Ek is ’n Afrikaner, maar…

  • 6

Die geskiedenis het ’n snaakse manier om ’n ironiese draai met ’n mens te loop. 45 jaar gelede in Julie 1979 is daar ’n Afrikaanse Studentebond- (ASB-) kongres op Stellenbosch gehou met die tema “Identiteite”. By dié kongres was Theuns Eloff die president van die ASB en ek ’n vierdejaar afgevaardigde van Tukkies. My eie siening van wie as Afrikaner beskou kan word, was dieselfde enger beskouing as dié van die onlangse Afrikaner Verklaring, terwyl dit my indruk was dat die “verligte” Theuns Eloff ’n veel oper en meer inklusiewe beskouing gehad het.

Vandag, lyk dit my, staan Theuns waar ek 45 jaar gelede gestaan het, terwyl ek intussen ’n ruimer, minder uitsluitende en veelkleurige Afrikanerskap ontdek het – sonder om benoud te raak oor die vraag of ek “ons kultuur” aan my nageslag sal kan oordra.

Ja, ek is ’n Afrikaner.

Ek praat Afrikaans. My kinders is Afrikaans. My kleinkinders is meertalig, maar ons praat hoofsaaklik Afrikaans met mekaar.

Ek was in Afrikaanse skole, het aan ’n Afrikaanse universiteit studeer en uiteindelik ’n proefskrif in Afrikaans geskryf.

Ek lees graag Afrikaanse prosa en poësie en het self al twee boeke in Afrikaans geskryf.

Ek luister nog altyd ook na goeie Afrikaanse musiek – kuns- én luisterliedere. Deesdae begin ek selfs ’n smaak vir boeremusiek ontwikkel.

Ek behoort aan ’n kerk en ’n gemeente waar die voertaal oorwegend Afrikaans is.

As student was ek vir baie jare aktief betrokke by die Afrikaanse Studentebond, die Junior Rapportryers, die Afrikaanse Studentepersunie, en vir ’n tyd lank op die hoofbestuur van die Ruiterwag. Ek beskou hierdie betrokkenheid steeds as van die beste vormende invloede in my lewe.

My denke en my leefwyse is grootliks gevorm deur die gebeure en diskoerse onder Afrikaners. En die geskiedenis van die Afrikaner het nog altyd ’n emosionele houvas op my gemoed en lewensuitkyk.

Nogtans sien ek hoegenaamd nie kans om die Afrikaner Verklaring van Theuns Eloff en andere te onderteken nie.

Hoekom nie?

Veral omdat die verklaring werk met ’n rasgebaseerde definisie van Afrikanerskap waarmee ek my (nie meer) kan vereenselwig nie. 

Die verklaring begin heel belowend deur na Afrikaners te verwys as ’n “inheemse kultuurgemeenskap” met ’n “taal en kultuur inheems aan Afrika en nêrens anders nie”. Daar word ook verklaar: “Ons het ons taal en onsself en baie van ons instellings na Afrika vernoem.”

Ná hierdie belowende begin, neem die verklaring egter ’n regsdraai na ’n ekslusiewe rasgebaseerde verstaan van Afrikanerskap. Daar word gesê “dat ons deur Afrikaans ook ’n taalverbintenis het met die meerderheid bruin Suid-Afrikaners, asook ’n beduidende aantal mense uit ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe”. Hierdie bruin en ander Afrikaanssprekendes bly egter steeds “ander Afrikaanse kulturele gemeenskappe” met wie die wit Afrikaners darem bereid is om saam te werk.

Hoekom word hierdie Afrikaanssprekendes uitgesonder? Nie omdat hulle nie Afrikaans praat of nie ook inheems aan Afrika is nie, maar bloot omdat hulle nie wit is nie. Dit is dié soort afbakening van Afrikanerskap wat dit in die verlede vir die Hollands-gebore Hendrik Verwoerd moontlik gemaak het om as Afrikaner aanvaar te word, terwyl dié moontlikheid nie vir Suid-Afrikaans-gebore persone soos Adam Small en Danny Titus bestaan het nie.

