Die BELA-wetsontwerp (wysigings aan die skolewet) is weer in die nuus. Onlangs is daar ‘n TV-program hieromtrent aangebied. Jaco Deacon praat met Naomi Meyer oor die stand van sake.
Jaco, dis ’n nuwe jaar en dis ’n verkiesingsjaar. Dalk het die gesprekke oor BELAB hiermee te doen. Dalk is dit wel nou meer ernstig as net verkiesingspraatjies; dit lyk of hierdie wysigingswet deurgevoer sal word. Wat dink jy?
Die regerende party is onder druk en daarom sien ons ’n sentralisering van magte. BELAB is een van die konsepwette wat in hierdie kategorie val. Die onderwysstelsel presteer nie soos wat dit behoort te presteer nie, maar ongelukkig gaan BELAB geen verskil maak aan die kwaliteit van die stelsel nie. Daar is druk om BELAB voor die verkiesing deurgevoer te kry, maar die staat kan steeds geen kortpaaie in die openbare-deelname-prosesse volg nie.
Daar was nou onlangs ’n gesprek op kykNET oor die BELA-wetgewing. Dit behels wysigings aan die skolewetgewing, wat onder andere skoolbeheerliggame se besluitneming van hulle wegneem en in die hande van die regering plaas. Jy het voorgestel dat as ouers vanjaar moet stem oor beheerliggaamverteenwoordiging, hulle slim moet kies. Wat beteken dit? Hoe kies mens die regte mense vir beheerliggame uit ouergeledere?
Openbare skole is afhanklik van hulle skoolgemeenskappe om goeie kandidate te nomineer om op die skool se beheerliggaam te dien. Die beheerliggaam het ’n beheerfunksie (governance) wat die raamwerk moet skep waarbinne goeie onderrig in die skool kan plaasvind. Doeltreffende skoolbeheer gaan oor doeltreffende leierskap wat op etiese waardes berus. Die beheerliggaam beheer die skool deur beleide en strategieë te voorsien wat die skoolhoof en skoolbestuurspan dan in belang van die skool en skoolgemeenskap moet toepas. Doeltreffende skoolbeheer gaan ook daaroor om die regte balans tussen ekonomiese en sosiale doelwitte en tussen individuele en gemeenskaplike doelwitte te vind. Maar uiteindelik gaan skoolbeheer veral oor die belang van die skool en die gehalte van die onderrig wat die leerders ontvang. Skole moet die regte mense identifiseer en verkies wat dit kan doen.
.........
Gedurende Maart sal daar ’n verkiesing in elke openbare skool in ons land plaasvind en die skool bepaal self die datum van die verkiesing gedurende die maand. Ouers moet seker maak wanneer hulle kinders se skool se verkiesing gaan plaasvind en die proses wat gevolg gaan word. Vind uit hoe die nominasies werk en wanneer dit moet plaasvind. Maak ook seker van hoe die verkiesing gaan plaasvind – dit kan ’n vergadering wees, voldag, elektronies of selfs ’n kombinasie. Raak egter betrokke.
.............
Die termyn van ’n beheerliggaam is drie jaar en dit loop nou ten einde. Gedurende Maart sal daar ’n verkiesing in elke openbare skool in ons land plaasvind en die skool bepaal self die datum van die verkiesing gedurende die maand. Ouers moet seker maak wanneer hulle kinders se skool se verkiesing gaan plaasvind en die proses wat gevolg gaan word. Vind uit hoe die nominasies werk en wanneer dit moet plaasvind. Maak ook seker van hoe die verkiesing gaan plaasvind – dit kan ’n vergadering wees, voldag, elektronies of selfs ’n kombinasie. Raak egter betrokke.
Die ouers wat deel gaan vorm van die beheerliggaam: Watter raad het jy vir hulle? Wat is hulle grootste verantwoordelikhede?
Dit is ’n groot voorreg en ’n groot verantwoordelikheid om die skoolgemeenskap op so ‘n manier te dien. As vrywilligers kan ouers hulle gawes en talente tot voordeel van die hele skoolgemeenskap aanwend.
’n Paar jaar gelede het ek geluister na ’n onderhoud waarin Deon Rossouw van die Etiekinstituut gevra is om "governance" in ’n enkele sin te omskryf. Hy antwoord toe: "Governance is all about preventing good people from doing stupid things." Dit impliseer natuurlik dan ook dat goeie mense ongelooflike dinge kan vermag binne goeie beheer en bestuur.
Die onderwyssektor is vol goeie mense en tog word daar steeds dom dinge by skole gedoen. As beheerliggaamlede moet ons ’n omgewing skep waarin hierdie goeie mense optimaal en wettig kan funksioneer in die skool se belang. Ons moet beleid en kontrolemeganismes skep om verantwoordelike en verantwoordbare bestuur moontlik te maak, ooreenkomstig die beginsels van die King-verslae oor goeie beheer, oftewel "good governance".
