
Ria Olivier (foto: verskaf)
Ria Olivier van die Afrikaanse Taalraad praat met Naomi Meyer oor waarmee die Afrikaanse Taalraad (ATR) in die skole besig is.
Ria, jy is die ATR se suidelike verteenwoordiger. Ek het jou op Taaldinge op RSG hoor praat oor sake wat die ATR in skole beoog. Luister die potgooi hier:
Waarom is dit vir julle as organisasie belangrik om aandag aan Afrikaans in skole te gee?
..........
Die Taalraad se fokus op skole hou direk verband met een van ons hoofoogmerke, nl om suksesvolle leer en onderrig vir Afrikaanssprekende leerders te verseker. Baie van hierdie leerders kom uit uitdagende sosio-ekonomiese agtergronde en het ondersteuning nodig om te kan leer en presteer. Sodoende word hulle in staat gestel om naskoolse studie te onderneem en hulle vir ’n lewensveranderende beroep te bekwaam.
.............
Die Taalraad se fokus op skole hou direk verband met een van ons hoofoogmerke, nl om suksesvolle leer en onderrig vir Afrikaanssprekende leerders te verseker. Baie van hierdie leerders kom uit uitdagende sosio-ekonomiese agtergronde en het ondersteuning nodig om te kan leer en presteer. Sodoende word hulle in staat gestel om naskoolse studie te onderneem en hulle vir ’n lewensveranderende beroep te bekwaam. Dit is al oor en oor bewys dat moedertaalonderrig en -leer die sleutel is tot leersukses en die verwerwing van ander tale. “Bemeester Engels deur Afrikaans” is ons raad aan ouers wat hul kinders Engels grootmaak – dikwels tot hul kinders se nadeel. ’n Belangrike rol wat die ATR op skoolvlak speel, is om behoeftes by hulpbronne uit te bring. Hierdie behoeftes sluit in leesondersteuning vir leerders wat sukkel met leesvaardigheid, ’n gebrek aan leesmateriaal asook loopbaanvoorligting.
Ek het kennis geneem van twee onderwyserwerkswinkels wat julle vanjaar beoog, met die tema hoe onderwysers leerders se diverse tongvalle in die klaskamer ervaar: een in die Kaapse Skiereiland en een vir Namakwalandse Afrikaans. Dalk kan jy nog meer hiervan vertel. Is die onderwyserwerkswinkels vir alle Afrikaans-onderwysers, of net vir onderwysers waar kinders meestal nie die sogenaamde gestandaardiseerde Afrikaans praat nie?
Daar word vele debatte oor Afrikaans se verskillende tongvalle gevoer, en voorts bestaan daar talle akademiese publikasies oor hierdie onderwerp. Dit is egter noodsaaklik om vas te stel wat op ’n praktiese vlak met die onderrig van Afrikaans gebeur in gebiede waar die gestandaardiseerde vorm van Afrikaans nie die algemene spreektaal is nie – soos in die Kaapse Skiereiland, Namakwaland en so meer. Die onderwyserwerkswinkels is dus nie op alle Afrikaans-onderwysers gerig nie, slegs op onderwysers wat daagliks te make kry met leerders wie se huistaal nie die gestandaardiseerde vorm is nie. Ons wil graag by die onderwysers vasstel hoe hulle die leerders se diverse tongvalle in die klaskamer ervaar, watter uitdagings dit vir hulle bied, hoe hulle dit hanteer en selfs watter voorstelle hulle het.
............
Die onderwyserwerkswinkels is dus nie op alle Afrikaans-onderwysers gerig nie, slegs op onderwysers wat daagliks te make kry met leerders wie se huistaal nie die gestandaardiseerde vorm is nie. Ons wil graag by die onderwysers vasstel hoe hulle die leerders se diverse tongvalle in die klaskamer ervaar, watter uitdagings dit vir hulle bied, hoe hulle dit hanteer en selfs watter voorstelle hulle het.
...............
Ek gebruik die term "gestandaardiseerde Afrikaans" soos jy dit in die RSG-gesprek gebruik het. Dis reeds ’n frase wat Afrikaans-opvoeders sal laat nadink oor die manier waarop Afrikaans deur al die jare aangebied word. Julle organisasie beywer julle om voorligting tov Afrikaanse taalvariëteite vir onderwysers te bied, of hoe? Waarom is dit nodig? En hoe baie verskillende variëteite van Afrikaans bestaan daar werklik? (Nou moet ek nog iets vra, omdat ons in hierdie land so maklik aannames maak en veralgemeen: Net omdat mense verskillend van mekaar lyk, beteken dit dat hulle almal noodwendig verskillende variëteite van Afrikaans praat? Wat is jou ervaring?)
Baie Afrikaans-onderwysers bevind hulle in ’n moeilike situasie, want die kurrikulum bepaal dat hulle die leerders moet voorberei om in die gestandaardiseerde variëteit van Afrikaans te kan funksioneer, terwyl baie leerders se huistaal eintlik een van die ander variëteite is, bv Kaapse Afrikaans of Namakwalandse Afrikaans. Ons wil eerstens vasstel hoe die onderwysers die realiteit ervaar dat baie leerders nie die gestandaardiseerde vorm besig nie en hoe hulle die uitdaging wat dit aan hulle stel, hanteer. Die Taalraad is dus in hierdie stadium eers net besig met ’n ondersoek wat ons hoop rigting sal bied vir die ontwikkeling van voorligtingsmateriaal vir onderwysers oor die hantering van Afrikaans as diverse taal.
