Bela-wet: Op ’n heuwel daar ver

  • 2

Foto’s: Heindrich Wyngaard

“Die oranje het nie met wit te doen nie”: ’n verslag oor die groot BELA-betoging

Halfpad tussen die Voortrekkermonument-terrein en die ingang na die naburige Vryheidspark – met goeie historiese rede Versoeningsweg genoem – het hulle die wind van voor gekry. Dit was ’n koel, verfrissende wind wat aan die 10 000 optoggangers lafenis teen die versengende Gautengse hitte gebied het.

Maar eers die aankoms. “Dis vol, hoor,” groet Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, hierdie deelnemer en skrywer van hierdie verslag oor die “Groot Opmars”. Reeds van ’n afstand af kon ’n mens die honderde voertuie sien blink in die son, amper soos ’n plaat Namakwalandse veldblomme. “Skuus, meneer mag nie hier parkeer nie,” sê ’n aanwyser. “Dis vir die minister.”

Pieter Smith sing op die verhoog, maar hy is nie net hier as ’n kunstenaar nie; hy is ook ’n besorgde pa, word ons meegedeel. In die koelte van gazebos sit en gesels Steve Hofmeyr en Pieter Groenewald van die VF Plus, kompleet soos ek hulle ten tyde van vanjaar se KKNK by die Karoopot Restaurant op Oudtshoorn gesien het. “Jis, maar almal verloor dan gewig,” merk Hofmeyr op (en ek trek my maag in soos ek lag).

Kallie Kriel, hoof van AfriForum, laat hoor vanaf die verhoog van hom: “Die feit dat 10 000 mense opgedaag het, is ’n duidelike boodskap: Los Afrikaanse skole uit!” Dit is maklik 3 000 protesgangers meer as wat vooraf geregistreer het. Hieruit kan afgelei word dat hulle ag geslaan het op Kriel se persoonlike uitnodiging dat mense in hul massas moet optrek, “aangesien protes ongelukkig al taal is wat die owerheid ernstig opneem”.

’n Beeld kom by ’n mens op uit ’n ander, straks al vergete tyd (aangehaal uit die Afrikaanse joernalistiekikoon Schalk Pienaar se memoir Getuie van groot tye) van die 10 000 mense wat die begin van die Ossewatrek in 1938 aan die voet van Adderleystraat in Kaapstad bygewoon het – “’n volksdemonstrasie in die letterlike betekenis van die woord” was dit, aldus Pienaar in die hoofstuk “Ons wás toe so!”.

Hier, byna 90 jaar later, was dit weer so: individue en nagenoeg 40 organisasies, burgerlik en partypolities; “onderlinge, magbrekende twiste wat [die Afrikaner] tot spot van sy teenstanders maak” (uit Pienaar se boek) tydelik vergete en verenig teen die “boosheid” van twee klousules in die wysigingswet oor basiese onderwys, oftewel BELA. Die klousules handel oor die reg wat die wet, pas deur pres Cyril Ramaphosa onderteken, aan provinsiale onderwyshoofde gee om ’n skool se taal- en toelatingsbeleid af te keur. Ramaphosa het wel – in die gees van die nuwe regering van nasionale eenheid – drie maande toegelaat vir verdere beraadslaging tussen partye oor spesifiek die twee verdelende klousules.

Hulle is hier om hul stem van teenkanting te laat hoor; hulle is bejaard en bloedjonk en alle ouderdomsgroepe tussen-in; ewe veel, lyk dit, mans as vroue. Hulle is byna uitsluitlik wit Afrikaanssprekendes, maar saam met hulle – die skrywer van hierdie artikel ook in die bolling – word bruin en swart besorgdes ook verteenwoordig.

Selfs ’n man van Chinese afkoms, in DA-gewaad, word gewaar, en twee Khoisan-figure stap trots in die tradisionele drag van die land se inheemse mense saam.

***

Die oorgrote meerderheid protesgangers is in oranje geklee, die kleur van die dag se protes; ook die Voortrekkermonument is in oranje getooi en so sal dit wees vir die duur van die maand van November: “Oranje is bloot ’n kleur wat gekies is as ’n kleur van vryheid,” sê Theuns Eloff, een van die prominente leiersfigure van die protes, die oggend oor RSG. “Dis ’n kleur wat nie by enige politieke party tuishoort nie. So, dis baie meer simbolies.” Eloff beklemtoon: “Die oranje het nie met wit [wees] te doen nie.”

