"As ’n kind kan lees, kan hy vorder in die lewe": ’n onderhoud met Chareldine van der Merwe oor die VVA se lewensbelangrike leeskonferensie

  • 4

“’n Donker wolk,” sê hy dan. “Ek kan dit nie anders beskryf nie. Ek wil amper sê … mens adem dit in as jy die woonbuurt binnery.”

Só begin ’n onderhoud wat aan die begin van hierdie skooljaar met ’n skoolhoof van Kuilsrivier, wat verkies het om anoniem te bly, gevoer is. Lees die onderhoud hier.

Die skoolhoof het oor die situasie in sy skool gepraat. Die verlies van onderwystyd het ’n katastrofiese effek op baie skole, opvoeders en kinders gehad.

Dit is ook so deur Faeed Amardien ondervind, en ook deur Earl Basson.

Is alles verlore? Hoe nou gemaak?

Die ATKV se VVA het op 7 Mei in samewerking met die WKOD (Metro-Oos Onderwysdistrik) ’n leeskonferensie by CTLI in Kuilsrivier aangebied.

Chareldine van der Merwe het telefonies met Naomi Meyer oor dié belangrike geleentheid gepraat.

Chareldine, sal jy my vertel wat op die program was?

Hier is ’n program van die geleentheid:

Chareldine, toe jy my die agtergrond hiervan vertel het, kon ek hoor die konferensie het nie net oor lees gehandel nie. Dit was ’n geleentheid om onderwysers toe te rus. Wil jy dalk begin deur te vertel wat die Onderwysdepartement gesê het?

Trevor Daniels, die kurrikulumhoof van Metro-Oos, het die geleentheid geopen.

Hy het vertel hoe die kinders in die omgewing waar hy werk, die afgelope tyd akademies gevaar het. Een aspek staan uit: Kinders se taalvaardighede is swak. Hulle punte is baie laag as dit by tale kom.

Een van die probleme is dat navorsing getoon het kinders word aan te min woorde blootgestel. Hulle sien te min woorde in boeke, lees te min en het dikwels nie toegang tot boeke nie.

............
Een aspek staan uit: Kinders se taalvaardighede is swak. Hulle punte is baie laag as dit by tale kom.
Een van die probleme is dat navorsing getoon het kinders word aan te min woorde blootgestel. Hulle sien te min woorde in boeke, lees te min en het dikwels nie toegang tot boeke nie.
...............

Die President het ’n aankondiging gemaak. Hy wil teen 2030 hê alle tienjariges moet met begrip kan lees. Ons (dis nou die VVA en die Onderwysdepartement) gaan moet koppe bymekaarsit en kyk hoe ons hierdie droom kan laat verwesenlik.

Trevor Daniels, die kurrikulumhoof van die WKOD, Metro-Oos Onderwysdistrik (foto: verskaf)

Was die konferensie spesifiek gemik op lees?

Nee, dit was ’n konferensie wat oor baie meer as net lees gehandel het. Dit was ’n konferensie wat hulp vir opvoeders aangebied het. Die opvoeders is toegerus met nuwe kennis: julle is belangrik, opvoeders!

René Arendse was ’n motiveringspreker hier. Sy het klem gelê daarop dat onderwysers angstig en moedeloos is. Die Covid-regulasies het veroorsaak dat kinders nie heeltemal op die ontwikkelings- en vorderingsvlak is waar hulle moet wees nie. En dit het ’n impak op die onderwysers.

Die onderwysers moet die kinders deur hulle werk kry, maar hulle ... die onderwysers is so moedeloos. Hulle is onder so baie druk.

In René se praatjie het sy onderwysers aangemoedig om na hulleself om te sien. Sy het gesê jy kan nie iets gee as jy nie iets het nie, en as jy self so afgerem is, dan gaan die kinders nie baat nie. Die onderwysers word oorlaai met administrasie, met ekstra take, en selfsorg is baie belangrik. Dus: Onderwysers, sien eers om na julleself!

...........
Dus: Onderwysers, sien eers om na julleself!
............

René Arendse (foto: Chareldine van der Merwe)

Chareldine, waaroor het jou gedeelte van die konferensie gehandel?

Ek het gepraat oor wat die boublokke van leesvaardigheid is. Ek het vertel dat kinders hulle sintuie moet gebruik om die geskrewe woord te kan ontsyfer. Fynmotoriese en grootmotoriese vaardighede is belangrik – nie net vir sport en speel nie, maar ook vir lees.

.........
Fynmotoriese en grootmotoriese vaardighede is belangrik – nie net vir sport en speel nie, maar ook vir lees.
............

