’n Arabiese Lente in eietydse Suid-Afrika?

  • 1

’n Arabiese Lente in eietydse Suid-Afrika?

Wynand Greffrath en André Duvenhage, Navorsingsfokusarea: Sosiale Transformasie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom

LitNet Akademies Jaargang 12(1)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Sedert die ontstaan van die golf van revolusionêre regimeverandering in Noord-Afrika en die Midde-Ooste in 2010, alombekend as die “Arabiese Lente”, was daar spekulasie dat sodanige politieke onstabiliteit ook in ander state van die ontwikkelende wêreld kan posvat. Gegewe die hoë vlakke van sosio-ekonomiese ongelykheid, werkloosheid en armoede in Suid-Afrika, heers daar kommer dat die heersende plaaslike politieke klimaat ook ’n teelaarde vir revolusionêre regimeverandering verteenwoordig. Die doel van hierdie artikel is om, deur middel van ’n literatuurstudie bestaande uit beide empiriese en teoretiese verwysings, die Suid-Afrikaanse politieke konteks te evalueer met inbegrip van die moontlikheid van snelle, revolusionêre regimeverandering soos aangetref tydens die Arabiese Lente in Noord-Afrika en die Midde-Ooste. Gevolglik word revolusionêre politieke verandering as teoretiese vertrekpunt eerstens bespreek, tesame met enkele ander begrippe wat van sleutelbelang is tot die ondersoek. Tweedens word empiriese perspektiewe oor die besondere sosio-politieke toestande in die Arabiese streek geëvalueer, met die doel om dryfvere te identifiseer. Derdens word hierdie insigte in die Suid-Afrikaanse toepassingskonteks geëvalueer, waar daar gefokus word op die herkoms van die kontemporêre Suid-Afrikaanse staatsbestel, die onderliggende grondwetlike demokrasie, die ontstaan van ’n post-apartheid regime-dinamiek, ontluikende pretoriaanse tendense, en die plaaslike sosio-ekonomiese omgewing. Ten slotte word daar bevind dat die Suid-Afrikaanse staat en regime fundamenteel andersoortig is as die van die betrokke state van die Arabiese streek, en dat eersgenoemde as ’n verswakkende en disfunksionele staat beskryf kan word, eerder as ’n doeltreffende outoritêre magsapparatus. In teenstelling met die state van die Arabiese streek, waar daar geen ware politieke deelname verdra is nie, word die Suid-Afrikaanse konteks gekenmerk deur hoë vlakke van deelname, waarvan die aard demokraties, maar ook toenemend anti-stelsel georiënteerd ontwikkel. Die afwesigheid van openlike politieke onderdrukking gepaard met deurlopende politieke deelname maak dreigende revolusionêre regimeverandering in die patroon van die Arabiese Lente dus in Suid-Afrika onwaarskynlik, alhoewel geïdentifiseerde parallelle uitdagings in die sosio-ekonomiese kontekste, gepaardgaande met patrone van staatsverval, as nadelig beskou word vir politieke stabiliteit.

Trefwoorde: Arabiese Lente; die Arabiese Lente en Suid-Afrika; Midde-Ooste; Noord-Afrika; politieke onstabiliteit; regimeverandering; revolusie; Suid-Afrikaanse politiek

Abstract

An Arab Spring in contemporary South Africa?

This purpose of this article is to evaluate the probability of non-democratic revolutionary regime change in South Africa similar to the Arab Spring which began in 2010. Methodologically, the paper constitutes a theory-driven qualitative analysis that incorporates a reconstruction of the Arab Spring and its socio-political causes and driving forces; an evaluation of the authoritarian regimes of the Arab region and their definitive institutional characteristics; an evaluation of socio-political instability understood through the theory of revolutionary regime change; a description of the contemporary social, economic and political South African contexts; and finally the application of the aforementioned insights with the purpose of inferring the probability of a “South African Spring”.

The wave of revolutionary regime change that swept through North Africa and the Middle East in early 2011, commonly known as the Arab Spring, has emerged as one of the defining episodes in the political history of the region. The Arab world, which had historically proven resistant to democratisation, was overwhelmed by unrest and political protest directed at ruling authoritarian regimes. What began in Tunisia with the self-immolation of a vegetable seller spread to other states in the region, including Algeria, Libya, Morocco, Egypt, Syria, Lebanon, Iraq, Jordan and Yemen. In the process, the decades-old regimes such as those of Muammar Gaddafi and Hosni Mubarak were toppled, often in a violent and dramatic fashion and well publicised by the international media. The main driver of revolutionary change was similar across all the affected states: tensions emanating from the inability of long-standing authoritarian regimes to manage systemic socio-economic challenges that were exacerbated by the preceding global financial crisis.

The South African socio-economic landscape reveals challenges very similar to those that motivated the uprisings in North Africa and the Middle East, particularly with regard to phenomena such as unemployment (and particularly youth unemployment), high levels of poverty and (more recently) escalating public protests, predominantly linked to government service delivery, which have been described as a “rebellion of the poor”. Thus the question may reasonably be posed whether the Arab Spring, as an example of rapid regime change, bears certain lessons for South Africa in particular, given similar societal and economic pressures and challenges. Indeed, this is a question that has been at the forefront of popular political discourse in South Africa since the unfolding of events in the Arab world.

In addressing that question, this article provides a concise overview of the most important theoretical aspects of the Arab Spring for the purposes of evaluating the South African political context and the prospect of a non-democratic regime change. While this article does not employ an orthodox comparative methodology, it endeavours to explore the heightened levels of the political instability that have characterised the Arab world and, increasingly, South Africa. This is achieved through a reconstruction of the causes, key driving factors and outcomes of the Arab Spring – facts that are by now well-known to scholars.

Subsequently, the affected states of the Arab world are analysed through a theoretical framework that emphasises the nature of authoritarian political regime dynamics. A typology of political authoritarianism is employed which is delineated according to three different types, namely exclusionary regimes, sultanistic regimes and inclusionary regimes. It is established that, despite important differences and variations, these regime types share the institutional characteristics of a state-controlled, centralised and securitised bureaucracy, as well as a socio-political characteristic in the form of a praetorian political dynamic – that is, the frequent and direct confrontation of opposing social and political forces. Furthermore, revolution as a means of non-democratic regime change is analysed and applied to the context of the Arab Spring. From these insights it is posited that the volatile interaction between heightened socio-political mobilisation and rigid authoritarian institutions in the Arab region was responsible for the development of a praetorian political dynamic and the eventual explosion of political participation that manifested in the form of revolutionary regime change.

Equipped with the dual theoretical vantage points of the institutional and socio-political characteristics of the regimes affected by the Arab Spring, the article proceeds to evaluate the South African context and its susceptibility to similar revolutionary regime change. In terms of social and economic characteristics it is found that the South African environment exhibits problems that are, in many instances, more acute than those encountered in the states of the Middle East and North Africa. However, the institutional and regime configuration of the South African state differs markedly from that of its Arab peers. The article contends that the South African political context is not characterised by the type of rigid, authoritarian and highly securitised state apparatus that persistently suppressed political participation in the Arab world for decades, which unwittingly abetted the build-up of discontent and political pressure. Instead, the South African institutional context is characterised on the one hand by democratic avenues for participation premised on constitutional values and, on the other, by a dysfunctional regime dynamic with relatively weak institutional capabilities (particularly militarily). The result of both aforementioned factors is that political pressures which emerge through public discontent and socio-economic stresses are allowed to dissipate before they attain revolutionary dimensions.

Thus, the article concludes that it is unlikely that an explosion of political participation of the magnitude that was observed in the Arab world will manifest in South Africa and lead to violent non-democratic regime change in this state in the near future, unless the constitutional and institutional nature of the state is fundamentally altered.

