
Foto van Dewald Koen: voorsien; foto van digbundel: https://pixabay.com/photos/notebook-grades-stationery-draw-2246457/
Die Sondagkoerant Rapport het onlangs berig oor ’n nuwe lys van 12 gedigte wat vir Afrikaans moedertaalsprekers voorgeskryf is en die kontroversie daaromtrent. Dewald Koen, verbonde aan die Nelson Mandela Universiteit se opvoedkundefakulteit, gee sy mening.
Die onderrig van poësie in laer- en hoërskole besorg menige onderwyser hoofbrekens. Op tersiêre vlak gaan dit nie veel beter nie en dosente wat literatuur onderrig, kom selde ’n student teë wat ’n liefde vir poësie koester. Teenoor my as letterkundedosent wat ook Afrikaans-metodiek aan opvoedkundestudente doseer, maak talle studente geen geheim van hul afkeer van poësie nie. Wat staan onderwysers en dosente dus te doen?
..............
In Rapport van 22 Januarie 2023 word berig oor die nuut voorgeskrewe gedigte vir Afrikaans Huistaal vir 2023 en 2024. Verskeie aspekte daarvan, soos die gebrek aan ’n gebalanseerde verteenwoordiging van taalvariëteite asook die geslag en ouderdom van digters in die geselekteerde voorgeskrewe gedigte, word deur kenners bevraagteken. Vrae rondom die gebrek aan gedigte wat in Kaaps geskryf is, word gevra.
................
In Rapport van 22 Januarie 2023 word berig oor die nuut voorgeskrewe gedigte vir Afrikaans Huistaal vir 2023 en 2024. Verskeie aspekte daarvan, soos die gebrek aan ’n gebalanseerde verteenwoordiging van taalvariëteite asook die geslag en ouderdom van digters in die geselekteerde voorgeskrewe gedigte, word deur kenners bevraagteken. Vrae rondom die gebrek aan gedigte wat in Kaaps geskryf is, word gevra. Waar is Ronelda S Kamfer, Lynthia Julius, Shirmoney Rhode, Ashwin Arendse en Nathan Trantraal? Uit die 12 voorgeskrewe gedigte is slegs drie deur vrouedigters geskryf. Onder literatore word die vraag rondom die literêre kanon geopper: Waar is Afrikaans se “groot” digters soos Breyten Breytenbach, Sheila Cussons, Elisabeth Eybers, Antjie Krog, DJ Opperman, Adam Small en Marlene van Niekerk, om enkeles te noem?
Hierdie opmerkings het my tot nadenke gestem. Moet daar ’n “resep” wees waarvolgens gedigte, kortverhale en romans wat op skoolvlak voorgeskryf word, gekies word? Is die literêre waarde van die teks nie belangriker as die geslag, gender, seksuele oriëntasie of geloof van die skrywer, of die taalvariëteit wat deur die skrywer gebesig word nie? As literator is ek van mening dat die literêre waarde van die teks die belangrikste faktor is wat in ag geneem moet word. As oudonderwyser weet ek egter van beter dat daar wel ander aspekte is wat in ag geneem moet word indien die sosiohistoriese konteks en huidige stand van Suid-Afrika se onderwysstelsel in ag geneem word. Boonop het die profiel van Afrikaanssprekende leerders die afgelope drie dekades drasties verander.
Hedendaagse leerders (kinders en tieners) is nie lief vir lees nie. Suid-Afrikaanse leerders se leesbegrip is van die swakste ter wêreld. Dié stelling word ondersteun deur Suid-Afrikaanse skole se swak prestasie in die PIRLS-toetse (Progress in International Reading Literacy Study) wat elke vyf jaar afgelê word. In Maritha Snyman (2006) se artikel “Die leesvoorkeure en leesgedrag van Afrikaanse kinders” merk sy op dat kinders al hoe minder van gedigte en versies hou namate hul ouer word. Dit is dus van kardinale belang om gedigte te kies en voor te skryf wat sover moontlik tematies tot leerders se verwysingsraamwerk spreek sonder om standaarde te verlaag. Verder sal onderwysers en dosente wil sien dat leerders en studente ’n liefde vir poësie asook vir lees ontwikkel.