Maar die voorgestelde simboliese waarde daarvan oortuig nie almal nie; bied wel skietgoed aan die kritici: “The choice of the Orange Colour says a lot!” twiet die Gautengse premier Panyaza Lesufi. “This time you can’t exclude our children and succeed! We are not intimidated.”

***

Hier by die protes, weg van sosiale media, word ander politici egter deur joernaliste oorval met kameras en mikrone om die wêreld te laat weet dat nie almal soos die ANC se selfverklaarde vyand van Afrikaanse skole voel nie. DA-leier John Steenhuisen, wat in die RNE as minister van landbou dien, en Groenewald, minister van korrektiewe dienste, kry vooraf en gedurende die optog baie aandag. “En jy kan hoor ek is nie ’n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner nie,” sê Steenhuisen. Dit tref die oor. Maar jy hoef nie Afrikaanssprekend, isiZoeloe of isiXhosa te wees om vir die taal te veg nie, voeg hy by. “Laat die erwe van ons vaders vir ons kinders erwe bly,” betoog Groenewald.

Op die skerm, van links: Flip Buys, John Steenhuisen en Kallie Kriel

Teen die einde, wanneer die memorandums reeds oorhandig is, arriveer die nuwe darling van die wit Afrikaanse gemeenskap: PA-leier en minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie. Trots op sy krimpende middellyf en groeiende fiksheid, bevestig deur hoedat sy Proteas-kriekethempie hom pas, betree hy die verhoog met sy kenmerkende glimlag wat die spasie tussen sy twee voortande ontbloot.

Gayton McKenzie

McKenzie praat hárd, maar in ’n vriendelike stemtoon. Betuig sy dankbaarheid teenoor sy “baas” (Ramaphosa) oor hy ag geslaan het op vertoë deur hom, Steenhuisen en Groenewald om nie die twee omstrede klousules in werking te stel nie. En dan moet almal wat luister, dit weet: “Afrikaans is my moedertaal. Ek gaan hom praat. Niemand gaan my sê nie.” In die gehoor word ’n WhatsApp-boodskap op ’n selfoon getik en aan iemand gestuur. “Gayton praat nou. Hy weet hoe om mense op te sweep. Hy is oulik.”

“Oulike” Gayton gaan voort: “Ons gaan baklei, want Afrikaans gaan nowhere nie.” En oor toestemming vir die protesaksie, wat Vryheidspark se bestuur vooraf geweier het, deel hy die protesgangers mee hoe hy daarop gereageer het toe hy daarvan te hore gekom het: “Toe hulle sê Freedom Park sê hulle gaan nie die march toelaat nie, toe sê ek daai speel nie op my f*kkien TV nie!” Die gehoor kan hul lag nie keer nie. “Daai minister van ons praat kleurvolle Afrikaans, hè?” klop iemand aan vir my reaksie op die pad terug Voortrekkermonument toe. “Eie in sy soort,” sê ek, moeg van die hitte en die stof en die steilte van die koppie.

***

“Die geskiedenis herhaal homself nooit volkome en die lesse wat daaruit te leer is, is nie so duidelik en enkelsinnig geskrywe as wat propagandiste dit altyd wil laat skyn nie,” skryf NP van Wyk Louw in sy opstel “Die ewige trek”. Maar die wording van ’n volk hou ’n baie bepaalde les in, naamlik dat dit altyd ’n waagspel is. Wat hy daarmee bedoel, is: “Tussen die grootmagte moet hy opkom soos ’n plantjie tussen die pote van die grootvee opkom. Elke oomblik kan hy vertrap word.” Dan maan hy: “Bewaar hom, as hy meen dat sy ‘reg’ alleen hom sal beskerm in ’n wêreld van magsbewegings.”

Hieroor – die “wêreld van magsbewegings” – weet die ANC heelwat, soos wat Eloff, Kriel en Dirk Hermann in die onlangse verlede gereeld aandui. In die taal van die eertydse bevrydingsbeweging word dit balance of forces genoem. Om jouself dus bloot te berus op die “reg” van Afrikaanse kinders om in hul moedertaal onderrig te word, soos in die Grondwet verskans, sal maak dat jy nie die fynskrif raaklees in die BELA-wet dat skoolbeheerliggame op ’n skool se taal- en toelatingsbeleid kan besluit, maar dat ’n provinsiale onderwyshoof dit kan kelder nie.

