As intreeskrywer van Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap het Bibi Slippers in Julie 2022 vir ’n maand lank in Cradock tuisgegaan, waar sy aan ’n nuwe digbundel gewerk het. Sy en haar hond, Matilda, was gaste van LitNet en die Victoria Manor Hotel en het in die bekende Tuishuise gewoon. Hier doen Bibi verslag van haar verblyf.
My lepellose lewe
Ek was nog nooit iemand wat vreeslik aan lepels gedink het nie. En Julie is die koudste maand van die jaar in Cradock. Ek het gedink ek sou vir dertig dae skryf en huis toe gaan met ’n hand vol gedigte en ’n artikel oor die kaggelvuur. Dalk ’n paar foto’s van koppies. Nie teekoppies nie, Karoo-koppies. Maar toe gaan soek ek op die eerste dag ’n plek waar my hond lekker kan hardloop, en word langs die begraafplaas deur ’n hopie lepels voorgelê. Nie teelepels nie, plastieklepels. En hulle sê: “Nou toe. Jy wil mos skep.”
The dish ran away with the spoon
Ek het nie daardie eerste lepels afgeneem nie, maar ek het kennis geneem. Dit was genoeg lepels om aandag te trek, vyf of ses so saam, meer as genoeg om ’n klein beroering in die brein te veroorsaak. (Ek het intussen by Google navraag gedoen rondom die versamelnaam vir lepels. Van die meer interessante antwoorde was “a weather of spoons”, “a serving of spoons” en “an independence of spoons”.) Ek sou hierdie bondeltjie in retrospek beskryf as ’n lokval van lepels. Die volgende dag terwyl ons stap en storie luister op Audible, sien ek nog ’n lepel raak. ’n Teken? Dié maal het ek vasgesteek en my kamera uitgehaal. Ons wou eintlik net draf, ek en my hond, maar as dit pap reën, of lepels ...
All the wonder of six little spoons
Gertrude Stein het heelwat te sê oor lepels. In Tender buttons vind ek allerhande lekker sinne oor lepels. “Sample set of old eaten butterflies with spoons.” “An extra leaker with a see spoon.” “A whole spoon that is full is not spilling.” En een wat sy skynbaar vir my lepels langs die begraafplaas geskryf het: “All the wonder of six little spoons. There is no exercise.” Ons het 115,2 km in en om Cradock gehardloop, en nog meer as dit gestap. Aan die neus gelei deur lepels.
Stadiger, stadiger. Stoplepel.
Die eerste les van die lepels is om stadiger te raak. “As jy wil skep, moet jy kyk,” sê die lepels. Elke stappie raak ’n soektog. My hond snuif al agter hoenderbeentjies aan. My oë kam oor die grond.
Skielik lê daar oral lepels
Ek soek nie meer nie, ek sien sommer net. Lepels oral. Ek maak ’n punt daarvan om nuwe roetes te stap en nuwe gedeeltes van die dorp te verken, sodat ek ook ander lepels kan sien as net dié wat nader aan ons huis lê. (Markstraat is ’n min-tot-geen-lepel-area. Die straat word skoongehou deur die span van Victoria Manor en Die Tuishuise. In vergelyking met van die ander strate het Markstraat skynbaar ’n goue lepel in die mond. Maar as ’n mens ’n bietjie uitwyk, vind jy dele waar die lepels dig lê.)
Spoon Theory
Ek skryf darem ook nog. ’n Boek oor soek. Oor Google, en so. So ek google baie. Ek google alles. As mens “spoon” google, kom jy vinnig af op Spoon Theory – ’n teorie wat gebruik word om vir mense te verduidelik hoe dit voel om met ’n outo-immuunsiekte saam te leef wat chroniese moegheid veroorsaak. In Spoon Theory verteenwoordig lepels eenhede energie. Elkeen van ons het ’n beperkte aantal lepels per dag. Elke klein takie kos iemand met outo-immuunsiekte ’n hele lepel. So wanneer die persoon ’n paar klein goedjies gedoen het, het hulle geen lepels oor nie. Pê. Ek dink mens kan Spoon Theory ook gebruik om te verduidelik waarom dit so moeilik is om kreatiewe werk gedoen te kry tussen ander “regte” werk en lewensdinge deur. Ons kry maar min lepels kreatiewe energie, en baie van die ander dagtake is lepeldiewe. Dis die wonder van iets soos ’n inwoonskrywerskap. Vir ’n beperkte hoeveelheid tyd kan jy vir lepeldiewe wegkruip. En in die kombuis is daar ’n hele laai vol lepels.
