Kinders hoort nie op strate nie

  • 0

LitNet se Stemme | Voices | Amazwi is ’n reeks van 15 kort, kragtige monoloë deur gevestigde en opkomende dramaturge geskryf, aangebied in samewerking met die Suidoosterfees, NATi en die ATKV.

In Kinders hoort nie op strate nie speel Daneel van der Walt ’n huisvrou wat aan ’n polisiekonstabel vertel van die onheilighede in die buurt wat sy deur haar kombuisvenster aanskou. Regardt Visser, skrywer van die teks, het ook die regie waargeneem.

Daneel van der Walt en Regardt Visser gesels oor Kinders hoort nie op strate nie.

Kinders hoort nie op strate nie

Kyk, ek wil nie eintlik betrokke wees nie.

En dis nie asof ek skinder nie, konstabel, maar hulle het net daar gebly. So, ek het die hele storie so deur die kombuisvenster dopgehou.

Daar’s iets in die lug. Wat presies dit is, weet ek nie, maar … iets.

Dis eintlik nogal depressing as jy daaraan dink. Die dag toe hulle hier ingetrek het, toe sê ek vir Gert, hier kom kak.

Die vrou was tjoepstil. Nie ’n dooie woord gesê nie. Niemand gepla nie. Net so ’n air gehad. Wat vreemd is vir iemand wat doeke moet omruil by ’n ouetehuis.

Die man? Wie weet. Vis-inspekteur saam met Gert. Na die insident het hy soos mis voor die son verdwyn.

As jy een en een bymekaar sit, dan kon jy duidelik sien tussen die ma en die pa … Nee, siek. Weet nie of hulle broer en suster of neef en niggie was nie. Shame, arme kind. Sy’t so ’n ingeduikte voorkoppie gehad met sulke rotterige haartjies wat so hang. Kon skaars ’n samehangende sin uitkry.

Hulle kon iets gedoen het, maar nou is dit ons almal se probleem. Die dokters het hulle gewaarsku, maar die besluit was steeds hare. Ek sou nie kon nie. Maar sy’t nie geweet waarvoor sy haarself inlaat nie. Ek wil nie slegpraat nie, maar sy’t seker nie geweet hoe erg dit gaan wees nie. Maar sy het haarself én daardie kind ’n onreg aangedoen.

Dis wat jy kry as jy aangaan soos honde. Ek moes seker iets gesê het? Maar sien, jy doen mense ’n onreg aan as jy so goedhartig optree.

Ek sou daai kind vang staar na die kleintjies wat in die straat speel. Jy kry so ’n gevoel in jou maag asof … ’n Wyse ou man het eenkeer gesê dis asof iemand jou toilet trek.

Ek het hulle gewaarsku! Jy weet mos hoe is kinders; hulle weet nie van beter nie – dink mos alles is ’n moerse grap. Hulle sal so met suurwurms deur die traliehek met haar speel. So!

Skies, ek gaan hel toe!

Maar toe vind sy uit hoe om die hekkie oop te maak. Die volgende oomblik staan sy hier agter my in die kombuis. Kan jy nou dink? Ek, vrou alleen, met net ’n vadoek om myself te verdedig. Soos ek haar met die vadoek probeer uitkry, toe pis sy op die vloer!

En wie dink jy moet dit nou skoonmaak?

So het sy rondgeloop. Eendag, toe sien ek haar uitstap by daai ou skuur in die veldjie. Daar was ’n werker. Hy’t haar seker met sweets gelok. Ek kan nie onthou nie … mens moenie sulke goed onthou nie.

Hm? Natuurlik is ek van die onderwerp af – ekskuus!

Paasnaweek. Gert kom dikdronk van die golf club af met ’n hondjie wat hy hereweetwaar gekry het. En natuurlik wil die kinders met dit gaan speel. Jy ken ’n ma se hart – ek kan mos nou nie nee sê nie.

Maar trust your instincts. Soos die duiwel dit wou hê, toe is dit ook so.

Die kinders huil en gil. En ek word so koud in my binneste. Gert spring op van die teevee, maar toe hy in die straat kom, toe lê daai hondjie pap in daai gemors se arms.

Soos Gert trek, wou sy nie laat gaan nie. Sy gaan so hard tekere dat die hele buurt uitkom.

Toe byt die hond vir Gert, en hy moes homself verdedig. Ons word ingetrek by daai pandemonium en met daai mense vergelyk!

Ekskuus. Sy laat val toe die hondjie. Gert moes sy rewolwer gaan kry en dis toe dat die polisie opdaag.

Die ma, klein lyfie en al, sleep daai moerse kind by die huis in, sonder om eers verskoning te vra. Ek meen, sy kan bly wees ons het nie ons prokureurs gebel nie.

Dis ook toe die laaste wat ons van haar gesien het.

Die Saterdagggend, toe hoor ons hoe kerm hy vir sy mammie. Ons het dit eers geïgnoreer, ons het gedink, dalk gryp die pa in. Maar dit wou nie end kry nie. Ons kon nie slaap nie.

Toe braaf Gert dit maar; die deur was oop. Die huis was pikgitdonker. Daar was so ’n bedompige reuk wat hang.

En dan wil jy nie weet nie … Porn-tydskrifte wat die wêreld vol lê. En van hom was daar geen teken nie, want min te wete – kiepie! – het hy lankal al pad gevat.

Gert kry toe die kind voor die garagedeur. Hy moes deur breek.

Toe vind hy haar.

Daar was nie eens ’n punt daaraan om die ambulans te bel nie.

Ek kry haar nogal jammer.

Maar daai kind was uit en uit ’n straf. En dis hoekom ek julle gebel het, konstabel. Want sy loop nog in die hele dorp rond. Ek sal nie kan slaap voor julle dit nie uitgesorteer het nie.

Ek meen, hierdie was eens ’n plek waarop mens kon trots wees. En wat sê die mense nou van ons?

Wat het ek vir my kinders gesê? Ek het vir hulle gesê kinders hoort nie op strate nie.

So, gaan julle nou iets hieraan doen?

Wag, daar’s sy. Daar gaan sy …

 

Stemme | Voices | Amazwi is supported by the National Arts Council.

 

Stemme | Voices | Amazwi is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.

Al die monoloë is op hierdie blad beskikbaar:

Stemme | Voices | Amazwi

Kyk hier na LitNet en die Suidoosterfees se eerste Stemme-reeks wat in 2021 aangebied is:

Stemme

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top