Talle aspekte van die Wysigingswetsontwerp op Onderwyswette sal waarskynlik in die howe uitgedaag word indien die wet in sy huidige vorm aanvaar word. Dit beteken egter nie die hele wetsontwerp is “uit die put van die hel” soos wat sommige bangmaakpraatjies dit wil hê nie.
So sê Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas).
Deacon het die Onderwyskommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Donderdag tydens ’n aanlyn byeenkoms toegespreek oor die nuwe wetgewing wat algemeen as die BELA-wetsontwerp bekend staan.
Deacon het vyf wysigings uitgelig wat volgens hom nie sal bydra tot die gees en doelwitte van die Suid-Afrikaanse Skolewet, hofuitsprake van die Konstitusionele Hof of die Grondwet nie.
Hy sê die BELA-wet is nie net deel van ’n gewone wetlike proses nie, maar raak die kern van die land se Grondwet.
.............
Deacon het vyf wysigings uitgelig wat volgens hom nie sal bydra tot die gees en doelwitte van die Suid-Afrikaanse Skolewet, hofuitsprake van die Konstitusionele Hof of die Grondwet nie.
Hy sê die BELA-wet is nie net deel van ’n gewone wetlike proses nie, maar raak die kern van die land se Grondwet.
...............
“Die oomblik wanneer ons wette wysig, behoort dit eintlik die stelsel te verbeter. Die [...] aanhef van die Grondwet sê ons wil die potensiaal van elke mens ontsluit en onderwys is daarvoor verantwoordelik. As ons op een of ander manier aan ons onderwyswette begin torring, behoort ons uitvoering te gee aan dit wat die Grondwet sê.”
Daar is bykans 18 000 skriftelike kommentare by die parlement ingedien oor die beoogde wetsontwerp, asook verskeie voorleggings aan die portefeuljekomitee vir basiese onderwys.
Die openbare verhore in die onderskeie provinsies oor die wetsontwerp word dié maand afgehandel, waarna die magdom kommentare en voorleggings deur die komitee verwerk sal word om dit vir aanvaarding na die parlement te verwys.
Dit moet eers na die Nasionale Vergadering gaan, waar dit gedebatteer en by wyse van ’n gewone meerderheidstem aanvaar moet word. Omdat daar ’n provinsiale bevoegdheid is, moet dit ook na die Nasionale Raad van Provinsies gaan wat dit of kan aanvaar of verwerp of met wysigings na die Nasionale Vergadering kan terugverwys.
Enige moontlike wysigings moet deur die Nasionale Vergadering bespreek word. Indien daar ’n dooie punt is, moet die wetsontwerp en die twee huise van die parlement ’n mediasieproses volg. As daar steeds nie eenstemmigheid is oor die wysigings of voorstelle nie, het die Nasionale Vergadering die finale besluitnemingsbevoegdheid, maar dan moet dit met ’n tweederdes-meerderheid goedgekeur word.
Daarna sal dit eers na die President verwys word vir ondertekening voordat dit wet word. Die President het drie opsies nadat die parlementêre proses afgehandel is. Hy kan dit onderteken wanneer dit by ondertekening van krag word; hy kan dit terugverwys na die parlement indien hy dink daar is te veel kontroversiële aspekte; of hy kan die Konstitusionele Hof versoek om uitspraak te gee oor die grondwetlikheid van bepaalde aspekte daarvan as hy steeds nie tevrede is nie.
Deacon sê volgens die regsmening wat die Afrikaanse skolegemeenskap in hulle netwerk ontvang het, is daar ’n paar konstitusionele knope wat die President kan laat kopkrap.
Volgens Deacon is die verwagting dat daar ’n klomp organisasies met ’n regsproses sal begin om van die aspekte in die wet uit te daag indien dit net so aanvaar word.
..............
Twee van die voorgestelde wysigings gee aan provinsiale onderwyshoofde die mag om te besluit oor ’n skool se beleid oor toelating en taal. Deacon sê albei hierdie wysigings druis in teen die onderliggende beginsel van samewerkende bestuur waarop die model vir openbare skole gebou is.
...............
Twee van die voorgestelde wysigings gee aan provinsiale onderwyshoofde die mag om te besluit oor ’n skool se beleid oor toelating en taal. Deacon sê albei hierdie wysigings druis in teen die onderliggende beginsel van samewerkende bestuur waarop die model vir openbare skole gebou is.
"Hierdie sentralisering van mag is juis wat die twee Witskrifte (die voorloperdokumente van vandag se Skolewet) wat die verspreiding van mag in onderwys beskryf, poog om te voorkom," sê Deacon. Hierdie wysigings weerspreek selfs ’n ander wysiging wat bepaalde magte oor toelating aan die minister van basiese onderwys gee.
"Die wysiging aan toelatingsbeleid tesame met wysigings aan die bepaling van taalbeleid skep die idee dat die staat alleen mag besluit watter magte ouers mag hê. Dit neem ons terug na ’n totalitêre staat en gaan niks doen om onderwys te verbeter nie."
