Amma deur Charmaine Africa: ’n resensie

  • 1

Amma
Charmaine Africa
Tafelberg, ’n druknaam van Jonathan Ball
ISBN: 9780624094876

’n Paar weke gelede vra ek vir ’n seun wat die een ding in die wêreld is wat hy glad nie wil verloor nie. Ek maak seker dat hy verstaan dat dit iets moet wees waarsonder hy nie kan lewe nie. Ná hy ’n hele rukkie gedink het, sê hy sonder skroom: my ma.

Wanneer ek die titel Amma lees, vloei die kleintydherinneringe terug van huise in ons gemeenskap wat ’n bordjie teen hulle mure gehad het, wat vra: Wat is ’n huis sonder ’n moeder? Hierdie terugflits word ondersteun deur die foto van ’n normale huis, met ’n draadhekkie en heining aan die voorkant. Net soos die huise in my gemeenskap. Die voorblad het dus reeds tot iets diep binne my gespreek die oomblik toe ek oë daarop gelê het. Dis wat Africa regdeur die verhaal regkry: Sy praat met haar leser. Sy roer die leser aan om te dink, lag, maar die meeste van alles, huil.

As kind het ek reeds nostalgies gevoel wanneer ek die vraag lees, en as grootmens het dit my grootste vrees geword. Nes dit die seun se vrees is, maar ook die hoofkarakter in die roman. Wat die leser nie verwag nie, is dat die hoofkarakter, Samyn, na die einde van die verhaal se kant bly voel dat haar ma dood is. Dit ruk die leser, maar Samyn se rede vir hierdie gevoel is eenvoudig. Haar ma was verskriklik ongelukkig toe sy gelewe het. Sy wonder hoe dit van een persoon verwag kan word om so baie ongelukkigheid te dra, want volgens haar het haar ma min geluk in haar lewe ervaar (168).

........
Amma is die debuutroman van Charmaine Africa. Soos die titel insinueer, handel die roman wel oor Amma, Samyn wat die hoofkarakter is, se ma. Haar ma se regte naam is Mathilda (20). Die boek vertel van Amma se moeilike en ongelukkige lewe en hoe sy swaarkry as gevolg van haar man se drinkery. As mens egter dieper kyk, sal jy duidelik sien hoe Amma se omstandighede ook haar kinders se lewens direk beïnvloed.
........

Amma is die debuutroman van Charmaine Africa. Soos die titel insinueer, handel die roman wel oor Amma, Samyn wat die hoofkarakter is, se ma. Haar ma se regte naam is Mathilda (20). Die boek vertel van Amma se moeilike en ongelukkige lewe en hoe sy swaarkry as gevolg van haar man se drinkery. As mens egter dieper kyk, sal jy duidelik sien hoe Amma se omstandighede ook haar kinders se lewens direk beïnvloed. Hulle los byvoorbeeld die skool om in fabrieke te werk, of om na die kinders te kyk, sodat hulle vir Amma kan help en nie nodig het om swaar te kry nie (109).

Africa raak aan temas soos alkoholmisbruik, armoede, apartheid, ongelykheid, ouer-kind-verhouding, keuses, tienerswangerskap, godsdiens, afwesige ouers, toksiese tradisies in families, maar die meeste van alles die mishandeling van vroue en kinders. In haar memoir skets Africa ’n duidelike beeld van die bruin vrou wat eintlik net een voet voor die ander sit om te survive, en in die proses word baie van hierdie vroue dan as sterk gesien, selfs feministies, al is hulle nie bewus daarvan nie. Dit word gesien as almal op Samyn staatmaak, omdat sy inspring en help as iemand swaarkry.

........
Charmaine se debuut is ’n eerlike, realistiese beeld van wat steeds vandag in ons gemeenskappe gebeur. Een van die belangrike kwessies wat in hierdie roman aangespreek word, is die behandeling van vroue wat uiteindelik durf waag om te vlug. Die algehele isolasie en dan die daaropvolgende mishandeling vanaf die mense wat ons veronderstel is om die meeste te vertrou.
........

