BELAB onderteken: ’n onderhoud met Jaco Deacon

  • 0

Foto van Jaco Deacon: verskaf

Die BELAB (Wysingswet op Basiese Onderwys) is Vrydag 13 September deur president Cyril Ramaphosa onderteken – met uitsluiting van klousules 4 en 5 op hierdie stadium. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), beantwoord Naomi Meyer se vrae oor hierdie gebeurtenis, wat al jare lank sloer.

Jaco, president Cyril Ramaphosa het toe die BELAB onderteken. Was dit na jou gevoel onafwendbaar? Hy het darem ’n tyd lank hiermee gesloer.

.............
Die interne proses het in 2013 afgeskop en die eerste konsep is op 13 Oktober 2017 vir openbare kommentaar gepubliseer. Die ondertekening was een maand kort van ’n sewe jaar lange formele proses.
.............

Die interne proses het in 2013 afgeskop en die eerste konsep is op 13 Oktober 2017 vir openbare kommentaar gepubliseer. Die ondertekening was een maand kort van ’n sewe jaar lange formele proses. Die parlement van die sesde administrasie het die konsepwet op die laaste sitting voor die verkiesing goedgekeur en daarmee die wetgewende proses afgehandel, maar die ondertekening (bekragtiging) het eers vier maande later plaasgevind. Ons weet daar was baie druk op die President vanuit sy eie party om dit te onderteken en hy sou waarskynlik minder vrae moes beantwoord het as hy die konsepwet voor die verkiesing onderteken het. Deel van sy dilemma is dat die sewende administrasie wesenlik anders daar uitsien as die administrasie voor die verkiesing en dat daar skielik baie meer rolspelers in die regering (nou ‘n RNE) is. Dit lyk of die President deurlopend ’n eierdans tussen hierdie pole moet uitvoer, en dit ook nog onder ’n wolk van omstrede bepalings in die konsepwet en dreigemente van hofsake.

Die mees opspraakwekkende aspek van die ondertekening is die feit dat klousules 4 en 5 nie ingesluit was by die ondertekende wet nie. Wil jy dalk uiteensit wat hierdie twee klousules spesifiek behels?

Die twee klousules handel in wese oor die bepaling van toelating- en taalbeleid in skole. Die verantwoordelikheid vir die bepaling van die beleid was altyd volgens wetgewing in die hande van beheerliggame, en dit is begrens deur ’n paar hofuitsprake van die Konstitusionele Hof. Die konsepwet het in van die eerste weergawes hierdie magte wesenlik ingeperk deur die onderwyshoof magte te gee in die opstelproses en dit het die skeiding van magte tussen beheerliggame en die staat verwater tot ’n staatskoolmodel. Onderwyshoofde kon inhoud bepaal en veto en die finale seggenskap hê. Na baie vergaderings, openbare verhore en debatte is hierdie klousules wesenlik aangepas om meer te handel met prosesse vir besluitneming soos uiteengesit in die hofuitsprake van die Konstitusionele Hof en daar was weer ’n behoorlike skeiding van magte.

.............
Daar is egter steeds ’n paar lastige duwweltjies in die bepalings, onder andere dat ’n onderwyshoof ’n skool kan "direct" om sy taalbeleid te verander. Dit is ’n harde term was teen die vennootskapbeginsel en samewerkende regering indruis en die deur wawyd oopmaak vir moontlike magsmisbruik.
...............

Daar is egter steeds ’n paar lastige duwweltjies in die bepalings, onder andere dat ’n onderwyshoof ’n skool kan "direct" om sy taalbeleid te verander. Dit is ’n harde term was teen die vennootskapbeginsel en samewerkende regering indruis en die deur wawyd oopmaak vir moontlike magsmisbruik. Hierdie twee klousules het by verre die meeste openbare kritiek (en emosie) ontlok en daar was vele politieke partye en organisasies wat aangedui het dat die grondwetlikheid van hierdie klousules in die hof getoets sal word. 

Watter ander klousules van die wet mag dalk spesiale aandag trek? Hierdie wysigingswet het ook implikasies met betrekking tot tuisskoolleerders en alkohol op die skoolterrein, of hoe?

Ek dink Suid-Afrikaners moet baie bekommerd wees oor die bepalings van sentrale aankope deur die departement. Die redenasie van "skaalbesparings" maak besigheidsin, maar die staat het nie ’n goeie historiese verslagkaart as dit by aankope kom nie.

.............
Ek dink Suid-Afrikaners moet baie bekommerd wees oor die bepalings van sentrale aankope deur die departement. Die redenasie van "skaalbesparings" maak besigheidsin, maar die staat het nie ’n goeie historiese verslagkaart as dit by aankope kom nie.
................

Die Zondo-kommissie het duidelik ’n groot aantal gebreke uitgewys, en tot Suid-Afrika ‘n volledig professionele staatsdiens het met behoorlike maatreëls om bedrog en korrupsie hok te slaan, skep die artikel ruimte vir grootskaalse misbruik wat ons baie duur te staan gaan kom.

Die tuisskoolgemeenskap het hulle stem behoorlik laat hoor gedurende die openbaredeelnamesessies en was gekant teen strenger regulering van die sektor. Daar was wel kleiner aanpassings in die finale weergawe, maar ek is nie seker of almal daarmee tevrede sal wees nie. Die bepalings oor die verklarings van finansiële belange van beheerliggaamlede van die verkoop van alkohol is in die finale weergawe weggelaat.

