
Prent: Canva
Daar is onlangs berig dat daar besnoeiings in die onderwysbegroting sal plaasvind en dat alle provinsies se onderwysdepartemente deur die gebrekkige nasionale begroting geraak word. Onderwysposte by openbare skole is weens gebrekkige finansiering onafwendbaar in gedrang.
Alta Engelbrecht spreek haar gedagtes aangaande die kwessie hier onder uit.

Alta Engelbrecht (foto: verskaf)
Dit moes nooit gebeur het nie.
Die beoogde besnoeiing van onderwysbefondsing in 2025 het skokgolwe deur die onderwyssektor gestuur. As gevolg van ’n salarisooreenkoms wat in 2023 gesluit is en waarvan slegs 64% deur die nasionale tesourie gefinansier is, sal R2,5 miljard van onderwyssalarisse vir 2025 gesny word. Meer as 2 400 onderwysposte in die Wes-Kaap is op die spel, en vir die ander provinsies wag waarskynlik dieselfde lot. Provinsies soos KwaZulu-Natal (R4 miljard agterstand), Mpumalanga (R876 miljoen agterstand) en Noordwes (R485 miljoen agterstand) verkeer reeds onder geweldige finansiële druk.
Alhoewel die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, die versekering gee dat onderwysers nie afgelê, maar herontplooi sal word, wek dit steeds kommer. Dit sal waarskynlik lei tot ’n versnelde eksodus van onderwysers na lande soos China, die VAE en Suid-Korea, waar hulle beter vergoeding en werksomstandighede kan kry.
...........
Dit sal waarskynlik lei tot ’n versnelde eksodus van onderwysers na lande soos China, die VAE en Suid-Korea, waar hulle beter vergoeding en werksomstandighede kan kry.
............
Die reeds hoë werkloosheidsyfer in Suid-Afrika sal verder styg, terwyl die probleem van oorvol klaskamers in ’n land waar 82% van graad 4-leerders nie met begrip kan lees nie, sal vererger. Met meer as 12,9 miljoen leerders wat deur slegs 410 000 onderwysers onderrig word, is daar reeds ’n ernstige tekort, om nie eers te praat van die verreikende gevolge wat dit vir die ekonomie, gemeenskapsontwikkeling en misdaadsyfers inhou nie.
Die besnoeiing van onderwysbefondsing dra by tot die dieper probleme van swak bestuur en vermorsing, wat die onderwysstelsel op die rand van ’n krisis plaas. Dit illustreer die vernietigende gevolge van staatskaping en die wanbestuur van openbare fondse oor dekades heen.
..........
Die besnoeiing van onderwysbefondsing dra by tot die dieper probleme van swak bestuur en vermorsing, wat die onderwysstelsel op die rand van ’n krisis plaas. Dit illustreer die vernietigende gevolge van staatskaping en die wanbestuur van openbare fondse oor dekades heen.
...........
Maar die nasionale tesourier gooi hulle hande in die lug oor hierdie besnoeiing en verklaar dat daar gewoon nie meer geld is nie. Die nuwe minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, probeer tans deur ’n strategiese leierskapsplan die presiese tekortkominge in die begroting identifiseer, in die hoop dat die nasionale tesourie gedwing sal word om noodsaaklike besluite te neem. Een ding is duidelik: Die tyd om te belê in die land se onderwysers is nou. Onderwysers is die waarborg dat die volgende geslag opgevoed sal wees. Goeie (en genoeg) onderwysers is die enigste verweer teen die moontlike verval van die samelewing.
Dit moes nooit gebeur het nie.
Lees ook:
’n Donker wolk en ’n nuwe skooljaar: ’n gesprek met ’n skoolhoof van Kuilsrivier
Skoleseminaar en Wysigingswetsontwerp: waarom Afrikaanse ouers moet kennis neem