Charmaine se debuut is ’n eerlike, realistiese beeld van wat steeds vandag in ons gemeenskappe gebeur. Een van die belangrike kwessies wat in hierdie roman aangespreek word, is die behandeling van vroue wat uiteindelik durf waag om te vlug. Die algehele isolasie en dan die daaropvolgende mishandeling vanaf die mense wat ons veronderstel is om die meeste te vertrou. Uit die perspektief van die hoofkarakter sien ons tog hoe van die gemeenskapslede en bure probeer om haar gesin te help in tye van nood. Hierdie goeie dade gaan nie ongesiens verby vir die hoofkarakter nie, want sy vertel van die buurman wat toelaat dat die ander bure groente in sy tuin pluk, en die ander buurvrou wat besef dat hulle nie genoeg kos kry nie en dan skelm vir hulle kos gee. Deur die moeilike tye is daar dus ’n gemeenskap wat uitkyk.

In die samelewing draai ons soms ons koppe weg van mishandeling en ongeregtigheid, want hoekom los sy hom nie? Wel, Amma het haar vark van ’n man, soos die ander karakters hom genoem het, gelos (21). Sy het besef dat sy moet gaan om haarself en haar kinders teen die toksiese huislewe te beskerm. Sy hét probeer seker maak dat haar kinders veilig is. In hierdie tydperk het die familie in wie se toesig sy haar kinders gelos het, haar kinders mishandel.

Sy het teruggekeer na ’n huis waarin sy ongelukkig was en waarin sy swaargekry het. In ons samelewing word te veel kinders mishandel, omdat hulle ouers nie vir hulle kan sorg nie. Hetsy finansieel of ’n dak oor hulle koppe. Hierdie kinders word so minderwaardig behandel dat mens jou afvra hoekom die mense hulle dan ingevat het.

As bruin vrou is ek gewoond aan baie dinge, maar dis hier waar ek die snikke in my keel terug moes dwing en dit ’n gat in my maag gaan maak het. Hoe eet jy ’n ander vrou se kinders se kos in hulle gesigte op? Hoe lewe jy met die feit saam dat een van daardie kinders só honger is en ’n broodjie in hulle onderklere wegsteek? (25) Amma is ’n vrou wat veg om haar gesin op die regte pad te hou. Sy probeer sorg en leiding gee, maar het nie die ondersteuning van haar man en familie nie. Sy het uitgegaan en gaan werk vir haar kinders, steeds het hulle in armoede gelewe.

In haar memoir probeer Charmaine sin maak van haar verhouding met haar ma. Die skrywer onthou goeie, sowel as slegte oomblikke saam met haar ma. Daar was ’n tyd toe sy gefrustreerd was, omdat haar ma haar teruggehou het om deel te neem aan aktiwiteite en dan onthou sy weer hoe haar ma vir haar sê: “Die annes sal nooit doen wat jy vi my doenie, Samyn” (146). Dis betekenisvol, aangesien dit wys dat sy haar ma respekteer en uithelp en dat hulle verhouding baie goed is wanneer sy volwasse is.

Africa kry dit reg om godsdiens en swaarkry te verweef. Godsdiens is dan in hierdie roman haar ma se verlossing, ’n veilige hawe, en daar kan selfs aangevoer word dat haar ma se bekering vir Amma ’n mate van verligting en aanvaarding van haar omstandighede gegee het. Die skrywer wys hoe haar ma verander ná haar bekering, maar sy gee ook weer hoe Amma se omstandighede net vererger. Daar was dus persoonlike verlossing, waaraan Amma vasgehou het tot aan die einde, maar haar familie en huisomstandighede ontrafel onbeheerbaar. Dit beteken dat die mishandeling en alkoholmisbruik vererger.

.......
Africa kry dit reg om godsdiens en swaarkry te verweef. Godsdiens is dan in hierdie roman haar ma se verlossing, ’n veilige hawe, en daar kan selfs aangevoer word dat haar ma se bekering vir Amma ’n mate van verligting en aanvaarding van haar omstandighede gegee het. Die skrywer wys hoe haar ma verander ná haar bekering, maar sy gee ook weer hoe Amma se omstandighede net vererger. Daar was dus persoonlike verlossing, waaraan Amma vasgehou het tot aan die einde, maar haar familie en huisomstandighede ontrafel onbeheerbaar. Dit beteken dat die mishandeling en alkoholmisbruik vererger.
........

