...............
In ’n perfekte wêreld dink ek tog die eerste stap sou wees om nie net vir die leerders en onderwysers te laat besef hoeveel waarde daar in elke taal geleë is nie, maar ook die ouers, omdat hulle meestal die besluite vir hul kinders neem, veral die jong kinders.
................

Wiskunde-aktiwiteit met groentesoorte: https://pixabay.com/vectors/activity-child-children-coloring-4998492/; kaart van Afrika: James Wiseman op Unsplash
Tanja Kotzé-Coetzer beantwoord Naomi Meyer se vrae oor die onlangse LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel Wiskunde-ondersteuning vir isiXhosasprekende leerders in die grondslagfase waarvan Tanja ’n medeskrywer was.
Tanja, jy was medeskrywer van ’n artikel wat onlangs in LitNet Akademies (Opvoedkunde) gepubliseer is. Julle artikel se vertrekpunt is dat ongeveer 65% van Suid-Afrikaanse kinders nie in hul moedertaal skoolgaan nie, dikwels uit keuse. Die rede wat dikwels aangevoer word vir die besluit teen moedertaalonderrig, is dat onderrig in Engels sosiale en ekonomiese voordele ontsluit. Mag ek jou vra of jy, op grond van navorsing wat jy bestudeer het, eerstens kan noem wat jy dink die beste manier is om ’n vakgebied onder die knie te kry – deur in die moedertaal onderrig te ontvang, of in ’n ander taal?
Ek het eintlik hierdie vraag reeds grondig nagevors tydens my meesterstudie wat gehandel het oor moedertaalonderrig en die belangrikheid daarvan. Taal word aan sosiale en kognitiewe ontwikkeling gekoppel. Indien ’n leerder in ’n niemoedertaal onderrig ontvang wat hy/sy nie verstaan nie, is kognitiewe ontwikkeling bykans onmoontlik. Daarom is die beste manier om ’n vakgebied onder die knie te kry deur in die moedertaal onderrig te ontvang.
............
Daarom is die beste manier om ’n vakgebied onder die knie te kry deur in die moedertaal onderrig te ontvang.
.............
Effektiewe leer en begrip in enige vakgebied kan nie plaasvind in ’n ander taal alvorens ’n leerder ’n stewige begronding in sy moedertaal het nie, wat dan akademiese probleme vir die niemoedertaalleerder skep.
Goed, maar ten spyte van bevindinge wat jy hier bo bespreek het, is daar baie mense wat steeds kies om hulle kinders in Engels te laat skoolgaan en dan word die kinders van betekenisvolle leer uitgesluit. Dit is mense se eie keuse in watter taal hulle onderrig verkies en niemand kan dit ’n ander voorsê nie. Dit klink dus voor die hand liggend: Ondersteun leerders dan deur sekere konsepte in hul moedertaal vir hulle te verduidelik en uiteen te sit. Ek het onlangs ’n meertaligheidskongres bygewoon wat voortspruit uit die Baqonde-projek waarby onder andere die UWK betrokke is, en een van die navorsers van Ierland het aangedui dat daar dikwels by mense persepsies bestaan dat die vakterminologie nie in ’n sekere taal bestaan nie, maar dat alle woorde wel tot alle tale se beskikking is en dat die niebestaan van die terme soms aangevoer word sodat die taal ontdaan kan klink van hoër funksionaliteit. Wat is jou gedagtes: Bestaan daar wiskundevakterminologie in Afrikatale en/of is dit moontlik om daardie terme te skep? Ek wil ook vra: Het julle as artikelskrywers ook sekere wiskundige begrippe in Xhosa geleer terwyl julle navorsing gedoen het? Of kan een van julle Xhosa praat?
............
Ja, daar bestaan wel wiskundevakterminologie in Afrikatale, maar die meeste van hierdie vertalings word deur ons eie Afrikataalsprekende onderwysers as ongeskik verklaar. Omdat daar soveel verskillende dialekte van een taal is, is daar nie standaardwiskundeterminologie beskikbaar wat behoort tot ’n spesifieke Afrikataal soos Xhosa nie. Dit is moontlik om terme te skep en te standaardiseer, maar dit gaan nie oornag gebeur nie.
..............
Ja, daar bestaan wel wiskundevakterminologie in Afrikatale, maar die meeste van hierdie vertalings word deur ons eie Afrikataalsprekende onderwysers as ongeskik verklaar. Omdat daar soveel verskillende dialekte van een taal is, is daar nie standaardwiskundeterminologie beskikbaar wat behoort tot ’n spesifieke Afrikataal soos Xhosa nie. Dit is moontlik om terme te skep en te standaardiseer, maar dit gaan nie oornag gebeur nie. Hier wil ek ook saamstem met Lorna Carson se mening dat die ware fokus van die Suid-Afrikaanse debat oor Afrikatale die regte van taalsprekers moet wees en nie die taal self nie. As ons wiskundeterminologie wil skep, dan behoort die sprekers van Afrikatale aan boord te wees om die verandering en die proses te lei.
