Africanis albus herbesoek: reaksie op die Afrikaner Verklaring

  • 0

Foto van die Voortrekkermonument: Lynn Greyling op Pixabay

“ONS IS HIER OM TE BLY!” eggo oor kranse wat probeer antwoord gee aan die onderkant van die “Afrikaner Verklaring” wat op 22 April 2024 bekendgestel is. Dit is glo die eerste gesamentlike verklaring uit Afrikanergeledere in die nuwe bedeling en het ontwikkel uit samesprekings met die Thabo Mbeki-stigting so vyf jaar gelede. Soos elders al opgemerk is, is die positiewe hiervan dat daar ’n hand na die staat uitgereik is wat op demokratiese waardes geskoei is. Suid-Afrika se demokrasie is tans onder druk van alle kante; dié wat ons aangestel het as die bewaarders van ons staat, sukkel om hot of haar te maak van ’n komplekse demokrasie. Daarteenoor het ’n paddastoelpolitiek ontstaan waar elke Jan Rap en sy maat op antidemokratiese, etnonasionale, of teokratiese platforms die komende verkiesing aanpak. Die Verklaring se beklemtoning van ons Grondwet en demokratiese waardes, al kan ons oor die interpretasies daarvan debatteer, is dus ’n welkome aanslag.

Die Verklaring is ook oop vir (soms goedkoop) kritiek van Afrikaners, en Afrikaanses, en ons ander landgenote: Dis volgens sommiges ’n oproep tot segregasie; dit sluit bruin Afrikaanssprekendes uit; hulle praat nie namens almal nie; dis rassisties; Retief se voetfout met Dingaan het ons geleer om nie met “hulle” te onderhandel nie; ens, ens. Nou ja toe, daar is veel te sê en te debatteer, en ek is seker hoofindoena Theuns Eloff sal elegante en opregte antwoorde hierop kan bied.

Dan is daar die vraag of die Verklaring nie bloot ’n hunkering na die verlede is nie. Dit vereis nie ’n fyn oog om die opstellers se geskiedenisbeskouing raak te lees nie. Die Verklaring gee toe dat daar “in die geskiedenis ernstige konflikte tussen gemeenskappe [was], en Afrikaners bejeën swart mense se ervaring van die verlede met erns”. Die bejeëning hou egter nie lank nie voor die opstellers ons swart landgenote aanjaag om tog oor die onreg van die verlede te kom:

Die krisis in die land is só ernstig dat ons visie vir die toekoms sterker sal moet wees as ons geheue van die verlede. Ons moet steeds van tyd tot tyd in die truspieël terugkyk, maar ter wille van vooruitgang sal ons die reis na die toekoms net suksesvol kan aandurf as ons vorentoe deur die voorruit kyk.

Hierdie truspieëlmetafoor is ’n ou gunsteling van Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, waarvan die netwerk van Afrikaner-organisasies die kern van die opstellers vorm. Met die fokus op “vorentoe deur die voorruit”, en ’n af en toe skaamloer in die truspieël, vermy die opstellers dit opsetlik om die blinde kolle oor hulle linker- en regterskouers in die gesig te staar. Met dit in gedagte klink die oproep om ’n “normale samelewing waardeur ons ’n voorspoedige toekoms vir almal kan help verseker” hol. Daar is geen erkenning dat ons huidige abnormaliteite nóú gekoppel is aan die verlede se absurditeite van wit oppergesag en Afrikanerbevoorregting nie. En hierdie bevoorregting het nie in ’n vakuum gebeur nie; dit was direk ten koste van swart aspirasies. Tog “moet ons bou op die historiese voorbeelde van samewerking wat tussen gemeenskappe bestaan, eerder as om te bly vaskyk teen die geskiedenis van konflik,”  volgens punt 7 van die Verklaring. Dus, ons moet nou mooi saamspeel, want te midde van ons afknouery en bullebakkery in die verlede het ons nou en dan dele van die speelgrond met julle gedeel. Ek bespeur ’n sweempie verwaandheid.

