beurtkrag, verminder jy koopkrag en werkers word geretrench. Dienste vd staat soos hospitale en klinieke word selfs swakker as daar nie krag is nie. Die polisie sluit hulle deure. Dink mense en die rubriekskrywer nie aan hierdie gevolge nie? Die verval van die paaie se infrastruktuur het 'n impak op instandhouding van derduidende vragmotors wat kos op die rakke plaas vanaf plase en markte. Dink die armklas nie daaraan dat dit juis swak regering is wat maak dat hulle 30 jaar later nog in shacks woon nie? En korrupsie natuurlik. Daar is 'n paar aspekte waaroor die rubriekskrywer dieper kon gaan dink het. Die ANC verkies dat die armklas arm bly, want hulle besef as jy mense ophef, begin hulle jou foute raaksien. Hou hulle afhanklik (SASSA, tradisionele leiers), gebruik belastinggeld daarvoor en siedaar, hou die ANC aan bewind! Swak regering, wanbestuur, korrupsie en al!

  • Hans Richardt

    Ek was al die afgelope paar maande in Kimberley, met geen water. Maw geen openbare toilette in winkelsentrums of by vulstasies nie. Gepaardgaande met beurtkrag, beteken dit statiese riool en groot stank oor Kimberley, waar die ANC provinsiale wetgewer sit. Kom verkiesing, dan vat lojaliteit en gewoonte oor....

  • Die wetgewer staan darem so half uit die dorp uit. Daar eenkant. Op pad na Galeshewe. Die verval van plekke soos Kimberley en Bloemfontein, is vir my besonder neerdrukkend. Ek het daardie plekke in beter dae geken.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top