En dit is wat gelei het daartoe dat die land Dinsdagoggend ’n oranje-gekleurde, eietydse Groot Trek (opmars, saamtrek) uit die uithoeke van die land, op ’n heuwel met ’n uitsig oor die hoofsetel van die RNE, gade geslaan het.

***

Maar daar was terselfdertyd ’n teken van wat Pienaar “malkop-dinge” genoem het in die konteks van sy genoemde memoirhoofstuk. Dit gebeur soos volg: “Julle het min werk vandag, nè?” merk twee wit mans (skertsend) na afloop van die protesaksie teenoor drie swart skoonmakers op. “Want die wit man hy mors nie.” Uit beleefdheid (of was dit verleentheid?) lag ek toe maar saam toe hulle my aan die oorkant oplet waar ek weglê aan ’n droë boereworsrolletjie om die oggend se honger te stil.

  • Foto’s: Heindrich Wyngaard
  • Heindrich Wyngaard is voorsitter van die burgerregte-organisasie Kaapse Forum, wat aan die protesaksie deelgeneem het. Hierdie artikel skryf hy in sy persoonlike hoedanigheid as ’n LitNet-bydraer.
Lees en kyk ook:

BELAB onderteken: ’n onderhoud met Jaco Deacon

Reguit met Robinson: Onderwyssektor onder beleg

  • 2

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Klink na 'n lekker Sollieforum en kie jol. Ek wonder of die Bittereinders ook daar was. Julle het seker ook die verrigtinge met Skriflesing en gebed geopen, of hoe Heindrich? En watter liekie het Steve vir julle gesing, hmmm? Was dit... Was dit wat ek vermoed dit was? Die Stem van Suid-Afrika? Ek het net gesien Izak, wat saam marsjeer het, het later op sy Nuuspod die kykers getrakteer op 'n kakofoniese weergawe van die Stem. Steve op kitaar en Izak wat vanuit Mbombela (ander 'bela') saamsing.

    Toe hoor ek Kallie se op Netwerk24 dat hulle nou vir Ramaphosa onder geweldige druk geplaas het met die optog van hulle (https://www.netwerk24.com/netwerk24/kyk-en-luister/podsendings/politieke-rapport/luister-oranje-by-die-voortrekkermonument-en-in-amerika-20241108)

    Maar LitNet se Izak het veel meer somber en verdoemend reageer (https://www.litnet.co.za/elders-gesien-oranje-het-hierdie-week-n-slegte-naam-gekry/).

    Flip het 'n fassinerende brief gerig tot die kerke. In aanloop tot die verrigtinge. Het jy dit gesien hmmmm? Vir Flip is die stryd teen BELA skynbaar 'n kosmiese stryd tussen kinders van die Lig en die magte van boosheid (https://aanlyn.solidariteit.co.za/publieke/artikel/die-toekoms-van-die-kerk-loop-deur-die-skoolbanke).

    Nou ja, sal maar moet sien wat lê voor. Wat besluit die mense wat in tjaarts is. En of daar hofsake gaan volg.

  • Hendrik Theys

    Ek voel jammer vir Van der Merwe en Kie wat as hoogheilige kritikasters vanuit hulle ivoortorings kritiek lewer op die BELA-protes.
    Hierdie twee artikels wat die ANC wil deurvoer skend die OUERS se keuse oor die onderrig in die taal van hulle keuse, 'n praktyk wat wêreldwyd gerespekteer en toegepas word. Hierdie oogmerk van taalhegemonie is 'n verkynsel wat alle koloniale moondhede ingespan het om onderwerping te verseker. Die ANC doen nou presies dieselfde. Hierdie twee artikels het verreikende gevolge vir ál ons inheemse tale.
    Die Wet op Skoolbeheerliggame was een van die mees progessiewe wetgewings van die "nuwe" Suid-Afrika, maar die ANC besef nou dit was 'n fout.
    As Van der Merwe enige kledingstuk met groen, geel, swart, rooi of blou dra, wil ek glo dat hy ' n klakkelose na-aper van die ANC, PAC, EFF of PA is. Moenie simboliek agter elke bos soek nie.
    Kom ons redeneer nugter oor kwessies soos moedertaalonderrig, die rol van onafhanklike skoolbestuur, effektiewe onderrig by honderde disfunksionele skole in ons land en wanadministrasie in die onderwys.
    Bied asseblief oplossings aan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top