Die gevaarlike implikasies van hierdie uitsluitende beskouing word duidelik wanneer mens in die res van die verklaring lees dat die Afrikaner-kultuurgemeenskap ’n republikeinse ideaal koester “wat in die praktyk beteken dat ons ons eie besluite oor onsself wil neem en uitvoer”. Lees daarmee saam: “Daarom bou ons aan ’n kulturele infrastruktuur, leefruimtes, tuistes en instellings om hier in Suid-Afrika te kan bly” en “[o]ns kulturele instellings soos skole, universiteite, vakbonde en dergelike ander skep vir ons die tuistelike ruimtes wat ons in staat stel om ons kultuur uit te leef.”

Hou in gedagte dat die “ons” van wie al hierdie dinge gesê word, reeds vroeg in die verklaring onderskei is van “ander kultuurgemeenskappe” wat ook Afrikaans praat en inheems aan Suid-Afrika is.

Indien mens wonder wat onder “tuistelike ruimtes” verstaan word, spel die verklaring dit duidelik uit met ’n beroep op “spesiale kulturele sones met ’n geografiese basis”. Spesiale groepsgebiede vir wit Afrikaners? wonder mens onvermydelik. ’n Soort afsonderlike ontwikkeling?

My vraag is: Hoe onderskei jy hierdie “tuistelike ruimtes” van dié van die ander Afrikaanssprekendes? Stig jy afsonderlike instellings – skole, universiteite, vakbonde en dergelike ander – vir wit en bruin Afrikaanses? Hoe gemaak met wit Afrikaners wat getroud is met mense van ’n ander taal-, kultuur- of rasgroep? Moet sulke mense hulle kultuur in verskillende “kulturele sones” uitleef?

Ek verkies om soos NP van Wyk Louw reeds in 1960 in sy voorwoord tot David Botha se Die opkoms van ons derde stand geskryf het, te sê: “Die bruin mense is óns mense, hóórt by ons.” Of dalk eerder: Ons hóórt by mekaar. Hulle taal (as mens dan nog wil praat van “ons” en “hulle”) het ons gemeenskaplike taal geword. Ons deel dieselfde ryk en diverse kultuur. Ons vra dieselfde soort vrae oor ons toekoms in hierdie land.

En dit geld natuurlik ook vir ons ander landgenote, dié wat ook soos ons Afrikaans praat, maar ook dié van ander taal- en kultuurgroepe. Ons hoort by mekaar. Ons het mekaar nodig. Saam kan ons beter bou aan ’n “normale Suid-Afrika waar ons ’n toekoms vir almal kan help verseker”, soos die Afrikaner Verklaring dit in vooruitsig stel.

Natuurlik is daar baie prysenswaardige dinge in die verklaring, soos die bevestiging dat ons Afrikaners hier is om te bly en graag met ander groepe en mense wil saamwerk om die vele probleme van ons land op te los. Dit is ook verblydend dat daar nie net gekla word oor alles wat verkeerd is nie, maar eerder ’n hand uitgesteek word om ’n konstruktiewe bydrae te lewer om wat verkeerd is, reg te stel. Of dit effektief gedoen kan word as ons onsself half eenkant en aparterig gaan hou, daarvan is ek nie so seker nie.

Sien, ek en ander soos ek is Afrikaners. Maar ons is ook méér as dit. Ons is ook Suid-Afrikaners met ’n verbintenis aan ons land en al sy mense. Party van ons is Christene wie se Christenskap ons verbind aan mense van ander tale, kulture en wêrelddele. Vir baie van ons is hierdie band met ander Christene van groter belang as ons verbondenheid aan mede-Afrikaners.

Daar is ook Afrikaners wat ek ken wat nie Christene is nie. Van hulle is Moslems, Boeddhiste, agnosties en ateïste. Ek dink nie een van hulle vra ’n eie “tuistelike ruimte” of ’n eie “kulturele sone met ’n geografiese basis” nie.

Ek het vriende in Orania, maar ook in Hermanus; in Pretoria, maar ook in New York. Twee van my kinders bly in Kaapstad en een in Nairobi (uit eie keuse). Die meeste van my vriende is Afrikaans, maar baie is nie Afrikaans nie. Ek lees Karel Schoeman en Breyten Breytenbach, maar ook Gabriel García Márquez en Orhan Pamuk. Ek luister na Laurika Rauch en Elvis Blue, maar nog altyd ook graag na Bob Dylan en Leonard Cohen. En eintlik nog veel eerder na Mozart, Beethoven en Mahler.