Die verpligte skoolgaande ouderdom is ook verlaag om die aanvangsgraad (graad R) formeel deel te maak van die skoolomgewing. Dit het ’n reuse finansiële implikasie, omdat daar na verwagting nagenoeg 1,2 miljoen leerders in die stelsel bygevoeg sal word. Die implikasie is duisende bykomende opvoeders en toegeruste klaskamers. Hoewel daar baie eenstemmigheid oor die opvoedkundige waarde is, is daar tereg bekommernis oor die bekostigbaarheid terwyl die sektor tans poste afskaf en sukkel om graad 1 tot 12 behoorlik te bedryf en te finansier.

Vanuit ’n regsoogpunt: Is hier noodsaak om die Skolewet of die Wet op Basiese Onderwys te wysig? (Wat is die verskil tussen die twee – en is een van die twee ’n sambreelterm waaronder die ander een ressorteer?) Watter aspekte van die Skolewet het nodig om verbeter of verfyn te word – en watter aspekte word wel nou aangespreek in die wysigingswet wat onderteken is?

Ons het ’n Nasionale Departement van Basiese onderwys en die bekendste wette in die sektor is die Suid-Afrikaanse Skolewet (84 van 1996), die Wet op Nasionale Onderwysbeleid (27 van 1996) en die Wet op die Indiensneming van Opvoeders (76 van 1998). Die laaste wysigings was in 2011 en daar het sedertdien baie water in die see geloop. Ons het rigtinggewende hofuitsprake gehad, die wêreld lyk en werk anders (dink byvoorbeeld aan die lesse wat ons tydens Covid geleer het, die koms en gebruik van KI, en behoeftes in die gemeenskappe), en die onderwyssektor moet daarby kan aanpas, en daar was ook ’n noodsaak om operasionele praktyke te verfyn. Die wysiging van wette is nie vreemd nie, maar daar moet steeds voldoen word aan die oogmerke van die bepaalde wette.

Daar was dringende behoeftes in die sektor wat aangespreek moes word, soos tekortkominge aan definisies soos dié oor lyfstraf, lenings en waar personeel ’n goederevoordeel ("benefit in kind") ontvang. Daar was tekortkominge om persone wat onderwys ontwrig of nie hulle take vervul nie, behoorlik aanspreeklik te hou. Belangrike hofuitsprake se toepassing moet bygevoeg word om byvoorbeeld voorsiening te maak vir die hantering van ongedokumenteerde leerders. Skole moes beter leiding kry oor die hantering van spesifieke kulturele en godsdienstige versoeke wat met die skool se gedragskode verband hou – om maar enkeles te noem.

Die meeste van die bogenoemde sake (en ander) is in die wysigings aangespreek. Die definisies is aangepas, hofuitsprake is bygewerk en die wet maak dit ’n kriminele oortreding indien enige persoon verhinder dat ’n kind onderrig ontvang of waar ouers vals inligting aan skole gee.

............
Omdat die proses so lank geduur het en die departement haastig geraak het, het meer onlangse verwikkelinge, soos die lesse wat ons tydens Covid geleer het oor e-leer en die jongste tegnologiese ontwikkelinge, in die slag gebly. Ons kan nie weer 13 jaar wag om tred te hou met behoeftes nie, en die volgende proses sal amper dadelik moet afskop.
...............

Omdat die proses so lank geduur het en die departement haastig geraak het, het meer onlangse verwikkelinge, soos die lesse wat ons tydens Covid geleer het oor e-leer en die jongste tegnologiese ontwikkelinge, in die slag gebly. Ons kan nie weer 13 jaar wag om tred te hou met behoeftes nie, en die volgende proses sal amper dadelik moet afskop.

Wat voorsien jy betreffende die toekoms en verdere wysigings aan die Wet op Basiese Onderwys of die Skolewet? Dink jy dat klousules 4 en 5 mettertyd doodgewoon wel tot die ondertekende Wet toegevoeg sou kon word en dan deur die President se handtekening bekragtig sal word? Wat staan ouers op hierdie stadium te doen – is daar rede om verder met die President hieroor in gesprek te tree, en sal dit enige verskil maak?

Die realiteit is dat klousules 4 en 5 deel is van die wet wat klaar onderteken is. Dit is net die implementering wat met drie maande uitgestel is vir verdere gesprekvoering. Dit sal outomaties na drie maande in werking gestel word indien dit nie deur ’n wysigingswet herroep word nie.

..............
Die realiteit is dat klousules 4 en 5 deel is van die wet wat klaar onderteken is. Dit is net die implementering wat met drie maande uitgestel is vir verdere gesprekvoering. Dit sal outomaties na drie maande in werking gestel word indien dit nie deur ’n wysigingswet herroep word nie.
................

Die President het tydens sy aankondiging geen verdere inligting hieroor gegee nie en senior personeel in die departement het ook nog geen opdragte in dié verband ontvang nie. Die President sal moet aandui of hierdie gesprek in die parlement gaan plaasvind en of ander partye en/of die publiek ook weer insette sal kan lewer. Die proses sou baie eenvoudiger gewees het indien Ramaphosa die RNE in sy vertrou geneem het en die konsepwet na die parlement terugverwys het vir verdere gesprekke.

Lees ook:

BELAB: ’n onderhoud met Jaco Deacon

Die Bela-wet is parlementêr aanvaar: ’n onderhoud met Jaco Deacon

Verander die regering hulle deuntjie oor die Bela-wetgewing?

BELAB en moedertaalonderrig: ’n gesprek met Jaco Deacon aan die begin van 2024

SA Skoleseminaar: Besnoeiing van onderwysbefondsing

Krisis in die onderwys: ’n onderhoud met Hanlie Dippenaar

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top