Krisis in die onderwys: ’n onderhoud met Hanlie Dippenaar

  • 1

Prent: Canva

Daar is onlangs berig dat daar besnoeiings in die onderwysbegroting sal plaasvind en dat alle provinsies se onderwysdepartemente deur die gebrekkige nasionale begroting geraak word. Onderwysposte by openbare skole is weens gebrekkige finansiering onafwendbaar in gedrang.

Alta Engelbrecht het haar gedagtes daaromtrent hier uitgespreek.


Alta Engelbrecht gesels hier onder met Hanlie Dippenaar, adjunkdekaan: by die Wellington-kampus van KSUT, oor die krisis waarin die onderwys gedompel is weens die WKOD se aankondiging dat 2 400 poste in die Wes-Kaap besnoei moet word.

Hanlie, kom ons begin by die kernvraag: Hoe word leerders se basiese regte deur hierdie besnoeiing aangetas?

.........
Ons leerders het die reg op kwaliteitonderwys, en hierdie finansiële inperkinge gaan beslis ’n invloed op leerders se welstand en geestestoestand hê. Leerders het individuele aandag nodig, veral in die aanvangsjare, en groot klasse bemoeilik die taak van die onderwysers waar leerders met verskillende leerbehoeftes in een klas geakkommodeer moet word.
............

Ons leerders het die reg op kwaliteitonderwys, en hierdie finansiële inperkinge gaan beslis ’n invloed op leerders se welstand en geestestoestand hê. Leerders het individuele aandag nodig, veral in die aanvangsjare, en groot klasse bemoeilik die taak van die onderwysers waar leerders met verskillende leerbehoeftes in een klas geakkommodeer moet word.

En natuurlik sal die arm skole weer die swaarste kry?

Ja; ongelukkig is dit juis die skole wat veilige vervoer, ekstra veiligheidsmaatreëls en voedingskemas die nodigste het. Dis ook hierdie skole wat veral nie die getal leerders per klas wil verhoog nie, aangesien leerders individuele aandag nodig het, veral met lees en wiskunde.

Hoe dink jy sal die semigrasie na die Wes-Kaap hierdeur geraak word?

Skole in die Wes-Kaap bars reeds uit hulle nate! Dis baie moeilik vir nuwe intrekkers om op kort kennisgewing plekke in skole te kry, en ouers sal betyds moet aansoek doen om plekke te verseker. Alle nuwe leerders in die Wes-Kaap het die reg op effektiewe en hoëgehalte-onderwys, maar logisties het skole net nie nog kapasiteit nie. Tuisonderrig word al hoe meer die keuse van baie ouers, maar daar is ook nou vrae rakende die ondertekening van die Bela-wetsontwerp wat tuisonderrig reguleer. Tuisonderrig sal egter moontlik die oplossing vir baie ouers word, veral in die Wes-Kaap.

Aangesien hierdie krisis ontstaan het weens die nasionale tesourie se gebrekkige finansiering van provinsiale regerings se onderwysbegroting, moet dit sekerlik oorspoel na die ander provinsies toe? Is daar al enige bevestiging hieroor?

Soos ek van die WKOD verstaan, sal daar geen aflegging van permanente onderwysers in die Wes-Kaap wees, nie, maar kontrakposte sal moontlik nie hernu word nie. Dit blyk dat KwaZulu-Natal ook swaar getref gaan word, en hulle het aangedui dat daar ‘n finansiële tekort gaan wees wat minstens 11 000 poste in gedrang sal bring. Alle provinsies is tans besig om hulle eie interne oplossings te soek en besnoeiings op verskeie gebiede te oorweeg, om sodoende onderwysers se poste te bly beskerm. Almal besef duidelik die implikasies van minder onderwysers in ons skole en gevolglik meer leerders per klas. Hierdie verdere besnoeiings sal heel moontlik leerders se vervoerskemas, kosskemas en veiligheid bedreig, en leerders en hulle ouers onder baie druk plaas.

Die sny van poste moet die laaste uitweg wees. Wat kan gedoen word om ’n oplossing te vind?

Dit is duidelik dat daar finansiële druk op die Departement van Onderwys is. Ek voel onderwys is die laaste item op die finansiële begroting wat onder druk geplaas moet word. ’n Moontlike oplossing kan wees om ’n verpligte een-jaar-internskap vir nuwe onderwysers in te bring, wat die druk kan verlig.

Is daar enige moontlikheid dat geld iewers vandaan gekry kan word om die krisis te besweer?

Die minister van basiese onderwys is tans besig om alle moontlikhede te ondersoek, en die behoeftes van die leerders lê haar na aan die hart. Ons glo en vertrou sy sal ’n oplossing vind wat nie ons onderwys in ’n slegter posisie sal plaas as wat ons reeds is nie. Ek het baie vertroue dat sy alles in die stryd sal werp om steeds hoëkwaliteit-onderwys beskikbaar te stel. Dit sal egter die verantwoordelikheid van ons ouers wees om onderwysers te ondersteun en te bemagtig.

Die ironie is dat Suid-Afrika, wat onderwysers so bitterlik nodig het, nou daarop fokus om onderwysergetalle te verminder. Jou kommentaar?

Ons onderwysstelsel gaan beslis onder druk wees vir die volgende paar jaar en dit hang ongelukkig saam met die druk op die ekonomie, wat steeds gebuk gaan onder korrupsie en wanbesteding van beskikbare fondse. Hierdie ekstra druk sal hopelik nog meer sisteme daarstel om te verseker dat geen geld tussen die vloerplanke deur wegvloei soos wat tans nog in baie areas gebeur nie.

In watter mate dink jy sal hierdie dilemma voornemende onderwysers afskrik om wel onderwys as ’n loopbaan te kies?

Ongelukkig is die gevolg dat talle jong studente eerder groener weivelde gaan soek en in die buiteland poste gaan aanvaar. Ons onderwysers is gesog en die salarisse wat aangebied word, is aansienlik hoër as wat hulle hier verdien.

.........
Ongelukkig is die gevolg dat talle jong studente eerder groener weivelde gaan soek en in die buiteland poste gaan aanvaar. Ons onderwysers is gesog en die salarisse wat aangebied word, is aansienlik hoër as wat hulle hier verdien.
...........

Dit, saam met die huidige moeilike omstandighede in sommige skole, gebrek aan klasdissipline en druk op onderwysers om steeds meer ure te werk, is nie tot voordeel van onderwys in ons eie land nie. Dit beteken egter ook dat voornemende onderwysstudente hulle vakkeuses versigtig sal moet kies. Onderwysers met skaars vakke soos wiskunde, natuurwetenskap en tegnologie sal altyd gesog wees.

Lees ook:

Verander die regering hulle deuntjie oor die Bela-wetgewing?

SA Skoleseminaar: Besnoeiing van onderwysbefondsing

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top