Keywords: Arab Spring; Middle East; North Africa; political instability; revolution; South African politics; the Arab Spring and South Africa


1. Inleiding en doelstellings

Die golf van revolusionêre regimeverandering wat tydens laat 2010 deur groot dele van Noord-Afrika en die Midde-Ooste beweeg het, die sogenaamde Arabiese Lente, sal sekerlik as een van die bepalende oomblikke in dié streek se politieke ontwikkeling onthou word. Tydens hierdie verskynsel was die Arabiese streek (wat vir so lank weerstandig teen demokrasie was) oorweldig deur politieke onlus en protes, gemik op heersende outoritêre regimes. Dit wat in Tunisië begin het met die selfverbranding van ’n groentesmous, het vinnig na ander state in die omgewing versprei, insluitend Algerië, Libië, Marokko, Egipte, Sirië, Libanon, Irak, Jordanië en Jemen. Binne ’n kwessie van maande is die dekades lange heerskappy van leiers soos Moeammar Ghaddafi en Hosni Mubarak op dramatiese en gewelddadige wyse beëindig, ten aanskoue van die internasionale nuusmedia. Die vernaamste dryfveer van hierdie revolusionêre regimeverandering was grotendeels dieselfde in al die betrokke state: politieke spanning voortspruitend uit die outoritêre regime van lange duur se onvermoë om sosio-ekonomiese uitdagings effektief te bestuur, veral teen die agtergrond van die afgelope globale finansiële krisis, wat ekonomiese agteruitgang, armoede en werkloosheid teweeggebring het (Joffé 2011:509).

Die Suid-Afrikaanse sosio-ekonomiese konteks getuig van kwessies soortgelyk aan dié wat onluste in die Arabiese streek gemotiveer het. Tans is 36,2% van swart mense werkloos, van wie 70% tussen die ouderdomme van 15 en 34 jaar is (SAIRR 2012:215). Volgens die Wêreldbank (2012) se beramings oorleef 26.2% van Suid-Afrikaners op minder as $2 ’n dag. Verder is daar sedert 2004 ’n 710%-toename in openbare protes, wat grotendeels verband hou met onvoldoende dienslewering deur die staat. Hierdie toenemende tendens van protes word deur Alexander (2010:25) as ’n “rebellie van die armes” beskryf. Die vraag kan dus gestel word of die Arabiese Lente (as ’n voorbeeld van snelle regimeverandering) bepaalde lesse vir ontwikkelende state soos Suid-Afrika inhou, waar soortgelyke ernstige sosio-ekonomiese vraagstukke as dryfvere vir politieke verandering kan dien.

Die doel van hierdie artikel is om, deur middel van ’n literatuurstudie bestaande uit beide empiriese en teoretiese verwysings, die Suid-Afrikaanse politieke konteks te evalueer met inbegrip van die moontlikheid van snelle, revolusionêre regimeverandering soos aangetref tydens die Arabiese Lente in Noord-Afrika en die Midde-Ooste. Hierdie doel sal bereik word deur middel van ’n rekonstruksie van die Arabiese Lente, met as fokuspunte:

  • Die teoretiese vertrekpunt van revolusionêre regimeverandering en enkele ander sleutelkonsepte.
  • Empiriese perspektiewe oor die besondere sosio-politieke toestande in die Arabiese streek, met die doel om sleuteldryfvere te identifiseer.
  • Teen die agtergrond van bogenoemde, ’n toepassing op die eietydse Suid-Afrikaanse sosio-politieke konteks ten einde vas te stel of plaaslike omstandighede van sodanige aard is dat dit ’n Suid-Afrikaanse Lente soortgelyk aan die Arabiese Lente kan laat bloei.


2. Teoretiese vertrekpunte

Die polities-teoretiese lens waardeur die verskynsel van die Arabiese Lente op die mees betekenisvolle wyse ontleed kan word, is dié van revolusionêre politieke verandering. Volgens Goodwin (2001:9) se breë definisie verwys politieke revolusie na enige en alle voorvalle waarin ’n staat se politieke regime op ’n onreëlmatige, niegrondwetlike en/of gewelddadige wyse deur ’n populistiese beweging omvergewerp, en sodoende getransformeer word. Huntington (1968:264) se definisie brei sinvol uit op dié van Goodwin en beskryf revolusie as die snelle, fundamentele en dikwels gewelddadige verandering in die heersende waardes van ’n samelewing, te wete politieke instellings, maatskaplike strukture asook regeringsbeleid en werksaamhede. Huntington bou op hierdie definisie voort deur die hoofveranderlikes van revolusie te konseptualiseer as die snelle uitbreiding van ’n politieke bewussyn, die gelyktydige verkryging van toegang van nuwe politieke groepe tot die politieke arena en die onvermoë van bestaande politieke instellings om eersgenoemde te assimileer (Huntington 1969:266).

Gevolglik sal hierdie artikel se ontleding van die Arabiese Lente ondersteun word deur Huntington se benadering, waarvolgens die veranderlikes van politieke deelname en politieke instellings teenoor mekaar geplaas word. Politieke deelname word beskou as enige aktiwiteit van die burgery wat poog om die uitoefening van politieke mag te beïnvloed, terwyl politieke instellings daardie praktyke, organisasies en verhoudinge is waardeur politieke mag uitgeoefen word en waaruit die politieke domein saamgestel word. Politieke onstabiliteit is die uitkoms van politieke instellings se onvermoë om verhoogde politieke deelname doeltreffend te bemiddel en fasiliteer, dikwels tot nadeel van die heersende politieke stelsel of regime.

In die ontleding wat volg, word die “regime” uitgesonder as die vernaamste politieke instelling in die Arabiese staatkonteks. Hierdie artikel volg Fishman (1990:428) se bekende konseptualisering van regime, wat hier onder breedvoerig aangehaal word:

A regime may be thought of as the formal and informal organisation of the centre of political power, and of its relations with the broader society. A regime determines who has access to political power, and how those who are in power deal with those who are not. The distinction between democracy, totalitarianism, and authoritarianism thus deals with the question of regime type […]. Regimes are more permanent forms of political organisation than specific governments, but they are typically less permanent than the state. The state, by contrast, is a (normally) more permanent structure of domination and coordination including a coercive apparatus and the means to administer society and extract resources from it.

Na die uitklaring van die artikel se teoretiese vertrekpunt en sleutelbegrippe, word in die volgende afdeling empiriese perspektiewe oor die besondere sosio-politieke toestande in die Arabiese streek geëvalueer, met die doel om sleuteldryfvere van die verskynsel te identifiseer.


3. Agtergrond tot die Arabiese Lente

Om ’n uitgerekte oorvertelling van welbekende gebeure te vermy sal slegs die belangrikste en mees besondere kenmerke van die Arabiese Lente uitgelig word, met die doel om ’n kort maar omvattende oorsig van die verskynsel te verskaf.

Ter evaluering van die oorsake en dryfvere van die Arabiese Lente skryf Jones (2012:448) dat “[i]n the Middle East and Africa [...] the model of governance was going to fail at some point. The drivers were not a surprise: these have been well known for some time. Everyone has known that the combination of authoritarian regimes, the rhetoric of democracy, and a high number of relatively educated but unemployed and powerless youth is a recipe for trouble.” Jones se insig bring twee van die belangrikste oorsaaklike faktore aan die lig, naamlik die aard van regimes en die sosio-ekonomiese probleme in die betrokke state.

3.1 Sosio-ekonomiese dryfvere

Daar word algemeen aanvaar dat die Arabiese Lente begin het met die selfoffering deur verbranding van Mohammed Bouazizi, ’n groentesmous van die Tunisiese stad Sidi Bouzid. Sy desperate en noodlottige daad was onderliggend aan frustrasie met sy plaaslike owerheid wat hom verbied het om sy goedere op straat te verkoop (Nouiehed 2011). Die reaksie op sy dood deur landgenote en burgers van ander state in die streek het getuig van die plofbare aard van die sosio-ekonomiese problematiek wat vir so lank in Noord-Afrika en die Midde-Ooste onder die oppervlak geborrel het. Rogan (2011:55) verduidelik dat die omstandighede van Bouazizi se dood die gebreke van die Tunisiese samelewing skielik beklemtoon het: korrupsie, die misbruik van mag, ’n onverskillige houding van owerhede teenoor die man op straat en ’n ekonomiese bedeling wat misluk het om geleenthede vir die jeug te skep.

