Wysigings aan die Skolewet haal elke nou en dan die nuus. Naomi Meyer het vir Juané van der Merwe, FEDSAS (The Federation of Governing Bodies of South African Schools) se regsbeampte, oor onlangse verwikkelinge gevra.
Juané, ek en jy het in die verlede oor wysigings aan die Skolewet gepraat. En nou is die BELA-wetsontwerp (weer) in die nuus. Is die vorige wysigings deurgevoer? Is dit nou iets nuuts? Verduidelik asseblief kortliks wat die BELA-wysigings is.
Die Konsepwysigingswetsontwerp op Onderwyswette (Basic Education Laws Amendment Bill), oftewel BELAB, bevat voorstelle om die Suid-Afrikaanse Skolewet, 84 van 1996, en die Wet op Indiensneming van Opvoeders, 76 van 1998, te wysig. Die proses het reeds in 2017 afgeskop met die eerste Konsepwysigingswetsontwerp wat op 13 Oktober 2017 gepubliseer is vir openbare kommentaar. Daar was nagenoeg 6 000 kommentare ingestuur en die Departement van Basiese Onderwys het ’n reeks vergaderings met rolspelers gehou om verskillende weergawes en voorstelle te bespreek. Die Minister van Basiese Onderwys was self deel van sommige van die vergaderings en het interne rolspelers weer ’n kans gebied om skriftelike insette te lewer.
Die weergawe wat gedurende Desember 2021 gepubliseer is, is ’n voorstel van die Departement aan die parlement en die parlementêre wetgewende proses het dus nou afgeskop. Die Portefeuljekomitee van Basiese Onderwys het ’n uitnodiging aan belanghebbendes en individue gerig om skriftelike kommentaar te lewer op die BELAB, wat teen 15 Junie 2022 om 16:00 ingedien moet word. Die konsepwet is op FEDSAS se webblad beskikbaar. Dis ook beskikbaar op hierdie Google Drive-bladsy.
...........
Die huidige weergawe verskil wesenlik van die oorspronklike weergawe van 2017. Die 2017-weergawe het onder meer voorgestel dat beheerliggame geen rol mag speel in die aanstel van skoolvlak-departementshoofde, adjunkhoofde en skoolhoofde nie. Ander funksies van beheerliggame wat onder skoot was, was sekere finansiële funksies. Die 2021-weergawe doen weg met hierdie voorstelle.
.............
Die huidige weergawe verskil wesenlik van die oorspronklike weergawe van 2017. Die 2017-weergawe het onder meer voorgestel dat beheerliggame geen rol mag speel in die aanstel van skoolvlak-departementshoofde, adjunkhoofde en skoolhoofde nie. Ander funksies van beheerliggame wat onder skoot was, was sekere finansiële funksies. Die 2021-weergawe doen weg met hierdie voorstelle.
Die wysigings wat ter sprake is, is nie net ten opsigte van taal nie, is dit? Maar kom ons praat gou oor taal. Die Minister het dit laat klink asof daar van elke skool in die land verwag sal word om drietalig te wees. Daar moet ruimte wees vir kinders van verskillende taalagtergronde in elke skool. Dink jy so iets is moontlik? Ek verwys na die praktiese aspekte hiervan. Hoe verstaan jy die Minister se uitsprake?
Ek gee eerstens ’n kort uiteensetting van wat die BELA-wetsontwerp beoog ten opsigte van taal:
Tans behou die beheerliggaam die reg voor om ’n skool se taalbeleid te bepaal. Die eerste wesenlike verandering wat die wetsontwerp ten opsigte van taal voorstel, is die vereiste dat die beheerliggaam die taalbeleid en enige wysigings daaraan vir goedkeuring aan die hoof van die onderwysdepartement moet voorlê. Tweedens beoog die wetsontwerp om die departementshoof die mag te gee om ’n openbare skool aan te sê (“direct”) om meer as een onderrigtaal te gebruik nadat sekere voorgeskrewe faktore in ag geneem is.
Suid-Afrika het in ons nuwe grondwetlike bedeling doelbewus wegbeweeg van die model van staatskole. In die geval van ’n staatskoolmodel besluit die staat oor alles en het beheer oor alles. Die Suid-Afrikaanse Skolewet skep egter openbare skole – skole met volle regspersoonlikheid wat deur skoolgemeenskappe beheer en bestuur word deur demokraties verkose lede van beheerliggame. Dié voorgestelde wysigings ten opsigte van taal is daarop gemik om die funksie van skoolbeheerliggame in te perk en neem ons terug na ’n model waar die staat beheer het oor alles. In die lig van die voorgestelde wysiging kan dit gebeur dat die departementshoof sy magte misbruik en skole aansê om meerdere onderrigtale te gebruik.
Artikel 29(2) van die Grondwet erken dat elke persoon onderwys kan ontvang in die amptelike taal of tale van hul eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Die reg op onderwys in die taal van ’n leerder se keuse sal vanselfsprekend nie redelikerwys doenlik wees as net enkele leerders in ’n skool aandring op onderrig in die amptelike taal/tale van hul keuse nie. ’n Ander voorbeeld waar sodanige onderwys in die taal van ’n leerder se keuse nie redelikerwys doenlik is nie, is waar dit nie finansieel en/of administratief haalbaar is nie.
Die huidige onderwysfinansieringsmodel gaan inherent van die veronderstelling uit dat alle skole enkelmedium-instellings is. Gevolglik neem dit nie die bykomende koste, hulpbronne en personeel in ag wat vereis word om in meer as een taal te onderrig nie. Tensy daar dringend ’n nuwe finansierings- en personeelmodel vir meertalige skole geskep word, sal meertalige onderrig nie redelikerwys doenlik wees nie.
