
Prent: Canva
- Geloftedag is nou amptelik bekend as Versoeningsdag en word jaarliks as openbare vakansiedag op 16 Desember gevier.
Openbare volksbyeenkomste was kenmerkend van Afrikaner-lewe onder Afrikaner-nasionalistiese beheer. Van volkskongresse waar daar rondom nasionale kwessies bymekaargekom is, tot plaaslike kermisse waar broeders om die braaivleisvure bande gesmee het. G’n ander byeenkoms het die verbeelding van Afrikaners aangegryp soos die jaarlikse Geloftefeeste wat regoor die land gevier word nie. Al tap die sweet die getooide ooms en tannies af, en sit verveelde kinders al gapend, het gesinne jaar na jaar op 16 Desember die Slag van Bloedrivier herdenk soos wat volksleiers voorgehou het dit moes wees. Preke is afgesteek oor God se gunstigheid teenoor sy uitverkorenes, en die verhaal van die heldhaftige Voortrekkerminderheid se oorwinning oor ’n Zoeloe-oormag is aan skares Afrikaners uitgebulder.
In die 20ste eeu het die veldslag ’n mitiese vorm aangeneem wat deur Afrikaner-nasionaliste as ’n baken van Christenbeskawing se gesag op die donker kontinent voorgehou is. Dat God in 1838 kant gekies het, het toe ’n bepalende faktor geword in die verbeelding van Afrikaners wat die kern van 20ste-eeuse wit oppergesag gevorm het.
Veel kan gesê word oor die Godbeskouing van Geloftedagvieringe. Maar toe die Afrikaner-geskiedkundige Floors van Jaarsveld in 1979 begin karring aan die mites rondom God se Voortrekker-voortrekkery by Bloedrivier, is hy in die openbaar hiervoor geteer en geveer. Hierdie gesprek los ons dan vir ’n ander dag.
Hierdie historiese heilige koei het saam met Afrikaners ’n nuwe bedeling ingetrek en is klaarblyklik aan’t blinkvryf tot ’n goue kalf. Danie Langner, die besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument (beide vertakkings van die Solidariteit Beweging), neem ’n oplewing waar in belangstelling in Geloftedag. Vele Afrikaners het braaivleisvure en swembadbommies agter hulle sesvoetmure op Versoeningsdag stelselmatig begin verruil vir Geloftedagvieringe soos in die ou dae. In 2023 het sowat 32 000 mense op die Voortrekkermonument toegesak om te sien hoe ’n sonstraal stadigaan skuifel om teen 12:00 die “Ons vir jou, Suid-Afrika” op die senotaaf te verlig. In 2024 was daar ’n geskatte 35 000 Geloftefeesvierders. Soos Langner opmerk, is dit ’n enorme sprong van die handjievol Afrikaners wat in 1994 by die Monument opgedaag het.
...........
In 2023 het sowat 32 000 mense op die Voortrekkermonument toegesak om te sien hoe ’n sonstraal stadigaan skuifel om teen 12:00 die “Ons vir jou, Suid-Afrika” op die senotaaf te verlig. In 2024 was daar ’n geskatte 35 000 Geloftefeesvierders. Soos Langner opmerk, is dit ’n enorme sprong van die handjievol Afrikaners wat in 1994 by die Monument opgedaag het.
..............
Dat Geloftedag in 2024 nog gevier word, is nie ’n verrassing nie. Daar is ook min twyfel dat daar vir jare wat nog kom, Geloftefeeste gaan wees. Die vraag hier is eerder hóékom daar so ’n oplewing in dié viering is, en veral hoekom jongmense hierby aanklank vind na drie dekades van ’n nuwe bedeling.
In dié verband deel ek twee waarnemings:
Ontnugtering
Eerstens is daar ’n diep politieke ontnugtering na drie dekades van demokrasie in Suid-Afrika. ’n Kortstondige Reënboognasie-euforie in die beginjare van ’n demokratiese bestel het ’n sterk verdeelde land hom laat verbeel dat daar ’n kans is vir ’n welvarende Nuwe Suid-Afrika. Soos die verouderde ANC voortgefoeter het as ’n bevrydingbeweging eerder as ’n moderne politieke party, het Suid-Afrika se welvarendheidsdroom gekwyn. So het Suid-Afrikaners, benewens ’n klein elite wat hulself verryk het – beide deur staats- en deur privaatsektorkorrupsie – deurgeloop onder ’n staat wat aan’t verval was. Toe Suid-Afrikaners uit verskeie oorde begin stem dik maak teen die vergrype van die Zuma-presidentskap, het ’n breë onderliggende ontnugtering met die post-1994 bedeling ontwaak. Bewegings soos #FeesMustFall en politieke formasies soos die EFF het byvoorbeeld in hierdie tyd energie begin gee aan swart Suid-Afrikaanse born frees vir wie demokrasie min opgelewer het, veral op ’n materiële vlak.