..........
Baie Afrikaans-onderwysers bevind hulle in ’n moeilike situasie, want die kurrikulum bepaal dat hulle die leerders moet voorberei om in die gestandaardiseerde variëteit van Afrikaans te kan funksioneer, terwyl baie leerders se huistaal eintlik een van die ander variëteite is, bv Kaapse Afrikaans of Namakwalandse Afrikaans.
..............
Dit is nie bloot ’n veralgemening nie, maar ’n mistasting dat mense wat verskillend lyk, verskillende variëteite van Afrikaans praat. My ervaring is dat Afrikaanssprekers uit verskillende rassegroepe variëteite soos Kaapse Afrikaans, gestandaardiseerde Afrikaans, Namakwalandse Afrikaans en Oosgrensafrikaans praat – om maar net ’n paar te noem.
Baie mense skrik dalk as hulle van Afrikaans se verskeie variëteite praat, maar in jou gesprek noem jy ook dat julle organisasie ten doel het om sprekers van die "diverse eenheidstaal" saam te snoer – vele systrome, een rivier. Daar kán ’n eenheid in diversiteit wees. Hoe sien jy die saak?
Die Taalraad verteenwoordig die volle spraakgemeenskap van Afrikaans. Daarom mik ons daarop om Afrikaans in sy geheel, dws met al sy verskillende tongvalle, te bevorder en te beskerm en die volle spektrum van die taal se sprekers te bemagtig. Versoening binne die Afrikaanse spraakgemeenskap, maar ook oor taalgrense heen, is een van die fokusareas van die Taalraad. Uitsluiting van die sprekers van sommige variëteite hou die gevaar in van ’n verdeelde Afrikaanse gemeenskap, iets wat Afrikaanssprekendes op hierdie stadium kwalik kan bekostig.
Die idee is dat skole en onderwysers die taalvariëteite moet aanmoedig – om te praat en te skryf. Julle beywer julle daarvoor om kinders met selfvertroue en trots in die klas te laat praat soos hulle ook by die huis praat. Ervaar jy dit nog dikwels dat kinders wat by die huis een variëteit van Afrikaans praat en dan in die skool moet oorskakel na ’n "ander taal"? Wat dink jy is die effek daarvan op ’n kind se psige (of punte)?
Die Taalraad stem saam dat al die variëteite van Afrikaans, wat gestandaardiseerde Afrikaans insluit, erkenning moet geniet en na waarde geskat pleks van gestigmatiseer moet word. Die stigmatisering van ’n variëteit het ’n negatiewe uitwerking op kinders se selfvertroue en hulle sin van identiteit. Die realiteit op hierdie stadium is egter dat die kurrikulum die gebruik van gestandaardiseerde Afrikaans vereis. Dit beteken die ander variëteite kan slegs in baie spesifieke omstandighede gebruik word en dat leerders benadeel gaan word indien hierdie werklikheid nie in ag geneem word nie.
.........
Die stigmatisering van ’n variëteit het ’n negatiewe uitwerking op kinders se selfvertroue en hulle sin van identiteit. Die realiteit op hierdie stadium is egter dat die kurrikulum die gebruik van gestandaardiseerde Afrikaans vereis.
............
Die Taalraad werk tans, in samewerking met talle belanghebbers, aan verskeie oplossings vir hierdie probleem. Vandaar dat ons met onderwysers in gebiede waar variëteite van Afrikaans algemeen gebruik word, konsulteer. Intussen sal ons ten minste wou sien dat die variëteite van Afrikaans gedestigmatiseer en as waardevolle hulpbronne in die klas gebruik word – ook om gestandaardiseerde Afrikaans onder die knie te kry.
Lees ook:
BELA-wetgewing en Afrikaans op skool: Merlyn van der Rheede gee haar mening
Onderwyshulp en leesbegripstrategieë 5: Eksplisiete strategie-onderrig
Afrikaans Huistaal se voorgeskrewe gedigte vir matrieks: Dewald Koen se mening
Afrikaans Huistaal se voorgeskrewe gedigte vir matrieks: Faeed Amardien se mening
Kommentaar
Let veral op die laaste vyf reëls van die volgende manifes, asb.:
- ’n Manifes vir Afrikaans – deur Johannes Comestor
Ons as Afrikaanssprekendes verklaar hiermee dat
ons trots is op wat in Afrikaans tot stand gebring is
ons groot waarde heg aan Afrikaans as ’n volwaardige taal
ons eis dat Afrikaans as amptelike taal tot sy reg kom
ons Afrikaans oral en altyd gebruik waar en wanneer dit enigsins sinvol is
ons bereid is om telkens vir Afrikaans in die bres te tree
ons daarop aandring dat skool- en naskoolse onderrig in Afrikaans beskikbaar moet wees
ons Afrikaans so suiwer moontlik hou en gebruik
ons veral teen die verengelsing van Afrikaans waak
ons Standaardafrikaans as rigsnoer koester
ons die Europees-vastelandse grondslae van Afrikaans aanvaar
ons Kaaps, in soverre dit Engels is, as ’n bedreiging vir Afrikaans beskou.