Hoe vry is ons na 30 jaar se demokrasie?

  • 0

Suid-Afrikaanse rand: Pixabay

Hierdie tyd van die jaar, rondom Vryheidsdag, word daar gereeld beelde gedeel van die lang toue mense wat geduldig staan en wag om te stem tydens die eerste demokratiese verkiesing in 1994. Dis asof daai beelde ons tot gerustheid moet sus, want kyk, ons kan almal stem.

Maar is die vryheid om te stem die enigste barometer waaraan ons vryheid meet? En as dit is, hoekom is so baie van ons jongmense onwillig om te stem? Hulle voel dat daai kruisie wat hulle maak, in elk geval geen verskil maak nie, daarom die letargie.

Die tydsberekening met die vrystelling van die Afrikaner Verklaring was volgens die opstellers daarvan om saam te val met die 30ste herdenking van die opkoms van demokrasie. Dis seker ook nie toevallig dat dit net ‘n bietjie meer as ’n maand voor die nasionale verkiesing plaasvind nie. Daar is op ander plekke alreeds heelwat oor die verklaring geskryf. Vir doeleindes van hierdie stuk is dit net nodig om te sê dat hier ’n groep is, ‘n minderheid in getal maar ‘n meerderheid in ekonomiese welvaart, wat voel hulle vryheid om af te skei word aan bande gelê.

Daar is gebiede in die land waar mense glad nie meer saans uitgaan nie, want dis nie veilig nie. Misdadigers beweeg vryelik rond, terwyl wetsgehoorsame burgers in vrees agter geslote deure bly. Boonop glo die meeste burgers dat die polisie nie meer in staat is om die golwe van misdadigheid te keer nie, of erger, dat die polisie deel daarvan is.

Gratis mediese sorg word aangebied, maar die hospitale en klinieke is nie in staat om die sorg te verskaf wat in die Grondwet belowe word nie. Daar is tekorte aan personeel, aan medikasie en aan kundigheid. ’n Persoon wat ’n operasie aan sy knie moet kry, word in kennis gestel dat die waglys 10 jaar lank is. Hoe is dit effektiewe mediese sorg?

Gratis onderwys word belowe, maar daar is nie voldoende skole of onderwysers om die leerdertal na behore te dien nie. Munisipale dienste soos vullisverwydering, rioolverwydering en instandhouding van paaie en dies meer, skiet in soveel gebiede te kort dat dit nie statisties toevallig kan wees nie.

........
Burgers moet glo in die proses, en hulle moet deelneem aan die proses.
........

Vir ’n demokrasie om gesond te wees en te funksioneer, is twee dinge nodig. Goed, meer as twee dinge is nodig, maar hierdie twee is onontbeerlik. Burgers moet glo in die proses, en hulle moet deelneem aan die proses. Beide elemente is egter grotendeels afwesig in Suid-Afrika.

Uit ’n bevolking van ongeveer 61 miljoen is nagenoeg 20 miljoen afhanklik van ’n staatstoelaag om te oorleef. Amper vyf miljoen jeugdiges is werkloos. Die gedeelte van die bevolking wat belasting betaal, die basis waaruit die meeste programme befonds word, onder andere staatstoelae, mediese sorg, ens, word ouer en gaan waarskynlik binne die volgende dekade of wat nie meer ekonomies aktief wees nie. Kos word duurder. Elektrisiteit word duurder en is nie altyd beskikbaar nie

Hierdie is nie ’n volhoubare resep vir ekonomiese of demokratiese sukses nie. Dis veral nie ’n volhoubare model vir vrede nie – nóg ’n onontbeerlike vereiste vir ’n gesonde demokrasie.

........
Regte moet elke dag, elke jaar oor en oor bevestig word. Die oomblik as die burgery begin slaplê, is die oomblik wanneer regte stil-stil onder hul neuse uit verwyder word.
........

Wat ek oor die afgelope drie dekades geleer het, is dat demokrasie en die verkryging van regte nie ’n one and done-proses is nie. Regte moet elke dag, elke jaar oor en oor bevestig word. Die oomblik as die burgery begin slaplê, is die oomblik wanneer regte stil-stil onder hul neuse uit verwyder word.

Om ’n kruisie te kan trek in Meimaand is nie die enigste manier om ons regte te beskerm nie, maar dis ’n noodsaaklike stap.

Die beelde van lang toue mense wat wag om te stem, is nie meer ons realiteit nie, maar dit kan ons inspirasie (of is dit aspirasie?) wees. Om ons demokrasie te beskerm, moet mense betrokke wees in die verkiesing van ons leiers.

Tot dan is dit vir ons almal nog ’n lang pad tot by ware vryheid.

Lees ook:

Oorsig ‒ Jakes Gerwel-gesprek (Suidoosterfees 2024): Wie gaan Suid-Afrika ná 29 Mei regeer?

Ek is ’n Afrikaner, maar…

Bou ’n Springbokspan in elke gemeenskap dwarsoor Suid-Afrika! So maak ons hoop!

Die grootmense van môre

Menseregtedag, maar waar is ons waardigheid?

Verkiesing 2024: Wat soek kiesers?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top