Die skrywer raak ook aan die onderwerp wat baie keer onder die mat gevee word: ouers wat nie hulle kinders motiveer om skool klaar te maak nie. In Amma se geval is dit opvallend dat sy nie haar kinders aanmoedig om skool klaar te maak nie; sy aanvaar net hulle keuses om die skool te los, omdat hulle dan in die huis kan help. Dit bring ons dan ook by die groot probleem van child-headed households in ons gemeenskappe. Die skrywer het hierdie kwessie met soveel insig en wysheid weerspieël, want hoe kies mens tussen kos, trots en skool? Africa se vertelling is nie net ’n storie nie, dis ’n belewenis. ’n Lewe wat baie mense daagliks moet trotseer.

’n Teer punt in hierdie memoir is die uitbeelding van hoe die kinders nie geluk in die huis vind nie en dit dan elders gaan soek, hetsy in die skool of in ’n kantien. Die leser sien hoe die frustrasie opbou in die kinders en hoe hulle dan uiteindelik opgee op hulle drome en dan net fokus op oorlewing. Hierdie verhaal gee perspektief op die frustrasies van kinders in ons gemeenskappe wat geen ondersteuning het nie en dan skool verlaat om beter te lewe. Amma wys hoe iemand se ruimte hulle ontwikkeling in die lewe kan beïnvloed.

Die skrywer kry dit ook reg om die vernedering van die bruin mens in apartheid te weergee. Sy wys hoe die wit mens die bruin mens minag, maar dan beskryf sy ook hoe daar rassisme en diskriminasie tussen bruin mense is.

Ons is geneig om te praat van swaarkry en armoede, maar hierdie skrywer kry dit reg om ’n werklikheidbeeld te gee. Die skrywer wys hoe mense so ver kan val dat hulle ander mense se appelstronke eet, of steel sodat hulle die hongerte net ’n bietjie kan verlig. Africa vertel haar storie in haar eie woorde, taal en stem. Sy praat nie namens iemand nie, maar in haar beelde en vertellinge is die euwels in ons samelewing tog sigbaar. Dit beteken dat sy tóg ’n stem gee vir haar mense.

........
Ons is geneig om te praat van swaarkry en armoede, maar hierdie skrywer kry dit reg om ’n werklikheidbeeld te gee. Die skrywer wys hoe mense so ver kan val dat hulle ander mense se appelstronke eet, of steel sodat hulle die hongerte net ’n bietjie kan verlig. Africa vertel haar storie in haar eie woorde, taal en stem. Sy praat nie namens iemand nie, maar in haar beelde en vertellinge is die euwels in ons samelewing tog sigbaar. Dit beteken dat sy tóg ’n stem gee vir haar mense.
........

Sommige mense verstaan nie dat as jy moet kies tussen sokkies vir skool en brood vir jou kinders, jy brood sal kies nie. Maak nie saak hoe goedkoop daai sokkies is nie. Dit sien ons in hierdie verhaal wanneer Samyn ’n kussingsloop moet aantrek in die plek van skoolklere, en dan wanneer sy en haar susters die skool los om te help in die huis.

Charmaine Africa doen baanbrekerswerk met hierdie memoir, wat glad nie moeilik lees nie en jou soos ’n doodgewone roman meevoer. Hierdie memoir het goeie karakterontwikkeling, die wêreld se spanning, ruimtebeskrywings wat goed inspeel op die spanning en ontwikkeling, maar die meeste van alles, ’n baie sterk storielyn wat spreek van diep letsels as gevolg van apartheid en familieverhoudinge.

Hierdie boek gaan nog hoër hoogtes bereik, omdat dit so eerlik, realisties en ongeforseerd geskryf is. Ek sal definitief mense aanraai om die verhaal te lees, want aan die een kant sal dit sekere mense laat voel asof iemand uiteindelik hulle storie woord-vir-woord vertel, en die ander mense sal uiteindelik verstaan hoekom sekere mense sê hulle het nie ’n keuse nie.

  • Amma het in 2025 die Netwerk24 kykNET Rapport-prys vir niefiksie gewen.

Lees ook:

Commendatio: Netwerk24 kykNET Rapport-prys vir niefiksie 2025

Persverklaring: Netwerk24 kykNET Rapport-pryse 2025

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top