LitNet Tuishuise-inwoonskrywer 2025: ’n onderhoud met Ruhan Fourie

  • 0

Foto van Ruhan Fourie: verskaf

Ruhan Fourie het pas in Nxuba in die Oos-Kaap aangekom. Hy vertel vir Naomi Meyer wat hy daar doen en waarmee hy vir die volgende paar weke gaan besig wees.

Ruhan, jy is die derde LitNet Tuishuise-inwoonskrywer in Nxuba. Is dit koud daarso? Hoe ervaar jy die Oos-Kaap – en ken jy die omgewing? Vertel ons van die landskap en omgewing.

Toe ek ’n ruk gelede van Bloemfontein af na Stellenbosch getrek het, het ek gelag wanneer die Bolanders en Kapenaars kla oor koue. Maar met ons aankoms op Nxuba voel dit of die dooie koue van die middel van die land en die winterreën van die Boland bymekaar kom. Dis vrek koud! Die berge en passe in die omgewing is toegesneeu en ons het so met die winterreën hier aangekom.

Die Oos-Kaap is nie vir my onbekend nie. Ek het sowat drie ure suid van hier op Uitenhage (nou Kariega) grootgeword en by Nelson Mandela Universiteit (NMU) in die Baai studeer. Maar die grote Oos-Kaap het uiteenlopende landskappe en hierdie is ’n ander wêreld van die industriële dorp van my grootworddae en kusstad van my studentejare. Ek het ook nog nooit hierdie dele van die land so nat beleef nie. Die dorre dorpe waardeur ek al gery het, soos Somerset-Oos (KwaNojoli), Pearston, en Nxuba self, verander onder donker wolke en mis na sprokiesagtige sluimerende gehuggies.

........
Ek het ook nog nooit hierdie dele van die land so nat beleef nie. Die dorre dorpe waardeur ek al gery het, soos Somerset-Oos (KwaNojoli), Pearston, en Nxuba self, verander onder donker wolke en mis na sprokiesagtige sluimerende gehuggies.
........

Op Nxuba het Lisa van die Victoria Manor Hotel en Tuishuise ons met ’n gepaste glasie sjerrie verwelkom en ons by die Etienne van Heerden-tuishuis ingeboek. Lisa vertel dat Etienne al drie van sy boeke hier kom skryf het. Soos mens deur die knus Karoodorpshuis stap, kan mens sien hoekom hy hier kom skryf. Ek het reeds my skryfnes geskrop in die spaarslaapkamer, terwyl my meisie, Shawna-Leze, wat hierdie week saam met my hier woon, ’n lessenaar vir haar daaglikse werk voor die kaggel in die leefvertrekkie opgeslaan het. Die eenvoudig en goed ingerigte kombuis loop uit op ’n groen agtertuin wat salige son vang in die oggende (wanneer dit nie reën nie!).

Vertel asseblief vir ons lesers van jou agtergrond en waarmee jy gewoonlik besig is in jou alledaagse lewe.

Ek is ’n historikus wat hom tans in ’n teologiefakulteit bevind. Soos reeds genoem, het ek my BA-studie voltooi by NMU met politieke wetenskap en geskiedenis as my hoofvakke. Oorspronklik was politieke wetenskap vir my meer stimulerend, maar in my derde jaar besef ek dat geskiedenis ’n meer volwasse manier is om sin te maak van die hede – die long view verwyder ons van ’n opgesweepte zeitgeist.

........
Oorspronklik was politieke wetenskap vir my meer stimulerend, maar in my derde jaar besef ek dat geskiedenis ’n meer volwasse manier is om sin te maak van die hede – die long view verwyder ons van ’n opgesweepte zeitgeist.
........

By NMU is ek afgekeur vir die honneurskursus in geskiedenis omdat ek die enigste aansoeker was. Gelukkig is ek toe gekeur om in 2015 my honneurs in geskiedenis op Stellenbosch aan te pak. Hier het ek ook my MA in geskiedenis voltooi. Daarna verruil ek die Boland vir Bloemfontein om by die Internasionale Studies Groep (ISG), ’n navorsingsgroep by die Universiteit van die Vrystaat van PhD-kandidate en nadoktorale genote van regoor die wêreld wat spesialiseer in verskeie fasette van geskiedenis in Afrika, aan te sluit. Hier verwerf ek my PhD in Afrika-studies in 2021, waarna ek aanbly by die ISG as ’n nadoktorale genoot om my PhD-navorsing verder in ’n boek te ontwikkel. Die produk hiervan is my debuutwerk Christian nationalism and anticommunism in twentieth century South Africa wat in 2024 by Routledge en later plaaslik by CLF gepubliseer is. Hierin kyk ek na die rol van die NG Kerk in die ontwikkeling en instandhouding van die Rooi Gevaar-narratief onder Afrikaners deur die 20ste eeu. Die boek het onlangs die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir debuutwerk ontvang.

