Die reeks met die titel Chasing the sun wat die afgelope tyd op televisie uitgesaai word, is waarlik ’n inspirerende verhaal van spanbou, nasiebou, dryfveer en meritokrasie. Ek haal my hoed af vir Rassie, Siya, Jacques, Deon en al die ander afrigters en veral spelers vir dit wat hulle as ’n span vermag het. Lanklaas was Suid-Afrika oor alle grense heen so verenig en bankvas agter ’n span.
Met die Wêreldbekerfinaal het ek die wedstryd in ’n restaurant saam met ’n horde ander mense sit en kyk – swart, wit, bruin, Indiër, noem maar op. Almal was in hul Springboktruie getooi, met die uitsondering van een All Black-ondersteuner in ’n All Black trui. Deur die loop van die aand het dit duidelik geword dat hy toenemend geïsoleer is deur die skare Springbokondersteuners wat hul span luidkeels aangemoedig het. Ek het hom half jammer gekry en wou vir hom ’n bier koop, maar het my daarvan weerhou. Vir dislojale en onpatriotiese Suid-Afrikaners het ek nie tyd nie!
Vir Suid-Afrikaners wat doelgerig ingestel is op die skep van geleenthede en ’n samelewing wat vryheid, vrede, vooruitgang en voorspoed vir almal teweegbring, het ek wel baie tyd. Chasing the sun vertel verhale van jong rugbyspelers wat bo hul omstandighede uitgestyg het, soos Kurt-Lee Arendse, Bongi Mbonambi, Manie Libbok en vele ander. Iemand het hulle ’n geleentheid gebied en op meriete deel gemaak van ’n nasionale span.
Uit die reeks blyk dit ook duidelik dat bepaalde tegniese kundigheid ingetrek is om strategieë te ontwikkel, die opposisie se spel te ontleed en daarvolgens ’n plan te bedink om hul uit te oorlê. Die harde werk het egter in die oefensessies plaasgevind met mense soos Daan Human, Mzwandile Stick en andere wat agter die skerms baie bygedra het om die beste uit die spelers te haal. Van ego’s was hier nie sprake nie!
In een van die episodes stel Rassie dit duidelik, en met die hulp van ’n paar bekende gevleuelde woorde, dat hy nie lamsakkigheid duld nie. Bring julle kant (oeps) en gee 200% of julle verloor julle posisies in die span en word huis toe gestuur. Geen mooi broodjies bak nie, en sonder vrees óf guns het Rassie dit duidelik laat blyk dat hy nié met middelmatige spel tevrede is nié.
Ek het lanklaas soveel emosie op ’n persoonlike vlak beleef om beroemde en gedugte rugbyspelers te sien huil as hulle met ’n geel kaart of rooi kaart gestraf is. Om nie eens te praat van die ondersteuners nie. In Soweto, Mitchells Plain, Constantia, Lenasia, Ventersdorp, Atlantis en vele ander gemeenskappe het mense hul naels stomp gekou tydens elke wedstryd. Dit was naelbyt-, gatskuuroorwinnings, met een punt in ’n paar gevalle. Maar dit was genoeg om ons die Wêreldbeker huis toe te laat bring.
Met genoeg passie, die regte kundigheid, veerkragtige leierskap en ’n ingesteldheid van patriotisme en landstrots kan ons die resep van die Springbokke in elke dorp laat werk. Ek het nie tyd vir die bevordering van sektariese belang nie. Veral nie soos dit nou momentum kry binne sekere politieke en burgerlike organisasies nie.
Ons moet eerder as Suid-Afrikaners oor grense heen gemeenskaplike belang vooropstel en ons gemeenskappe byeen bring om die verval wat ons in baie dorpe en stede beleef, om te draai. Dat elke mens ’n bepaalde kulturele agtergrond het, is gewis. Ons het uiteenlopende kulturele identiteite, praat verskillende tale, het verskillende godsdienstige oortuigings en het diverse agtergronde. Dit moet ons te alle tye respekteer en mekaar die ruimtes gee om ons uniekhede ten volle uit te leef.
In dié verband erken ons Grondwet hierdie unieke kulturele diversiteit en lê dit die grondslag vir elke individu en gemeenskap om dit uit te leef. Die drie boustene van ons demokratiese bestel: menswaardigheid, gelykheid en vryheid, dien as basis waarop ons as landburgers ons unieke kulture binne ’n nierassige raamwerk kan uitleef.
