In sy LitNet Akademies-artikel sit André Duvenhage (2024) ’n motivering en strategie vir die fundamentele hervorming van die Suid-Afrikaanse staat uiteen.
In aanloop tot die 2024-verkiesing gesels hy en Menán van Heerden oor die staatskrisis.

Pixabay.com (Foto: Alexandra_Koch)
André, jou artikel skets ’n baie donker prentjie van Suid-Afrika in 2024. Watter faktore sal tot ’n vervalle staat lei indien hervorming nie binnekort geskied nie?
Suid-Afrika ervaar tans ’n samelewings- en staatkundige krisis wat heelwat groter van omvang is as net ’n regerings- of selfs ’n owerheidskrisis. Regering verwys hier na slegs die regerende elite wat binne ’n werkende demokratiese bestel deur middel van ’n verkiesing verwyder kan word. Die owerheid, oftewel die regime (of politieke stelsel) verwys op sy beurt na die onderskeie owerheidsinstellings onder die beheer van die staat, die vlakke van regering, ensovoorts. Die krisis waarmee Suid-Afrika tans te make het raak die regering, owerheid, burgery, soewereiniteit, territoriale integriteit en ook eersgenoemde se internasionale posisie. Op verskeie vlakke (polities, ekonomies en maatskaplik) tree daar agteruitgang en verval na vore.
Politiese uitdagings manifesteer ingevolge ’n onvermoë om grensbeheer toe te pas (met nou reeds sesmiljoen onwettige immigrante in die land); patrone van onstabiliteit en ’n onvermoë van die staat om wet en orde vir die gewone burger te handhaaf; staatskaping en endemiese korrupsie; wanfunksionaliteit waaronder plaaslike regering, onderwys, gesondheid en strukture wat met dienslewering getaak is.
Ekonomiese uitdagings verwys na lang periodes van beperkte tot selfs negatiewe groeikoerse; ’n groterwordende skuldlas (tans meer as 70% van Suid-Afrika se BBP); ’n beperkte en selfs kleinerwordende belastingbasis om steeds groterwordende en duurder populistiese projekte te finansier te midde van die eskalerende skuld waarna vroeër verwys is; vervalle infrastruktuur; die vlug van breinkrag en die negatiewe impak hiervan op ekonomiese ontwikkeling en groei in veral landelike omgewings; en die oorregulering van die ekonomie met onder meer gebrekkige investering as uitkoms.
Maatskaplike uitdagings verwys na sake soos armoede, werkloosheid, patrone van misdaad en sake wat verband hou met gehalte-onderrig, gesondheid en toegang tot ander verwante en noodsaaklike dienste.
Internasionaal word Suid-Afrika toenemend geïdentifiseer met die muishondstate van die wêreld, inbegrepe Rusland, China, Iran, Noord-Korea en Kuba – almal state met ’n swak menseregterekord. Suid-Afrika se ondersteuning van terreurorganisasies het die staat reeds op ’n “gryslys” laat beland, met verdere stappe wat in die vooruitsig gestel word – disinvestering en sanksies is ons waarskynlike voorland. (Die VSA se voortsetting van die bekende AGOA-ooreenkoms is tans in gedrang, sowel as groot hoeveelhede geld wat Suid-Afrika in onlangse tye verlaat het. Beide is voorbeelde in hierdie verband.)
Die huidige ANC-regering, die politieke paradigma (lees transformasie en sy toepassing – polities, ekonomies en maatskaplik) en wat daarmee gepaard gaan, soos Swart Ekonomiese Bemagtiging (die toepassing eerder as die beginsel), ekwiteitswetgewing, kaderontplooiings en endemiese korrupsie lê aan die wortel van die huidige problematiek (soos hier bo beskryf), en stel ’n grondslag en noodsaak daar vir fundamentele hervorming. Dit is die sentrale argument wat in die artikel gemotiveer en geargumenteer word.