*

Daar is ’n ander aspek van geskiedenisbeskouing wat my oog getrek het. Dit is die herhaaldelike verwysing na Afrikaners se historiese band met Afrika. Die Verklaring open met: “Afrikaners is ’n inheemse kultuurgemeenskap in Afrika. Ons mense en ons geskiedenis is hier en daarom wil ons ook werk vir ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir ons nageslag hier aan die suidpunt van Afrika.” Afrikaners se historiese verbintenis met Afrika is ’n goue draad deur die Verklaring. Punt 1 lees:

Ons het nie as Afrikaners na Afrika gekom nie. Ons voorouers het eeue gelede uit verskillende Europese lande hiernatoe gekom, maar ons het hier Afrikaners geword, lank voordat Suid-Afrika sy ontstaan as land gehad het. Ons taal en kultuur is inheems aan Afrika en nêrens anders nie. Ons het onsself, ons taal en baie van ons instellings na Afrika vernoem.

Dit is waar. Afrikaners is skepsels van Afrika. Maar dat Afrikaners Afrikaners geword het is nie per toeval nie. Die  ontstaan en voortbestaan van Afrikaners is nie bloot ’n natuurlike uitvloeisel van die geskiedenis nie. Ons is ’n verbeelde gemeenskap (“imagined community” in die woorde van Benedict Anderson) wat geskep en gevorm is uit die strewe na kulturele oorlewering en politieke mag en in werklikheid skepsels van die laat 19de- en 20ste-eeuse nasionalistiese projek.

............
Dit is waar. Afrikaners is skepsels van Afrika. Maar dat Afrikaners Afrikaners geword het is nie per toeval nie. Die  ontstaan en voortbestaan van Afrikaners is nie bloot ’n natuurlike uitvloeisel van die geskiedenis nie. Ons is ’n verbeelde gemeenskap (“imagined community” in die woorde van Benedict Anderson) wat geskep en gevorm is uit die strewe na kulturele oorlewering en politieke mag en in werklikheid skepsels van die laat 19de- en 20ste-eeuse nasionalistiese projek.
.............

Kyk ons na uitsprake van prominente Afrikaner-nasionalistiese leiers deur die 20ste eeu, sien ons hoedat Afrikaners se verbintenis met Afrika histories fyn verweef is met die nasionalistiese projek, en dit het deur die dekades heen ’n vloeibare dog konstante pilaar van Afrikaner-identiteitsvorming geword.

Uniewording in 1910 was ’n kompromie tussen Boer en Brit, met imperialiste en antiimperialiste wat saamgesnoer is om die behoud van wit mag in Suid-Afrika te verseker. In hierdie konteks het JBM Hertzog ’n nuwe Suid-Afrikanerskap begin propageer om vas te stel wie op die boonste rang van wit mag hoort. In 1911 voer hy aan dat “die persoon wat sy verblyf hier geneem het … slegs vir tydelike doeleindes – vir wanneer hy sy fortuin gemaak het of wanneer hy versuim het om weer elders heen te verhuis – geen reg het om op gelyke voet geplaas te word … met diegene wat geen ander tuisland as Suid-Afrika ken nie.” Dit het duidelik geword dat hy hierdie uitsluiting met spesifieke klem op Britse setlaars toegepas het. Hy was veral gekant teen diegene wat steeds met die Britse Ryk geassosieer word. Op 7 Desember 1912 het hy in ’n openbare toespraak by De Wildt, in ’n onbeskaamde afwyking van sy eie Suid-Afrikaanse Party (SAP) se standpunt van goeie trou en lojaliteit teenoor die Ryk, ’n beroep gedoen dat “die mense nie meer toelaat dat Suid-Afrika regeer word deur ... mense wat nie die ware liefde vir Suid-Afrika het nie, die gees wat almal moet hê as ons wil hê dat voorspoed en gesonde mededinging in die land moet ontwikkel”. Hy het ’n idee van Suid-Afrikaanse soewereiniteit bevorder, los van die prioriteite van die Ryk: “Suid-Afrika sal mettertyd gereed wees om in die eerste plek sy eie beskerming te bied en dié van die Ryk in die tweede.” Om die belange van die Ryk so te relegeer was ’n verbreking van partydissipline vir die SAP-leierskap, en ná interne spanning is Hertzog uit die regering geskors en het hy die SAP verlaat om ’n toekomstige politieke tuiste vir Afrikanernasionalisme, die NP, in 1914 te vestig.