Wat lepel lek, moet werk
Dis ’n ou Afrikaanse idioom; nie een wat ek al voorheen gehoor het nie. Dit beteken almal moet werk. In ’n ideale wêreld wil ek voltyds aan my boek werk. Is boekskryf werk? Ek wonder of Gertrude Stein so gedink het. Sy het dit seker nie vir geld gedoen nie. Blykbaar het Steve Jobs op ’n keer gesê: “Creativity is just connecting things.” Connecting things voel nie soos werk nie. Is dit waarom ek skuldig voel wanneer ek vir ’n paar dae my ideale lewe leef, net aan my boek werk, en nou en dan ’n lepel afneem? Ek soek heeldag patrone en verbande, verbind die dag se dinge in gedigte en sit dit in die boek. Verbind die boek met die lepels, en uiteindelik seker eendag ook die lepel met die dak.
Elke lokval lepels
As jy reg leer kyk, sal jy die stories leer lees wat elke lokval lepels het om te vertel.
Niks soos lelik nie
Daar is nie iets soos lelik nie. Dit is die hele les.
Van die lepel na die mond
Op ’n stadium het daar gereeld speelkaarte op die sypaadjies in Linden rondgelê. Toe het ek geleer ’n mens kan hulle betekenis google. “The Jack of Clubs is the card of good fortune. It is a very positive card that represents luck, success, and happiness. This card can be a very good omen for anyone who draws it. The Jack of Clubs is also known as the Lucky Card or the Happy Card.” Die regte kaart vir dié tyd op dié plek. Maar die kaart bring nog ’n boodskap, by monde van Jack London: “You can’t wait for inspiration, you have to go after it with a club.”
Solank as die lepel
Ek hou van hoe die lepels lyk, en wat om hulle lê. So asof iemand iets daarmee wil sê.
Dog, beroemde planter van vere
... het lepelsaad gesaai. Groot was sy verbasing toe ’n eier opkom, ’n hoender uitbroei, en hy dadelik oor die straat stap. Dis ’n wonderwerk dat die hoender nie deur ’n trok getref is nie! Die hoofstraat is nogal besig en, soos een inwoner vir my sê, “trokkerig”. Dis die trokkerigheid wat maak dat ’n mens nie onmiddellik aan Cradock dink as ’n tipiese stil Karoodorpie nie. Maar die trokke hou die plek tot ’n groot mate aan die lewe. Die trokke, en die boere en die gewone mense. Nou ja, ’n mens dink seker ook nie altyd aan plastieklepels as inheemse plante nie. En tog.
Die enigste lepel
Sover is die enigste lepel in my onklaar boek die lepel in klepel. Ek dink nie dis toevallig dat dit in die een Cradock-gedig is nie:
Cradock, Groot-Karoo
Cradock is ’n plek van koppies en van kerke, waar die mense
nog kom as die klokke Sondag lui. dis hoogwinter in die Groot
Karoo, die koue te helder om vas te vang. in Markstraat het ’n man
’n vuur gestook in ’n kruiwa en ek het na jou verlang, want
’n vuur in ’n kruiwa is baie soos ’n vriendskap: ek wil lig en hitte
agter jou aan stoot op die dae as verlies aan jou vreet soos vries-
brand, ook as donkerte dreig om die vreugdes uit te doof. kom,
as dit rof gaan of as jy net bietjie hartseer voel, na my, dan luister
ons saam hoe die klepels in die koppies psalms beier, dan kniel
ons langs mekaar om ’n gloeiende kruiwa, hou ons palms bo kole
en noem ons saamwees kerk.
