André Duvenhage: Dís die ergste wat met SA kan gebeur

  • 3

LitNet Akademies-navorser André Duvenhage (Foto: verskaf)

In sy artikel “Suid-Afrika by ’n kantelpunt – ’n slegte-saak-scenario?” wat onlangs in LitNet Akademies verskyn het, plaas André Duvenhage die Suid-Afrika se politieke situasie onder die vergrootglas. Geweldige uitdagings staar politici en landsburgers in die gesig, en die toekomsprentjie lyk maar redelik donker. Melt Myburgh het met die navorser gesels oor sy indrukke oor wat op Suid-Afrikaners wag.

.....................

In jou LitNet Akademies-artikel ontleed jy die Suid-Afrikaanse politiek met die oog op ’n slegte- en beste-geval-scenario as uitkoms. Jy kom dan tot die gevolgtrekking dat die land reeds verby ’n kantelpunt hel in terme van ’n slegte-geval-scenario. Die prentjie lyk dus nie baie rooskleurig nie. Wat is die heel ergste ding wat met Suid-Afrika se politieke situasie kan gebeur?

’n Werklik slegte scenario vir Suid-Afrika is een waarin die ekonomie in duie stort, gemobiliseerde politieke verwagtinge (soos verhoogde toelae, afleggings, kleiner salarisse ens) nie aan voldoen kan word nie, en wat op sy beurt lei tot ontevredenheid en die gepaardgaande eskalering van konflik en geweld in ’n reeds onstabiele samelewing. Rasverskille en -konflikte word opnuut geaktiveer en word die bykans uitsluitlike grondslag vir die bedryf van politiek. Rassepolarisasie lei tot wit mobilisasie. Ons sien laasgenoemde reeds daar waar onlangse plaasmoorde (Hartswater en Normandien) voorgekom het. Die motorfietssaamtrek is ’n voorbeeld in hierdie verband.

Hierdie scenario beklemtoon elite-konflikte en selfs die totstandkoming van nuwe groeperinge van binne die ANC-familie. Die hantering (of niehantering) van korrupsie kan hier as belangrike katalisator dien.

Die snellers binne die onderskeie kontekste wat hierdie scenario ’n werklikheid kan maak, is:

Ekonomies: Lae vlakke van ekonomiese groei en selfs negatiewe groei; eskalerende staatskuld en ’n onvermoë om verpligtinge (veral salarisse) na te kom; ’n verkleinde belastingbasis; die voortgaande krisis ten opsigte van semistaatsinstellings en dienslewering, veral ten opsigte van Eskom.

Polities: Korrupsie-ondersoeke en elite-konflikte binne die ANC-familie; plaaslike verkiesings en nuwe politieke konfigurasies; die uitspeel van korrupsie-ondersoeke party-polities gesproke (nuwe politieke entiteite); politieke en institusionele verval (die mislukte staat).

Sosiaal: Ongelykhede en eskalerende maatskaplike vraagstukke wat verband hou met armoede, ongelykheid en sosiale verval; asook eskalerende konflik en geweld.

Volgens jou artikel is dit onafwendbaar dat daar radikale politieke veranderinge vir Suid-Afrikaners voorlê. Gaan dié veranderinge geleidelik geskied, of praat ons hier van ’n revolusie of die gevolge ná ’n dramatiese verkiesingsuitslag? Hoe gaan dié veranderinge die Suid-Afrikaanse landskap verander?

Verandering, en die tempo daarvan, is moeilik voorspelbaar. Dit is terrein- en situasiegebonde. Dit is my oortuiging dat ons aan die einde staan van ’n politieke era en dat, oorhoofs gesien, ’n nuwe fase van politieke ontwikkeling betree word. Die probleem is dat ons ’n goeie grondwet het, maar dat dit betekenisloos geword het omdat die ideale soos in die vooruitsig gestel, nie gerealiseer kan word nie. Toenemend raak burgers ontevrede met dit wat op voetsoolvlak (die de facto-staat) aan die gebeur is. Kwessies wissel van sosio-ekonomiese sake tot gevalle van onstabiliteit en staatkundige verval.