Om jou ander vraag te beantwoord: Nee, ons het nie regtig wiskundige terme in Xhosa geleer tydens die navorsing nie. Interessant genoeg was een van ons bevindings tydens die navorsing dat die onderwysers self nie Xhosa gepraat het tydens hul wiskundeklasse nie, juis omdat hulle nie die nodige kennis en opleiding van wiskunde in Xhosa en vakterminologie het nie.
Ek kan slegs ’n basiese Xhosa-gesprek voer.
Wiskunde en syfers is ’n taal op sy eie. Of hoe? Ek wil amper vra, is dit nie ook so met musiek nie? Dis ’n ander soort taal as die ABC van gesproke taal wat mense gebruik om met mekaar te kommunikeer. Wat is die verband tussen die taal wat ons praat en ’n taal soos wiskunde? En ook: Kan die twee "tale" (sê dan maar Xhosa en wiskunde) mekaar ontsluit of meer verstaanbaar maak vir die sprekers daarvan?
Wiskunde en syfers is inderdaad ’n taal op sy eie.
Die taal wat ons praat, ons moedertaal, is ’n alledaagse taal wat nie gespesialiseerd en kognitief veeleisend is nie. Dit word slegs in sinvolle sosiale ontmoetings gebruik. Wiskunde, daarenteen, is ’n akademiese, kognitief veeleisende taalvaardigheid wat ontwikkel moet word. Wiskunde gaan oor meer as net die verwerwing van vakterminologie. Dit sluit ook redeneringsvaardighede in soos vergelyking, klassifisering, sintetisering, evaluering en die maak van afleidings. Dus het ons die taal wat ons praat nodig om wiskunde te verstaan en ons denke te kommunikeer.
Ek mag my idees hê oor hoe belangrik moedertaalonderrig is, maar ek lees ook ’n woord in jul artikel raak wat my voortdurend aan die baie verskillende situasies in Suid-Afrikaanse klaskamers herinner: Daar is baie veeltalige klaskamers. Dus is dit nodig om te besef: Daar is dikwels ’n klaskamer waar die hele klas nie net byvoorbeeld Xhosasprekend is nie. Wat het julle waargeneem in die skole waar julle navorsing gedoen het? Hoeveel verskillende tale word in sekere klasse gepraat? En hoe het dit julle navorsing beïnvloed?
Alhoewel die meeste swart ouers Engels as die taal van onderrig en leer vir hul kinders kies, is daar baie Afrikataalsprekende leerders wat in Engels skoolgaan. Hierdie navorsing het gefokus op Xhosa-leerders wat saam met Engels-moedertaal-leerders in ’n Engelsmedium-klaskamer wiskunde onderrig ontvang. Bevindings het ook daarop gedui dat daar leerders is wie se huistaal ander Afrikatale is, maar die onderwysers het dieselfde onderrig- en leerstrategieë wat hulle vir die Xhosa-leerders gebruik het, vir die ander Afrikatale ook toegepas.
Wiskunde is ’n vakgebied wat soveel meer insluit as net syfers. Julle verwys na hierdie vyf aspekte wat ter sprake is: 1) konsepsuele begrip; 2) prosedurele vlotheid; 3) strategiese bevoegdheid; 4) aanpasbare redenasie; en 5) produktiewe ingesteldheid. Kan jy dalk op elkeen van dié aspekte uitbrei, net in ’n paar sinne? Wat beteken elkeen van hierdie dinge, in leketaal?
Konseptuele begrip is die vermoë van ’n leerder om sin te maak van wiskundekonsepte, -metodes, -verwantskappe en hoe om dit in verskeie situasies toe te pas.
Prosedurele vlotheid is die vermoë om wiskundemetodes akkuraat, doeltreffend en buigsaam toe te pas.
Strategiese bevoegdheid is die vermoë om wiskundige probleme te formuleer, voor te stel en op te los.
Aanpasbare redenasie verwys na ’n probleemoplossingstrategie wat denke aanpas om ’n probleem te regverdig, te beskryf en daaroor na te dink.
Laastens verwys produktiewe ingesteldheid na die neiging om sin in wiskunde te sien deur wiskunde as betekenisvol te beskou, om geduld te oefen en om die belonings wat wiskundige begrip inhou te geniet.