Aan die roer van sake
In ’n ideale wêreld wil ek voltyds aan my boek werk. In werklikheid is daar twee weke van hierdie luukse. Daarna is dit soggens vroeg boektyd, en die res van die dag “regte” werk. (Gedigte skryf ís regte werk. Dit betaal net nie regte geld nie. “The sudden spoon is the same in no size,” skryf Gertrude Stein.) Dis regte hartseer wat ek voel omdat ek my aandag moet verdeel. Ek is oortuig dat ek nie verder iets gedoen gaan kry nie. Maar ’n interessante ding gebeur. Hoe harder ek moet werk en hoe meer ek moet klaarmaak vir regte geld, hoe dringender raak die skrywery, hoe meer lepels duik op. Ek kry fantastiese idees. Ek is só opgewonde oor my projek. Die bladsye begin lepellê.
Luister
Hierdie drie lepels lê naby ’n kerk, en voor die kerk is ’n boom wat in die namiddag so vol voëls is dat hy oorloop van geluide. ’n Boom vol waterval. ’n Boom vol panfluitjies. ’n Boom vol teelepels – as teelepels kon tjilp.
Hot thoughts
Ek het geen benul hoe Spoon se album Hot thoughts in my musiekbiblioteek beland het nie. Ek is redelik seker ek het nog nooit daarna geluister nie. Maar hier is twee warm gedagtes: Om te skep kort ’n mens ’n gesonde balans tussen intense aandag en behoorlik uitzone. Vir die aandag kort ’n mens ruimte. Vir die uitzone tyd. Op Cradock kry ek albei. Ek is dankbaar vir dié twee geskenke.
The lovin’ spoonful
Op my foon vind ek ook ’n enkele liedjie van die Amerikaanse rock-band The Lovin’ Spoonful: “She is still a mystery.” Ek is lame genoeg om oor liefde te wil skryf. Hierdie lepels lyk of hulle mekaar like. Hulle sal nog sien wat Stein bedoel as sy sê: “The sudden spoon is the wound in the decision.”
Benewens moed en asem
Ek sien ooreenkomste tussen die internet en die sypaadjies in onversorgde dorpies. As ’n mens dáár tussen die trash begin soek, vind jy ook onverwagse komposisies. Soos hierdie sin: Wat kan jy alles skep, benewens moed en asem?
A room of one’s own
En ’n spoon with a view. Skryf Virginia Woolf mos: “Therefore I would ask you to write all kinds of books, hesitating at no subject however trivial or however vast. By hook or by crook, I hope that you will possess yourselves of money enough to travel and to idle, to contemplate the future or the past of the world, to dream over books and loiter at street corners and let the line of thought dip deep into the stream.”
Daar is toe darem een foto van koppies.
Eetlepel: ’n onmisbare klein advertensie
Einste Virginia Woolf, in einste A room of one’s own, praat ook oor kos: “One cannot think well, love well, sleep well, if one has not dined well.” Aangesien ’n mens nie goed kan skryf as jy nie goed geëet het nie, wil ek darem ook net noem dat die kos op Cradock uit die boeke is. Ek het voortreflike goed geëet by Victoria Manor, Black Sheep, The Shed en True Living. En so ’n paar haikoes geskryf oor lekkergoed.
Malvalekker-muise
koubare kussing
tong perfek vir pynloos byt
muisvlees soos matras
pienk ystervarkies
geen blaf of byt in
sy sawwe stekies: net spons-
koek en stroop vir ons
witsjokolade-fondue
suikerdweper, druk
tog net daai stemvurk deur ’n
aarbei. doop dit. ooooooh.
Hope in gates, hope in spoons
’n Hele houer vol in die leë kafee by die Total-vulstasie. Die lepels se les is: “Ken jou bron.”