Met verwysing na hierdie sosio-ekonomiese vraagstukke identifiseer Joffé (2011:508–10) verskeie faktore wat bygedra het tot die onstuimige ekonomiese klimaat van die streek, wat stygende kos-, brandstof- en elektrisiteitspryse asook hoë vlakke van werkloosheid onder die jeug ingesluit het. In Egipte het dieselfde kwessies wat Tunisiërs tot optrede gedwing het, ook as dryfkrag gedien, naamlik hoë voedselpryse, armoede, werkloosheid en die brutaliteit van die outoritêre regime (Awad en Zayed 2011), terwyl Libiërs in Benghazi geprotesteer het teen onvoldoende behuising, asook verskeie kwessies alreeds gemeld (Abdel-Baky 2011). In die tydperk vanaf Desember 2010 tot Februarie 2011 was daar soortgelyke burgerlike protesoptrede in Sirië, Marokko, Algerië, Bahrein en Jordanië, wat onder meer die probleme met outokratiese bedelings, die afwesigheid van burgerregte en vryhede, swak onderwys, ’n toenemende gaping tussen ryk en arm, korrupsie, onregverdige verkiesings en hoë voedsel- en brandstofpryse gemeld het.

Dit blyk dus dat kwessies rakende menslike ontwikkeling en lewenstandaarde belangrike dryfvere oor die hele streek heen tydens die Arabiese Lente was. ’n Oorkruisende vergelyking van die telling vir die Menslike-ontwikkelingsindeks (HDI), die ranglys vir die Persepsie van Korrupsie-indeks (CPI), asook werkloosheidsyfers bevestig bogenoemde uitgangspunt. Vergelyk die tabel hier onder (hierdie gegewens sal later met dié van Suid-Afrika vergelyk word):

Tabel 1. Enkele sosio-ekonomiese aanwysers in state van die Arabiese Lente

 

Algerië

Bahrein

Egipte

Jordanië

Koeweit

Libië

Marokko

Sirië

Tunisië

Jemen

HDI uit 169 state
[Menslike ontw.]1

84
[Medium]

39
[Baie hoog]

101
[Medium]

82
[Medium]

47
[Hoog]

53
[Hoog]

114
[Medium]

111
[Medium]

81
[Medium]

133
[Laag]

CPI uit 10
[Korrupsie]2

2,9/10

4,9/10

3,1/10

4,7/10

4,5/10

2,2/10

3,4/10

2,5/10

4,3/10

2,2/10

Werkloosheid3

10%

1,1%

9%

12,5%

1,6%

30%

9,1%

8,6%

13%

17,5%

Die Arabiese streek vergelyk betreklik gunstig met ander dele van die ontwikkelende wêreld betreffende menslike ontwikkeling. Die gemiddelde telling vir die Menslike-ontwikkelingsindeks vir die Arabiese streek is 0,588, wat hoër is as dié van Suidoos-Asië (0,516) en sub-Sahara-Afrika (0,389), maar steeds baie laer is as dié van die OESO-state (0,879) (VNOP 2010:146). Sekere state in die streek (veral die koninkryke aan die Persiese Golf) kan uitgebreide komponente van menslike ontwikkeling bekostig deur middel van inkomste wat deur ruoliebronne gegenereer word (sogenaamde petrodollars). Hierdie renteniersekonomieë4 kan uitspattige bedrae bestee ter ontwikkeling van maatskaplike dienste soos onderwys, gesondheidsorg en ’n omvangryke welsynstaat (Palmer 1989:126). Gevolglik het Libië in 2010 ’n geletterdheidkoers van 88,4% gehad, met 93,4% van kinders wat sekondêre onderwys voltooi, terwyl die Persiese Golfstate van Bahrein en Koeweit beide geletterdheidkoerse van 94% het (VNOP 2010:193).

Arabiese state het ook betreklik gemiddelde vlakke van werkloosheid, ten spyte daarvan dat dit ’n sleutelkwessie was ter motivering van die Arabiese Lente. Dit is merkwaardig dat in die tydperk kort voor die Arabiese Lente die gemiddelde jeugwerkloosheidkoers in Noord-Afrika 23,3% was (3%-styging vanaf 2009) en 27,6% in die Midde-Ooste (2%-styging sedert 2009). Dus wil dit voorkom of die realiteit van ’n werklose maar hoogs geletterde jeug ’n potensieel plofbare kombinasie is, veral aangesien hierdie bevolkingsgroep bedrewe is in die gebruik van elektroniese kitskommunikasie (bv. sosiale netwerke). Ontevredenheid oor bogenoemde kwessies word verder verskerp deur hoë vlakke van korrupsie en lae vlakke van politieke verantwoordbaarheid (vergelyk die CPI-syfers, Tabel 1). Die Arabiese state is inderdaad van die swaks presterende ten opsigte van politieke korrupsie en die aanwending van amptelike mag vir persoonlike doeleindes. Verder is korrupsie dikwels ’n inherente realiteit in rentenierstate, waar openbare hulpbronne aangewend word om politieke stabiliteit te “koop”, hetsy deur begunstiging en omkopery of die onderdrukking van teenstand (Basedau en Lay 2009:757). Laasgenoemde beklemtoon ook die noodsaak om, benewens sosio-ekonomiese perspektiewe, ook die aard van regimes in die Arabiese streek teoreties te evalueer.

3.2 Regime-eienskappe van die Arabiese streek

Bellin (2004:144) bevestig dat outoritêre heerskappy besonder stewig in Noord-Afrika en die Midde-Ooste gevestig is omdat die staat by magte is, asook bereid is, om inisiatiewe tot hervorming te onderdruk – dikwels met geweld. Dit beteken egter nie dat outoritêre regimes onbuigsaam in hul benadering tot heerskappy in die samelewing is nie. Die vermoë van regimes om tendense tot liberalisering tot hul politieke voordeel uit te buit word deur Heydemann (2007:5) as ’n proses van “outoritêre opgradering” beskryf. Hierdie strategie behels die manipulering en neutralisering van bedreigings deur middel van inmenging met die burgerlike samelewing, asook die fyn bestuur van politieke deelname en kompetisie, die beheer van kommunikasiemiddele, asook belyning met soortgelyke en simpatieke regimes. Die uitkoms van hierdie proses word deur Brumberg (2002:56) as ’n “geliberaliseerde outokrasie” beskryf, wat vir taktiese en strategiese doeleindes ’n fassade van demokrasie voorhou – dit is selde dat hierdie proses tot ware demokratisering oorskakel. Joffé (2011:508) beskou die misnoeë wat ontketen is deur regimes se taktiese liberalisering terwyl praktyke van onderdrukking behou (selfs opgeskerp) is as ’n sleuteldryfveer in die opbou na die Arabiese Lente.

In sy evaluasie van niedemokratiese en outoritêre regimes in Noord-Afrika en die Midde-Ooste gebruik Kamrava (2005) ’n drieledige tipologie, wat kortliks hier onder uiteengesit word:

  • Geslote regimesoorleef deur burgers uit te sluit van die politieke proses, en manifesteer gewoonlik in die vorm van sekurokratiese diktatorskappe wat onderlê word deur die onderdrukking en smoor van politieke teenstand (Kamrava 2005:284). Voorbeelde sluit in Algerië, Egipte, Sirië, Tunisië en Jemen.
  • Sultanistiese regimesverteenwoordig die agt koninkryke in die Arabiese streek wat aanspraak maak op legitimiteit as gevolg van die dinastiese aard van hul heerskappy. Politieke mag ressorteer volkome onder die koninklike familie (Kamrava 2005:284). Van hierdie regimes is ses oliemonargieë (die Golfstate van Bahrein, Koeweit, Oman, Katar, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate) wat oor aansienlike oliehulpbronne beskik en dus ryk renteniersekonomieë het. Die oorblywende twee monargieë (Jordanië en Marokko), wat nie oor olierykdom beskik nie, is konvensionele monargieë wat ander middele aanwend om heerskappy te verseker, soos taktieke van manipulasie en onderdrukking.
  • Inklusiewe regimesis ’n hibriede weergawe van geslote en sultanistiese regimes, en berus op kunsmatige populisme en politieke deelname wat bloot oëverblindery is (Kamrava 2005:292). Deelname word gefasiliteer en nouliks beheer deur die regime om sodoende die beeld van ’n utopiese samelewing te kaats. Libië onder Ghaddafi en Saddam Hussein se Irak dien as voorbeelde.