In jou 2020-LitNet Akademies-artikel noem jy dat die politieke kantelpunt reeds bereik is en dat ’n slegte-saak-scenario voor die deur lê. Hoe het die krisis binne vier jaar vererger? Op watter stadium sal Suid-Afrika glad nie meer kan terugkeer nie?
Die politieke kantelpunt is omstreeks 2019/20 bereik en het veral te make gehad met die interne magstryde binne die ANC; gevegte tussen ANC-leiers. Laasgenoemde is gerig deur botsende ideologiese oortuigings. Die uitspeel van hierdie kantelpunt is gesien in ’n verswakkende ANC-steunbasis in beide die nasionale en provinsiale verkiesings van 2019, die geweld in KZN en dele van Gauteng, asook die plaaslike verkiesing van 2021. Ten opsigte van laasgenoemde het die 2021-verkiesing aan sowat 70 “hangrade” beslag gegee (dit wil sê geen party het ’n volstrekte meerderheid in die betrokke plaaslike regering nie) en koalisiepolitiek was aan die orde van die dag. Veral in die metropole het koalisiepolitiek verlammend op politieke en finansiële besluitneming ingewerk en politieke onstabiliteit en selfs rampokkery was aan die orde van die dag. Hierdie kantelpunt is verder ondersteun deur die swak leierskap van veral president Ramaphosa en in besonder sy onvermoë om belangrike en beslissende besluite te neem wat noodsaaklik is vir politieke stabiliteit, ekonomiese groei en investering. Cyril Ramaphosa se sogenaamde long game het geblyk te wees ’n berg wat die spreekwoordelike muis gebaar het. Algemene omstandighede in Suid-Afrika (polities, ekonomies en maatskaplik) tydens die Ramaphosa-bewind was in die meeste gevalle selfs swakker daaraan toe as tydens die Zuma-era. Die kantelpunt-werklikheid is verder ondersteun deur verswakkende politieke, ekonomiese en maatskaplike toestande, waaronder beperkte tot negatiewe ekonomiese groei; patrone van finansiële disinvestering; ’n verswakte belastingbasis; beperkte tot geen optrede teen korrupsie nie, met ’n president wat self geïmpliseer word; en steeds groterwordende maatskaplike vraagstukke waaronder armoede, ongelykheid en werkloosheid. Hierdie trajek is tans sterk gedefinieer en berei die weg voor vir ’n baie moeilike verkiesing tydens Mei 2024 – ’n verkiesing waarin die ANC die kans staan om sy absolute meerderheid nasionaal en moontlik ook in sekere provinsies (veral Gauteng en KZN) te verloor.
Om hierdie trajek om te keer, die sentrale betoog van my artikel, sal sterk leierskap, ’n nuwe politieke paradigma, detransformasie en inkoop van ander politieke leierskap (lees opposisieleierskap) noodsaaklik wees. Tans is hierdie omstandighede en inisiatiewe afwesig en lyk ’n voortgaan van die status quo (’n verslegtende situasie) soos die meer waarskynlike scenario. (My betoog in die 2020-verkiesing ten opsigte van ’n verslegtende scenario!) Hierdie toedrag van sake moet ook beoordeel word teen die agtergrond van talle drakoniese transformasiegedrewe wetgewing wat onlangs deurgevoer is of in die pyplyn is (die BELA-wet ten opsigte van onderwys, Nasionale Gesondheidsversekering en wysigings of beoogde wysigings aan Artikel 25 van die Grondwet); die Zondo-kommissie se verslag wat nie na behore geïmplementeer word nie; en vooraanstaande ANC-leiers se verbintenis tot korrupte praktyke – om net enkele sake uit te lig. Met ’n beslissende verkiesing voor die deur bespeur ek ’n desperaatheid om aan mag vas te klou en besluite wat noodsaaklik is en die algemene belang vooropstel, nie te inisieer en deur te voer nie. Die antwoord is dus, vanuit my perspektief beoordeel, nie positief nie. ’n Onvermoë tot daadwerklike hervorming word reeds gesien in sake soos gebrekkige ekonomiese groei; infrastrukturele uitdagings; groterwordende armoede en werkloosheid; patrone van politieke onstabiliteit wat verskeie vorms aanneem; en politieke en institusionele verval op ’n staatkundige vlak. Kortom, die staat as staat verkeer in krisis, soos vroeër gestel.