Die punt is dat ons kultuur meer is as Afrikanerkultuur, dat ons Afrikanerkultuur eintlik niks te doen het met die feit dat party van ons wit is nie en dat ons Afrikanerskap slegs een aspek van ons menswees is.

Kom ons wees Afrikaans, onbeskaamd en met vrymoedigheid. Maar in hemelsnaam kom ons wees ook méér as dit. Alleen só, dink ek, kan ons op verbeeldingryke wyse ’n verskil maak aan dié deel van die wêreld waarin ons ons bevind.

Kyk en lees ook:

Die Afrikaner Verklaring: Saambou of laertrek?

Afrikaner, wie is jy?

Die Derde Afrikaner – ’n reaksie op die "Afrikaner Verklaring"

Ons is nie almal so nie – ’n reaksie op die sogenaamde "Afrikaner Verklaring"

Africanis albus herbesoek: reaksie op die Afrikaner Verklaring

Persverklaring: Die Afrikaner Verklaring

Bou ’n Springbokspan in elke gemeenskap dwarsoor Suid-Afrika! So maak ons hoop!

  • 6

Kommentaar

  • Is dit nie wonderlik dat die bekende dr. Andre Bartlett ook nou 'n liefde vir Boeremusiek ontwikkel nie? U is egter 'n welbekende "inklussiewe"-Afrikaner, en dit sal ongelukkig nooit deug met die "eksklussiewes" nie. Ek deel egter al die sentimente, en ja, ons atties wil asseblief nie afstig van die Gereformeerdes, die Baptiste, die SteedsHervormers, die SteedsNG's, die APK's, die Charismate, CRC's, die Evangelies Gereformeerdes, AGS'e, Sewendedagse Adventiste, Die Ou Apostels, Die Jollie Vollies, die Doleerders, of welke ander groepering nie.

  • Albert du Plessis

    Die wiel draai en draai ja. Toe Zuma verklaar het hy is eers Zoeloe en dan Suid-Afrikaner, was hierdie Afrikanerverklaarders sy grootste kritici. Nou doen hulle presies dieselfde. Die verdere ironie is dat hierdie nuutste opvlamming van die eeue oue Afrikanerdebat oor wie is "ons" en wie is "die ander", al hoe meer foutlyne uitwys in die konsep of konstruk van die begrip "Afrikaner". Bestaan dit ooit? "Ons is 'n bastervolk, ons het 'n bastertaal."

  • Dit is vir my die grootste ironie van ons bestaan. Verdeeldheid oor rasgebaseerde erkenning en 'n verklaring. Ek is ten gunste van die verklaring. Almal wat so protes maak en nie daarmee vereenselwig nie, is besig om die sonde wat almal om ons nek gehang het, weereens te ontken. Ek bedryf 'n besigheid in 'n township en word gereeld daaraan herinner dat ek 'n Afrikaner is, 'n Boer is. Verantwoordelik vir al die sleg wat in SA bestaan. Dit is baie duidelik dat ons eksklusief vir die aparte vooruitgang en diskriminasie van apartheid blameer word. My Engelse buurman en Portugese winkeleienaar spring dit vry, alhoewel almal daarin (apartheid) gedeel het. Erken dit nou maar selfs julle wie nou sê, "dit was nie my familie nie" of "ek het nie geweet nie" ens; ons het almal daarin gedeel. Selfs die Asiërs en bruin mense tot 'n kleinere mate. Hierdie verklaring is vir my meer van 'n bekentenis daarvan maar ook dat ons, die tyd en die land, verander het. Ons is gereed as daai "Boere" of "Afrikaner" wat nog tot vandag gesien word as die duiwelse deel van hierdie nasie, om samewerking te gee, ons misdade van die VERLEDE te erken en te bekeer, maar wil aangaan om die land te bou en te bevorder as deel van hierdie nasie as die Afrikaner. Hou op om ons uit te sluit en hou op om ons kinders te veroordeel, hou op om ons mense te minag. Ons verklaar dat ons dit nie gaan doen aan ander nie en hierdie land van ons almal sal kan floreer, met al die diversiteit daarin, insluitend myne. Kan ons ophou kant toe trek en vir eens mekaar help?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top