Die Grondwet se motto, “!ke e: /xarra //ke”, ook bekend as “Eenheid in diversiteit”, geskryf in die Khoisan-taal van die /Xam mense, balanseer egter hierdie reg met ’n verantwoordelikheid. Dit vra dat ons as ’n nasie moet saamstaan, saamwerk en om die grense van rasseverdeeldheid te oorkom. Aanspraak op regte gaan hand aan hand met verantwoordelikheid!
Die stryd om te verenig as ’n nasie moet nou eerder verskerp word, veral in die lig van politieke beleide, uitsprake en immorele leierskap wat ten doel het om ons nasie te polariseer. Wanhoop, verdeeldheid op grond van ras is allermins ding wat ons nou kan bekostig.
Ons Springbokspan is ’n toonbeeld van wat ons kan vermag as mense op ’n nierassige basis saamstaan en hul kundigheid vir ’n gemeenskaplike doel aanwend. Kom ons skep ’n Springbokspan vir elke dorp, stad en landelike gebied en maak hoop!
Kommentaar
'n Mens moet besef dat professionele sport is vermaak. Dit is 'n oorvereenvoudiging om die model van 'n rugbyspan, op elke ander samelewingsinstelling van toepassing te maak. Maar kom ons besluit, hipoteties gesproke, dat die Springbokspan 'n skool is. 'n Suid-Afrikaanse skool.
Die skool sou eksklussief enkelmedium Engels gewees het. Ander tale sou darem pouse en so gepraat kon word, maar nooit in enige klas nie.
Die skoolgelde sou onbekostigbaar gewees het vir die gemiddelde Suid-Afrikaanse huishouding. Al die Springbokke was self ook in top gegoede skole.
Die skool sou geen puttoilette gehad het nie.
Daar sou ekstra onderwysers gewees het, wat deur die skool se beheerraad aangestel gewees het. Wat beteken kleiner klasse, minder oorwerkte onderwysers, meer individuele aandag ens.
Die skool sou uitstekende sport en ander geriewe soos klaskamers gehad het.
Hierdie is beslis nie die realiteite van die gemiddelde Suid-Afrikaner nie.
Die gemiddelde Suid-Afrikaner sou slegs daardie skool kon bywoon indien hulle gelukkig genoeg was om 'n beurs te kry. Hierdie stand van sake is geensins uniek aan rugby nie. Professionele sport is goeie vermaak, maar dit is maar grotendeels is die rykes se speelveld.
Sport is vir die pleb 'n goeie ontvlugting uit realiteit, maar veral professionele sport is eintlik deel van die groter probleem van onreg en ongelykheid. Dit was nog altyd so. Die Springbokke het 'n lang geskiedenis van uitsluiting van swartmense.
Die Springbokspan is maar net gewild omdat hulle wen. Die krieketspan en die sokkerspan wen nie groot kompetisies nie.
Christo jou skrywe kon nie meer belyn wees met my oplossing vir die implementering van die waardes deur die Springbokke geleef in hul opbou na kampioenkwaliteit nie.
Allereers benodig ons 'n struktuur waarbinne mense 'n gevoel van betekenis en behoort kan beleef. Noem dit jobklubs, want werk is 'n game wat ons almal ken of wil speel. Inteendeel sedert die werklikheid gebreek het, is "gaming" van die rekenaarsoort die betekenisskepper van miljoene mense, al doen hul iets anders vir 'n salaris. In 'n Romeinse vesting 1400vC het Herodutus sy mense deur 18 jaar van hongersnood gedra daarmee. Die klubs se wapens neem ons terug na 'n koker vol pyle - ja jou San- (eintlik Boesman-)metafoor. Werk, beroep en loopbaan se modernste definisies word ook deur die jag-en-versamel-kultuur gedra. 'n Bok is deesdae' n buitekans na jy vanoggend op die jag na werk uit is, maar jy weet jy kan nie leë hande terugkeer skuiling toe nie. Die jobklub het die voordeel dat almal kan weet watter spesiale pyle die jagters elkeen saamdra. Saam kan die klub geleenthede skep. Tsammas kan naby geplant word, daar's water in, en seisoenale oeste of stukwerk kan vir mekaar geïdentifiseer word, om nie te praat van die gedeelde lekkerte van 'n ryp bessiebos en versamelnes se opbrengs nie.
