Waarom ouers nou wérklik aan die BELA-wetsontwerp aandag moet gee: ’n onderhoud met Jaco Deacon

  • 0

Jaco Deacon (foto verskaf)

Jaco Deacon van Fedsas praat met Naomi Meyer kort voor ’n onderwysgesprek wat op 1 Junie deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aangebied word oor die voortgaande gesprekke rondom die BELA-wetsontwerp, en hy neem ook bestekopname van die algemene stand van sake in Suid-Afrikaanse skole.

Jaco, as mens ’n ouer is, is daar min dinge wat vir jou so belangrik is soos jou kinders. En daarom voel ’n gesprek wat oor skole handel, vir ouers emosioneel belangrik. Tog is daar voortdurend ander dinge waarop ouers moet fokus, soos: Wanneer is daar beurtkrag? Maar ek wil jou vra: Waarom moet ouers in hierdie dae in die besonder kennis neem van ’n gesprek wat oor skoolwetgewing handel?

Ouers het ’n onvervreembare reg om oor die opvoeding van hulle kinders te besluit – dit is per slot van rekening ouers se verantwoordelikheid en die staat kan dit nie eenvoudig oorneem nie. Een van die sterkste meganismes om dit te doen is deur die demokraties verkose beheerliggame (SBL’e – waar ouers, terloops, die meerderheid is).

Ons het al vantevore gesprekke oor die BELA-wetsontwerp op LitNet gehad en twee kante van ’n saak gestel (in hierdie artikel en hierdie een). Kom ons praat dus heel eerste hieroor: Moet ouers van kinders in openbare skole in hierdie tyd besef dat die taal van onderrig by hul skool in gedrang sou kon wees? Is daar iets wat hulle moet doen?

Die taal van onderrig van ’n skool het ’n direkte invloed op die uitslae van die skool en alle studies dui daarop dat leerders wat in hulle moedertaal onderrig ontvang en in daardie taal eksamen skryf, eenvoudig beter as die ander leerders vaar. Die staat sukkel om kwaliteitonderrig by 80% van die land se skole te lewer en wil nou kortpad vat met die wysigingswet om beheer te neem oor die goed funksionerende skole deur meer magte vir onderwyshoofde te gee oor onder andere taal en toelating. Ouers moet eenvoudig vasskop – élke skool behoort kwaliteitonderrig te gee, en as dit nie gebeur nie, moet die probleem daar aangespreek word.

............
Die staat sukkel om kwaliteitonderrig by 80% van die land se skole te lewer en wil nou kortpad vat met die wysigingswet om beheer te neem oor die goed funksionerende skole deur meer magte vir onderwyshoofde te gee oor onder andere taal en toelating. Ouers moet eenvoudig vasskop – élke skool behoort kwaliteitonderrig te gee, en as dit nie gebeur nie, moet die probleem daar aangespreek word.
..............

Daar is egter nie ’n politieke wil om dit te doen nie.

Ek het in die eerste vraag genoem dat mens as ouer emosioneel betrokke is by mens se kind, maar waarom is ’n land se skole, in alle gemeenskappe, van belang vir die hele land?

En dit is ook hoe dit moet wees! Die oplossing vir die maatskaplike probleme en ekonomiese groei kan effektief plaasvind slegs as ons goeie onderrig vir elke kind kan gee en leerders lewer wat toegerus is om ’n betekenisvolle bydrae in die samelewing te maak. Toelaes vir jongmense in plaas van werksgeleenthede is soos om ’n tydskakelaar op die bom te sit – dit stel net die ontploffing uit!

.............
Die oplossing vir die maatskaplike probleme en ekonomiese groei kan effektief plaasvind slegs as ons goeie onderrig vir elke kind kan gee en leerders lewer wat toegerus is om ’n betekenisvolle bydrae in die samelewing te maak. Toelaes vir jongmense in plaas van werksgeleenthede is soos om ’n tydskakelaar op die bom te sit – dit stel net die ontploffing uit!
.............

Ek lees onlangs in ’n boek van Jonathan Jansen oor korrupsie by universiteite hoe die omgewing waarbinne ’n instansie funksioneer, die instansie sal affekteer. En met "die omgewing" verwys ek in baie breë trekke na die hele land met al sy skole. Hoe maak mens dus in hierdie tyd, waar mens oor die land bekommerd voel? Hoe spreek mens situasies binne skoolomgewings dwarsoor die land aan? Noem asseblief ’n paar praktiese gedagtes.