Na amper ses jaar in Bloemfontein het ek in 2023 teruggekeer na Stellenbosch om as nadoktorale genoot by die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie (BNS) in die Fakulteit Teologie aan te sluit. Dat ek by ’n teologiefakulteit beland het, is bloot die produk van agendas wat oorvleuel het. Die BNS huisves argivalia oor Beyers Naudé en ander kerkstemme wat krities teenoor apartheid gestaan het en was op soek na iemand om hierdie dokumente na te vors. My MA het oor Naudé gehandel en ek was van plan om terug te keer na hom na my werk oor antikommunisme. Vir die afgelope jaar en ’n half werk ek aan my eie navorsing oor Beyers Naudé, en gee klas vir die teologiestudente oor geskiedskrywing, biografie en die geskiedenis van die NG Kerk.

Waaroor handel jou navorsing en projek waaraan jy in Nxuba gaan skryf? Wat interesseer jou hiervan – en waar het jou belangstelling begin en wat het jou geïnspireer om hieroor navorsing te doen?

Ek is tans besig met ’n biografie oor Beyers Naudé. Ek sleep hierdie projek al amper 10 jaar lank saam. In die Desember-vakansie van my honneursjaar het ek Lindie Koorts se DF Malan en die opkoms van Afrikanernasionalisme gelees. Die onderwerp van Afrikanernasionalisme en die genre van historiese biografie het my hier gegryp. Toe ek begin rondsnuffel vir ’n biografiese onderwerp vir my MA-studie het ek gehoor dat die BNS argivalia oor Naudé het. Primêre bronne is tog ons kos, so ek begin toe daar rondkrap. Hoe meer ek toe oor Naudé te lees kry, hoe meer wonder ek hoe ’n man wat so diep gewortel was binne die Afrikanernasionalistiese establishment, die pad gekies het wat hy gekies het.

........
Toe ek begin rondsnuffel vir ’n biografiese onderwerp vir my MA-studie het ek gehoor dat die BNS argivalia oor Naudé het. Primêre bronne is tog ons kos, so ek begin toe daar rondkrap. Hoe meer ek toe oor Naudé te lees kry, hoe meer wonder ek hoe ’n man wat so diep gewortel was binne die Afrikanernasionalistiese establishment, die pad gekies het wat hy gekies het.
........

Die idee van ’n Damaskus-oomblik was vir my te eenvoudig, en die oorgeteologiseerde morele oortuigings van Naudé was ook vir my te goed om waar te wees. My MA het dus gegaan oor sy vormingsjare, studentedae en loopbaan binne die NG Kerk tot hy in 1963 inderwaarheid uit die laer van Afrikanernasionalisme getree het.

Gedurende my PhD-studies het ek aangehou om Naudé op argiefbesoeke te soek en het hom in my leeswerk ook in gedagte gehou. Daar is reeds twee sentrale biografiese werke oor hom. Die joernalis Colleen Ryan se Beyers Naudé: pilgrimage of hope (1990) het sy hele lewe gedek, met ’n sterk fokus op sy tyd by die ekumeniese anti-apartheid organisasie die Christelike Instituut. Die sterk punt van haar boek is dat sy dit kon baseer op omvangryke onderhoude met Naudé en sy binnekring. Dan is daar Naudé se outobiografie, My land van hoop (1995), wat gemik was op Afrikaners wat toe ’n nuwe bedeling na apartheid moes betree. Hierdie twee boeke ’n basis gebied vir verdere werke oor Naudé. Twee dinge in die breë het oor die afgelope twee dekades ná sy afsterwe gebeur. Eerstens is sy aktivisme en uitsprake oorgeteologiseer. Dit wil sê sy teologie is deur akademiese teoloë oorbeklemtoon. Tweedens is hy in die demokratiese bedeling deur hoofstroompolitici en -akademici en kerk- en kulturele elites tot ’n model- postapartheid Afrikaner verhef. Vernoemings en politieke herinnerings het Naudé tot ’n groot mate gemitologiseer. Hiermee sê ek nie hy verdien nie groot erkenning nie, maar die wys waarop hierdie erkenning gegee is, verskraal Naudé tot ’n held met wie min mense werklik kan identifiseer. Ek wil juis Naudé in sy geheel ondersoek, regdeur sy lewe. Benewens die belangrike rol wat hy gespeel het as Afrikaner en Christen in die stryd teen apartheid, bied Naudé se lewe ’n unieke blik op 20ste-eeuse Suid-Afrikaanse geskiedenis. Geen ander figuur was so intiem verwikkel in die opkoms van Afrikanernasionalisme, die plaaslike en internasionale anti-apartheid beweging, en die oorgang na ’n nuwe bedeling nie.