Hierdie ontnugtering met ’n nuwe bedeling lyk dalk anders vir wit Suid-Afrikaners. Op ’n materiële vlak gaan dit betreklik goed met wittes in hierdie land. Historiese patrone van wit indiensneming het dalk verdwyn, maar alle aanduidings is dat wit Suid-Afrikaners oor die algemene veel beter af is in ’n demokratiese bestel as hulle swart, bruin of Indiër-landgenote. In sy onlangse boek oor wittes se posisie in ’n demokratiese Suid-Afrika wys Roger Southall hierop en kom tot die gevolg dat “except perhaps for a small class of poor whites, whites do not have a strong material case for regretting the arrival of democracy in South Africa.” Dit beteken nie dat wit mense tevrede raak met hierdie materiële posisie nie. Inteendeel, wittes leef in verskeie modusse van vrees dat hierdie materiële posisie kan kwyn, skryf Nicky Falkof in haar 2022-boek Worrier state. Die mure in wit buurte raak hoër en die strate is onder streng toesig van WhatsApp-worriers/warriors terwyl privaat sekuriteitsdienste die parkies patrolleer.
Die alomteenwoordige “swart gevaar” is steeds ’n bedreiging vir wit materiële sekuriteit. Ek vermoed dit gaan nóg dieper gaan vir Afrikaners. Terwyl wit Engelse landgenote maklik in gelid kan val in ’n verengelste land en dominante Westerse monokultuur, is dit anders vir Afrikaners. Die vaslegging, uitbreiding en suksesse van Afrikaner-kultuur, en veral Afrikaans in die 20ste eeu is onlosmaakbaar van ’n Afrikaner-nasionalistiese staat. Nasiebou en multikulturalisme het eens onbetwiste begrip van Afrikaner-geskiedenis, -identiteit en -moraliteit bedreig. Hierdie verlore kulturele voorrang voel soos ’n eksistensiële bedreiging in vergelyking met basiese materiële bewaring.
Organisering
Wat hierdie sentimente wel lyf gee, is hoe goed daarrondom georganiseer word. Anders as byvoorbeeld die Fallist-beweging op ons kampusse, wat in die oomblik en rondom sekere kwessies goed georganiseerd was, het Afrikaner-griewe ’n tuiste van strategiese en volgehoue organisering in die Solidariteit Beweging gekry. Die geskiedkundige Danelle van Zyl-Hermann wys op hoe hierdie organisasie, met sy wortels in die wit vakbondwese van die vroeë 20ste eeu, ’n nasionalistiese raamwerk van Afrikaners as ’n kultureel eiesoortige volk met ’n gemeenskaplike geskiedenis voorhou. Daarby word ’n gemeenskaplike postapartheid ervaring van slagofferskap en marginalisering beklemtoon. Sy wys daarop dat daar oor die algemeen gedink word dat hierdie sentimente gefragmenteerde uitdrukking vind in kulturele en private sfere. Solidariteit het hierdie lyne vir ontnugterde Afrikaners kom saamtrek. Deur hulle wye netwerk van organisasies het Solidariteit ’n bastion geskep waarbinne Afrikaner-belange beskerm word. Hierdeur skep hulle ’n ons-teen-hulle paradigma. Hierbinne vind ’n aggressiewe kulturele selfgelding plaas. Hoofstroom Afrikaanse musiek drup van plattelandse nostalgie; stadsmuise cosplay as plaasjapies in hulle Boerboel-broekies; en soos by Trekkers van ouds hang baarde swaar aan brandewyndrinkende bakkies. Daar het inderwaarheid ’n kommersiële laer ontwikkel waarna die sosioloog Adriaan Steyn verwys as “Afrikaans, Inc”.
..........
Solidariteit het hierdie lyne vir ontnugterde Afrikaners kom saamtrek. Deur hulle wye netwerk van organisasies het Solidariteit ’n bastion geskep waarbinne Afrikaner-belange beskerm word. Hierdeur skep hulle ’n ons-teen-hulle paradigma. Hierbinne vind ’n aggressiewe kulturele selfgelding plaas. Hoofstroom Afrikaanse musiek drup van plattelandse nostalgie; stadsmuise cosplay as plaasjapies in hulle Boerboel-broekies; en soos by Trekkers van ouds hang baarde swaar aan brandewyndrinkende bakkies. Daar het inderwaarheid ’n kommersiële laer ontwikkel waarna die sosioloog Adriaan Steyn verwys as “Afrikaans, Inc”.