Neem mens Hertzog se ander toesprake in die aanloop tot hierdie skeuring in wit politiek onder oënskou, kom ’n politieke konseptualisering van Afrikaners in (Suid-) Afrika na vore wat ’n grondslag gelê het vir Afrikaner-aansprake op die troon van die wit politiek. Bygesê, sy konseptualisering van wat “die Afrikaner” was, was hoogstens lomp en verwarrend. Dit was nie ’n kwessie van taal of kultuur nie, het hy beweer: “Wie is die jong Afrikaners? … Die Nederlandssprekendes is nie die enigste Afrikaners nie … daar is baie Afrikaners wie se moedertaal Engels is.” Dit was eerder gebaseer op geskiedenis en patriotisme: “Die Afrikaner … het die baanbreker van die Suid-Afrikaanse beskawing geword; het gevegte gewen, state en regerings gestig en, bowenal, hom in Suid-Afrika gevestig met ’n toewyding en ’n liefde vir die land wat nie deur enige latere toetreder oortref is nie.”

Hertzog het wel ’n geringe, maar betekenisvolle onderskeid getref tussen Nederlands-Afrikaanse Afrikaners en hul Engelssprekende landgenote. Vir hom was die verskil gebaseer op die geskiedenis in Afrika: “Die Nederlandstalige was noodwendig die eerste Afrikaner. Hy kon homself nie help nie. Vir 150 jaar en meer voor die oordrag van die Kaap aan die Britse regering was hy vir altyd hier gehuisves.” Vir Hertzog het hierdie idee primordiale geografiese legitimiteit bo die Engelssprekende afdeling verskaf: “Die Nederlandstaliges is in die eerste rang van die Afrikaners ... Dat die Nederlandstaliges vandag nog as die Afrikaner by uitstek beskou word, is ’n gevolg van die geskiedenis en geensins aan ’n gees van aanmatiging nie.” Patriotisme, wat Hertzog beweer het is die kernparameter in die definisie van Afrikaners, is gemanipuleer deur Hollands-Afrikaners om as ’n historiese voorsprong bo Engelssprekendes te beskou. Hierdie patriotisme het Afrikaners direk aan die Afrika-kontinent verbind. Boonop het die geskiedenis, volgens Hertzog, beter patriotte van Hollands-Afrikaanses gemaak, aangesien “die gevoel van nasionalisme onder mede-Nederlandssprekende Afrikaners druk omdat hulle ’n dieper besef daarvan het as die meeste Engelse, omdat hul voorvaders 200 jaar vroeër hierheen gekom het”.

Lees mens tussen Hertzog se lomp stellings, word dit duidelik dat patriotisme, as sy lakmoestoets vir wat ’n Afrikaner is, deur kulturele en taalidentiteite kon sny, maar dat die ware vorm van hierdie patriotte in die Afrikaans-Nederlandse deel van die wit samelewing te vinde was. Wat hier ontwikkel het, was ’n politieke konseptualisering van Afrikaners as iets nie Europees nie, en nie van die Ryk nie, maar ook nie noodwendig Afrika nie, maar van Afrika; ’n duidelike gemeenskap wat in die suidelike deel van Afrika verbeel word en nie gekonseptualiseer of beheer word deur wat as volksvreemd beskou word nie.