Is die geskiedenis ooit klaar geskryf? Hoe herskryf mens die geskiedenis in terme van geskiedkundige gebeure – en hoe herskryf mens en ontdek mens meer en meer van 'n historiese figuur se lewe? Hoe verskil die onderskeie metodologieë en werkswyses?

In wese is die aktiwiteite van die historikus om geskiedenis te herskryf. Daarmee word nie bedoel dat dit wat voorheen geskryf is, uitgevee word nie, maar dat geskiedskrywing uitgebou word. Dit beteken dat die historikus die verlede, perspektiewe van ander historici, en soms die hede met mekaar in gesprek bring.

Daar is praktiese oorwegings wat lei na die herskryf van geskiedenis. Een daarvan is dat nuwe primêre bronne ontsluit word. In die geval van Naudé is daar oor die jare heen argivalia aan die BNS geskenk wat nog nie aan geraak is deur navorsers nie. Dan is daar ook bronne wat lank reeds gestoor is, maar nog nie geraadpleeg is nie. Ek dink hier veral aan versamelings in die Instituut vir Sosiale Geskiedenis in Amsterdam wat bokse en bokse korrespondensie, onderhoude, finansiële state en pamflette bevat wat verband hou met Naudé se bande met die internasionale anti-apartheid beweging. Dit is ’n direkte voorbeeld van aanvullende bronne wat die storie van Naudé kan “herskryf”.

Verder op argivale vlak is daar ook die wye net wat mens gooi om voetspore, groot en klein, van Naudé in bestaande argiefbewaarplekke na te speur. Aangesien die vorige bedeling ’n groot gros van sy dokumente verwoes het, is daar nie, soos vir vele ander historiese figure, ’n enkele versameling van Naudé se persoonlike en professionele dokumente nie. Dokumente van hom is dus versprei in argiewe regoor die wêreld. ’n Groot deel van my navorsing verloop soos ’n skattejag deur studenteraadnotules, Berg-en-Toer-klub-sketse, uitgawes van Stellenbosse Student van die 1930’s, Kerkbodes, kerkraadnotules, sinodale verslae, knipselversamelings, staatsdokument, hofstukke, en fotoalbums.

En hierdie is dan net die nuwe argivale  roetes om Naudé se lewe te herkonstrueer. Metodologies kan mens ook mondelinge bronne gebruik. Hieroor wik en weeg ek nog. Almal skyn ’n Beyers Naudé-storie te hê. Soos die tannie wat my vertel het dat Naudé die dominee was wat haar gedoop het, en van daai dag af was sy nie meer ’n rassis nie, of die ou kerkgeskiedenis-prof wat vir my op ’n vergadering gefluister het dat wat ons oor Naudé weet, bog is – Naudé het ’n erge donker kant gehad. So is Naudé ’n saint of ’n skurk. My benadering is om so ver as moontlik argivale bronne fyn na te volg – dit sluit mondelingse onderhoude met Naudé en sy binnekring in – en dit in gesprek te bring met sekondêre bronne. Daarna, waar nodig, sal ek met sekere kern-individue gesels oor leemtes en dieper insigte.

........
’n Kernaspek van die herskryf van geskiedenis is die nuwe vrae wat ons van die verlede vra. Dis wanneer historici ophou nuuskierig raak oor die verlede dat geskiedenis begin stagneer. Nuwe vrae bring nuwe maniere van geskiedenis doen – metodologies, in vorm, en in temas. In die geval van Naudé is daar vele vrae wat opnuut gevra kan word: Tot hoe ’n mate was hy ’n propageerder van die Afrikanernasionalistiese projek, of was hy meer ’n produk daarvan?
........