Hoe lyk die vooruitsig vir veral jong mense wat oorweeg om te emigreer weens die verval?
Elke geval sal waarskynlik op eie meriete oorweeg en beoordeel moet word. Vir professioneel-opgeleide mense is die prentjie uiteraard anders as vir gewoon opgeleide persone. Die situasie in byvoorbeeld die Wes- en Suid-Kaap lyk ook aansienlik anders as byvoorbeeld die Oos-Kaap, Noordwes, Limpopo of die Vrystaat. Vandaar die groot semi-grasie na die Kaap wat tans ondervind word. Internasionaal het die wêreld die afgelope aantal jare ook groot veranderinge ondervind en met eskalerende internasionale konflikte asook ’n verswakkende wêreldekonomie is die prentjie daarbuite nie altyd so rooskleurig nie. Persoonlik glo ek dat ons die beste van ons uitdagings alhier moet maak en dat ’n probleemoplossende benadering en gesindheid die beste weg is om te volg. Vandaar my argumentering ten opsigte van die noodsaak vir fundamentele hervorming vir die staat, ekonomie en samelewing. Die uitspeel van die 2024-verkiesing (indien reg benader) mag geleenthede in hierdie verband na vore bring.
’n ANC-EFF-koalisie: Sal so ’n koalisie realiseer, en indien wel, wat sal die gevolge wees?
Die EFF het homself in verskeie koalisie-omgewings as onbetroubaar, mags- en geweldgedrewe bewys. Die onlangse krisis in Ekurhuleni was waarskynlik ’n verdere bewys van die EFF se onbetroubaarheid as koalisievennoot, soos ook in ander omgewings deur byvoorbeeld die DA ervaar. Die ANC sal (indien hulle minder as 50% steun sou kry) hul waarskynlik eerste wend tot kleiner partye om nodige meerderhede te verkry; daarna groter partye soos die IVP en selfs MK (indien laasgenoemde wel sou deelneem) en/of andere wat vanuit die verkiesing na vore mag tree. Die EFF en die DA is vanuit ’n ANC-perspektief die laaste opsies, met laasgenoemde myns insiens heel laaste. Indien die hoogs onwaarskynlike wel gebeur en ’n ANC-EFF-koalisie kom tot stand, sal dit verreikende politieke implikasies hê met uitkomste soos groter politieke en maatskaplike onstabiliteit; die versnelde onttrekking van investeerders wat noodsaaklik is vir ekonomiese groei; meer drakoniese en populistiesgedrewe transformatiewe wetgewing; en ’n verskerpte aanslag op minderhede en hul “bevoorregte posisie”. Die gelykheidsbeginsel sal met groter daadkrag deurgevoer word. Hierdie uitkoms lyk egter vir my na ’n meer onwaarskynlike scenario. Die probleem is wel dat ’n ANC-MK-koalisie soortgelyke uitkomste kan lewer met dieselfde implikasies soos wat hier bo uitgespel is.
Wat dink jy sal vryheidsvegters soos Mandela, wat amper 30 jaar in die tronk was, dink oor 30 jaar se demokrasie?
Dit is altyd moeilik om historiese figure in die huidige omstandighede te laat “opstaan” en ’n akkurate en objektiewe perspektief te verwag. Figure soos Mandela word ook dikwels misbruik om bepaalde politieke agendas in die huidige tydsgewrig te bevorder. Ons weet wel dat Mandela voor sy afsterwe reeds krities was teenoor die ANC-bestel en politieke leierskap. Tans is daar meer gronde vir kritiek en sy trajek van denke sou waarskynlik baie dieselfde gewees het as dié van byvoorbeeld Desmond Tutu, wat teen die einde van sy lewe baie krities was teenoor die ANC-regering en -leierskap. Ek glo dat Mandela wel krities sou gewees het, maar twyfel sterk of hy die ANC as instelling sou verlaat het. Hy mag dalk ingekoop het in die hervormingsagenda wat ek in die genoemde artikel voorstel.