Bogenoemde variante van outoritêre regimes deel verder twee eienskappe. Eerstens meld Perlmutter (1981:5) dat die generiese struktuurmodel vir alle eietydse outoritêre bedelings op ’n staatsbeheerde, gesentraliseerde en hiërargiese burokrasie geskoei is. As gevolg hiervan is die staat se primêre funksie en doelwit die behoud van dwingende mag in die samelewing. Hierdie konfigurasie van staatsinstellings skep ’n wanbalans in die verdeling van staatsmag, wat sterk ten gunste van die sekuriteitskluster swaai. Hierdie kluster verteenwoordig tipies die polisie, intelligensiedienste en die weermag. Die geskiedenis van militêr-outoritêre regimes in die Arabiese streek dateer terug tot pas na die Tweede Wêreldoorlog, toe tradisionele monargieë deur die progressiewe kragte van Arabiese nasionalisme omvergewerp is. Hierdie nasionalistiese bewegings se magsbasis en leierskap was gewoonlik gesetel in die weermag, soos met Nasser in Egipte, Ghaddafi in Libië en Al-Assad in Sirië. Selfs in die post-Arabiese Lente-tydperk vervul die Egiptiese weermag steeds ’n rol van gereelde tussentreder, ten spyte daarvan dat die Mubarak-regime in Februarie 2011 ontsetel is. Verder is die alomteenwoordige polisie en geheime-intelligensie-organe ’n skrikwekkende realiteit vir burgers in hierdie state.

Tweedens vertoon outoritêre regimes dikwels ’n pretoriaanse politieke dinamiek, wat deur Huntington (1968:196) beskryf word as die direkte konfrontasie van kragte in die samelewing, waar “the wealthy bribe; students riot; mobs demonstrate; and the military coup”. In hierdie samelewings het outonome politieke instellings nooit ontwikkel nie, weens die smorende teenwoordigheid van die sekurokratiese en outoritêre staat. Sonder instellings wat politieke deelname kan bemiddel en kanaliseer, is politieke konflik onvermydelik. Outoritêre heerskappy kan dus as ’n politieke drukkoker dien, wat met die afwesigheid van geloofwaardige politieke instellings ’n gewelddadige en vernietigende uitval kan hê (wat ook ’n vrugbare teelaarde vir revolusie verteenwoordig).

3.3 Revolusie as modus tot regimeverandering

Uit die verskeidenheid regime-eienskappe wat tot dusver bespreek is, kan die redes wat aanleiding gegee het tot regimeverandering in die Arabiese streek geïdentifiseer word. Die verwagtinge wat deur tentatiewe liberalisering geskep is, gekoppel aan toenemende ontevredenheid met lewensomstandighede (veral in verstedelikte gebiede) wat gekoördineer is deur kitskommunikasie verteenwoordig kragtige bestanddele vir die grootskaalse mobilisering van ’n onvergenoegde burgery.

In ooreenstemming met die voorafgaande ontleding van die Arabiese Lente, stel Huntington (1968:274) die volgende voorvereistes vir revolusie: eerstens politieke instellings wat nie in staat is daartoe om die deelname van nuwe sosiale kragte te akkommodeer nie, en tweedens die begeerte van hierdie gemarginaliseerde sosiale kragte om aan die politieke proses deel te neem. Hierdie perspektief word bondig opgesom deur Huntington (1968:275) se stelling dat “aspiring groups and rigid or inflexible structures are the stuff of which revolutions are made”.

In die toepassingskonteks van die Arabiese Lente is revolusies in Egipte, Libië, Jemen en Tunisië volbring, waar regerings omvergewerp is. In die gevalle van Sirië en Bahrein het revolusionêre momentum aanvanklik bestaan, maar was dit nie sterk genoeg om regimeverandering teweeg te bring nie. Die uitkoms is voortdurende protes en uitgerekte burgeroorlog (laasgenoemde veral in Sirië). In teenstelling hiermee kon die meeste sultanistiese regimes hierdie tipe opheffing vermy deur politieke en ekonomiese toegewings te maak (gegewe die hulpbronne tot hul beskikking).

By wyse van opsomming kan die onstabiele interaksie tussen samelewingsgroepe wat deur sosio-ekonomiese dryfvere en outoritêre politieke instellings gemotiveer is, soos volg geïllustreer word:

Diagram 1. Die revolusionêre klimaat van die Arabiese Lente

Bostaande diagram isoleer die sleutelveranderlikes wat die Arabiese Lente teweeggebring het, naamlik die sosio-ekonomiese (samelewingskonteks) druk en outoritêre regering (institusionele konteks). Met die konfrontasie van hierdie twee kragte is ’n ontploffing van politieke deelname ontketen, wat in sommige gevalle in revolusie volbring is. In ag genome hierdie veranderlikes, sal ’n evaluering van die Suid-Afrikaanse samelewing en institusionele omgewings vervolgens gedoen word, wat veral klem sal lê op die interaksie tussen hierdie sfere. Die doel van hierdie evaluering is om te bepaal of die plaaslike omstandighede vir ’n soortgelyke konfrontasie en ontploffing van politieke deelname bestaan om sodoende konstruktiewe insigte vir die Suid-Afrikaanse konteks te formuleer.


4. Die Suid-Afrikaanse toepassingskonteks

Sedert die dramatiese ontstaan van die Arabiese Lente het verskeie plaaslike kommentators oor die moontlikheid van ’n soortgelyke verskynsel in Suid-Afrika besin. Max Price het byvoorbeeld gewaarsku dat ’n eie Arabiese Lente Suid-Afrika in die gesig kan staar indien dringende sosio-ekonomiese probleme nie aandag geniet nie (Segar 2012). Ook Moeletsi Mbeki het gemaan dat Suid-Afrika se “Tunisië-dag” in minder as ’n dekade sal aanbreek (Mbeki 2011). Voorspellings soos dié word egter dikwels gemaak op grond van populêre sentiment en oppervlakkige beredenering (soms ook vir sensasionele doeleindes). In teenstelling hiermee poog hierdie artikel om ’n stelselmatige en gesaghebbende evaluering van die onderwerp uit te voer. In voortsetting van die teoretiese argumenteringslyn wat reeds in die studie gevestig is, sal die tweeledige fokus van samelewingskragte en politieke instellings ook die onderstaande ontleding van die Suid-Afrikaanse omgewing onderskryf. Rakende die institusionele konteks, sal die ontleding op die eienskappe van die plaaslike politieke stelsel, die dominante politieke party en ’n beskrywing van die regime fokus. Die samelewingskonteks sal belangrike sosio-ekonomiese kwessies skets wat moontlik as politieke dryfvere kan dien.

4.1 Agtergrond

By wyse van inleiding en kontekstualisering is dit gepas om kortliks die breër Suid-Afrikaanse politieke etos te bespreek wat tydens die oorgang na demokrasie gevestig is. Daar kan redelik aangevoer word dat die laat tagtiger- en vroeë negentigerjare van die vorige eeu die periode was waartydens die Suid-Afrikaanse konteks die vatbaarste vir revolusionêre regimeverandering was. Dit is gedurende hierdie tyd dat die Nasionale Party-regime toenemend plaaslike teenstand en onlus ervaar het wat teen ’n kwasi-outoritêre regeringsbedeling gerig was. Dit was ook teen hierdie agtergrond dat liberaliserende hervorming begin plaasvind het, beginnende met die driekamerparlement in 1983 (waarvan swart mense steeds uitgesluit was) tot latere uitbreiding van ekonomiese vryhede (bv. die hersiening van arbeidswetgewing) en die uiteindelike ontbanning van anti-apartheid politieke bewegings asook die vrylating van politieke gevangenes in Februarie 1990. Hierdie periode van liberalisering en hervorming vergelyk ook natuurlik met die konsep van outoritêre liberalisering wat vroeër bespreek is. Vandaar is politieke verwagtinge met betrekking tot die regime se toegewings geskep, en terselfdertyd is hierdie verwagtinge deur die United Democratic Front (UDF) en sy verwante organisasies (later ook die ANC en sy bondgenote) gemobiliseer.

