In die aanloop tot die eerste demokratiese verkiesing in 1994 het ek, en vele ander jongmense soos ek, dae en aande deurgebring om kieseropvoeding te verbeter. Met kieseropvoeding bedoel ek om mense in te lig oor die prosesse wat met ’n verkiesing gepaard gaan. Dit gaan glad nie daarom of hulle kan lees en skryf nie.
Ons was opgelei om mense te leer wat hulle regte is, hoe verkiesings werk en wat die gevolge van hulle keuses is. Destyds was daar twee groot vrese wat by feitlik elke werkswinkel geopper is: Gaan die mense in my gemeenskap weet vir wie ek gestem het, en gaan my stem na die regerende party as ek besluit om nie te stem nie? Vrees vir intimidasie was hoog, en ons het geweet dat dit mense potensieel daarvan kon weerhou om te gaan stem. Nie een van ons wat die werkswinkels gehou het, het geweet wat om op die dag te verwag nie. Gaan ons harde werk vrugte afwerp, of gaan mense wegbly van die stembus af omdat hulle vrees te groot was?
Ons almal weet watter indrukwekkende opkoms daai eerste verkiesing gehad het. Sedertdien was daar baie verkiesings, tussenverkiesings en betwiste verkiesings. Ek het intussen al vergeet van daai werkswinkels wat ons in ons ligblou T-hemde aangebied het. Ek het vergeet van die kere wanneer ons as moeilikheidmakers van plase weggejaag is, of die kere wanneer ons met honger werkers nog in hulle werksklere moes bymekaarkom omdat die plaaseienaar maniere gevind het om die werkers tot op die laaste oomblik besig te hou voor hulle die werkswinkels kon bywoon. My kollegas wat in die dorpe werkswinkels aangebied het, het dit veel makliker gehad. Maar ek wou op die plase wees, daar waar die mense baie keer net hul name met ’n kruisie kon teken, en handearbeid al was wat hulle geken het. Ek ken soveel mense wat op plase gebly het. In die skole wat ek bygewoon het, is daar altyd onderskeid getref tussen die plaaskinders wat met ’n stowwerige lorrie by die skool afgelaai is of wat moeg en vol stof moes stap skool toe, en die dorpskinders. Die plaaskinders en hulle ouers het dit nie altyd maklik gehad nie. Daarom wou ek seker maak dat, ten minste by die werkswinkels wat ek aangebied het, hulle deeglik voorberei sou wees en weet wat hulle regte is.
........
Die vraag ontstaan: Hoeveel mense glo nog dat hulle stem outomaties na die ANC sal gaan as hulle nie stem nie?
........
Ek het gedink dat daardie dae verby is, totdat ek nou onlangs by die hardewarewinkel instap en op pad toonbank toe om te betaal ’n gesprek hoor tussen ’n klant en die kassiere wat haar bystaan. Die kassiere het gesê sy dink nie sy gaan stem nie, want al die partye is ewe vrot, of iets in dier voege. Die klant vertel toe vir haar dat as sy nie gaan stem nie, haar stem na die ANC toe sal gaan. Dis net daar dat ek myself toe deel van die gesprek maak en vir die kassiere verduidelik hoe die proses werk. Die klant het ’n DA-T-hemp aan. Ek vra haar toe of sy vir die DA werk en of sy net ’n ondersteuner is. Volgens haar is sy een van ’n aantal vrywilligers wat in die aanloop tot die verkiesing namens die DA veldtogte reël. Of sy in opdrag van haar party hierdie inligting versprei, en of dit waarlik is wat sy glo, is ek onseker van. Sy’t my nie geantwoord toe ek vra of dit is wat sy aangesê is om vir kiesers te sê nie.
Die vraag ontstaan: Hoeveel mense glo nog dat hulle stem outomaties na die ANC sal gaan as hulle nie stem nie? En hoeveel mense bly weg van die stembusse omdat hulle eintlik vir die ANC wil stem en dink dat hulle hulle doel bereik het deur weg te bly?
Maar nog belangriker: Wat het gebeur dat kiesers wat teen hierdie tyd heelwat meer gesofistikeerd behoort te wees waar dit verkiesings aangaan, steeds nie verstaan wat hulle kiesregte is en wat verkiesings beteken nie?
Iewers het ons misluk. Met daai heel eerste verkiesing het mense geweet wat om te verwag; daar is moeite gedoen om hulle op te voed en voor te berei. Dertig jaar later lyk dit of ons terug is by “gogga maak vir baba bang”-tegnieke. Dit het tyd geword dat daar voor elke verkiesing weer kieseropvoeding gedoen word deur ’n onpartydige organisasie. Ons kan dit nie aan politieke partye oorlaat om kiesers op te voed nie.
........
En as kiesers nie in besit is van die korrekte informasie nie, kan hulle besluite vry van inmenging wees?
........
Kan ’n verkiesing waarlik “vry en regverdig” wees as die kiesers nie eens weet wat om te glo nie? Daai kassiere sou, as ek nie ingetree het en verduidelik het wat die proses is nie, geglo het die ANC gaan haar stem steel. Hoeveel ander glo dit? En wat word nog in mense se koppe ingestop deur politieke partye se verteenwoordigers en werkers?
En as mense nie eens weet wat die keuse om weg te bly van die stembus inhou nie, dan moet ek wonder of hulle ooit weet wat die verskillende partye se manifeste is. Hulle weet nie wat die spesifieke dinge is waarvoor die partye staan nie, en is dan oorgelaat aan hoorsê en gerugte. Waaroor anders word hulle misinformasie gevoer?
En as kiesers nie in besit is van die korrekte informasie nie, kan hulle besluite vry van inmenging wees?
Ek dink nie so nie.
Kommentaar
Ek lees die volgende sin raak: "Dit [kiesersopvoeding] gaan glad nie daarom of hulle kan lees en skryf nie." Nou wonder ek net:
HOE moet iemand stem wat nie kan lees nie; wat nie kan skryf nie; wat nie 'n potlood kan vashou nie; wat nie 'n kruisie kan trek nie (onthou, daai kruisie moet ewe ordentlik in die middel van 'n kolom wees...)
En dan is daar nog die drie verskillende stembriewe met verskillende kleure om sake nog meer deurmekaar te maak.