Dis skoolvakansie, maar die laerskool agter my huis is elke dag ’n byenes van bedrywighede. Verskillende groepe reël aktiwiteite vir die kinders, en daar word gespeel en gelag en baljaar.
Min dinge kom naby die geluide van kinders wat al spelend kommunikeer. Maar soms is daar ’n skerp snykant wanneer die speel in baklei oorgaan. Ek het dit nie by die kinders by die skool opgemerk nie. Daar is egter ’n klein groepie kinders, die meeste seuntjies, wat elke dag skroot aandra na die skrootwerf. By hulle is die growwe taal, soms opgevolg met ’n geniepsige vuis of elmboog, baie meer algemeen. Hulle is gewoonlik in vuil klere geklee en kom verwaarloos voor. As daar ’n volwassene by hulle is, word daai arme kinders met die vieslikste taal in bedwang gebring wanneer hulle wil speel of net kind wees. En wee die persoon wat tussenbeide probeer tree. Baie van daai kinders gaan ook nie skool nie, want hulle gaan gedurende die skoolkwartaal ook gereeld heen en weer met skroot. Boonop loop hulle heel gemaklik verby die Kinder-en-gesinsorg-organisasie. Sover ek weet, is hierdie organisasie veronderstel om om te sien na kinders wat nie versorg word nie, wat nie by skole uitkom nie, en wat op ander maniere verwaarloos word.
........
Verder word daar nou van skole verwag om verslag te lewer oor die bywoning van kinders wat toelaes van die staat ontvang. Maar wat van die kinders wat in die eerste plek nooit by ’n skool ingeskryf word nie?
........
Ek het simpatie met enige organisasie wat maatskaplike dienste probeer lewer. Die behoefte is gewoon te groot, en die diensverskaffers heeltemal oorweldig, want hulle getalle is te min. Dis dalk daarom dat die onderwysdepartemente hulle eie maatskaplike werkers aanstel om afwesigheid by skole te monitor. Verder word daar nou van skole verwag om verslag te lewer oor die bywoning van kinders wat toelaes van die staat ontvang. Maar wat van die kinders wat in die eerste plek nooit by ’n skool ingeskryf word nie? Daar word van alle kinders onder 16 verwag om by ’n skool ingeskryf te wees, maar wie monitor dit as die kind nog nooit skoolgegaan het nie? Daar is hopeloos te veel sulkes wat gewoon net deur die vangnette glip. Niemand gee om nie, die minste van almal dalk die ouers.
Ek praat vroeër met ’n lid van die gemeenskapspolisiëringsforum in ’n buurdorp. Hulle moes help met die verwydering van ’n mishandelde kind. Die kind is in pleegsorg geplaas, maar nou moet hulle die kind van dorp na dorp skuif, want die ma spoor elke keer die kind op en probeer haar weglok, ten spyte van die regsproses wat aan die gang is. In hierdie kind se geval is daar ten minste volwassenes wat omgee en haar probeer beskerm, maar wat van soveel ander kinders wat minder gelukkig is?
Ons is almal meer bewus van die gevare waaraan kinders blootgestel word na klein Joslin se verdwyning. Ons weet egter ook dat vir elke kinderverdwyning wat die nuus haal, daar soveel ander is wat net spoorloos verdwyn sonder om selfs die agterblad van die koerant te haal.
........
Ek is grootgemaak met die radikale idee dat kinders die grootmense van môre is, dat vandag se volwassenes bloot die toesighouers van die aarde is vir môre se grootmense.
........
Ek is grootgemaak met die radikale idee dat kinders die grootmense van môre is, dat vandag se volwassenes bloot die toesighouers van die aarde is vir môre se grootmense.
Hoe lyk die toekoms as môre se grootmense vandag nie genoeg te eet en drink kry nie, as hulle moet skroot bymekaar maak om te oorleef, as hulle van hul eie ouers moet wegvlug? Hoe lyk die toekoms as môre se grootmense nie vandag ’n ordentlike opvoeding kry nie, as hulle ook nooit leer om mekaar en hulleself met respek te behandel nie?
Die enigste manier waarop ons ons toekoms kan red, is om vandag met meer doelgerigtheid op te tree om môre se grootmense te red.
Desmond Tutu het op ’n slag gesê: “There comes a point where we need to stop just pulling people out of the river. We need to go upstream and find out why they are falling in.” Dis wat ons vandag met môre se grootmense moet doen.
Lees ook:
From violence to violins: ’n onderhoud met Maria Botha van Muzukidz
Kommentaar
Onlangs Sindiwe Magona se nuutste boek gelees. Een van die essays handel oor haar boek "When the village sleeps". Die titel sinspeel op die uitdrukking: It takes a village to raise a child. Die boek is geskryf nadat Magona in die koerant gelees het van 'n 16 jarige moeder wat bewustelik alkohol misbruik het tydens haar swangerskap. Die rede hiervoor was dat ernstig gestremde kinders 'n spesiale, groter toelaag ontvang, tien keer meer as die gewone toelaag.
Ek dink nie daar is regtig veel hoop nie. Mens kan die ekonomiese sisteem blameer. Dit werk gewoonlik mos so dat die kapitaliste blameer die kommuniste en waaisa wersa. Aan die een kant groei ons regering nie die ekonomie. Dit probeer die kleiner krimpende koek opdeel. Maar daar is eenvoudig te veel monde. Die bevolking bly groei, maar nie die ekonomie nie. Dit gaan dus nooit beter raak nie. Ten spyte van al hierdie gedurige herverdeling, sal die krisis bly groei, want die belastingbasis is ook besig om te krimp. Gelukkig het SARS glo so bietjie meer geldjies kon ingesamel kry die keer, maar die tendens dui op 'n belastingbasis wat bly krimp. Ongeveer een miljoen ontwikkelde geskoolde mense wat ekonomies sou kon bydra, het gevlug uit Suid-Afrika. Dit lyk vir my dit is eintlik maar die beste opsie vir jongmense, want die politici gaan nie binnekort ophou plunder en afbreek nie. Selfs ons buurlande soos Namibië en Botswana se vooruitsigte lyk beter as die van ons eie land. Weet self ook van mense wat Namibië toe is. Mediese dokters. Wat ten duurste deur Suid-Afrika opgelei is.
Suid-Afrika soek nie beleggers nie. Beleggers word hier as diewe en neo-kolonialiste beskou. Daar is wel 'n mate van waarheid ook daaraan, maar die rykes het die armes al minder en minder nodig. Anders as in die verlede. En om die rykes eenvoudig te verdoem en weg te jaag, kom teen 'n prys. Want hulle vat hulle geld, maar ook hulle vaardighede en die geleenthede wat hulle skep, saam met hulle oor die water.