’n Kernaspek van die herskryf van geskiedenis is die nuwe vrae wat ons van die verlede vra. Dis wanneer historici ophou nuuskierig raak oor die verlede dat geskiedenis begin stagneer. Nuwe vrae bring nuwe maniere van geskiedenis doen – metodologies, in vorm, en in temas. In die geval van Naudé is daar vele vrae wat opnuut gevra kan word: Tot hoe ’n mate was hy ’n propageerder van die Afrikanernasionalistiese projek, of was hy meer ’n produk daarvan? Wat presies het gelei tot sy politieke ommeswaai in die vroeë 1960’s? Tot dusver is veel gewag gemaak van sy interne oortuigings, maar wat van eksterne faktore? Was hierdie ommeswaai sy laaste politieke keerpunt of die begin van ’n stadige politieke bewussyn? Tot watter mate het die mense om hom ’n rol in sy denke en oortuigings gespeel? Die lys gaan aan. Wat my verder interesseer, is die na-lewe van Naudé. Dit het op sigself ’n historiese fenomeen geraak. Hoe, deur wie, en wanneer word hy onthou in ’n nuwe bedeling, en wat vertel dit ons van ’n nasie-in-wording?

My biografie is dus nie daarop gemik om die finale woord oor Naudé te wees nie. Inteendeel! Ek hoop die projek lei na ander herdinkers en herskrywers na my.

Wat sal die waarde wees van so 'n inwoonskrywerskap vir iemand wat op koers is met navorsing oor 'n betrokke figuur of onderwerp? Wat beoog jy en hoe beplan jy om met jou projek te vorder gedurende jou verblyf?

As jong akademikus wat nog nie ’n permanente vastrapplek gevind het nie, vind ek dit vreemd hoe die akademie van mens vereis om klas te gee, navorsing te lewer, en sosiale impak te hê, sonder dat daar genoeg tyd of hulpbronne gegee word om te dink, lees en skryf. En vir historici is navorsing veel meer tydsaam as vir ander geesteswetenskaplikes. Argiefnavorsing neem baie tyd. Tot dusver kon ek hier en daar tyd afstaan om werklik te dink en te skryf aan my manuskrip. ’n Inwoonskrywerskap soos hierdie bied vir ’n navorsers die geleentheid om navorsing opsy te skuif – dis tog te lekker om jou te verdiep in die leeswerk en bokse ou dokumente in ’n argief! – en by die dink- en skryfwerk uit te kom.

Hier in die Etienne van Heerden-huis wil ek skryfmomentum bou. Daar is minstens twee hoofstukke wat klaar moet kom in dié tyd, en dinkwerk oor hoe die volle manuskrip gaan vorm kry. Hier is oorgenoeg ruimte en stilte vir beide dink- en skryfwerk!

Behalwe om navorsing te doen en te skryf, wat beplan jy om andersins gedurende jou tyd in die Oos-Kaap te doen?

Die Schreiner Karoo Writers Festival is 19–21 Junie. Ek gaan saam fees en self ook optree by een van die gesprekke. Dan is ek ’n katspoegie weg van Graaff-Reinet, waar Beyers Naudé grootgeword het. Ek gaan daar ’n dag of twee navorsing doen en beweeg waar Naudé as kind beweeg het. Dit voel ook heel gepas om in hierdie week, waarin die Cradock 4-saak weer in die nuus is, die Cradock 4 Tuin van Herinnering te besoek. Ek sien verder daarna uit om verras te word deur Nxuba en die omgewing!

Lees ook:

Witwarm gesprekke, heerlike Karoo-kos en knetterende vure vir die Etienne van Heerden Veldsoirée van 2025

Skrywers, boekliefhebbers, navorsers en musikante op pad na die Karoo

Om te skep: Cradock-paragrawe en lesse van lepels

Geloftedag 2024: waarom die oplewing?

Africanis albus herbesoek: reaksie op die Afrikaner Verklaring

SteedsDink met LitNet Akademies: Ruhan Fourie

Jan Smuts, 1870–1950, ’n fotobiografie: ’n resensie

Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika deur Herman Giliomee, Bernard Mbenga, en Bill Nasson (redakteurs): ’n LitNet Akademies-resensie-essay

The inquest into the deaths of Matthew Goniwe and his three comrades (The Cradock Four)

Persverklaring: Wenners van die Andrew Murray Desmond Tutu-prysfonds se pryse vir 2025 bekend

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top