Terugskouend is hierdie onstabiele tydperk deur ’n duidelike pretoriaanse dinamiek gekenmerk (sien bv. Frankel 1984), met direkte en naakte konfrontasie tussen die regime se veiligheidsinstellings en die gemeenskapsbewegings in die stedelike townships en informele nedersettings. In ooreenstemming met gebeure tydens die Arabiese Lente is die regime se militêre, polisie- en intelligensiemasjinerie ingespan om die teenstand en onstabiliteit te neutraliseer. Bygevolg is die SAW in 1984 in die townships ontplooi, terwyl geheime organisasies soos die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB) geteikende politieke sluipmoorde uitgevoer het (Batchelor, Kingma en Lamb 2004:148). Hierdie hoogs onstabiele tydperk is gepas deur Slabbert (2006:45) as ’n dooie punt tussen die politiek van onderdrukking en die politiek van opstand opgesom. Dit was juis dié dooie punt wat daartoe gelei het dat ’n onderhandelde skikking moes plaasvind, en die besef daarvan het informele gesprekke tussen die regime en die opposisie meegebring (bv. Dakar, 1987) wat later tot formele samesprekings (KODESA 1 en 2) gelei het en in die Tussentydse Grondwet van 1993 en demokratiese verkiesings uitgeloop het.

Die huidige Suid-Afrikaanse politieke bedeling is dus die uitkoms van ’n evolusionêre proses van regimeverandering. Hierdie historiese verwysing stel ’n belangrike presedent vir die interaksie tussen samelewingskragte en politieke instellings in Suid-Afrika, wat tans verwesenlik word in die vorm van ’n transformasiebenadering. Hierdie transformatiewe ingesteldheid lê in die kern van die ANC-ideologie en verteenwoordig ’n “bestuurde” revolusie wat poog om die uiteenlopende realiteite van ’n onderhandelde oorgang versus die ANC se revolusionêre selfbeeld te versoen.5

4.2 Grondwetlike demokrasie

’n Oppervlakkige vergelyking van die Suid-Afrikaanse bedeling met dié van die Arabiese streek openbaar die belangrikste verskil tussen dié twee kontekste, naamlik grondwetlike demokrasie. Die 1994-verkiesing kan beskryf word as ’n demokratiese proses van regimeverandering, waartydens die ANC die regerende party geword het, binne ’n veelpartystelsel. Feitlik geen van hierdie liberaal-demokratiese kenmerke was voor 2011 in die regimes van die Arabiese streek teenwoordig nie. In gevalle waar politieke deelname en verkiesings toegelaat en verdra is, het dit bloot die taktiese doeleindes van die regime gedien – die skep van ’n demokratiese fassade, ontwerp om regime-mag verder in te grawe. In teenstelling hiermee is opeenvolgende vrye en regverdige verkiesings (op verskeie regeringsvlakke) sedert 1994 in Suid-Afrika gehou, wat dit as ’n volwaardige kiesersdemokrasie kenmerk. Gereelde verkiesings dien as ’n middel tot sistemiese politieke deelname, wat konstruktiewe interaksie tussen samelewingskragte en politieke instellings fasiliteer (dit in teenstelling met die antistelseldeelname waardeur die Arabiese Lente gekenmerk is). Hierdie verkiesings- en demokratiese eienskappe van die Suid-Afrikaanse staat is formeel in die Grondwet van die Republiek verskans, gepaard met ander instellings ter ondersteuning van liberale demokrasie (laasgenoemde is in hoofstuk 9 van die Grondwet uiteengesit).

4.3 Die dinamiek tussen regime en staat

Die ANC hou sedert 1994 die leisels van nasionale regering, te danke aan opeenvolgende verkiesingsoorwinnings waartydens die party konstant meer as 60% van die stem verower het. As gevolg van hierdie volgehoue oorheersing het sekere waarnemers die politieke konfigurasie as ’n dominantepartystelsel beskryf (Southall 2005:61). In ’n gegewe konteks waar een party die politieke speelveld oorheers en ’n verkiesingsneerlaag onwaarskynlik is, ontwikkel daar tereg kommer oor die regering se dalende verantwoording teenoor die publiek, asook die verwering van demokratiese beginsels en die ontluiking van outoritêre regimetendense (Brooks 2004:1). In hierdie verband bestempel Duvenhage en Venter (2010:58) die ANC-regime as ’n “bevrydingsoligargie” wat gekenmerk word deur gevestigde elite-netwerke, ’n gebrek aan werklike politieke kompetisie en praktyke wat die beginsel van meriete versaak, soos kaderontplooiing. Hierdie intrapartydinamiek het tot duidelik niedemokratiese tendense gelei, veral in die onlangse geskiedenis van die party se bewind, wat geweld, faksionalisme en politieke sluipmoorde insluit (Bruce 2012a). Weens die mate waarin partylojaliste in die openbare sektor “aangewend” word op grond van politieke verbintenisse en nie meriete nie, kan aangevoer word dat die ANC ook bydra tot die ondoeltreffendheid en verswakking van staatsinstellings (Rees 2013). Daar is kommerwekkend baie voorbeelde van waar die staatsbelang (en dus die openbare belang) aan die persoonlike vergrype van regeringsamptenare onderwerp word – van die laagste, tot die mees senior amptenare. Die ouditeur-generaal se jaarlikse plaaslikeregering-oudit getuig uitdruklik van wydverspreide (sommige sou sê endemiese) wanbestuur en korrupsie, met net 22 uit die 278 munisipaliteite wat in 2012/13 ’n ongekwalifiseerde ouditverslag behaal het (OGSA 2014:21). Tog is daar min getuienis wat daarop dui dat die ANC besig is met ’n georkestreerde poging tot outoritêre heerskappy – daar word eerder ’n persepsie van onbekwaamheid en ’n verswakkende staat geskep.

4.4 Ontluikende pretoriaanse kenmerke

Ten spyte van die demokratiese en grondwetlike fondamente van die Suid-Afrikaanse staat, is daar tekens uit die omgewing wat dui op ’n subtiele pretoriaanse skuif. Daar is vroeër bevestig dat ’n pretoriaanse omgewing gekenmerk word deur die direkte en onbemiddelde konfrontasie tussen samelewingskragte en die politieke instellings van die regime. Alhoewel politieke deelname in Suid-Afrika deur middel van gereelde verkiesings geïnstitusionaliseer is, getuig die plaaslike konteks van toenemende antistelseldeelname deur vervreemde samelewingsgroepe. In onlangse jare was sogenaamde diensleweringsbetogings die mees sigbare voorbeeld van hierdie tipe politieke deelname, wat sedert 2004 drasties toegeneem en in 2011/12 tot 1 091 gewelddadige protesaksies gelei het (Alexander 2012:34). Die daaropvolgende konfrontasies tussen betogers en veiligheidsmagte is dikwels noodlottig, met 12 burgers wat tussen Februarie 2011 en Julie 2012 dood is (Bruce 2012b). Die klimaks in hierdie verhaal van konfrontasie is op 16 Augustus 2012 by die Lonminmyn op Marikana bereik toe die polisie op ’n groep stakende mynwerkers losgebrand het; 37 mynwerkers is tydens die voorval dood, terwyl tien mense reeds in die voorafgaande dae van die staking dood is. Tans word hierdie episode deur opposisiepartye soos die EFF as politieke gronde benut om verdere teenstand teen die regime te mobiliseer.