Watter ander wesenlike wysigings aan die Skolewet word voorgestel? En is dit iets waarvan ouers in die land kennis behoort te neem? Of iets daaromtrent te doen?
Ek gee kortliks ’n uiteensetting van die voorgestelde wysigings wat ’n moontlike negatiewe uitwerking op die werksaamhede en bevoegdhede van skoolbeheerliggame kan hê, sowel as die voorgestelde wysigings wat sal bydra tot die verbetering van die gehalte van onderwys waarop elke kind in hierdie land geregtig is.
Negatiewe uitwerking:
- Verklaring van finansiële belange deur beheerliggaamlede
Klousule 14 van die wetsontwerp stel voor dat artikel 18A(4A) by die Skolewet ingevoeg word om alle beheerliggaamlede te verplig om jaarliks ál hulle finansiële belange, sowel as dié van hulle huweliks-/lewensmaats en naaste familielede, bekend te maak. Ons glo hierdie voorgestelde openbaarmaking sal op ’n onredelike skending van privaatheid van sowel die beheerliggaamlid as sy/haar familie neerkom. Met betrekking tot wat verklaar moet word, vereis nóg die Maatskappyewet nóg die Wet op Openbare Finansiële Bestuur so ’n drastiese en omvattende belangeverklaring deur ’n lid van ’n rekenpligtige owerheid. Hierdie voorgestelde wysiging sal heel waarskynlik sommige ouers ontmoedig om hulle vir ’n skoolbeheerliggaam verkiesbaar te stel.
- Die beheerliggaam se bevoegdhede ten opsigte van die toelatingsbeleid
...........
Die eerste wesenlike verandering wat die wetsontwerp voorstel, is dat die provinsiale departementshoof, ná oorlegpleging met die beheerliggaam, die laaste sê (“final authority”) het om ’n leerder tot ’n openbare skool toe te laat.
.............
Die eerste wesenlike verandering wat die wetsontwerp voorstel, is dat die provinsiale departementshoof, ná oorlegpleging met die beheerliggaam, die laaste sê (“final authority”) het om ’n leerder tot ’n openbare skool toe te laat. Die verwysing na “final authority” is in stryd met die skema van die Skolewet en tersaaklike hofbeslissings wat ’n samewerkende vennootskap tussen die beheerliggaam, die departementshoof en die Minister beoog. Die beheerliggaam van ’n skool is die beste daartoe in staat om die skool se toelatingsbeleid te bepaal, onder meer of ’n leerder aan die toelatingsvereistes voldoen. Dit is omdat die beheerliggaam ’n verskeidenheid onderling verbonde faktore ten opsigte van die beplanning en beheer van die skool in die geheel kan oorweeg. Deur die departementshoof die laaste sê te gee om oor ’n leerder se toelating te beslis, word die beheerliggaam se rol in die vennootskap, sowel as sy aanspreeklikheid teenoor die gemeenskap wat hy bedien, ernstig ingekort.
- Indien van kwartaallikse verslae
Klousule 34 van die Wetsontwerp verplig ’n beheerliggaam om binne 30 dae ná die einde van elke kwartaal ooreenkomstig direktiewe van die departementshoof ’n afskrif van die kwartaallikse verslag oor alle skoolinkomste en -uitgawes by die departementshoof in te dien. Die indiening van kwartaallikse verslae, benewens die geouditeerde finansiële jaarstate, sal ’n onbehoorlike finansiële en administratiewe las op die beheerliggaam en die skool se hulpbronne plaas. Indien dié bepaling behou word, moet dit beperk word tot gevalle waar daar genoegsame rede vir sodanige verslae bestaan. Skole dien immers reeds hulle geouditeerde finansiële jaarstate in.
Wat sal bydra tot die verbetering van die gehalte van onderwys:
...........
Klousule 2(a) sal graad R verpligtend maak. Dit is ’n nodige stap vir vroeëkindontwikkeling en strook met die Nasionale Geïntegreerde Kinderontwikkelingsbeleid van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.
.............
- Klousule 2(a) sal graad R verpligtend maak. Dit is ’n nodige stap vir vroeëkindontwikkeling en strook met die Nasionale Geïntegreerde Kinderontwikkelingsbeleid van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.
- Klousule 19 stel die Minister in staat om eenvormige en nasionale maatreëls oor die verkiesing van beheerliggaamlede uit te vaardig. Naas nasionale verkiesings is ’n beheerliggaamverkiesing een van die grootste verkiesings in ons land. Eenvormige reëls en prosedures vir verkiesings sal ’n billike proses in alle provinsies verseker, sonder die onsekerheid wat nege verskillende stelle provinsiale regulasies elke drie jaar skep.
- Klousule 38 kriminaliseer die voorsiening van vals inligting aan skole deur ouers. Dit sal ouers laat besef hoe belangrik dit is om skole van ware en korrekte inligting te voorsien sodat behoorlike administrasie kan plaasvind. Hopelik sal dit ouers ontmoedig om vals inligting aan skole te verstrek.
Lees ook:
Skoleseminaar en die Wysigingswetsontwerp: Lesufi is die brein agter Afrikaans se verkragting
BAQONDE and multilingual education in South Africa: An interview with Lorna Carson
(Ab)using language for narrow socio-political and racist interests
Skoleseminaar en Wysigingswetsontwerp: waarom Afrikaanse ouers moet kennis neem
Afrikaans oorleef by US solank dit "redelikerwys doenlik" is