Kernredaksiekeuses: beste van 2025

  • 0

Prent: Canva

Op die laaste nuusbrief van 2025 is die statistieke aangekondig: Wat was die artikels wat die meeste deur lesers gelees is? Kunsmatige intelligensie het daar ook insette gelewer en deur middel van rekenaardenke artikels van 2025 uitgesonder.

Lede van die LitNet-kernredaksie sonder hier onder elk artikels uit wat hulle as onderskeie redaksielede getref het.

Menán van Heerden: vyf hoogtepunte en nuwe verwikkelinge

1.

Die nuwe verwikkelinge rondom KI is geweldig interessant en omstrede. Van die invloed van KI op akademiese skryfwerk, tot LitNet se nuwe KI-reekse, Die Lasarus-effek en Jou KI IK / KI-kortluister.

2. 

Die LitNet Akademies-SteedsDink-video met die meeste kyke tot dusver is in 2025 geplaas. Die tema? Suid-Afrikaanse politiek deur LitNet Akademies-navorser André Duvenhage. Hierdie tema sluit aan by LitNet se geakkrediteerde akademiese aanlyn joernaal, LitNet Akademies, se Geesteswetenskappe-aanbod. Ander 2025-temas wat by LitNet Akademies se ander onderafdelings aansluit, sluit byvoorbeeld in: die informele ekonomie (Ekonomiese en bestuurswetenskappe), digitale nalatenskap (Godsdienswetenskappe), Afrikaanse taalonderrig en tegnologie (Opvoedkunde) en grondhervorming (Regte).

Nog ’n inisiatief wat LitNet Akademies se reikwydte in 2023 en 2024 uitgebrei het, is in samewerking met die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands (USAN) aangebied. LitNet Akademies het op uitnodiging van hierdie departement aan die publikasie van byna 30 nuwe geakkrediteerde artikels (oor die opvoedkunde, taalkunde en letterkunde) deur jong/nuwe navorsers gewerk. In LitNet Akademies se laaste uitgawe van 2023 en in al drie uitgawes van 2024 is ’n spesiale USAN-afdeling vir jong/nuwe navorsers toegewys.

Die SteedsDink-video met die tweede meeste kyke tot dusver is in 2025 geplaas: USAN-navorser Alison Stander gesels oor die bevordering van Afrikaans deur middel van tegnologie en hoe Afrikaans op enige plek aangeleer kan word.

3.

LitNet Akademies het vanjaar 83 geakkrediteerde Afrikaanse navorsingsartikels gepubliseer, terwyl LitNet se sustertydskrif Voertaal.nu ’n interessante aanvulling vir LitNet-inhoud was, en tot die teenwoordigheid vir Afrikaans in die Lae Lande bygedra het.

LitNet se reikwydte groei steeds. Die volgende jaarlikse LitNet-inwoon-skrywerskappe en -slypskole in die Oos-Kaap mentor die jongste talent: LitNet se Kommadagga-slypskool in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting en Huisgenoot (in KwaNojoli/Somerset-Oos), die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap (in Nxuba/Cradock) en die ATKV-Skryfskool (deel van die jaarlikse Veldsoirée in Nxuba/Cradock).

4. 

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad het by die 2024-Veldsoirée te Nxuba/Cradock, 30 jaar ná die koms van demokrasie, in die jaar van LitNet se 25ste verjaarsdag, afgeskop. Die eerste plasings het in Maart vanjaar op LitNet verskyn. Temas sluit in: die vraag of kultuuroorloë vrye debat smoor; kunsmatige intelligensie; die verwerking van en hartseer oor die verlede deur Suid-Afrika se verskillende gemeenskappe; en die terugskryf noord en saamskryf na oos en wes.

Vorige LitNet-berade sluit in: die Briewe deur die lug-beraad (2000) (wat tot ’n Tafelberg-publikasie gelei het), die Young Voices Conference (2004) (deur Nelson Mandela geopen), en Poolshoogte (2014).

Dit is baie interessant om in LitNet se argiewe te gaan kyk wat mense ’n kwarteeu gelede geskryf het oor kultuur, politiek, identiteit, literatuur, taal, sosiale kwessies, en so meer.

5. 

Die jaarlikse Veldsoirée in Nxuba/Cradock se veld-bakkierit, waar ons tussen die Karoo-koppies invaar, is altyd ’n hoogtepunt. Die doel? Om die skrywer en aktivis Olive Schreiner (The story of an African farm) se sarkofaag te besoek. Hoe hoër die bakkies opdraand beur, hoe meer kameelperde sien mens wat wei in die verte. Die omringende groen plase se lewensaar, die Groot Visrivier, blink in die skerp Karoo-son, omring deur ’n landskap wat tot doer strek.