Hierdie konseptualisering is selfs nog duideliker ondersteun en aangedryf deur DF Malan, wat as ’n prominente leier in Hertzog se nuutgestigte NP na vore getree het. Hy het ook sterk geglo in die soewereiniteit van Suid-Afrika en het Hertzog se visie gedeel dat die belange van die Ryk tweede na dié van die land behoort te kom. Malan het dit duidelik gestel dat dit nie ’n anti-Britse standpunt was nie, maar eerder ’n ontevredenheid met die SAP-regering se affiniteit met die Ryk, en die daaropvolgende verwaarlosing van plaaslike kwessies. Maar Malan was baie meer oortuig en duidelik oor wat ’n Afrikaner is. Vir Malan was daar geen onduidelikheid nie: Afrikaners was Afrikaanssprekende patriotte. Hy was ook baie meer direk oor die verhouding tussen Afrikaners en Engelssprekendes. Vir hom was daar

twee nasionaliteite [in Suid-Afrika] en so behoort dit altyd te wees dat albei heeltemal vry sal wees en dat elkeen ’n gelyke geleentheid sal hê om dit wat sy eie is te handhaaf en te ontwikkel. Dit is die beste manier vir die groter Suid-Afrikaanse nasie om een te word, ’n morele unie, gegrond op ’n gemeenskaplike liefde vir ’n gemeenskaplike vaderland, maar dit sal ’n eenheid wees wat uit ’n dualiteit bestaan.

Malan het dus ’n baie sterker streep tussen die twee wit groeperings getrek. Hy sou na mede-Afrikaners as “broers” verwys, terwyl Engelssprekendes as “bure” geëtiketteer sou word. Daar was dus ’n duidelike in-groep en uit-groep vir Malan. Vir hom het die versuim van die SAP-regering om sy binnegroep se kwessies te bevorder, beteken dat Afrikaners die bewind moet oorneem.

Te midde van die opkoms van Afrikanermag van Uniewording tot die nasionaliste se staatskaping in 1948 het Hertzog en Malan die idee dat Afrikaners ’n duidelike formasie in en van Afrika is, gebruik as ’n manier om hul wit politieke teenstanders te delegitimeer. Die Afrikanistiese antropoloog Mahmood Mamdani voer aan dat die koloniale en later apartheidsowerhede in Suid-Afrika spesifieke onderskeid tussen setlaars en inheemse swart Afrikane geskep en uitgebuit het, veral stamonderskeidings om die swart meerderheid te verdeel en te beheer. Vroeë Afrikaner-nasionaliste van die 20ste eeu het blykbaar hierdie logika in wit politiek geïnkorporeer deur die Engelssprekende gemeenskap as vreemd te beskou, terwyl Afrikaners hulself as ’n eiesoortige volk in Afrika tot stam geroep het. Die retoriek van hierdie nasionalistiese leiers was nie ’n poging om per se te afrikaniseer of inheems te maak nie, maar om ’n uitbuitbare politieke identiteit te skep in die Afrikaner-strewe na politieke mag. Dit was ook ’n vloeibare identiteit om deur die eeue heen aangewend te word om Afrikaner-aansprake op die vlakke van Suid-Afrika se rasse-orde te versterk.

Die nasionaliste het egter die internasionale gemeenskap ná die Tweede Wêreldoorlog betree toe Malan se nuwe administrasie met die uitrol van die beleid begin het. Terwyl Afrikaners Afrika binne die gebied van plaaslike wit politiek op sy pad na rasse-oorheersing geplaas het, word Afrikaners nou as die bastion van die Westerse beskawing en Christenskap in Afrika vir die wêreld voorgehou. Die verdediging van die Westerse beskawing en Christenskap in Afrika was deurslaggewend vir Malan se regverdiging teenoor die buitewêreld vir ’n rasse-orde gebaseer op wit meerderwaardigheid namate die eise van Afrika-onafhanklikheid na die Tweede Wêreldoorlog toegeneem het. In 1949 het hy Suid-Afrika daartoe verbind om “Afrika as ’n reservaat te behou ... vir die verdere ontwikkeling van die Wes-Europese Christelike beskawing”. In dieselfde jaar het Malan die land weer aan die Statebond verbind. Hierdie ommeswaai was gemotiveer deur die opkomende Koue Oorlog-wêreldorde waarin Malan Suid-Afrika by die antikommunistiese Weste wou posisioneer. Hy het dus die plaaslike en internasionale aandag na Afrikaners se Europese identiteit verskuif deur te verklaar dat Suid-Afrika, onder Afrikanerbewind, as lid van die Wes-Europese gemeenskap beskou kan word. Dit het ’n sleutelselfkonseptualisering onder Afrikaners self en teenoor die Westerse wêreld geword in die legitimering van die geleidelike implementering van die apartheidsbeleid.