Daar is reeds oproepe vir ’n nuwe bedeling terwyl andere weer wil wegbreek uit die bestaande orde (Cape-Exit ens). Die Clicks-episode het gewys hoe vloeibaar en dinamies dinge oornag in Suid-Afrika kan raak. Soms verander sake letterlik binne die bestek van ure, en soms sien ons hoe die verlede na vore tree as die nuwe toekoms. Ek is baie bekommerd oor die gebrek aan leierskap op soveel vlakke om die komplekse verandering wat plaasvind in Suid-Afrika te lei en te rig. Die ANC-regering is besig om die staat op alle terreine in die steek te laat, en dit lyk asof dit nie gou anders gaan wees nie.

’n Mens moet blind wees om nie die enorme ekonomiese ongelykhede in Suid-Afrika raak te sien nie. Dié situasie kan tog sekerlik nie onverwyld so voortduur nie? Is daar ’n ekonomiese model wat Suid-Afrika in ’n regverdiger, gelyker samelewing kan verander?

Die konsep van gelykheid – of sy teenpool, ongelykheid – is ’n baie omstrede onderwerp, veral in Suid-Afrika met sy apartheid- en koloniale verlede. Enersyds is dit waar dat ons een van die mees ongelyke samelewings ter wêreld is, en dit sal moet verander. Andersyds is die ideaal van gelykheid ’n totale mite, aangesien geen twee individue ooit presies gelyk kan wees nie. Soos wat jy armoede en rykdom in bykans alle samelewings aantref, is ongelykheid ook ’n inherente deel van die sosiale werklikheid. Ten spyte van soms die sterkste moontlike wetgewings ter wêreld om egaliteit of gelykheid te te bevorder, word presies die omgekeerde in Suid-Afrika hiermee bereik.

Egaliteitswetgewings (byvoorbeeld BBBEE ens) het dikwels as uitkoms diktatoriale bedelings wat oorgereguleer raak en inisiatief verwyder; en dit lei tot die vlug van kapitaal en investering. In hierdie opsig glo ek aan vrye-ondernemerskap en ook daaraan om aan mense geleenthede te gee. Dit kan wel getemper word met die ontwikkelingstaatgedagte waar die staat deur middel van groot projekte die heil en welsyn van agtergeblewe gemeenskappe bevorder. (Die ou Afrikaner-staat was baie suksesvol hiermee.)

Tans is die Suid-Afrikaanse regering egter besig om vrye-ondernemerskap aan bande te lê met uitgediende sosialistiese, Marxistiese en revolusionêre denkrigtings, met as fokus groterwordende staatsbeheer oor die produksiefaktore (grond, kapitaal, arbeid en ondernemerskap). Die beoogde wysiging aan artikel 25 van die Grondwet is ’n goeie voorbeeld van laasgenoemde, asook pogings om die Reserwebank te nasionaliseer.

Die ander kant van dieselfde munt is ’n verswakte en korrupte staat met armes wat al armer word en ’n ryk korrupte elite – dikwels swart en polities gekonnekteer, soos wat staatskaping bewys het. Laasgenoemde het hulself in die ekstreem bevoordeel en vaar onder die vlag van groter gelykheid en die onregte van die verlede om hul optredes te regverdig. Die regeringsbeleid om groter gelykheid te bring, het misluk en veral die toepassing hiervan sal drasties herbekyk moet word.

Bemagtig mense met meer en beter geleenthede en stel ’n sterk staat (wat niekorrup is) daar om ongelykhede aan te spreek. Beloon presteerders op gepaste wyses, al lyk dit soms anders as die verteenwoordigende samelewing. Soos apartheid nie gewerk het nie, het transformasie ook misluk. ’n Nuwe beleidsgrondslag en toepassing word benodig. Hieroor moet Suid-Afrikaners met mekaar praat soos wat die geval ook was voor 1994.