Stakings en arbeidsonrus is werklik ’n kenmerkende faset van die Suid-Afrikaanse samelewing, in so ’n mate dat die jaarlikse bedingingstydperk in Junie/Julie al in die volksmond as “staakseisoen” bekendstaan. Daar word geraam dat in 2012 bykans 18 miljoen werksure verlore gegaan het as gevolg van onbeskermde en onwettige stakings (Sapa 2013). Dit is egter nie net die talrykheid en duur van die stakings wat kommerwekkend is nie, maar ook die meegaande voorvalle van geweld en verwoesting (veral merkbaar tydens die Wes-Kaapse landbousektorstaking van 2012/13). Die voorkoms van geweld as ’n middel om eise aan die politieke stelsel te stel dui op ontoereikendheid van politieke instellings – veral wanneer hierdie geweld op soortgelyke wyse deur die polisie vergeld word.

Tydens die evaluering van die pretoriaanse aard van regimes in die Arabiese streek is daar klem gelê op die prominente rol van sekerheidsinstellings as daardie instellings waaronder die dwingende mag van die staat ressorteer. In teenstelling met die Arabiese regimes, toon die Suid-Afrikaanse staatskonteks min bewyse van ’n dominante militêre of sekerheidsinvloed. Alhoewel die veiligheidsmagte prominensie tydens die apartheidsperiode geniet het, het dit ná die aanbreek van demokrasie vinnig verander. Na 1994 het die nuwe Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) personeel uit die voormalige SAW (Suid-Afrikaanse Weermag), die voormalige tuislande en bevrydingsbewegings geabsorbeer. Daar kan wel aangevoer word dat hierdie ingrypende postapartheid rekonfigurasie verhoed het dat die SANW op soortgelyke wyse as die Arabiese weermagte kon institusionaliseer, en dat daar gevolglik min kans is dat ’n sterk militêr-pretoriaanse beweging kan ontstaan. Ruim befondsing vir die weermag is beslis nie meer ’n prioriteit in die demokratiese era nie (sien Wessels 2010) en die SANW toon ook geen ambisie tot ’n outonome politieke identiteit nie. Verder is die weermag nog nooit as ’n instrument van politieke onderdrukking aangewend nie (soos die geval is in Zimbabwe), terwyl die verswakkende vermoëns van die SANW onlangs publisiteit ontlok het, na ’n neerlaag aan die hand van guerrillastryders in die Sentraal-Afrikaanse Republiek waartydens 13 valskermsoldate gesneuwel het. Die weermag se beperkte aktivistiese karakter het tydens ’n 2009-staking geblyk toe ’n protesoptog na die Uniegebou in geweld ontaard het en etlike honderde soldate gearresteer en ontslaan is. Hierdie voorval is egter eerder ’n manifestasie van swak dissipline as van ’n volwaardige poging tot politieke inmenging (DefenceWeb 2012).

Tog is daar in die konteks van die polisie en polisie-intelligensiedienste onrusbarende tendense te bespeur. Soos reeds vermeld, is die onlangs gemilitariseerde Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ietwat lomphandig in die bestuur van protes – waarvan die Marikana-insident getuig. Die SAPD verteenwoordig die eerste linie van die staat se dwingende mag, en dit is in dié hoedanigheid dat die instelling toenemend getaak word met die neutralisering van sosiale onrus eerder as tradisionele polisiefunksies (in 2011/12 alleen was die polisie by 11 033 gevalle van skarebeheer teenwoordig (Alexander 2012:34)). Hierdie tendens kan wel die persepsie aanwakker dat die polisiemag aangewend word om die regime teen burgers te beskerm (soos tydens apartheid) en mag wel ’n kommerwekkende aanwyser van toenemende pretorianisme wees.

Veral in die intelligensiesfeer is daar onrusbarende tekens van politieke inmenging. Die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA) is as’t ware in ’n “politieke slagveld” omskep, waar die interne konflikte van die ANC toenemend besleg word (veral na die opgang van Jacob Zuma in 2009) (Mail & Guardian 2008). Die politieke suiwering van die intelligensiedienste verseker dat alle senior intelligensie-amptenare regime- en veral Zuma-lojaliste is, gewerf vanuit die Umkhonto we Sizwe-intelligensiestrukture (Sole 2010). Daar word selfs bespiegel dat die intelligensiedienste ingespan is om op koerante en opposisiepolitici te spioeneer. Verder sal die verhoogde “sekurokratisering” van die ANC-regime tydens Zuma se leierskap waarskynlik toeneem, gegewe voorgestelde wetgewing soos die Wetsontwerp op Beskerming van Staatsinligting, die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette en die bestaande RICA-wet. Tog blyk dit, gegewe toenemende faksionalisme in die ANC, dat pretoriaanse taktieke gebruik sal word om die intraparty- en intraregimekonflikte te besleg, eerder as in die vestiging van ’n outoritêre staat. Dit bly egter ’n kommerwekkende ontwikkeling wat tot die hart van die konstitusionele demokrasie slaan. In ’n onlangse navorsingsverslag saamgestel deur die Right2Know-veldtog word ’n ontluikende “sekuriteitstaat”-benadering geïdentifiseer wat beskryf word as ’n “expansive ‘national security’ mentality encroaches on democratic principles by stifling debate, undermining accountability and protecting the powerful from scrutiny” (Right2Know 2014:2).

In vergelyking met die state in die Arabiese streek, was geslote en sultanistiese regimes heelwat meer doeltreffend in die vestiging van ’n sekurokratiese staat, ongedwonge deur die beperkinge van ’n grondwetlike bestel. Dus moet Suid-Afrikaanse grondwetlike regte en vryhede met groot waaksaamheid beskerm word.

4.5. Die sosio-ekonomiese omgewing

Sedert die koms van demokrasie bykans 20 jaar gelede, word die Suid-Afrikaanse politieke arena grootliks gekenmerk deur die uitdagings wat deur dringende, maar volgehoue sosio-ekonomiese kwessies gestel word. Dit is in hierdie omgewing by uitstek dat ’n duidelike (eintlik oordrewe) ooreenkoms met die state van die Arabiese Lente bestaan. Dit is nie moontlik om hier ’n volledige rekonstruksie van die Suid-Afrikaanse sosio-ekonomiese omgewing te maak nie, maar etlike kwessies sal vergelykenderwys uitgelig word. Die onderstaande tabel vergelyk sosio-ekonomiese aanwysers van die Arabiese streek (kort voor die Arabiese Lente) met huidige Suid-Afrikaanse gegewens (2012/13):

Tabel 2. Vergelyking van sleutel sosio-ekonomiese aanwysers van die Arabiese state en Suid-Afrika

 

Algerië

Bahrein

Egipte

Jordanië

Koeweit

Libië

Marokko

Sirië

Tunisië

Jemen

SA

HDI uit 169 state
[Menslike ontw.]

84
[Medium]

39
[Baie hoog]

101
[Medium]

82
[Medium]

47
[Hoog]

53
[Hoog]

114
[Medium]

111
[Medium]

81
[Medium]

133
[Laag]

121
[Medium]

CPI uit 10
[Korrupsie]

2,9/10

4,9/10

3,1/10

4,7/10

4,5/10

2,2/10

3,4/10

2,5/10

4,3/10

2,2/10

4,3/10

Werkloosheid

10%

1,1%

9%

12,5%

1,6%

30%6

9,1%

8,6%

13%

17,5%

25,2%

Uit hierdie vergelyking blyk dit dat Suid-Afrika nie gunstig met eweknieë in Noord-Afrika en die Midde-Ooste voor die Arabiese Lente vergelyk nie. Nieteenstaande die feit dat Suid-Afrika ’n kiesersdemokrasie is, word verskeie sultanistiese regimes in die Arabiese streek as minder korrup beskou. Veral met betrekking tot werkloosheid skets die syfers ’n potensieel plofbare situasie, met meer as ’n kwart van die bevolking wat tans werkloos is. Hierdie werkloosheidsprobleem word egter meer onrusbarend gegewe die feit dat die jeugwerkloosheidsyfer (15 tot 24 jaar) tans 51,5% is (SAIRR 2012:215). Hierdie ontstellende realiteit het, onder andere, die dryfkrag vir meeste van die Arabiese Lente se opstande verskaf, en word reeds in die plaaslike konteks as gronde vir protes beskou. Verder blyk die vooruitsigte vir grootskaalse werkskepping in hierdie stadium bleek swak te wees, met die Suid-Afrikaanse ekonomie wat oor die afgelope paar jaar teleurstellend presteer. Al die genoemde faktore dra by tot hoë vlakke van inkomste-ongelykheid, wat daartoe lei dat Suid-Afrika die vierde mees ongelyke samelewing ter wêreld is met ’n GINI-koeffisiënt van 0,63 (Wêreldbank 2013). Dit is ook merkwaardig dat daar gedurende 2010 vir die eerste keer meer selfone as mense in Suid-Afrika was – ’n insiggewende statistiek, gegewe die rol van mobiele en kitskommunikasie tydens die Arabiese Lente.