Kinders op vierjarige ouderdom moet kan onderskei tussen links en regs, want mense lees van links na regs. Die eerste ses jaar van ’n kind se lewe is die belangrikste. Dis ’n blinde kol in die onderwys ... ons gee nie aandag aan daardie ouderdom kinders nie .... en dan kom hulle by die skool aan met ’n agterstand.

Christien Neser, Nunia Joseph, Shireen Crotz en Chareldine van der Merwe (voor) - foto: verskaf deur Chareldine van der Merwe

Toe ek hoor julle bied ’n leeskonferensie aan, het ek dadelik aan storieboeke gedink.

Ons het ook oor storieboeke gepraat! Maar ook hoe belangrik dit is om te kan lees wanneer ’n kind begin leer. Lees met begrip!

Ek het ook in my deel van die praatjie gesels oor voorlees. Die VVA het ’n boektrommelprojek waarmee die VVA deurlopend besig is. Hiermee probeer ons om die boeke na die mense te bring.

............
58% van alle Suid-Afrikaanse huishoudings besit nie ’n boek in hulle huis nie.
Dis die realiteit.
Ma moet kies tussen ’n brood en ’n boek. So dan kies mens natuurlik ’n brood.
............

58% van alle Suid-Afrikaanse huishoudings besit nie ’n boek in hulle huis nie.

Dis die realiteit.

Ma moet kies tussen ’n brood en ’n boek. So dan kies mens natuurlik ’n brood. Maar die realiteit is ook die onderwysers is moedeloos! Die kinders lees nie genoeg nie.

Watter wenke het julle aan onderwysers en ouers gegee ten opsigte van lees?

Dit sluit aan by die voorleesgedagte. Ek het gesê as ’n manlike gesagsfiguur, soos ’n onderwyser, in sy klas boeke het, of ’n pappa lees in die aand vir sy kind ’n storie, dan gaan die kinders dink: “Pappa is baie kere besig, maar hier maak hy tyd vir my. Lees is belangrik, en ék is belangrik. My pa of my ouma, of oupa of mamma, maak tyd om vir my te lees.”

Kinders moenie voel lees is ’n straf nie. Dit word aanbeveel dat daar ’n leeshoekie in die klaskamer moet wees.

Christien Neser (foto: verskaf deur Chareldine van der Merwe)

Daar was ook iemand wat oor ’n inklusiewe klaskamer gepraat het. Wat beteken dit?

Christien Neser, ’n spraakterapeut,  skrywer en  leeskundige was ook ’n spreker by ons geleentheid. Sy het gepraat van ’n klaskamer waar daar ’n klomp verskillende kinders sit, ’n Liquorice Allsorts-groep mense. Met verskillende agtergronde en behoeftes.

Baie kere sit onderwysers met 50 of 60 verskillende soorte kinders in ’n klas. Daar is kinders wat net sukkel om deur die dag te kom, regop te bly en staande te kan bly.

Hoe gemaak as kinders in die klas outisties is? Hoe gemaak as daar kinders is wat vinnig vorder, en ander wat uit heeltemal ander omstandighede kom?

...........
Baie kinders word tuis afgekraak, of daar word nie aandag gegee nie. En by die skool het die onderwyser ’n ontsaglik belangrike rol om te speel – om aandag en komplimente te gee. Om ’n kind te prys en te laat goed voel.
............

Baie kinders word tuis afgekraak, of daar word nie aandag gegee nie. En by die skool het die onderwyser ’n ontsaglik belangrike rol om te speel – om aandag en komplimente te gee. Om ’n kind te prys en te laat goed voel.

Laai ook Christien Neser se volledige bydrae by die geleentheid hier af.

Julle leeskonferensie het glad nie net oor lees gehandel nie!

Die ding is: Lees raak eintlik alle aspekte van die samelewing en van opvoeding. Dit gaan oor baie meer as die lees van ’n storieboek. Dit gaan oor alles wat agter die lees van die storieboek lê ook. Dit gaan oor menseverhoudinge. Dit gaan oor die ménse in die klas: onderwysers en kinders!

Dokka Swart (foto verskaf deur Chareldine van der Merwe)

Vertel my van die “doen en leer”-program, asseblief.

Wat het uitgestaan met die “Doen en Leer”-program?

Dokka Swart het dit aangebied. Sy het gepraat oor die eenvoud van doen en leer. Weet jy, dit sluit op ’n manier aan by wat ek ook sê: Leer sintuiglik lees.