Korrupsie is een van die bose swere wat tereg in jou artikel as ’n remskoen in ons samelewing uitgewys word. President Ramaphosa het tydens die staat van inperking sy stem keer op keer dik gemaak oor korruptes wat met hul vuil hande in die geldlaaie karring. Is hy werklik in staat om korrupsie hok te slaan, of blaf hy maar soos ’n tandelose hond teen die wind?

Die omvang van korrupsie is endemies binne die Suid-Afrikaanse politiek, ekonomie en samelewing. Die finansiële waarde wat op staatskaping geplaas word, is tussen R500 miljard en R1,5 triljoen. Misbruik van COVID-19-gelde het hierdie werklikheid nog verder beklemtoon.

Die laaste uitsprake van meneer Ramaphosa is bemoedigend, maar daar bestaan ernstige kommer oor sy vermoë om hieraan uitvoering te gee. Tot op hede het hy nie as politieke leier en staatsman oortuig nie, en gaan die wyse waarop hy die korrupsie-aangeleentheid hanteer sy lot as politieke leier bepaal – binne sowel Suid-Afrika as die ANC-familie.

Vir my begrip is die probleem te groot (veral binne die ANC-regering en die groter regime) en Ramaphosa te lig om dit suksesvol te kan hanteer. Hy mag self ’n slagoffer word van sy eie pogings om korrupsie te hanteer. Die binnegevegte in die ANC is beslis nie verby nie en daar is nog geen finale wenner of verloorder nie. Die lang messe is uit en Ramaphosa is by tye baie wankelrig as leier. In Suid-Afrika is politiek inderdaad ’n spel wat handel oor mag, oorlewing en bevoordeling, en jaloesie en afguns eindig dikwels met die dood. Die laaste skoot in hierdie geveg is nog nie gevuur nie en Ramaphosa se rug is baie oop.

Dink jy die Zondo-kommissie gaan uiteindelik ’n bydrae kan lewer om die probleme wat ons jong demokrasie ondermyn aan te spreek? Of is die sittings van die kommissie maar net nog ’n “reality show”?

Die sukses van die Zondo-kommissie (al dan nie) gaan bepalend wees vir of die oppergesag van die reg steeds oppermagtig gaan wees en of dit so gesien sal word. Indien onsuksesvol, sal selfs nog meer indringende vrae gevra word oor die waarde van die Grondwet en sy vermoë om die spelreëls te definieer waarbinne daar na antwoorde vir talle vraagstukke gesoek moet word. Daarom gaan die volgende ses maande so bepalend wees in die Suid-Afrikaanse politiek.

Sover was daar min betekenisvolle suksesse en is die uurglas besig om uit te loop. Indien toonaangewende politici en burokrate, onder wie Magashule, Malema, Molefi, nie aangekla word nie, sal dit ernstige vrae laat oor die integriteit van die proses. Regsoptredes is egter nie sonder politieke implikasies nie en dit gaan een van die groot toetse wees vir die Ramaphosa-regering en sy leierskap. Die probleem is te groot om van binne die ANC te hanteer, aangesien te veel leiers direk of indirek geïmpliseer en/of bevoordeel word of was. Dit mag die transformasie van die ANC-familie in nuwe politieke identiteite as positiewe uitkoms hê. Dit kan ons ook laat met groot politieke onstabiliteit en die slegte scenario waarna in my artikel verwys word.

Het die COVID-19-pandemie enigsins ’n demper geplaas op die planne van faksies soos dié van Ace Magashule binne die ANC om mense soos Rampaphosa te ondermyn?