5. Evaluering en gevolgtrekking

Ten einde die insigte te evalueer wat oor beide die Arabiese en die Suid-Afrikaanse kontekste bekom is, tref die onderstaande tabel ’n vergelyking van enkele institusionele en samelewingskonstrukte:

Tabel 3. Vergelyking van enkele veranderlikes in die Arabiese en Suid-Afrikaanse kontekste

VERANDERLIKE

Arabiese Lente-toepassing

Suid-Afrika-toepassing

INSTITUSIONELE SFEER

Regime-tipe

Outoritêr

Demokraties / Grondwetlik

Sekurokratisering

Baie hoog

Ontluikend

Pretoriaanse dinamiek

Kritiek

Toenemend

SAMELEWINGSFEER

Sosio-ekonomiese drukfaktore

Hoog

Baie hoog

Massamobilisering en -deelname

Antistelsel / Revolusionêr

Institusioneel, maar toenemend antistelsel

Met verwysing na die samelewingskonteks kan aangevoer word dat die sosio-ekonomiese drukfaktore in die Suid-Afrikaanse samelewing meer akuut is as dié van state in die Arabiese streek (sien ook tabel 2). Tog word hierdie kwessies ietwat ontlont deur die geïnstitusionaliseerde kanale vir politieke deelname wat in Suid-Afrika bestaan. Dit lei daartoe dat politieke ontevredenheid uitgedruk kan word deur middel van die stembus, wat sistemiese deelname aan die politieke proses verteenwoordig – of daar egter doeltreffend van hierdie geleentheid gebruik gemaak word, kan bevraagteken word. Toenemende openbare protes en gewelddadige arbeidsonlus dui op ’n groeiende kurwe van antistelsel politieke deelname en mobilisering. Gegewe die feit dat hierdie vorm van politieke deelname en onstabiliteit tans oorwegend tot die stedelike gebiede beperk is, kan dit nog nie as ware massamobilisering beskryf word nie, omdat die platteland grootliks van hierdie dinamiek uitgesluit is. Dit is nietemin kommerwekkend dat die staat dit onmoontlik vind om sekere sosio-ekonomiese kwessies stelselmatig en doeltreffend onder die loep te neem, wat dit moontlik maak dat antistelseldeelname in die toekoms kan toeneem. Indien hierdie deelname en mobilisering ’n kritieke drempel oorsteek en die platteland en niestedelike gebiede betrek, is die potensiaal vir revolusie beduidend.

In institusionele terme word die Suid-Afrikaanse konteks deur sy demokratiese en grondwetlike fondamente vasgepen, wat verseker dat burgers oor gereelde en geïnstitusionaliseerde kanale vir politieke deelname beskik. Verder kan aanspraak gemaak word op ’n historiese verwysing wat politieke onderhandeling en skikking beklemtoon, eerder as grootskaalse politieke opheffing. Hierdie faktor het tot dusver die opbou van politieke druk gedemp. In teenstelling hiermee het die regimes van die Arabiese streek geen institusionele uitlaatkleppe gehad vir die politieke druk wat oor dekades heen sterker begin opbou het nie. Die Suid-Afrikaanse staatsbedeling verskil ook van dié van Arabiese state omdat geen groepe hier aktief van deelname aan die politieke proses weerhou word nie. Die veiligheidskluster wat tipies hierdie rol van onderdrukking en uitsluiting vervul, is nie naastenby so ver in Suid-Afrika as in die Arabiese konteks ontwikkel nie, en sal waarskynlik eerder deur die politieke elite aangewend word om persoonlike of intraregimekonflikte te hanteer (die dominansie van privaatbelange en faksionalisme in die regime bydraend tot staatsdisfunksie, en kan moontlik as gronde vir verdere openbare ontevredenheid en mobilisering dien).7

Ontluikende sekurokratisering is waarneembaar, maar beide die militêre en die burgerlike veiligheidsinstellings toon lae vlakke van outonome institusionalisering (dit is ook die geval met baie ander staatsinstellings), wat daadwerklike politieke inmenging vanuit hierdie oorde onwaarskynlik maak – die veiligheidsinstellings verteenwoordig eerder arenas van persoonlike ambisie en bevordering. Dus: waar die Arabiese regimes beskryf kon word as “harde state” waarvan hul prioriteit was om bestendige heerskappy te verseker, toon die Suid-Afrikaanse konteks eerder die kenmerke van ’n “sagte staat” wat gekenmerk word deur ondoeltreffendheid – wat Migdal (1988:241) as die fragmentering van politieke beheer en die lekkasie van gesag beskryf.

Uiteindelik – om weer terug te keer na Huntington (1968:275) se insig dat “aspiring groups and rigid or inflexible structures are the stuff of which revolutions are made” – wil dit voorkom of die aard van politieke behoeftebevrediging in die Suid-Afrikaanse samelewingskonteks dringend en dikwels gewelddadig is, maar dat die staat en sy instellings nie oor die politieke wilskrag of vermoëns beskik om daadwerklik beheer uit te oefen nie. In hierdie konteks van staatsdisfunksie is die verhoogte vlakke van mobilisering en onstabiliteit in elite-geledere tans heelwat meer waarskynlik as die massa-mobilisering van revolusionêre kragte. Vir laasgenoemde om te manifesteer sal die regime doelbewus afstand moet doen van die demokratiese fondament van die huidige staatsbedeling. Die onwaarskynlikheid van só ’n radikale skuif moet sekerlik as ’n behoudende faktor beskou word, alhoewel dit bittersoet vertroosting is vir miljoene Suid-Afrikaners wat steeds in armoede leef.

Dus, by wyse van opsomming: dit blyk dat die Suid-Afrikaanse staatsbestel ’n verswakkende en disfunksionele trajek vertoon eerder as die hoë mate van sekurokratisering en outoritarisme van state van Noord-Afrika en die Midde-Ooste. Die gevolg hiervan is dat daar in Suid-Afrika menigvuldige uitlaatkleppe vir politieke deelname is, wat verhoed dat daar ’n politieke “drukkoker”-effek ontstaan wat mettertyd plofbaar sal word. Gegewe sodanige staatsdisfunksie, sal politieke mag en legitimiteit veel beter aangewend word om die komende Suid-Afrikaanse Winter af te weer, eerder as om vir ’n Lente-episode voor te berei.

Bibliografie

Abdel-Baky, M. 2011. Libya protest over housing enters its third day. Ahram Online News (English). http://english.ahram.org.eg/News/4032.aspx (14 Augustus 2013 geraadpleeg).

Alexander, P. 2012. A massive rebellion of the poor. Mail & Guardian, 13 April, bl. 34.

Awad, M. en D. Zayed. 2011. Egyptians rage against Mubarak's 30-year rule. Mail & Guardian Online. http://mg.co.za/article/2011-01-25-egyptians-rage-against-mubaraks-30year-rule (14 Augustus 2013 geraadpleeg).

Basedau, M. en J. Lay. 2009. Resource curse or rentier peace? The ambiguous effects of oil wealth and oil dependence on violent conflict. Journal of Peace Research, 46(6):757–76.

Batchelor, P., K. Kingma en G. Lamb. 2004. Demilitarisation and peace-building in Southern Africa. Londen: Ashgate.