Op watter punt sal die burgerlike samelewing nie meer ’n verskil kan maak nie?
Die burgerlike samelewing, indien hulle gemotiveer kan word, sal altyd ’n verskil kan maak. Tans maak die burgerlike samelewing reeds ’n groot verskil en ek verwag dat hul rol net nog groter kan word. Dit word reeds waargeneem dat waar die staat verswak en nie behoorlike dienste kan vervul en/of verpligtinge nakom nie, die burgerlike samelewing juis hier na vore tree. Dit kan gesien word in die herstel van slaggate en instandhouding van infrastruktuur (privaatgedrewe en voor betaal) tot die totstandkoming van parallelle strukture ten opsigte van veiligheid, vervoer, gesondheid, onderwys en die voorsiening van byvoorbeeld elektrisiteit. Selfs op die vlak van hoëronderwys bestaan sodanige inisiatiewe. Die uitgebreide aard hiervan is so groot dat die term parallelle staat soms opduik. In ’n omgewing van ’n verswakkende staat (waar institusionele en politieke verval aan die orde is) behoort dié tendens nog verder te versterk. Myns insiens moet inisiatiewe uit die burgerlike samelewing aktief bevorder word en kan dit deel van die groter hervormingsagenda vorentoe word. ’n Sleutelkenmerk van ’n demokrasie is immers ’n sterk burgerlike samelewing in duidelike onderskeiding van die staat, waar laasgenoemde ’n meer minimalistiese rol speel – baie anders as die huidige stand van sake.
Hoe beskou buitelandse beleggers Suid-Afrika in 2024?
Die huidige uitvloei van kapitaal, gebrekkige buitelandse en binnelandse investering, ’n groeiende skuldlas, die plasing van Suid-Afrika op die sogenaamde “gryslys”, infrastrukturele uitdagings en ekonomiese oorregulering maak die land ongunstig vir buitelandse en binnelandse beleggers. Trouens, daar bestaan aanduidings van disinvestering en ook “sagte sanksies” wat aan die orde is of vorentoe aan die orde kan kom. Internasionaal gesproke, is Suid-Afrika se assosiasie met state soos Rusland, China, Iran, Noord-Korea en Kuba negatief vir veral Westerse investering in Suid-Afrika. Die saak wat Suid-Afrika by die Internasionale Strafhof in Den Haag teen Israel ingedien het, het ook nie tot Amerikaanse en Westerse ondersteuning gelei nie. Myns insiens het Suid-Afrika in hierdie opsig (veral as die ekonomiese en finansiële implikasies hier verreken word) ’n reusefout gemaak en kan dit Suid-Afrika vorentoe baie duur te staan kom. Tans loop Suid-Afrika gevaar om sy Amerikaanse voordele ten opsigte van die AGOA-ooreenkoms (sien besonderhede in die artikel) te verloor, en kan selfs as ’n staat wat terreur bevorder geklassifiseer word. Ekonomies kan dit baie negatief wees vir die reeds verslegtende ekonomiese en finansiële situasie alhier en sal dit ongetwyfeld beleggers afskrik.
Wat kan ’n ANC-scenario van minder as 50% steun nasionaal en in sekere provinsies polities gesproke beteken?