Republiekwording in 1960 onder leiding van Hendrik Verwoerd deels ter bevordering van wit eenheid as reaksie op dekolonisering het egter afgehang van Afrikaners, wat as die pilaar van wit oorlewing in Afrika beskou is. Verwoerd was uiteindelik gemoeid met die behoud van Afrikaner-selfstandigheid in Afrika. In 1958 het hy, net soos Hertzog in 1912, die mitologie van Bloedrivier gebruik en beweer dat die Afrikaner “hier op die suidpunt [van Afrika] geplant is sodat uit hierdie weerstandsgroep ... alles wat sedert die dae opgebou is ... tot voordeel van die mensdom in stand gehou kan word”. Die fundamentele beginsels wat die legitimiteit en gesag van die Afrikanergemeenskap in Afrika ondersteun het, het gebly, maar wit eenheid eerder as stamverband is voorgehou as die beste manier om Afrikaners in Afrika te beskerm. Dit was ’n heropkoms van Botha en Smuts se wit eenheid, eerder as ’n voortsetting van hul nasionalistiese teenstander se stamskap na Uniewording. In 1966, net voor sy sluipmoord, het Verwoerd, in ’n eggo van Malan, verklaar: “Hierdie Republiek is deel van die Witman se domein in die wêreld ... Hy, en die gees waarmee hy toegerus is ... sal altyd nodig wees waar orde en vrede en vooruitgang verlang word.” Ras, eerder as suiwer primordiale oorspronge en begrippe van etnisiteit, het die primêre lens geword waardeur Afrikaners se plek in Afrika gelegitimeer is.

Verwoerd se opvolger, die pragmatiese John Vorster, het die toneel betree net toe internasionale isolasie verskerp het. Hy het tot die insig gekom dat die konvensionele raamwerk van beginsels, oortuigings en instellings wat voorheen die Suid-Afrikaanse regering se mag en invloed in die binne- en buiteland gelegitimeer het, verouderd begin raak het. Daarom het hy erken dat om voort te gaan met die doel van afsonderlike ontwikkeling binne die bestaande raamwerk ’n onvolhoubare vlak van isolasie tot gevolg sou hê. Tussen 1968 en 1975 het hy ’n verrassende politieke inisiatief begin wat die historikus Jamie Miller beskryf as die Afrikanisering van die identiteit van Afrikaner-nasionalisme om nuwe pilare van regverdiging vir die staat te vestig deur te probeer om die persepsie van sy administrasie as ’n gewelddadige oorblyfsel van Europese kolonialisme te verander en in plaas daarvan om die wit bevolking te herdefinieer as ’n integrale deel van ’n onafhanklike Afrika.

Dit is egter hier van belang om te sien hoe hy Afrikaners in hierdie proses herkonseptualiseer het, veral teenoor sy eie mense. In 1966 het Vorster die Afrikaner se plek in Afrika gehistoriseer. Hy het verduidelik dat Suid-Afrika “die eerste Afrika-staat was wat teen [Britse] imperialisme in opstand gekom het. Dit [was] die eerste staat in wie se midde daar geroep was om emansipasie en onafhanklikheid.” Vanweë hierdie geskiedenis het Vorster beklemtoon dat “ons in alle opsigte ’n deel van Afrika is”. Miller beklemtoon tereg hierdie “uitgedinkte tradisie van antikolonialisme” wat aanspraak gemaak het op “die nativistiese territoriale nasionalisme van die postonafhanklikheid era”. By ’n ander geleentheid, in ’n sterk afwyking van die Afrikaner- politieke konseptualisering van sy nasionalistiese voorgangers, het Vorster vir sy mede-Afrikaners in absolute terme gesê: “Ons het onsself te lank as Europeërs na die buitewêreld beskryf. Ons is nie Europeërs nie, ons is van Afrika soos enige ander persoon van Afrika is.” Vorster het in 1975, nes nasionaliste voor hom, herhaal dat “Ons [Afrikaner-] roeping is om in Afrika te lewe.” Sy idee van horisontale naasbestaan met Afrikane, eerder as ’n eensydige dwang, het die kern geword van ’n nuwe, hoewel brose, geafrikaniseerde identiteit vir die regime.