Op ’n baie praktiese vlak is die beheerliggaam verantwoordelik vir die finansies by die skool, die bepaling van beleid soos taal, toelating en godsdiens, en is nou betrokke by die prosesse van die aanstelling van personeel.
Ouers het baie ander dinge om te hanteer – hulle eie werk, en hulle aandeel in betrokkenheid by huiswerk byvoorbeeld. As ’n ouer nie deel is van ’n skool se beheerliggaam nie, maar net van die skoolgemeenskap (omdat hulle kind in die skool is), hoe, stel jy voor, moet ’n ouer van ’n openbare skool méér betrokke raak by ’n skool in hierdie tyd waartydens wysigings aan die Skolewet voorgestel word?
Die onderrig van kinders bly primêr die verantwoordelikheid van die ouer. Die skool word egter ’n baie belangrike vennoot in die proses. Geen ouer kan bloot die taak uitkontrakteer nie – ouers moet direk betrokke wees. Dit is meer as net skoolgeld betaal of toesien dat die leerder by die skool opdaag. Ouers of voogde moet in samewerking met die skool help met dissipline, en waardes, en seker maak dat onderrig en leer plaasvind. Skole is afhanklik van fondsinsamelingsgeleenthede en het altyd idees en hande nodig dat dit kan plaasvind. Skoolsport en -kultuuraktiwiteite is belangrike groeigeleenthede vir kinders en dit is belangrik dat ouers daar is om kinders te ondersteun. Ouers het ook ’n belangrike rol om begrotings goed te keur en terugvoervergaderings van die beheerliggaam by te woon om hulle stemme te laat hoor.
Hoe lyk die situasie in die res van die wêreld, in lande met diverse en uiteenlopende tale? Hoe werk openbare skole daar - en waarheen gaan die kinders wat minderheidstale praat? Het jy enige kundigheid of kennis hieromtrent?
Daar is al baie geskryf oor die uitkomste van navorsing oor die voordele van moedertaalonderrig, en ons weet ook dat ons Grondwet taalregte beskerm (al is dit die taal van ’n minderheid). In baie lande is die moedertaal die voertaal in skole en word ’n taal soos Engels as die ekstra taal aangebied, maar daar is definitief internasionaal ’n groter premie op moedertaal as Engels. (Dit sal ’n baie meer omvattende artikel vra om die vraag regtig indringend te hanteer, omdat die wêreld se stelsels so van mekaar verskil.) In baie stelsels is daar meer staatsbeheer, maar dan is dit gewoonlik ook in baie volwasse demokrasieë waar die vlakke van vertroue en professionalisme baie hoër is as waaraan ons gewoond is.
Mens wil vra: Hoe kan Suid-Afrikaners met mekaar interaksie hê sodat ouers kan praat oor hoe belangrik dit vir alle kinders is om onderrig te ontvang in die taal wat hulle by die huis praat? Mens kan nie vir ander ouers, of vir sprekers van ander tale voorskryf nie. Maar mens wil tog daardie boodskap aanhou oordra: Dis so belangrik dat jou kind verstaan wat in die klas behandel word. Of is die enigste roete vir ouers wat sterk voel dat hul kinders onderrig in hul moedertaal moet ontvang, dan maar om na ’n privaatskool met daardie onderrigtaal gaan?
Ek is nie ’n opvoedkundige nie, ek is ’n regsgeleerde en ouer, maar daar is ’n paar dinge wat ek verstaan. Om te leer begin met dit wat ek verstaan: Het ek ‘n begrip van wat ek sien of hoor? Ouers het die onvervreembare reg om die taal en aard van hulle kinders se opvoeding te kies (Onderwyswitskrif 1), en ouers moet dit met die grootste omsigtigheid in die beste belang van hulle kind doen. Ek is ’n voorstander van veeltaligheid, maar dan moet die eerste taal goed gevestig wees.
Lees ook:
Khawufane ucinge SA schools seminar: Mphuthumi Ntabeni responds
Hoe leer kinders die taal van wiskunde aan? ’n Onderhoud met Wilhelm du Toit
BELA-wetsontwerp kort aanpassings, maar is nie uit die put van die hel nie
Moedertaalonderrig is van kardinale belang in Suid-Afrika; dis ononderhandelbaar
Bestekopname in die middel van die jaar: ’n gesprek oor skoolrapporte
Die Bela-wet is parlementêr aanvaar: ’n onderhoud met Jaco Deacon
The Basic Education Laws Amendment Bill (BELAB): what parents should know
BELAB and mother tongue education: an interview with Sindiwe Magona
BELAB and mother tongue education: an interview with Mphuthumi Ntabeni