...............
Geloftevierings het in hierdie konteks ’n kern van hierdie kulturele selfgelding geraak. Aan die einde van die vorige eeu het Geloftedagvierings gekwyn soos wat Afrikaner-nasionaliste begin spartel het om ’n nuwe bedeling sonder apartheid te bedink. Groot Geloftedae by die Voortrekkermonument – ’n terrein wat de facto Solidariteit se heiligdom is – is dus nie bloot ’n voortsetting van ou patrone nie. Hierdie saamtrekke het lank reeds in die ou bedeling sy ritualistiese aard verloor. Die groeiende getalle van die afgelope paar jaar is ’n produk van goed georganiseerde ontnugtering en ontevredenheid.
Lees ook:
Our poisoned land: living in the shadows of Zuma’s keepers deur Jacques Pauw – ’n resensie
Lou-Marié Kruger in conversation with Azille Coetzee about Desire at the end of the white line


Kommentaar
Dis 'n no-brainer ja. En Suid-Afrika het geen nasionale identiteit nie. Geen nasionale letterkunde nie. 'n Sekere persentasie van mense behou maar altyd daai drang na 'n nasionaliteit. 'n Groepsgevoel. Weens klasverskille kan mense verder ook nie integreer en geen duidelike Suid-Afrikanisme ontwikkel nie. Daar was vir jare selfs geen Afrikaner in die kabinet nie. Groenewald is nou wel daar, maar vir 'n deel van die Afrikaners is die VF plus ook maar net 'n spul joiners wat salaris trek in die parlement. En Soliforum is ook maar in daai kraal volgens sommige. Veral dies wat hulleself as Boere beskou in plaas van Afrikaners.
My vermoede is verder dat die betekenis van sulke kulturele verskynsels verander en ontwikkel. Soos wat Kersfees en Jesus verskillende dinge vir verskille mense beteken, so is dit met Geloftedag. Die ou betekenisse taan en nuwes word gebore. Al is dit stadig en subtiel.
Daar was eintlik nog altyd groot verskille in terme van Geloftedag. Ek kan onthou as kind het ons ook Geloftedag herdenk. Maar my oupa was oortuig mens moet op Geloftedag kerk toe gaan. Die Gelofte stel dit immers dat die dag soos 'n Sabbat beskou moet word. So ons vannemerwetjies het nooit die feeste bygewoon nie. Net die kerk. Dit was kerk toe en terug huistoe. Die res was soos 'n tipiese dag. Dalk braai. Maar politiek is nooit in ons ouerhuis gepraat nie. Geloftedag was gewoon 'n belofte aan die Here.
Omdat my tuisdorpie Christiana, op die grens tussen Vrystaat, Noord-Wes en Noord-kaap was, was ek ook deeglik bewus van die feit dat die NG gemeentes oorkant die grens aan die Noord-kaap kant nie die Gelofte herdenk nie. Dit was in elk geval geen amptelike kerk inisiatief nie. Daar was 'n spesiale kommissie wat die byeenkoms gereël het, die kerk gehuur het, die spreker genooi het en die toebies en tee georganiseer het.
As' n voetnoot, die kritici van Geloftedag bewys hulleself geen gunste met die manier waarop hulle te werk gaan nie. Mens kon dit weer sien in 2024. Mense wat die fees herdenk, is gestereotipeer as barbare wat fees vier weens bloedvergietting. Hierdie is die soort van vertrapping van mense se identiteit wat groepsgevoel net verder aanwakker. Want dit vervreem mense van die sentrum.
Soos jou artikel dit stel, as die land gewerk het, sou Geloftefees verdwyn het. Mense wat opgee met een saak, gaan soek alternatiewe. Dis gewoon die aard van die mens.
Daar is in elk geval supposed to be ruimte te wees vir verskille. Ons SA landsleuse is diverse mense verenig. Verenig in diversiteit. Die ANC met hulle nasioname demokratiese revolusie soek egter nie diversiteit nie. Die kodewoord is 'nasiebou', en volgens 'nasiebou' moet etniese verskille uiteindelik verdwyn en 'n nuwe Suid-Afrikanisme ontwikkel. Die BELA wet wat moedertale teiken, is' n breek met die 1994 ooreenkomste, en is 'n verdere ontnugtering wat Afrikanernasionalisme stimuleer.
Geloftedag le ver terug vir my. Ek sien nie die punt om dit te vier nie. Want ek het intussen besef daar is nie so karakter soos God nie. Tog weet ek daar is verskeie ateiste wat wel nog die dag herdenk. As 'n kultuurdag.