Nog ’n wysiging waaroor Fedsas bekommerd is, is die verklaring van finansiële belange deur lede van ’n skool se beheerliggaam. "Dit is bloot onredelik en kan daartoe lei dat ouers nie bereid gaan wees om op beheerliggame te dien nie. Die omvang van finansiële belange wat verklaar moet word, is heeltemal te wyd en hoegenaamd nie relevant tot die funksionering van ’n skoolbeheerliggaam nie. Dit maak sin dat botsende belange bestuur moet word, maar die nodigheid om persoonlike inligting so omvattend te verklaar is buitensporig."
Die sentralisering van die aankoop van leermateriaal is nog ’n aspek wat problematies is. Deacon sê hoewel die wysiging sinvol voorkom, sal dit in die praktyk amper onmoontlik wees om daaraan uitvoering te gee en dit skep ’n teelaarde vir korrupsie. "Huidige onderwyswetgewing maak voorsiening daarvoor dat beheerliggame meer verantwoordelik raak vir die bestuur van herhalende uitgawes. Onderwys- en leermateriaal is ’n voorbeeld hiervan. Dit maak meer sin om beheerliggame verantwoordbaar te hou wanneer so ’n liggaam nie sy funksies behoorlik uitvoer nie. Nou straf die wysiging eintlik alle beheerliggame by voorbaat eerder as dat verantwoordbaarheid as beginsel van beheer vasgelê word."
Die vyfde voorgestelde wysiging wat geensins ’n sinvolle bydrae lewer nie, is dat beheerliggame kwartaallikse verslae oor alle inkomste en uitgawes indien. "Beheerliggame moet reeds jaarliks geouditeerde finansiële state indien. Wat sal die doel van ’n papieroefening soos kwartaallikse verslae wees? Natuurlik kan so ’n vereiste ingestel word waar dit geregverdig is. Reëls moet egter nie gemaak word om uitsonderings te bestuur nie, maar eerder om ’n raamwerk te verskaf om operasionele take en besluitneming te rig. Tree op teen vrot appels en laat die res toe om hul sake sonder inmenging te bestuur. Die aksie kan binne bestaande wetgewing uitgevoer word."
Deacon sê dit is vir Fedsas belangrik om ’n vennoot in onderwys te wees. "Fedsas het bewese ervaring van onderwysbestuur. Ons voorlegging aan die portefeuljekomitee moet dus gesien word as ’n bydrae gegrond op kundigheid in terme van onderwysbestuur en onderwyswetgewing. Fedsas wil ’n rol speel om, soos die Grondwet van ons vra, die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te ontsluit. Dit begin by gehalte-onderwys."
Dit is egter ’n ope vraag of daar genoeg tyd voor volgende jaar se verkiesing sal wees vir die parlement om al die prosesse af te handel en die wet deur te druk.
Realisties gesproke is daar volgens Deacon drie moontlike scenario’s. Die een is dat die regering die wet eenvoudig gaan probeer deurdruk terwyl hy die getalle het ongeag wat die gevoel daar buite is. Tweedens kan hulle besluit om die hele wet oor te laat vir die volgend administrasie na afloop van die verkiesing; of derdens kan daar besluit word om slegs daardie wysigings goed te keur wat nie kontensieus is nie en waaroor daar reeds hofuitsprake was.
...........
Nie alles in die wet is volgens Deacon negatief nie. Daar is ook positiewe aspekte, onder andere die daarstelling van graad R as die aanvang van verpligte onderwys. Hy verwelkom ook die dele oor lyfstraf. Hy sê onder die huidige wet word kinders soms wreed mishandel omdat die definisie van lyfstraf te eng is.
.............
Nie alles in die wet is volgens Deacon negatief nie. Daar is ook positiewe aspekte, onder andere die daarstelling van graad R as die aanvang van verpligte onderwys. Hy verwelkom ook die dele oor lyfstraf. Hy sê onder die huidige wet word kinders soms wreed mishandel omdat die definisie van lyfstraf te eng is. Hy sê in die Afrikaanse skole is daar minder probleme wat lyfstraf betref, maar veral in die plattelandse skole is lyfstraf en fisieke skade aan kinders skokkend. Dit het die norm geword en nie die uitsondering nie.
Deacon sê die WhatsApp-boodskap wat die ronde doen en sê hierdie wysigingswet kom uit die put van die hel want dit laat aborsies toe en ouers kan toegesluit word, is van alle waarheid ontbloot. “Daar is bangmaakstories daar buite wat onwaar is en alles in die wet is nie noodwendig sleg nie, hoewel daar ’n paar praktiese goed is wat moet verander of bykom.
“Die proses is reeds ver gevorder, maar daar moet nog baie water in die see loop voordat die wysigings wet gaan word. Daar is ’n klomp bepalings in die wet wat lastig is, maar daar is ook ’n klomp goed wat gaan help om onderwysbestuur te verbeter,” sê Deacon.
Die hartseer van alles is volgens hom dat niks van die bepalings wat in hierdie wysigingswet ingebring word, gaan maak dat die onderwyskrisisse wat die land tans beleef, opgelos gaan word nie. “Dit gaan nie maak dat kinders beter lees of dat die geld reg gekanaliseer word en die werklike probleme aanspreek nie, en dit is hartseer.”
Lees ook:
Waarom ouers nou wérklik aan die BELA-wetsontwerp aandag moet gee: ’n onderhoud met Jaco Deacon
The Basic Education Laws Amendment Bill (BELAB): what parents should know
BELA-wetgewing en Afrikaans op skool: Merlyn van der Rheede gee haar mening