Ramaphosa het die COVID-19-episode suksesvol gebruik om sy posisie binne die ANC te verstewig en dit vir sy opponente moeilik gemaak. Vandaar die “terugstoot” van NDZ en andere. Daar gaan egter ook ’n groot prys vir COVID-19 betaal word en dit kan vorentoe teen Ramaphosa boemerang. Sy opponente werk dag en nag om hulself te beskerm en sy leierskap te ondermyn. Die plaaslike verkiesing van 2021 mag groter duidelikheid in hierdie verband bring, veral as die ekonomie onderpresteer, staatsfinansies in krisis is en opponente van populistiese taktieke gebruik maak.

Wat sou jy vir LitNet-lesers – die burgers van Suid-Afrika – sê om hulle moed in te praat oor ons politieke toekoms? Of moet almal maar die komberse hoër optrek?

Bykans soos in die laat tagtigerjare staan ons weer eens voor kruispaaie in ons politiek. Hierdie republiek gaan ook sy einde hê en burgers moet dienooreenkomstig beplan. Gesprek en onderhandelinge is altyd beter as konflik en geweld. Uiteindelik is ons ook die argitekte van ons eie politieke toekoms. Sake wat belangrik is en waarop voortgebou kan word, sluit in:

  • Orde, stabiliteit en sekuriteit as die belangrikste enkele boupilare van enige staatsorde. Hiersonder is demokratiese en ander waardes betekenisloos.
  • Liberaal-demokratiese waardes soos sterk en goeie regering; die behoud van die oppergesag van die reg; en die konsep van verantwoordelike en verteenwoordigende regering.
  • Sosiale verdraagsaamheid en ’n ontwikkelingsgerigtheid.
  • Selfbestuur vir gemeenskappe en groepe wat dit sou verkies.
  • Beleid en beleidstoepassing wat ontwikkeling en groei sal stimuleer en investering bevorder.

Dit is ’n tyd om brûe te bou en aktief betrokke te raak by die bou van ’n beter toekoms. Ons is dit almal aan onsself en die land verskuldig. Ons staan in wat vorentoe genoem mag word “historiese tye”. Net jammer die leierskap ontbreek op soveel fronte.

Ten slotte: In jou artikel gebruik jy die begrip ingewikkelde stelsels as teoretiese vertrekpunt, en dien begrippe soos stelsel-entropie, deterministiese chaos, die swak-staat-verskynsel en stelseltransformasie as raamwerk vir jou ontleding. Wat is jou siening as akademikus van teorieë om jou taksering van die werklikheid te deurgrond? Is teorieë nie dikwels maar net modegiere wat verander soos die tyd aangaan nie?

Die wetenskap gebruik teorie in ’n poging om te verstaan. Die sosiale en geesteswetenskappe is (anders as die natuurwetenskappe) nie teoreties sterk ontwikkel nie – veral ten opsigte van die verstaan van verandering. Ons moet nog baie ontwikkelingswerk doen. Tog glo ek dat die teorieë wat in die artikel gebruik is, relevant is en ons help om die politieke landskap beter te verstaan.

 

Vir die volledige prentjie, lees André Duvenhage se LitNet Akademies-artikel hier:

Suid-Afrika by ’n kantelpunt – ’n slegte-saak-scenario? 

Lees ook op Voertaal:

Clicks: Dis dié keer regtig Van Riebeeck se skuld

  • 3

Kommentaar

  • Henning Janse van Vuuren

    Ter wille van Suid-Afrikaners se sieleheil moet ons nie meer as 10% van ons aandag aan politiek afstaan nie (lees: blootstel). Dié persentasie vermag ek deur onder meer kN-Verslag te kyk. (Soms beleef ek nog enkele minute van Schalk Bezuidenhout waartydens hy ʼn oorblufte gas herinner, “dis ʼn grappie” en laasgenoemde dan beleef glimlag.)

    Nietemin. Erger dinge gebeur, meneer.

    Deesdae, te wyte aan die adjust4sleep beddens wat geadverteer word, sukkel ek om op die sjarmant en sjiek kV-aanbieders te konsentreer. Dié bed is ʼn maaksel tussen ʼn hospitaalbed (moontlik oorskot op onderduimse tenders soos die motorfietsies?) en ʼn dieselgedrewe futonbed wat op-en-af slaan na gelang van jou behoeftes ‒ iets waarin ʼn oudregter van die konstitusionele hof sekerlik sou belang stel; maar niks aardskuddend soos die Tesla waarmee jy Mars toe kan vlieg nie.