Buiten Schreiner se sarkofaag, is daar nog Nxuba/Cradock-erfenisterreine en -museums, byvoorbeeld die Cradock Vier-erfenisroete en Garden of Remembrance; die Great Fish River Museum (wat uitstallings van die Cradock Vier, asook Karoo-skrywers insluit); die ouwêreldse (dink Matjiesfontein) Victoria Hotel (waarin Mark Twain op ’n stadium gebly het); Markstraat se 19de-eeuse tuishuise; en die Schreiner House, ’n Nasionale Monument waarin Schreiner op ’n stadium gebly het en wat tans uitstallings oor haar lewe huisves.

Een dorp met ’n wye verskeidenheid Suid-Afrikaanse geskiedenisse en verhale!

Naomi Meyer

Ek deel graag vyf boekresensies wat vanjaar tot my gespreek het. Ek wil beklemtoon dat nie een van hierdie resensies aan streng kriteria voldoen van wat ’n goeie resensie moet wees nie. Die resensies het my meegesleur, omdat die skrywers dit uit hul harte uit geskryf het. Hulle is deur die boeke verower en daarom het dit my, by die lees en publikasie daarvan, ook getref. In geen spesifieke volgorde nie, volg my lys hier onder.

Amma deur Charmaine Africa: ’n resensie
Leona Conradie

’n Jaar in my lewe deur Louis Pretorius, ’n resensie
Dewald Koen

Die katartiese metode deur Jaco Fouché ’n klein boek met ’n reuse impak
Deborah Steinmair

Die Waterplek – Gabriëllië deur Carina Stander: ’n resensie
Heilna du Plooy

Op pad na ’n klooster in die sneeu deur Johannes Bertus de Villiers: ’n persoonlike bespreking
Winnie Nel

Izak de Vries

’n Musical is ’n musical, nie waar nie? Wel, ja. Maar. Hierdie resensie toon uitstekende insig in die tegniese aspekte van musiekteater, maar boul dan die leser soos die uwe skoon met ’n draaibal.

A review and rethinking of Joseph and the amazing technicolour dreamcoat
Jessica Smith

Dis ’n komplekse boek oor ’n komplekse gesprek. Ná die lees hiervan verstaan ek beide beter.

21 Voices: Why the Palestinian struggle is a global matter, a reader’s impression
Sarah Oosthuizen

Rugby was nog altyd die grootste godsdiens in wit skole. Die gesprek oor rugby sleep ’n leser terug na die skoolbanke, en vertel jou waarom jy die boek moet aanskaf – of nie.

Wie de hel is Johnny Joubert? deur Dana Snyman, ’n lesersindruk
Barend van der Merwe

Boeke maak ’n wêreld vir gesprek oop. Hier is ’n nuwe insig op ’n besonderse boek.

’n Teologiese besinning oor Annemarie van Niekerk se Onder ’n bloedrooi hemel
Niekie Lamprecht, Julian Müller

Wanneer ’n kenner gesels oor ’n moeilike onderwerp, lees ’n resensie maklik.

Death in Pretoria deur Peter Auf der Heyde, ’n resensie
Anschen Conradie

Liné Loff

Daar het vanjaar 83 artikels in LitNet se aanlyn joernaal, LitNet Akademies, verskyn. Die onderwerpe van die navorsing was uiteenlopend en geweldig interessant, en alhoewel elke artikel ’n fantastiese hulpbron vir ander navorsers en enige belangstellendes is, het die volgende vyf artikels vanjaar vir my uitgestaan:

Treurige wysies: Eugène N. Marais se “Winternag” as vers en lied (1908–2024)
Izak Grové

Kunsmatige-intelligensie-Jesus-kletsbotte se uitdaging vir teologie: ’n verkennende studie
Anné H Verhoef

’n Woke perspektief op seksuele geweld en #MeToo in Zelda Bezuidenhout se Quinn se jaar van kwik (2024)
Alana Lourens en Elbie Adendorff

Inklusiewe groei, ’n integrale deel van ’n inklusiewe ekonomie
Arno J van Niekerk

Gestremdheidsreg: Die Suid-Afrikaanse posisie en die historiese verloop van die inkorporering van die Konvensie oor die Regte van Persone met Gestremdhede
Ilze Grobbelaar-du Plessis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top