Deur teen ander se kultuur te diskrimineer, doen sommige nie hul verkrygde ‘wokeness’ wat meer te make het met “die klok hoor lui..." en toe maar ge-“go with the flow“ het, gestand nie - wys jou net.
Stel voor hulle bepaal hul aandag op die vurk in die toekomspaadjie, daar waar die westerse wêreld besig is om regs te wil. Tot die groot Meta het sy Dei-program (diversiteit, gelykheid en inklusiwiteit) wat hom beywer het vir voorkeur behandeling van liberale en humanistiese groepe, gesksrap.
“One World” is 'n hersenskim.
Die politiek is 'n pendulum wat gedurig maar heen en weer swaai. Elke klompie jare hoor mens die uitroep: dis 'n swaai na regs! Dan woed dit maar weer later uit. Dis soos Bitcoin wat ten hemele opskiet, net om dan weer te tuimel vir 'n korreksie.
Ek wou nog noem:
Met die mees onlangse herdenking van die 1838-gelofte, het die historikus Louis Bothma daarop gewys dat die Afrikaners nie die enigste groep is met 'n gelofte nie. Hulle is nie eens die enigste Afrikaanse groep met 'n gelofte nie. So is daar byvoorbeeld die Rehoboth gelofte van 1915. Wat ook steeds jaarliks herdenk word op 8 Mei. Dan wonder mens of elke stam, volk en clan se geloftes ook so gemonitor en aan studies onderworpe word soos wat die Afrikanervolkie s'n worre. Dit herinner mens bietjie aan hoe die NG kerk die gay populasie bestudeer deur kommissies, verslae, studiestukke, ringsittings en sinodes. Tog is geloftedae uiteindelik net maar 'n groepie mense wat saamtrek, liedjies sing en hulle gode loof en prys. Dit is wat gode vereis van hulle volgelinge. Beloftes maak skuld! En gode wil besing en aanbid worre. Dankie vir daai dag toe ons so moes faaight en U ons voorsate gehelp het. Die tipe van ding. Onse Grondwet is 'n liberale grondwet en maak ruimte vir mense om hulle gode te aanbid op welke manier hulle verkies. Dit is nie eintlik interessant hoe dit gedoen word nie. Tensy mens seker 'n antropoloog van soorte is, met 'n bepaalde belangstelling in 'n spesifieke groep se doen en late en kultuur.
Bothma se voordrag kan op joetjoep gesien word:
https://m.youtube.com/watch?v=QzfxcSN3d00
Lees gerus ook "Die laaste Geloftedag bring hartseer" deur dr Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument. - https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/die-laaste-geloftedag-bring-hartseer/
Mensig, Danie Langer oortref homself met daardie artikel. Dankie daarvoor Hanno. Maroela Media is nie juis 'n nuusbron wat ek graag lees nie, maar mens moet seker soms 'n oog daar gaan gooi. Langer noem presies wat ek hier bo ook as my vermoedens gelys het. Nasiebou. En hoe nasiebou effektief eintlik Suid-Afrika se landsleuse weerspreek. Natuurlik kan mens nie Langer se relaas as verteenwoordigend van alle Boerkaners beskou nie. Maar ek sou vermoed dat 'n redelike noemenswaardige, gematigde deel van die Afrikaners, baai and large, sy sentimente deel. Die klem op God. Spesifiek. Sommige van sy stellings is ook natuurlik aanvegbaar. Byvoorbeeld sy opmerking dat daar "geen politieke ideologie" betrokke is nie. Mens weet nie of hy dalk bedoel geen partypolitieke ideologie nie. Of net namens homself en sy aanhangers praat nie. Politiek is egter gewis een dryfveer, ten minste vir sommige wat die dag herdenk.
Kom ons reflekteer egter vir 'n oomblik op die uitbeelding van Afrikaners se voorsate in Suid-Afrikaanse skoolgeskiedenis. My ervaring is, die Afrikaners word maar grotendeels swartgesmeer as kolonialiste, gronddiewe, indringers ens. Die Afrikaner-nasionaliste het hulle skewe beeld van die geskiedenis gehad, en die Afrika-nasionaliste het weer hulle eie gedienstige leerplanne vir geskiedenis. Deur middel van Geloftedag word daar iets anders uitgebeeld. Die Afrikaners en hulle geloof in hul God. Hulle stryd vir 'n plekkie in die son. Deursettingsvermoë. Toewyding. Ens. Idees en waardes waarop mense voel hulle kan bou. Anders as die letterlik verkrummelende staat van Suid-Afrika. Met sy paaie vol slaggate.
Of mens nou daarmee saamstem of nie, dit is, glo ek, hoe die dinge minder of meer daar uitsien.