Naomi Meyer gesels met Jaco Deacon oor mediaberigte wat daarop dui dat die regerende party dalk hulle planne kan verander rakende die Bela-wetgewing.
Jaco, ek lees in die media dat die Departement van Basiese Onderwys besig is om ’n ommekeer ten opsigte van die Bela-wetgewing te maak. Wat is aan die gebeur?
Die proses is nog aan die gang in die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) en die Wes-Kaapse provinsiale regering is ook nog besig met openbaredeelnamesessies. Die afgelope week het die Nasionale Departement van Basiese Onderwys (DBO) ’n voorlegging gedoen in reaksie op die NRVP se verslag van openbare deelname en die mondelinge voorleggings wat aan die NRVP gedoen is. Die minister, adjunkminister, DG en adjunk-DG was teenwoordig as deel van die DBO se afvaardiging. Tydens die aanbieding het hulle aangedui dat hulle die kommentaar in ag geneem het oor die magte van beheerliggame en dat hulle afstand doen van die bepaling dat beheerliggame skole se toelatings- en taalbeleide vir goedkeuring moet voorlê. Tot die mate waarin ’n skoolhoof wel ’n finale besluit moet neem, moet dit in oorleg met die beheerliggaam wees en met inagneming van die skool se beleid. Die DBO het ook toegewings gemaak oor sentrale aankope, sodat skole self kan besluit of hulle wil deelneem. Dit is alles positiewe stappe en ons verwelkom die feit dat die DBO die openbare insette met die nodige erns bestudeer het. Ons vertrou nou dat die politici in die NRVP die openbare insette met dieselfde erns sal hanteer en gehoor sal gee aan die terugvoer van die DBO. Provinsies moet nog hulle mandate finaliseer voordat die wetsontwerp bespreek en daaroor gestem sal word. Daar moet dus nog heelwat water in die see loop.
Dit lyk vir my asof die regering besef het dat die wysigings wat hy voorstel, nie al die ouers se goedkeuring wegdra nie. Is dit waar?
Dit is vir seker so en beklemtoon die belangrikheid dat die Suid-Afrikaanse publiek elke geleentheid moet gebruik waar openbare insette versoek word. Derduisende mense, ouers ingesluit, het kommentaar ingedien, en uit die verslae is dit duidelik dat daar sterk teenkanting teen baie bepalings in die konsepwet is.
Weet jy of dit hoofsaaklik Afrikaanse ouers is wat hulle hierteen uitgespreek het, of ook ander groepe ouers waarvan jy bewus is?
Fedsas was by elke openbare sitting en ons personeel se terugvoer was dat teenkanting uit ’n diverse spektrum gekom het.
As dit die geval is dat die regering wel die publiek se terugvoer ernstig opneem as daar daarvoor gevra word, is dit op die oog af ’n positiewe verwikkeling. Dit wil voorkom asof dit wel ter harte geneem word as ’n gemeenskap (die ouergemeenskap en beheerliggame) hulle mening(s) lug. Of dink jy daar was ander redes waarom die regering nou sake ten opsigte van Bela heroorweeg?
Tydens die afgelope week se terugvoer van die DBO het James Ndlebe (direkteur, DBO) oor die proses gepraat. Hy het spesifieke uitgelig dat die DBO spesifiek na substantiewe argumente gaan kyk het en hulle waardering uitgespreek vir bydraes wat ook alternatiewe voorgestel het. Die kwaliteit van die bydraes het dus swaarder geweeg as bloot petisies wat ondersteun of afkeur. Die regerende party is duidelik onder druk voor die verkiesing en onderwys is ’n saak waaroor die meeste Suid-Afrikaners passievol is, en dit kan ’n risiko vir hulle skep. Ek is ook oortuig dat die volgehoue druk uit verskillende oorde, die stemme van gewone Suid-Afrikaners en die groot aandag wat die media aan Bela skenk, ’n groot rol gespeel het.
Dis juis in hierdie dae die tyd van skoolaansoeke. Ouers wat nou moet aansoek doen vir kinders wat volgende jaar vir graad 1 en graad 8 moet plek kry, moet hul aansoeke agtermekaar kry. Dink jy enigiets van die voorgestelde wysigings aan die Skolewet beïnvloed sake ten opsigte van skoolaansoeke?
Bela gaan geen invloed op toelatingsprosesse hê wat reeds afgeskop het nie en sal eers van toepassing wees nadat dit aanvaar is en deur die President onderteken is. Dit is dus die status quo.