    Die bed pla nie so erg nie (rêrig, heeltyd?!), maar die vuil voete van die neomiddeljariges wel. Dit ontwrig. Dit ontstig. Ek staar soos Austin Powers na ʼn moerse moesie van ʼn mole ... mole ... MOLE ... Kan Adriaan Vlok nie ingryp nie?

    Ag, miskien maak ek ʼn berg van ʼn moleshoop. Dalk is my teorie bloot verset teen ʼn modegier wat verander soos die tyd aangaan.

    Ongelukkig klink die kommunikasie tussen ons en ‘hulle’ (F-ANC-P, uitgespreek fancy party, menende fasciste) in hierdie stadium só:
    https://www.youtube.com/watch?v=mfJhMfOPWdE&list=PLl_wmmm7iHfk9eXFgxGQK6CKNdqmjN6QZ&index=24

  • Johann Basson

    TOEKOMSTIGE "PRODUK SUID-AFRIKA"

    In produkontwikkeling van gevorderde produkte word basislynbestuur toegepas.

    By elke basislyn word bestek opgeneem oor die produkontwikkeling tot op daardie stadium. Besluite word geneem vir verdere produkontwikkeling op die pad na die volgende basislyn.

    Die vorige basislyn in die ontwikkeling van die produk "Reënboog Suid-Afrika" was 1994 met die besluitneming tot 'n nuwe SA Grondwet en die ANC magsoorname.

    Die 2020 COVID-19-pandemie het die geleentheid nou geskep dat die Suid-Afrikaanse nasie nou weer, na ernstige politieke bewuswording en selfondersoek, in 2020 'n nuwe basislyn vestig om deur gesprekvoering te besluit op die suksesse en areas vir verbetering sedert die 1994 basislyn vir die ontwikkeling van die produk Suid-Afrika.

    Die groot vraag by produkontwikkeling is: Wat is die "Fit, Form and Function (FFF)" waaraan die eindproduk uiteindelik moet voldoen? Wat is die Fit/Form/Function vereistes waaraan die produk "Suksesvolle Suid-Afrika" by die beoogde afleweringsdatum aan moet voldoen?

    1) FUNCTION: Die Suid-Afrikaanse nasie sal as nasie ekonomies wêreldkompeterend moet wees om daardeur volhoubaar voldoende buitelandse valuta te verdien vir welvaart vir al sy mense, inaggenome die bevolkingsgroei.

    2) FORM: In welke vorm moet die nuwe produk Suid-Afrika in die toekoms daar uitsien sodat die FUNCTION-doel bereik kan word?

    3) FIT: Hoe gaan die nuwe produk Suid-Afrika inpas in die groter nasiestelsels van internasionale eiebelang politiek?

    Die keerdatum vir BASISLYN 2020 het aangebreek.

    Laat ons die basislynbestuur in 2020 met verantwoordelikheid toepas tot voordeel van alle Suid-Afrikaners in 'n regverdiger, voorspoediger en vredevoller toekoms. Ons is almal Suid-Afrikaners en dus deelnemers aan hierdie proses. Ons hoef nie te wag vir die volgende politieke verkiesings of die staatspresident nie.

  • Henning Janse van Vuuren

    Politici, van Amerika tot Zuma, verteenwoordig steeds die amoeba van menslike ontwikkeling. Dit is jou basislyn. Analiseer jy die evolusie van moderne politici is dit duidelik dat haas geen produkontwikkeling geskied nie. EFF of FFF, dit lyk ongelukkig steeds na WT (wishful thinking).

    Luister en lees gerus saam Green Day se lekker liedjie: American Idiot

    https://www.youtube.com/watch?v=a1BS7XnEZqc

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top