Taalvariëteite behoort in ag geneem te word. Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat Kaaps nie oral in Suid-Afrika gepraat word nie. Leerders in provinsies buite die Wes-Kaap kan moontlik sukkel om die taal te verstaan. Ek het byvoorbeeld gevind dat eerstejaarstudente, van wie die meerderheid van die Noord-, Suid- en Oos-Kaap afkomstig is, Nathan Trantraal se bundel Chokers en survivors uitdagend gevind het en die Kaapse Afrikaans hulle uitgeknikker het. Dit sal hopelik nie meer die geval wees nie sodra die drietalige Kaaps-Afrikaans-Engels woordeboek waaraan daar tans gewerk word, gepubliseer word. Bygesê moet dit nie as ’n struikelblok beskou word nie, maar eerder ’n uitdaging om leerders aan soveel variëteite van Afrikaans as moontlik bloot te stel, insluitend Griekwa-Afrikaans, Oranjerivierafrikaans en Oosgrensafrikaans. In dié opsig dink ek byvoorbeeld aan Thomas Deacon se treffende verse wat in Griekwa-Afrikaans geskryf is.
............
Verskeie faktore moet deur voorskryfkomitees in ag geneem word wanneer gedigte gekies word. Een van die primêre faktore wat die besluit beïnvloed, spruit uit die feit dat die meeste skole gedigte moet kies wat in die voorgeskrewe handboek verskyn.
..............
Verskeie faktore moet deur voorskryfkomitees in ag geneem word wanneer gedigte gekies word. Een van die primêre faktore wat die besluit beïnvloed, spruit uit die feit dat die meeste skole gedigte moet kies wat in die voorgeskrewe handboek verskyn. Die handboek word deur die Departement van Basiese Onderwys voorgeskryf en aan skole voorsien. In die geval van graad 12 is gedigte vir 2023/2024 voorgeskryf wat in die bundel Verse in my inboks verskyn. Wat my egter bekommer, is die feit dat nie al die gedigte wat op die lys verskyn, in die boek (2015-uitgawe) opgeneem is nie. Uit ondervinding weet ek dit beteken dat die meeste onderwysers gedigte onwettig sal kopieer indien hulle nie toegang het tot ’n bundel waarin al die voorgeskrewe gedigte verskyn nie en word digters sodoende van hul reeds karige tantieme ontneem. Handboeke soos Verse in my inboks is ’n fantastiese hulpbron vir onderwysers en leerders, aangesien alle gedigte van aantekeninge en vrae voorsien is, wat die onderwyser se voorbereiding verminder. Boonop het leerders in kwintiele 1- tot 3-skole ook toegang tot dieselfde hulpbronne wat die voorgeskrewe teks bied as leerders in kwintiele 4- en 5-skole. Die nadeel is egter dat die aantal gedigte wat in die bundel verskyn, vanweë koste en spasie beperk is.
Die nuut voorgeskrewe gedigte vir Afrikaans Huistaal vir 2023 en 2024 is:
- Suiwer wiskunde – NP Van Wyk Louw
- Die bokser – Ernst van Heerden
- Elegie vir my toekomstige vrou – André Letoit
- Vroue van Vermeer – TT Cloete
- 27 april 1994 – Vincent Oliphant
- Dienaar van die nagereg – Patrick Petersen
- Maaltyd – PJ Philander
- ’n Paternoster vir Suid-Afrika – Lina Spies
- Tsunami – Kobus de Wet
- Op sy branderplank – Petra Müller
- Briefie aan Madiba – Sandra O’Kelly
- Susan Boyle – Kobus Grobler.