............
Wat na vore kom in die retoriek van die bogenoemde leiers, is dat Afrikaner-identiteit deurgaans gekonstrueer is in terme van hul plek in Afrika, wat verskillende doeleindes op verskillende tye gedien het ....
..........

Wat na vore kom in die retoriek van die bogenoemde leiers, is dat Afrikaner-identiteit deurgaans gekonstrueer is in terme van hul plek in Afrika, wat verskillende doeleindes op verskillende tye gedien het: eerstens, om politieke mag teen ander blankes af te dwing; tweedens, om rasse-onderdrukking in die vorm van apartheid te regverdig; en laastens om die slag van die ontrafeling van Afrikanermag te versag. Hulle pogings om hul Europese erfenis met hul Afrika-konteks te versoen het gedien om uiteindelik wit oppergesag en Afrikaner-oorlewing te verseker.

*

Met dit alles in ag geneem, moet ons vra wat die “Afrikaner Verklaring” se klem op ons verbintenis met Afrika in ons huidige konteks beteken. Dat ons maaksels op hierdie kontinent is, kan nie ontken word nie, maar ons kan gerus skepties wees oor die funksie van aanspraak op hierdie Afrika-identiteit. Alle verbeelde ("imagined") gemeenskappe het ’n sterk verbeelde geskiedenis nodig. Die “nuwe” Suid-Afrikaner het ook een nodig gehad. In 1996 het Thabo Mbeki sy veldtog vir ’n Afrika-renaissance van stapel gestuur met sy berugte “I am an African”-toespraak. Op ’n stadium het hy ’n oer-Afrikanergeskiedenis omskep in ’n nuwe Afrika-identiteit:

Ek is gevorm uit die migrante wat Europa verlaat het om ’n nuwe tuiste op ons geboorteland te vind. Wat ook al hul eie optrede, hulle is deel van my ... Ek is die kleinkind wat vars blomme op die Boeregrafte by St Helena en die Bahamas lê, wat in die geestesoog sien: die lyding van ’n eenvoudige Boerevolk, die dood, konsentrasiekampe, verwoeste opstalle, ’n droom in puin.

Dit is duidelik dat hierdie herverbeelding van Afrikaners as Afrikane min aftrek onder die georganiseerde postapartheid Afrikanerdom het. Die ou narratief langs nasionalistiese lyne staan egter steeds sterk as ons kyk na die “Afrikaner Verklaring”. Afrikaner-nasionaliste van die 20ste eeu het die idee van Afrika-wees gebruik as ’n manier om ’n eis vir politieke gesag oor ander wit mense te maak, om ’n rasionalisering vir rasse-onderdrukking deur apartheid te verskaf, en om die impak van die verlore Afrikaner-mag te verminder. Afrikaner-nasionaliste se aansprake op Europees-wees of Afrika-wees het aansprake van legitimiteit in Afrika gedien – eers teen ander blankes, en toe oor die meerderheid swartes, voordat hulle ’n plek tussen Afrikane aanvaar het. Vir die nasionaliste, oud en nuut, was en is Afrika die toneel vir die Afrikaner-oorsprong-verhaal en dus ’n konteks wat in hulle beeld gevorm moes word. ’n Mens kan dus aanvoer dat Afrikaners van nasionalistiese oriëntasie nooit werklik tot Afrika behoort het nie, maar tot vandag toe oortuig is dat Afrika aan hulle behoort.

Lees ook:

Afrikaner, wie is jy?

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top