Branderplankry, 4x4-naweke of rotsklimuitdagings is nog toepaslike metafore. Elkeen het sy vaardighede wat met geduld en begeleiding tot Springbokvlak geneem kan word. "Ubiquity" is nog 'n beginsel wat met vrug toegepas kan word, ons klub mik om te oorleef van maanhaarsampioene en dan word ons die shamaans van psilo cybin in feitlike alle toekomstige medisynes. Ons doen ons rotstekeninge met grafiet en ontdek grafien, alles binne die konteks van ons klub en sy unieke, maar ook algemeen toegeruste, vaardighede, 'n generiese beroepsfasiliteringsprogram (reeds ontwikkel by BIBO) vir alle NEET's oppad na die Springbokspan. Soveel klubs, soveel name en metafore met ononderhandelbare Joker-pylpunte toepasbaar in alle gemeenskappe en jagvelde. Ek gesels eersdaags met die Khoisan-beweging oor die moontlikhede, maar daar's ook die kos kweek-, vervaardig- en voorbereidingskomponent binne die klub. Al ons 3D-gedrukte wafel met soetbessie probeer?
Die metafoor voldoen aan alle vereistes om die konsep te dra, nou net vir die ou jagters met die klingelruilgoed om ons aan die gang te kry in jagvelde wat onherkenbaar verander het. Ons vang nou al self geteelde hase uit 'n hoed. Maak gerus kontak as jy die konsep in groter detail wil bespreek en die moderne verpakking van klubs as wettige en werkbare strukture wil bespreek.
Aan die bestuur van hierdie Springbokspan wat so wen is Afrikaners - sal daar in elke dorp Afrikaners toegelaat word om aan die hoof van die bestuur te wees?
Suid-Afrikaners, Santie, Suid-Afrikaners! Die leierskap van die Springbokke bestaan uit Suid-Afrikaners van alle agtergronde en ook internasionale kundiges. Waarom die beheptheid om mense se nasionale identiteit te reduseer tot hul kulturele identiteit! En het jy hulle inkoop gekry om dit te doen?
Christo, die Drie-Enige God van die Bybel, het die mens in uitkringende samelewingsverbande gestel: enkeling - huwelik - gesin - familie - stam - volk - ras (vasteland van afkoms). Godswoord verwys na o.a. volke vanaf Babel in Genesis 10 tot in die ewige bestel in Openbaring. Dus is dit verkeerd van jou en wokes om volksverband (etnisiteite) te misken.
@Hanno 🙄
Nêrens ontken die artikel kulturele diversiteit nie. Al waarop dit neerkom, is dat ons as Suid-Afrikaners oor grense heen moet hande neem om ons land van agteruitgang te red! Dit is ook duidelik dat jy die kat aan die stert beet het met die term ‘woke’! Asseblief moenie jou onkunde en onvermoë om met begrip te lees so ontbloot nie!
Ja nee, Sarie en Hanno, Felix Jones die meesterstrateeg agter die Springbokke is so Iers soos Guiness! En Mwzandile Stick sal hardop aan die lag gaan as jy hom 'n Afrikaner noem.
En hoekom Afrikaners aan die hoof van elke dorp in SA? Ai tog...
Hanno, waar in die bybel lees jy van God drie-enig? Dis 'n mens-gemaakte konstruk.
Terloops, elke woord in die bybel is deur mense geskryf. Godswoord? Weklik? Dis 2024 as jy nie weet nie
Christo, Sarie is die naam en nie Santie nie. Dis beter om na die kultuuronderskeid te verwys as ras. Kultuur word in ‘n sekere gemeenskap gevorm wat ‘n groep se karakter en vaardighede vorm , terwyl jy nie ras kan beheer nie. Soos jy nie verwysings oor kultuur nie van hou nie, hou ek ook nie om prestasies aan mense met uitdrukkings soos “Eerste man of vrou van kleur” wat dit bereik het - ons het almal ‘n vel kleur. Jy kan ook nie stry dat party mense poste kry op hul kleur en nie op vaardigheid in ‘n veld nie.
Dirk ek wonder net waarom die -Ier en ander nie soos Rassie ‘n eredoktersgraad in SA of Ierland nie.