Daar is kinders wat ’n aanvoeling het vir wiskunde en ander wat dit nie het nie, ongeag die taal wat jy praat of die taal waarin jy onderrig ontvang. Stem jy saam? Maar tog moet die vak deurgekom word. Dit kan net van waarde wees as die begrippe in jou moedertaal aan jou verduidelik word. Of oorvereenvoudig ek nou? Kan mens nie wiskunde onder die knie kry deur net baie oefeninge te doen en die syfers rustig te beskou vir wat dit is nie: net syfers en simbole, ’n ander taal as die moedertaal?
Ja, ek stem saam.
Soos ek voorheen genoem het, is taal gekoppel aan kognitiewe ontwikkeling en vind dit plaas binne ’n sosiaal-kulturele konteks. Taal speel dus ’n belangrike rol in die verwerwing van wiskundige begrip. Indien die moedertaal nie beskikbaar is nie, benodig die leerders nog steeds ’n taal om wiskundig te kan kommunikeer en hul denke te ontwikkel. Daarom moet die konsep van "taal" vir die aanleer van wiskunde verbreed word om die wisselwerking van multisemiotiese sisteme betrokke te kry by wiskundige kommunikasie (dws natuurlike taal, wiskundesimboolstelsels en visuele voorstellings).
.............
Indien die moedertaal nie beskikbaar is nie, benodig die leerders nog steeds ’n taal om wiskundig te kan kommunikeer en hul denke te ontwikkel. Daarom moet die konsep van "taal" vir die aanleer van wiskunde verbreed word om die wisselwerking van multisemiotiese sisteme betrokke te kry by wiskundige kommunikasie (dws natuurlike taal, wiskundesimboolstelsels en visuele voorstellings).
...............
Wil jy dalk prakties vertel watter metodes julle gevolg het om die navorsing te doen? Wat het julle in die klaskamers ondersoek en hoe het julle dit gedoen?
Ons het gebruik gemaak van ongestruktureerde, oop fokusgroeponderhoude, semigestruktureerde individuele onderhoude en leswaarnemings.
Ons het heel eerste twee fokusgroeponderhoude gehou wat die onderhoudskedule gevorm het wat ons tydens die klaskamerondersoeke gebruik het. Hierdie onderhoudskedule het inligting oor die geselekteerde graad 1-onderwysers se gedagtes, persepsies, ervarings en gevoelens oor die gebruik van onderrig- en leerstrategieë ter ondersteuning van Xhosasprekende leerders se begrip van wiskunde in Engelse graad 1-klaskamers bevat. Tydens die klaskamerondersoeke het ons gekyk of dit wat hulle tydens die fokusgroeponderhoude genoem het (op die onderhoudskedule), ooreenstem met wat tydens die wiskundelesse waargeneem is. Daarna is dieselfde onderhoudskedule gebruik om te bepaal of onderwysers saamgestem en/of verskil het met wat tydens die fokusgroeponderhoude genoem is.
Wat het julle raakgesien, en wat was julle bevindings?
Ons kon konkrete bewyse van die inligting wat tydens die fokusgroeponderhoude meegedeel is, raaksien en praktiese demonstrasies van onderrig- en leerstrategieë beleef.
Ons het bevind dat die inligting wat tydens die fokusgroepe na vore gekom het, meestal ooreengestem het met dit wat ons tydens die klaskamerondersoeke waargeneem het en dit wat tydens die individuele onderhoude bespreek was.
Wat was uiteindelik, in breë trekke, julle aanbevelings? En aan wie word die aanbevelings gedoen?
............
Hierdie studie beklemtoon die belangrikheid van die gebruik van voldoende multisemiotiese onderrig- en leerstrategieë om Xhosasprekende leerders se wiskundige begrip in die Engelse graad 1-klaskamers te ondersteun. Dus kan hierdie aanbevelings ’n positiewe bydrae lewer vir graad 1-onderwysers in huidige wiskundepraktyke.
.............
Hierdie studie beklemtoon die belangrikheid van die gebruik van voldoende multisemiotiese onderrig- en leerstrategieë om Xhosasprekende leerders se wiskundige begrip in die Engelse graad 1-klaskamers te ondersteun. Dus kan hierdie aanbevelings ’n positiewe bydrae lewer vir graad 1-onderwysers in huidige wiskundepraktyke.
Die moeilikste vraag van almal: Hoe bevry mens mense in hierdie land van die geskiedenis? Daar kleef soveel bagasie aan tale, in plaas daarvan om elke moedertaal as ’n persoonlike erfenis en skat te sien. Dink jy nie die heel eerste stap is om leerders en onderwysers te laat besef hoeveel waarde daar in elke taal geleë is nie? As jy in jou eie taal die begrippe verstaan, kan dit vir jou ’n toekoms ontsluit - in enige taal?