In die algemeen bied die gedigte ’n interessante verskeidenheid temas. ’n Gedig soos “Op sy branderplank” kan vanweë die onderwerp by tienerlesers aanklank vind. Leerders wat nie met die see of branderplankry vertroud is nie, mag moontlik anders dink. Gedigte soos “Suiwer wiskunde”, “Vroue van Vermeer” en Lina Spies se “’n Paternoster vir Suid-Afrika” sal ongetwyfeld leerders se kritiese denkvermoë uitdaag. Dit is wat op huistaalvlak van leerders verwag word. Alhoewel Kobus Grobler se “Susan Boyle” ’n geslaagde gedig is wat met vrug in die Eerste Addisionele Taal-klaskamer bestudeer kan word (die gedig is vir Afrikaans EAT voorgeskryf in skole wat die Onafhanklike Eksamenraad se kurrikulum volg), is die gedig te maklik vir huistaalsprekers. Daarteenoor is gedigte soos “Die dans van die reën” en Ernst van Heerden se gedig “Die hardloper” twee voorgeskrewe gedigte wat EAT-leerders behoorlik gaan laat kopkrap. Lina Spies se “’n Paternoster vir Suid-Afrika” is al herhaaldelik voorgeskryf en laat die vraag ontstaan wat moontlik nog oor die gedig in die eksamenvraestel gevra kan word. Dit was immers twee dekades terug een van my voorgeskrewe gedigte in matriek.
.............
Die feit bly staan dat enige lys voorgeskrewe gedigte selde aan almal se voorkeure sal voldoen. Wat belangrik is, is dat leerders sover moontlik gedigte moet lees waarby hulle (hopelik) aanklank sal vind sonder dat die standaard van die sillabus verlaag word deur byvoorbeeld gedigte voor te skryf wat as “te maklik” vir Afrikaanse huistaalsprekers beskou kan word.
...............
Die feit bly staan dat enige lys voorgeskrewe gedigte selde aan almal se voorkeure sal voldoen. Wat belangrik is, is dat leerders sover moontlik gedigte moet lees waarby hulle (hopelik) aanklank sal vind sonder dat die standaard van die sillabus verlaag word deur byvoorbeeld gedigte voor te skryf wat as “te maklik” vir Afrikaanse huistaalsprekers beskou kan word.
Hoe lyk die “ideale” lys voorgeskrewe gedigte dus? Só ’n lys behoort die volgende faktore in ag te neem:
- ’n Goeie balans tussen manlike en vroulike digters.
- Gekanoniseerde digters asook die stemme van jonger digters moet ingesluit word.
- Taalvariëteite behoort in ag geneem te word om alle Afrikaanssprekendes te akkommodeer en leerders van die verskillende variëteite bewus te maak.
- Gedigte moet sover moontlik tematies tot die verwysingsraamwerk van hedendaagse leerders spreek.
- ’n Balans tussen meer toeganklike gedigte en uitdagende gedigte moet voorsiening maak vir verskillende intelligensietipes om alle leerders ’n regverdige geleentheid te bied om Afrikaans te slaag of die gesogte A-simbool (vlak 7) te kan verwerf – en te verdien.
Ek hoop van harte dat toekomstige lyste jonger digters soos Loftus Marais, Lynthia Julius, Jolyn Phillips en Ronelda S Kamfer sal insluit. Die Afrikaanse spreekwoord lui dat die hoop nie beskaam nie. Ek hoop dat leerders en studente ook, soos TT Cloete in “God die digter” in sy bundel Driepas (1989) aanvoer, die waarde van poësie sal besef en dalk net een of twee ’n liefde vir Afrikaanse poësie sal ontwikkel:
daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die môremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ’n digter gemaak.
Lees ook:
Afrikaans Huistaal se voorgeskrewe gedigte vir matrieks: Faeed Amardien se mening
Onderwyshulp en leesbegripstrategieë 4: Die voorbereiding van die onderwyser vir die onderrig
Onderwyshulp en leesbegripstrategieë 3: Metakognisie en agtergrondkennis
Onderwyshulp, deel 2: Leesbegripontwikkeling – hardoplees en leesbegripstrategieë
Onderwyshulp en leesbegrip: Johan Anker beantwoord lesers en opvoeders se navrae
Onderwyshulp en leesbegripstrategieë 5: Eksplisiete strategie-onderrig
Kommentaar
Met soortgelyke debatte in die wêreld van klassieke musiek: Die ding wat my gereeld verbaas is hoe die ouens wat altyd daarop aandring dat estetiese waarde die heel belangrikste faktor in kurrikulumbeplanning moet wees, dikwels buitensporig lief vir Andre Rieu-konserte en Johann Strauss-walse is. I rest my case.