Verskeie meningspeilings beklemtoon reeds vir ’n geruime tyd dat die ANC nasionaal minder as 50% steun kan kry en dat die party ook voor groot uitdagings staan in provinsies soos KZN en Gauteng. Trouens, van die meningspeilings het die ANC nasionaal tot selfs minder as 40% geplaas. Tans is daar ’n diskoers onder akademici oor wat die potensiële uitkoms van die verkiesing kan wees, met sommige wat daarop wys dat die ANC regimevoordele kan gebruik tot by die punt waar hul weer ’n volstrekte meerderheid (50% plus 1) kan verkry. (Ek werk tans met drie scenario’s [ANC-meerderheid/koalisiepolitiek/patrone van politieke onstabiliteit] oor die verkiesing soos uiteengesit onder die titel Die 2024-verkiesing: Is ’n Suid-Afrikaanse Lente op pad? – Seminare en Essays, 25 Oktober 2023.) Indien ’n vrye en regverdige verkiesing verseker kan word (die uitdagings is definitief groter as in die verlede), lyk ’n scenario waarin die ANC nie ’n volstrekte meerderheid gaan kry nie tans na die meer waarskynlike scenario. Dit mag die volgende moontlike uitkomste hê:
- Die ANC benodig ’n strategiese vennoot om ’n nasionale meerderheid te verseker en hul opsies in prioriteitsorde kan so daar uitsien: kleiner ou of nuwe party/e soos die IVP/MK (indien die party kwalifiseer); EFF/DA. Belangrik is dat die vennoot/vennote wat nasionaal ondersteun, ook dieselfde (of naastenby dieselfde) moet wees met koalisies waar die ANC provinsiaal in die moeilikheid kan raak, soos in Gauteng en KZN. Dit maak die IVP en moontlik die MK goeie opsies vir toekomstige oorweging!
- Koalisies, veral gekompliseerde en asimmetriese koalisies (nasionale koalisieprofiel verskil van dié in provinsies, en/of provinsies verskil onderling), hou die moontlikheid in van onstabiliteit en konflik.
- Die ANC se posisie gaan swakker wees nasionaal en in die meeste provinsies in vergelyking met die uitkoms van die 2019-verkiesing. Konflik tussen regering (lees verskuiwende magsbasisse en/of koalisieformasies) en ’n ANC-gedomineerde regime is meer waarskynlik tot wesenlik. Hierdie omstandighede kan verantwoordelik wees vir konflik en gebrekkige besluitneming en tot groter onstabiliteit bydra, soos onlangs in veral die metropole waar koalisies regeer waargeneem is.
- ’n Verdere vyf jaar van ANC-/ANC-gedomineerde regering (ook in die meeste provinsies) lyk onafwendbaar of ten minste die meer waarskynlike scenario.
- MK-formasies, ANC-intimidasies (lees byvoorbeeld die vredesregters – Lesufi-wardens – in Gauteng) en EFF-konflik/-geweld kan uiters groot druk plaas op die realisering van ’n vrye en regverdige verkiesing en die verbintenis van partye om die uitslag te eerbiedig. (My scenario oor ’n potensiële Suid-Afrikaanse Lente kom hier ter sprake.)
Die Veelpartyhandves se steunbasis word tans beoordeel in die omgewing van die middel 30%, met die DA die oorheersende, selfs dominante faktor. Dit sal interessant wees hoe kleiner partye soos die VF Plus, IVP en nuwe partye soos die Patriotic Alliance en Action South Africa gaan vaar. Die steunbasisse is beperk en mededinging bestaan tussen Handvesvennote. ’n Nuwe politieke spektrum gaan ’n uitkoms wees van ’n politieke kantelpunt wat reeds in 2019/20 begin het en waarvan die uitkomste ons vir ten minste die volgende vyf jaar (dalk 10 jaar) nog gaan besig hou. Myns insiens is fundamentele hervorming of eskalerende konflik en geweld die twee groot scenario’s op die pad vorentoe. Hoe koalisiepolitiek gaan uitspeel, kan vorentoe uit eie reg ’n belangrike en selfs deurslaggewende faktor wees op die pad van fundamentele hervorming. Indien die proses verkeerd loop, hou dit ’n groot bedreiging in vir Suid-Afrika as ’n konstitusionele demokrasie, asook die 1996- grondwetlike bedeling.
Lees ook in LitNet Akademies:
Die fundamentele hervorming van die Suid-Afrikaanse staat – motivering en strategie
Lees en kyk ook op LitNet:
Election 2024: The Economic Freedom Fighters’ election manifesto
Wes-Kaapse onafhanklikheid: ’n bondige blik op die regsinstrumente
SteedsDink in die Karoo met LitNet Akademies: Christi van der Westhuizen