Dokka praat van lees met die liggaam … hoe kinders met die volledige liggaam kan leer lees. (Rose Botha het ook haar ervaring en kennis in die program ingesit.)

Foto van konferensiegangers (foto verskaf deur Chareldine van der Merwe)

Wat was vir jou ’n hoogtepunt van die geleentheid?

Die hoogtepunt was dat ’n mamma daar aangekom het wie se seun voorheen by Dokka leer lees het. Die seun is met outisme gediagnoseer en het leerprobleme ondervind. Hy is hierdie jaar in matriek. Die ma het ’n getuienis gelewer, ’n suksesverhaal kom vertel. Haar kind het só baie op skool gesukkel, toe leer hy lees, en toe verander alles. Toe verander sy wêreld!

Shireen Crotz, Trevor Daniels, Christien Neser, Nunia Joseph, René Arendse, Kathie Viljoen, Chareldine van der Merwe en Dokka Swart (foto verskaf deur Chareldine van der Merwe).

Klink my mens kan die samelewing verander, een boek op ’n slag.

Ja! As ’n kind lees, kan hy vorder in die lewe.

..........
As ’n kind lees, kan hy vorder in die lewe.
...........

Ek dink wat vir my die kern van die leeskonferensie was, is ons het dus gepraat oor struikelblokke, maar ons het ook saamgedink aan oplossings.

Ons het saam met die WKOD hierdie konferensie aangebied, en ons praat nou al vier jaar lank daaroor. Nou was die tyd reg om nog sulke projekte saam-saam aan te pak, en daar word eise gestel.

............
Ek dink wat vir my die kern van die leeskonferensie was, is ons het dus gepraat oor struikelblokke, maar ons het ook saamgedink aan oplossings.
............

Organisasies soos die VVA en die ATKV se hande word nou geneem, want hier is oplossings en ons kan dit saam met mekaar doen!

Lees ook:

Die impak van Covid-19 op skole in Nederland: ’n onderhoud met Ina van den Boogaart

 

  • 4

Kommentaar

  • Albertina Roman

    Die leeskonferensie gehou op 7 Mei 2022 by Metro-Oos Onderwysdistrik was WOW! WOW!
    Ek het die mees fantastiese oggend in die geselskap van uitgelese, goed voorbereide en entoesiastiese aanbieders van Afrikaans deurgebring.
    Ek het my ingeleef in elke aspek van elke afdeling van die aanbieding van die konferensie. Dit was nou leersaam en baie insiggewend, en sal my ’n leeftyd hou.
    Afrikaans is lewend gemaak en dit was so inspirerend om na 44 jaar in die onderwys weereens te besef dat LEES ’n nuwe wêreld vir ons kinders ontsluit. Hierdie konferensie het my so geïnspireer om my leerders beter te "verstaan en te lees", en om hulle op hul onderskeie vlakke te bereik.
    Ek is opnuut aangevuur om my leerders se belangstelling in LEES aan te wakker deur die blootstelling aan leestegnieke op verskillende vlakke, aangebied en gedemonstreer deur Dokka Swart en Christien Neser.
    Baie dankie aan die kurrikulumhoof, mnr. Trevor Daniels, en ons Afrikaans-vakadviseur, me. Nunia Joseph, vir hul inisiatief om die leeskonferensie te reël en uitnodigings by skole uit te kry.

    VIVA AFRIKAANS!

  • Auriel Crouch

    Die kersie op die koek vir my was die "Doen en leer"-demonstrasie. Elke kind kan leer lees. Een op 'n slag kan baie vermag!

  • Barend van der Merwe

    Wonderlik! Daar is geen verskoning vir jongmense om nie te lees nie. Dit hoef nie Shakespeare te wees nie. Daar moet iets wees waarin elkeen belangstel. Sport, motors, musiek, of wat ook al, en daar sal leesstof wees oor die saak. Ongeletterdheid is die teelaarde van baie kwade.

  • Ek hoor toenenemend by onderwysers dat die Covid-jaar se Gr 1's nou in Gr 3 is en dat dit opmerklik is dat talle leerders nie die basiese vaardighede van lees bemeester het nie. Soms hoor ek die opmerking dat die kinders deurgesit is na Gr 2 vanweë druk van die Departement met die hoop dat die Gr 2-jaar hul beter sal toerus, wat ook nie suksesvol kon plaasvind nie. Toe is die onvoorbereide leerders weer maar net deurgesit na Gr 3.
    LitNet, en ander belanghebbendes, gryp in! Doen navorsing. Ons moet hierdie leerders ondervang voor dit heeltemal te laat is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top