Daar is 22 740 openbare skole in Suid-Afrika (en geen staatskole nie!). ’n Openbare skool behoort aan die skoolgemeenskap en as die skoolgemeenskap nie eienaarskap aanvaar en verantwoordelikheid vir die skool neem nie, gaan die skool eenvoudig deel van die 80% disfunksionele skole word. So hoe spreek ons dit aan? Ons sal baie meer in gemeenskappe moet doen om die boodskap te versprei dat dit "hulle" skool is; baie meer opleiding vir beheerliggame moet gee om hulle toe te rus vir die taak; en baie meer besighede, geloofsgemeenskappe en nieregeringsorganisasies moet mobiliseer om meer direk by die skole in hulle onmiddellike omgewing betrokke te raak.

...........
So hoe spreek ons dit aan? Ons sal baie meer in gemeenskappe moet doen om die boodskap te versprei dat dit "hulle" skool is; baie meer opleiding vir beheerliggame moet gee om hulle toe te rus vir die taak; en baie meer besighede, geloofsgemeenskappe en nieregeringsorganisasies moet mobiliseer om meer direk by die skole in hulle onmiddellike omgewing betrokke te raak.
.............

Die staat het ’n rol om te speel en ons moet hulle aanspreeklik hou om hulle kant te bring, maar die grootste verskil kan by die skool die naaste aan jou gemaak word. Werkgewers/besighede moet betrokke raak by die skole waar hulle werknemers se kinders is. 

Waaroor handel die gesprek wat op Donderdag 1 Junie deur die Suid-Afrikaanse Akademie aangebied word, en wat is die belang van so ’n gesprek?

 Die Wysigingswet (BELA) kom nou al van 2017 af en ek dink almal is nou BELA-voos, maar die proses is nog nie afgehandel nie. Ek gaan ʼn oorsig gee oor waar die proses nou trek, wat nog alles in die proses moet gebeur en wat moontlike remedies op die pad is. Daar is nog twee provinsies oor wat aan die parlement se provinsiale verhore kan deelneem om hulle stemme oor die wet te laat hoor (Noord-Kaap en Oos-Kaap). Daar is amptenare en politici wat handel asof BELA al ʼn wet is of eenvoudig verkeerde boodskappe wat in omloop is. (Ek het verlede week ʼn WhatsApp-stemnota ontvang waar ʼn ma waarsku dat die wet direk uit die hel se put kom en aborsies wettig en ouers in die tronk sal gooi as hulle dit teenstaan ...) Nie alles in BELA is sleg nie en daar is baie aspekte wat die bestuur van onderwys sal aanspreek, maar daar is ook nog sake wat kort – ek gaan dit probeer toelig (in 'n gesprek wat op Donderdag 1 Junie 2023 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aangebied en waaroor agterna op LitNet berig sal word - LitNet-redaksie).

Het jy hoop of enige belangrike gedagtes oor die skole van hierdie land, in die tyd wat mense ná Covid en inperkings orent steier en noudat daar kennis geneem word van hoe swak kinders se leesbegrip is, in 2023? 

Ek het hoop – onder die 22 740 openbare skole is daar ʼn paar skole wat wêreldklas is – wat presteer ten spyte van die stelsel. Daar is oplossings waar daar ʼn wil is. Daar is sterk vakbonde en ʼn groot regering, maar ons, die mense (en ouers) van Suid-Afrika, is meer en ons stem moet hard en duidelik gehoor word. Dit is tyd vir nuwe leierskap. Hoekom lees ons kinders so swak? Ons ouers lees te min (kom ons begin by onsself); die Grondslagfase se klasse is te groot (ons soek 25 kinders of minder); spesialisopvoeders (Grondslagfase-opgelei) en terapeute moet intensief vir vier jaar kan werk teen die tempo wat die professionele persoon bepaal en nie die Departement se werkboekies of "pace setters" nie. Goeie nuus is, ons weet nou wat die omvang van leesbegrip is, maar nou moet ons iets doen.

Ek hoop dit werp so ’n bietjie lig. Kort en lank is dat hier baie werk is en ons nie op die staat alleen kan staatmaak om die onderwys-wa deur die drif te kry nie.

Lees ook:

BELA-wetsontwerp kort aanpassings, maar is nie uit die put van die hel nie

Die Konsepwysigingswetsontwerp op Onderwyswette (BELAB): Afrikaans oorleef op skool solank "redelikerwys doenlik"

The Basic Education Laws Amendment Bill (BELAB): what parents should know

Onderwystaalwet: BELA is nie kinderspeletjies nie

BELA-wetgewing en Afrikaans op skool: Merlyn van der Rheede gee haar mening

BELA-wetgewing: ’n onderhoud met ’n tuisskool-ouer

Taaldinge: Ria Olivier praat oor Afrikaans in die klaskamer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top