Bellin, E. 2004. The robustness of authoritarianism in the Middle East: Exceptionalism in comparative perspective. Comparative Politics, 36(2):139–57.

Brooks, H. 2004. The dominant party system: Challenges for South Africa’s second decade of democracy. Verkiesingsinstituut vir Volhoubare Demokrasie in Afrika, Referaat No. 25, Oktober.

Bruce, D. 2012a. Wheels of justice turn slowly as political killings escalate. Mail & Guardian Online. http://mg.co.za/article/2012-10-26-00-wheels-of-justice-turn-slowly-as-political-killings-escalate (17 Augustus 2013 geraadpleeg).

—. 2012b. The road to Marikana: Abuses of force during public order policing operations. Die Suid-Afrikaanse Burgerlike Samelewingsinligtingstelsel. http://www.sacsis.org.za/site/article/1455 (17 Augustus 2013 geraadpleeg).

Brumberg, D. 2002. The trap of liberalized autocracy. Journal of Democracy, 13(4):56–68.

DefenceWeb. 2012. Defiant SANDF Union Buildings marchers to be dismissed. DefenceWeb. http://www.defenceweb.co.za/index.php?option=com_content&view=article&id=28261&catid=74&Itemid=30 (17 Augustus 2013 geraadpleeg).

Duvenhage, A. en J. Venter. 2010. Regime transition in South Africa: liberation oligarchical tendencies? Joernaal vir Eietydse Geskiedenis, 35(2):37–65.

Fishman, R. 1990. Rethinking state and regime: Southern Europe's transition to democracy. World Politics, 42(3):422–40.

Frankel, P. 1984. Pretoria's praetorians: Civil-military relations in South Africa. Cambridge: Cambridge University Press.

Goodwin, J. 2001. No other way out: States and revolutionary movements, 1945–1991. New York: Cambridge University Press.

Greffrath, W. 2014. State dysfunction: The concept and its application to South Africa. Ongepubliseerde proefskrif, Noordwes-Universiteit.

Heydemann, S. 2007. Upgrading authoritarianism in the Arab world. Saban-instituut vir Midde-Oosterse Beleid, Besprekingsdokument No. 13, Oktober.

Huntington, S. 1968. Political order in changing societies. New Haven: Yale University Press.

Joffé, G. 2011. The Arab Spring in North Africa: Origins and prospects. Journal of North African Studies, 16(4):507–32.

Jones, P. 2012. The Arab Spring: Opportunities and implications. International Journal, Lente-uitgawe.

Kamrava, M. 2005. The modern Middle East. Berkeley: University of California Press.

Mail & Guardian. 2008. Spooks back to their old tricks. Mail & Guardian Online. http://mg.co.za/article/2011-04-08-spooks-back-to-their-old-tricks (17 Augustus 2013 geraadpleeg).

Mbeki, M. 2011. South Africa: Only a matter of time before the bomb explodes. Leader.co.za. http://www.leader.co.za/article.aspx?s=23&f=1&a=2571 (17 Augustus 2013 geraadpleeg).

Migdal, J. 1988. Strong societies and weak states. Princeton: Princeton University Press

Noueihed, L. 2011. Peddler's martyrdom launched Tunisia's revolution. Reuters. http://www.reuters.com/article/2011/01/19/tunisia-protests-bouazizi-idAFLDE70G18J20110119 (18 Augustus 2013 geraadpleeg).

OGSA (Ouditeur-Generaal van Suid-Afrika). 2014. Consolidated General Report on the audit outcomes of Local Government for 2012–2013. Pretoria: Ouditeur-Generaal van Suid-Afrika.

Palmer, M. 1989. Dilemmas of political development. Itasca: FA Peacock.

Perlmutter, A. 1981. Modern authoritarianism. New Haven: Yale University Press.

Rees, M. 2013. Is South Africa a dysfunctional state? Moneyweb. http://www.moneyweb.co.za/moneyweb-political-economy/is-south-africa-a-dysfunctional-state (19 Augustus 2013 geraadpleeg).

Right2Know. 2014. Secret State of the Nation Report. Right2Know. www.r2k.org.za (6 Oktober 2014 geraadpleeg).

Rogan, E. 2011. The Arab wave. The National Interest, Mei/Junie-uitgawe.

Sapa. 2013. SA strikes costly. Moneyweb. http://www.moneyweb.co.za/moneyweb-south-africa/sa-strikes-costly (18 Augustus 2013 geraadpleeg).

Segar, S. 2012. SA could face “Arab Spring”. Independent Online. http://www.iol.co.za/news/politics/sa-could-face-arab-spring-1.1370845#.Ug4ZEG0rr1V (17 Augustus 2013 geraadpleeg).

Slabbert, F. Van Zyl. 2006. Duskant die geskiedenis. Johannesburg: Jonathan Ball Uitgewers.

Sole, S. 2010. Zuma's new spy purge. Mail & Guardian Online. http://mg.co.za/article/2010-02-05-zumas-new-spy-purge (18 Augustus 2013 geraadpleeg).

Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge. 2012. South Africa Survey 2012. Johannesburg: SAIRV.

Southall, R. 2005. The “Dominant Party Debate” in South Africa. Africa Spectrum, 40(1):61–82.

VNOP (Verenigde Nasies Ontwikkelingsprogram). 2010. Human Development Report 2010. New York: Oxford University Press.

Wêreldbank. 2012. Poverty headcount ratio at $2 a day – Country data for South Africa. http://data.worldbank.org/indicator/SI.POV.2DAY/countries/ZA?display=graph (2 Maart 2015 geraadpleeg).

Wessels, A. 2010. The South African National Defence Force, 1994–2009: A historical perspective. Joernaal vir Eietydse Geskiedenis, 35(2):131–52.


Eindnotas

1 Data oor menslike ontwikkeling is van die Verenigde Nasies se Human Development Report 2010 verkry: http://hdr.undp.org/en/content/human-development-report-2010.

2 Data oor die persepsies van korrupsie is van die 2010 Corruption Perceptions Index verkry: http://www.transparency.org/cpi2010/results.

4 ’n Rentenier is ’n individu wat inkomste van produksie ontvang ten spyte daarvan dat hy/sy nie in die produksieproses betrokke is nie. Die ekonomieë van sommige Arabiese state kan dus as renteniersekonomieë beskryf word, aangesien hulle, alhoewel hulle nie verantwoordelik is vir die skep van hul ryke oliebronne nie, steeds ’n inkomste daaruit verdien.

5 Sien byvoorbeeld die ANC se Tasks of the NDR and the Mobilisation of the Motive Forces by http://www.anc.org.za/show.php?id=2356.

6 Libië publiseer sedert 1978 nie meer ’n amptelike werkloosheidsyfer nie. Die syfer in die tabel aangedui is ’n ILO-raming.

7Vir die doeleindes van hierdie studie word Greffrath (2014:217) se uitgebreide definisie van staatsdisfunksie gebruik, naamlik dat die disfunksionele staat ‘n fundamentele afwyking van die ideaal-tipiese staatskonsep (soos geformuleer deur Weber) verteenwoordig, waarvan die kenmerke aangetref word in die samelewings-, institusionele en internasionale dimensies van die staat, wat verder:

  1. volgens ’n tipologie van verval beskryf kan word, bestaande uit verskillende mates van afwyking
  2. dikwels aangetref word as ’n postkoloniale verskynsel
  3. hoofsaaklik gekenmerk word deur ’n gebrek in die vermoë van ’n staat om as outonome, legitieme en gesaghebbende politieke instelling te oorheers
  4. nie werklik soewerein is in die plaaslike of internasionale domeine nie
  5. gevolglik onbevoeg en/of ongewillig is om staatsfunksies in die openbare belang te verrig.

Daar word na die verloop van sodanige staatsdisfunksie verwys as die proses van staatsverval.

 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 1

Kommentaar

  • Marietjie Human

    Dankie. Baie insiggewende artikel. My pa het dikwels gesê: Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees. In die geval ook beslis so.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top