Daar was maande laas brandstof by dié spesifieke vulstasie. Die petroljoggies lyk depressief. Ek het uitgevra daaroor – dis in die proses om van eienaars te verwissel. So daar gaan ook nie veel in die winkel aan nie. Maar daar is ’n sterk aanbod lepels. Hulle raak eenvoudig nie op nie. Dis een ding van kreatiwiteit ook, aldus Maya Angelou. Jy kan dit nie opgebruik nie. Hoe meer jy gebruik, hoe meer het jy.
So ’n paar dae voordat ek vertrek, kan ’n mens weer petrol ingooi by die Total en die petroljoggies glimlag.
Divination spoons
Ek wonder of daar mense is wat die toekoms in lepels lees. Natuurlik is daar! Die boodskappe is blykbaar in hoe die vloeistof van die een lepel na die ander drup. Ek weet ook my lepels wil iets vir my sê. Daar is tekens in die takkies wat om hulle gestrooi is. Ek wil die takkies lees soos teeblare. En daar’s obviously boodskappe in been. So. Hoe nou? Shhhh. Let op. Drup, drup, drup.
Hansie, Grietjie en die pad terug
Na byna dertig dae het ek mooi leer luister na lepels. En ek dink ek weet waarheen hulle my lei.
’n Vurk in die pad
Ek en my hond stap elke dag dieselfde paadjies, en daar’s nooit veel wat verander nie. En toe, een oggend op die sportveldjie langs die begraafplaas, is daar ’n klomp verlate vloerteëls en ’n vurk. Ek kan nie presies verduidelik hoe ek tussen die onafhanklikheid van lepels en die vurk in die pad besluit het dat ek volgende jaar elke maand op ’n ander klein dorpie gaan bly nie, maar dit is wat gebeur het. Ek maak solank ’n lys en laat weet my landlord dat ek eersdaags trek. Tot dusver lyk dit of ek teen Januarie terug sal wees op Cradock.
The sudden spoon
Ek het nie gewag vir ’n teken nie. Ek het geskryf en geteken. En skielik was daar lepels.
Haters will say it’s Photoshop
Ek was nog nooit iemand wat vreeslik aan lepels gedink het nie. Binnekort moet ek van die meeste van my lepels ontslae raak, en dié wat oorbly in bokse pak. Teelepels, eetlepels, soplepels. Ek het al as ’n grap vir Google probeer vra waarom ek, ’n enkelloper en nie veel van ’n koskoker nie, drie soplepels besit. Die antwoord was skakels na nog soplepels, te koop. Daar het jy dit. Creativity is just connecting things. Ek wil niks meer besit nie. Ek het ’n behoefte aan ruimte en aan tyd. En ek gaan nie meer wag tot iemand anders dit vir my gee nie. Ek sluk die einde van my inwoonskrywerskap met dié lepel suiker af.
As my skep inkom
Dié bootjie op ’n oop stukkie veld in die middel van Cradock was vir my ’n daaglikse bron van vermaak. Ek sal altyd glimlag as ek aan Grumpy die Karoo-boot terugdink. “A writer is a person for whom writing is more difficult than it is for other people,” sê Thomas Mann. Vir wat laat Grumpy my aan ’n gestrande skrywer dink? As my skip inkom, wil ek ook maniere befonds (of andersins prakseer) om dit nou en dan vir ’n rukkie vir een skrywer makliker te maak om te skep. Vir nou kan jy ’n lepel by my neem en solank daarmee begin roei.
Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust
- Lees alles oor Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap hier:
- Lees ’n onderhoud met Bibi:
Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywer: Bibi Slippers oorgehaal vir die muse van die Karoo
- Gaan loer gerus na die webtuiste van die Tuishuise & Victoria Manor.
Kommentaar
Dankie Bibi! 'n Lepelvol plesier te midde van serieuse debatte, politieke stompsinnigheid en Hoëveldse laatwinter-veldbrande.
Jy mag maar 'n lepel op jou lapel dra.