Die juffrou wat kinders laat droom (en lees!)

  • 0

Lina van der Merwe met haar boek, Storiekasteel

Toe ek destyds skool voltooi het, het ek nooit gedink dat ek ’n onderwyser gaan uitnooi vir ’n koffie nie. Nog minder dat ons oor skool gaan praat, maar Lina van der Merwe is nie enige juffrou nie. Nee, sy is die dramaonderwyser by Hoërskool Wesvalia wat spog met ’n magdom optredes by Aardklop, Innibos, KKNK, Vrystaat Kunstefees en nog vele meer. Haar professor, wat gevoel het dat haar eerste dramastuk as ’n derdejaarstudent deur die genres hardloop, sou trots wees as hy vandag na haar CV moes kyk – ’n indrukwekkende drie bladsye lank.

Lina van der Merwe

Voor ons ontmoeting, whatsapp sy my: “Hoe oud is jou seun?” Haar boodskappe is tipies juffrou in Standaardafrikaans, hoofletters en leestekens op die regte plekke en uiteraard gebruik sy geen afkortings nie. Maar anders as die streng Afrikaansonderwyser wat ek in my geestesoog voorgestel het, borrel sy soos ’n kleuterskoolonderwyser.

Duisende plante en bome lei ons in die voetpaadjie af na From Shack to Sanctuary, die restaurant waar ons ontmoet. Dit voel so geskik om onder bome en te midde van voëltjiesang met juffrou Lina, wat onder andere feetjie-dramas neerpen, te gesels.

Sy groet die kelner asof hulle ou vriende is en ek gebruik die geleentheid om my selfoon se klank af te skakel en die klankopnemer aan te skakel.

Waar het jou belangstelling in drama ontstaan?

“Stefaans, ek wil amper vir jou sê ek’s so gebore,” lag-antwoord sy oor ’n beker cappuccino.

Sy het grootgeword in en haar boek Storiekasteel word ook opgedra aan Laerskool Glaudina. Plaasskole. As hulle vreeslik gelukkig was, was daar so 40 kinders in die skooltjie.

“Maar omdat ons so min was, ek’s baie lief vir skep, dit is deel van my skeppingsdoel op aarde, was dit lekker om altyd storietjies op te maak. As jy weer sien, speel die hele skool saam,” herleef sy die oomblik, lagplooie om die oë.

Sy het haar eerste rolletjie in die skoolkonsert in graad 1 gehad en sy was mal daaroor. Op hoërskool het almal geweet Lina Rademeyer (haar nooiensvan) gaan drama studeer. Dit is haar eerste liefde.

Met haar man, Lourens van der Merwe, skoolhoof van Wesvalia en ook oud-internasionale rugbyskeidsregter

Sy is egter veel meer as ’n dramaonderwyser. Sy skryf en stel ook produksies vir kunstefeeste saam. Sy het weens finansiële redes ná haar studies in 1998 nie veel van ’n keuse gehad nie, want ná haar studies moes sy eerstens hoor “dat DJ Opperman sê hy maak nie waiters in sy acting skole groot nie”. Verder, as ’n mens in ’n boekwinkel instap, is dramaboeke vrek duur en dan is jy boonop beperk deur die tekste.

En toe skryf sy gedurende die covid-19-pandemie Storiekasteel om voorraad te hê tydens kunstefeeste, “want dis vir my baie belangrik dat die kinders moet lees”.

Sy sien dit met haar eie drie kinders. Haar seun wat nie lees nie, doen orraait akademies, so 70%, maar haar seun wat lees, dans in die 90’s rond. Sy sinskonstruksie is beter, so ook sy spelling. In al die vakke, want as jy kan lees, kan jy verstaan.

Ons onderhoud word deur ’n oproep onderbreek. Dit bied my die geleentheid om gou deur Storiekasteel, wat deur Naledi uitgegee word, te blaai. Ek herken baie van haar toneelstukke se karakters. Ouers is altyd op soek na iets vir die kinders; nou het hulle ’n paar stories in een.

Alhoewel sy nog baie graag – vir die interessantheidsonthalwe daarvan – in ’n film ’n rol wil vertolk, klop niks die adrenalien van teater nie. Haar hande beduie asof sy voor ’n gehoor is. “Jy’t net een kans. Jy moet perform en dis klaar.”

Van haar 26 produksies sluit Ek herhaal jou ... Ingrid Jonker, A.G. Visser – ’n kans! en Fliep-flappers in. Met laasgenoemde hoef sy vanjaar nie soos in die laaste 22 jaar aansoek te doen om by ’n fees op te tree nie – Innibos het haar self uitgenooi.

Hoërskool Wesvalia se dramaklas is te danke aan ’n dame op die beheerliggaam wat baie sterk kultuur-georiënteerd was. “Dit is nou in 2013 rond,” sê Lina, “maar ek kan my datums so ’n klein bietjie verkeerd hê.” Die dame het nie net twee klasse in ’n teater omskep nie, maar “ook alle shows wat goed doen op kunstefeeste, uitgenooi om by die skool op te tree”.

’n Deel van Lina se buitemuurse verpligtinge by die skool is teatervertonings.

So, wanneer het jy by Wesvalia begin?

“2019. Dit was deel van die hoof se hart en wens dat die tradisie moet voortgaan.” Lina het ’n paar kunstenaars uitgenooi, maar “toe is dit 2020. Covid. Toe kon mens niks doen nie.”

Alhoewel sy nog net vyf jaar in Klerksdorp is, groet gaste haar vriendelik. Herken hulle haar dalk van ’n kunstefees?

**

Titel: Storiekasteel
Skrywer: Lina van der Merwe
ISBN: 9781928530404
Uitgewer: Naledi

Lees ook:

Die regte boek kan ’n leerder se lewe red

Storieboeke vir "vrylees" net so belangrik as Wiskunde in Nederlandse skole

LAPA: Die belang van boeke vir kinders

Riglyne vir die mediëring van omstrede kwessies in Nederlandse en Afrikaanse jeugverhale

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top