Sjoe, dit is ’n moeilike vraag. Ek dink nie ons kan mense in hierdie land bevry van die geskiedenis nie, omdat daar soveel emosie en seer daaraan gekoppel is. Hoe sê hulle … Jy kan nie emosioneel betrokke wees om die regte besluit te neem nie.
In ’n perfekte wêreld dink ek tog die eerste stap sou wees om nie net vir die leerders en onderwysers te laat besef hoeveel waarde daar in elke taal geleë is nie, maar ook die ouers, omdat hulle meestal die besluite vir hul kinders neem, veral die jong kinders.
.............
Ek sou sê as jy in jou eie taal die begrippe verstaan, dan is dit makliker om ’n tweede en derde taal aan te leer, wat dan vir jou deure in die toekoms kan oopmaak.
.............
Ek sou sê as jy in jou eie taal die begrippe verstaan, dan is dit makliker om ’n tweede en derde taal aan te leer, wat dan vir jou deure in die toekoms kan oopmaak.
Die hele artikel handel oor navorsing rondom hoe mens die moedertaal kan gebruik om te help om wiskundige begrippe te verduidelik. Wat daarvan as mens jou eerder daarop toespits om die kinders wat dan in elk geval in Engels leer, se Engels te verbeter? Sal dit nie ook sake in die algemeen verbeter nie?
Alhoewel die navorsing handel oor hoe mens moedertaal kan gebruik om te help om wiskundige begrippe te verduidelik, het bevindings aangedui dat die deelnemers nie die nodige voor- en indiensopleiding het om Xhosasprekende leerders in hul moedertaal tydens wiskunde-onderrig te ondersteun nie. Daarom maan graad 1-onderwysers in elk geval dat hulle “hou by die Engelse taal van leer en onderrig”. Verder, siende dat daar ook nie tans ’n wiskundetaalregister vir Xhosa en ander Afrikatale is nie, stem ek heeltemal saam met jou dat daar eerder ’n ernstige behoefte bestaan aan hoe om die leerders wat dan in elk geval in Engels leer, se Engels te verbeter.
Waarom het julle spesifiek julle navorsing op wiskunde en taalondersteuning toegespits – daar is tog baie ander vakke met ingewikkelde begrippe wat ook ter sprake is. Wat was vir julle uniek aan juis wiskunde en taalondersteuning?
Wiskunde is oral om ons, maar word gesien as ’n wêreldwye “pandemie” (as ek dit so mag stel). Suid-Afrika is wêreldwyd een van die lande wat die swakste presteer in wiskunde. Vele mediaberigte en navorsing dui daarop dat Suid-Afrika se wiskunde swak is as gevolg van niemoedertaalonderrig. Daar word ook gemaan dat leerders nie die nodige wiskundevaardighede tydens die grondslagfase ontwikkel nie. Dit is om hierdie rede dat ons besluit het om wiskunde- en taalondersteuning in die grondslagfase te ondersoek.
Is taal dan ’n towerstaf? Die lewe bestaan uit alledaagse uitdagings. Sommige leerders verstaan wiskunde beter as ander, en gestel ’n leerder wat in die algemeen nie wiskunde so goed verstaan nie, word in sy moedertaal daarin onderrig – het julle enige gevalle beleef of gesien waar ’n kind iets beter verstaan of beter daarin presteer as ’n kind wat die vak in sy tweede of derde taal moes aanleer?
Taal is nie ’n towerstaf nie, maar dit kan as ’n “sleutel” gebruik word om begrippe beter te verstaan. Soos jy ook na regte genoem het, is daar kinders wat ’n aanvoeling het vir wiskunde en ander wat nie het nie. In graad 1 moet die unieke taal van wiskunde deur alle leerders as ’n nuwe akademiese taal aangeleer word, ongeag die leerder se moedertaal. Ons het ondervind dat die onderrig- en leerstrategieë vir wiskunde-ondersteuning beide die moedertaal- en niemoedertaalleerders, met of sonder ’n aanvoeling vir wiskunde, se wiskundige begrip verbeter het.
Lees ook:
Baqonde-meertaligheidsprojek: "Laat hulle verstaan" (en laat die tegnologie help)
BAQONDE and multilingual education in South Africa: An interview with Lorna Carson
BAQONDE, boosting the use of African language in education: an interview with Bassey Antia
Stellenbosch language debate: Speech by David Jantjies at the DAK meeting with the SAHRC