Onderwyshulp en leesbegripstrategieë 5: Eksplisiete strategie-onderrig

  • 1

 Inleiding

In vorige bydraes in hierdie reeks oor leesbegriponderrig is reeds gewys op die belangrikheid van metakognisie (die denke en refleksie oor jou eie leesproses), jou voorafkennis oor ’n onderwerp, jou eie konteks, en die verstaan van die woordeskat en uiteensetting (eienskappe) van die teks. Daar is ook beklemtoon dat daar verskeie leesbegripstrategieë is wat onderrig kan word, maar dat hierdie strategieë baie eksplisiet onderrig moet word, oor ’n redelike lang tyd, om sukses daarmee te behaal. Alhoewel nie een van hierdie strategieë in isolasie in die leesproses gebruik word nie, het dit ook waarde om dit soms as enkele strategie bekend te stel en te modelleer, waarna dit deel kan word van die geïntegreerde leesproses.

In die vorige bydrae (4) is klem gelê op die voorbereiding in denke van die onderwyser self om met hierdie soort leesbegripstrategie-onderrig te begin.

In hierdie skrywe word die verskillende stappe in die eksplisiete onderrig van ’n leesbegripstrategie bespreek en plek-plek gemodelleer.

 

  1. Stappe in die proses van eksplisiete onderrig

’n Groot groep navorsers (onder andere Snow, Shanahan, Pressley, Keene en Zimmerman, Harvey en Goudvis, en Claussen-Grace) het sedert die middel 1980’s aandag gegee aan die onderrig van leesbegripstrategieë en saamgestem dat die volgende stappe noodsaaklik is vir die direkte, eksplisiete onderrig wat gevolg moet word:

  • Die bekendstelling en benoeming van die spesifieke strategie.
  • Die besluit op en die uiteensetting van die doel van die gebruik van hierdie strategie en die voordele daarvan.
  • Die keuse van ’n geskikte teks.
  • Die modellering van die strategie aanvanklik deur die onderwyser alleen deur middel van hardop-lees-en-dink (die metakognisie van die kenner van die proses en teks).
  • ’n Volgende stap waar die leerders begin deelneem aan hierdie leesproses met begeleiding en ondersteuning deur die onderwyser. Dit is belangrik om hier die leerders gemaklik te laat deelneem en ook na mekaar te laat luister om te besef dat hulle saam ook betekenis skep!
  • Die verdeling van leerders in kleiner groepe waar hulle die strategie saam inoefen en saam daaroor praat met begeleiding deur die onderwyser.
  • Die individuele en onafhanklike inoefening van die strategie waar die onderwyser ook nog kan ondersteun en waarneem.
  • Refleksie deur die onderwyser en leerder tydens die hele proses en aan die einde.

 

  1. Die toepassing van hierdie stappe

Dit sou goed wees om die klas eers gereed te maak vir hierdie proses deur die regte atmosfeer vir bespreking te skep, soos die luister na kort modellerings, vrae, refleksie, en openlike aanvaarding van mekaar se menings en denke. Dit kan vooraf deur baie kort tekste gedoen word om net eers die vrymoedigheid by die leerders te kweek met die bewuswording dat hulle denke geldig is en hulle gedagtes deel is van die skep van betekenis.

Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie stappe op enige teks in enige vak toegepas kan word. Die benadering en beklemtoning kan natuurlik van vak na vak verskil.

Die teks wat ek vir hierdie bespreking gaan gebruik, is ’n gedig wat op verskeie ouderdomsvlakke hanteer kan word. [Ek kies hierdie gedig omdat dit die geleentheid bied tot verskeie assosiasies en agtergrondkennis tussen lesers, ook onderwyser en leerders, ten opsigte van verskillende tydperke, woordeskat, gebruike en tegnologie. Juis die verskille kan gesprekke tussen lesers aanmoedig en verskillende ervarings vir die modelleser (onderwyser) en leerders beklemtoon]:

“Die wêreld het so klein geword” deur Alta Marinkowitz uit Toulopers: verse vir tieners (Jacobs, samesteller 2011. LAPA).

Die wêreld het so klein geword

Toe my ouma ’n kind was, speel hulle op die wye vlakte,
deel granate in die boord,
lees boeke in hulle soeke na kennis
en klets met maats as die foun twee kortes en drie langes lui.

As kind bly my ma op ’n ruim erf
met ’n grasperk en drie bome,
sit sy vasgenael voor die kassie –
vol drome om eendag oor die wye wêreld te swerf.
Sy ken mense wat al oorsee was!
Haar niggies in die stad gaan naweke fliek
en voor matriek sien sy hoe die eerste selfone lyk.

Ek klik met ’n muis die wêreld tot in my huis,
die web is my werf en Gumtree my boom.
Ek is deel van ’n boek waar mense hul gesigte
gedeeltelik ontsluier en klankloos klets en kuier.
Ek kan kennis onmiddellik op aanvraag verkry
en met ’n ieder en elk in verbinding bly.
Die moontlikhede is duiselingwek-
kend GROOT en die wêreld het so
klein geword dit pas in die
twaalf vierkante
meter van my
kamer
in.

 

3.1. Strategie en doel van aanbieding

Die spesifieke leesbegripstrategie wat bekend gestel gaan word, is die maak van konneksies. Hoe werk hierdie strategie? Met die “maak van konneksies” bedoel ek die assosiasies en verbande wat ek verbind met die volgende:

  • My eie kennis van die soort teks en wat ek daarvan verwag. Wat weet ek van gedigte en hoe dit gewoonlik gelees moet word?
  • Wat weet ek van die onderwerp wat hanteer word: die verskillende ruimtes waarin die karakters grootword en hul ervarings daarvan.
  • Watter assosiasies het ek: waaraan dink ek onmiddellik as ek sekere woorde lees?
  • Aan watter ander tekste/stories/beelde/flieks wat ek al gesien of gehoor het, laat hierdie teks my dink?
  • Hoe sluit hierdie teks aan by my eie wêreld en ook die wye wêreld om my. Watter gedagtes of temas kan ek dus toepas op my eie ervaring van die wêreld?

(In party bronne word onderskei tussen die volgende konneksies: teks-self, teks-teks, en teks-wêreld.)

Wat is die voordele daarvan om hierdie strategie toe te pas wanneer jy lees? Jy dink oor jou eie agtergrondkennis, jy dink oor jou eie ervarings, jy skep jou eie betekenis van die teks en jy is betrokke by en dink saam met die teks. Jy hoor ook ander lesers se sienings en assosiasies en kan so weer dink oor jou eie interpretasie: hoe dit ooreenstem en waar dit verskil.

 

3.2. Proses

3.2.1. Eerste deurlees

Ek gaan nou eers die gedig een keer deurlees sodat julle ’n idee kry oor die inhoud daarvan en luister of julle woorde en idees hoor wat julle baie goed ken en ook of daar dalk onverstaanbare verwysings vir julle is.

Ek sien uit die vorm van die teks dat dit ’n gedig is met drie strofes. Ek verwag ’n spreker wat ’n persoonlike ervaring met my deel, ’n beskrywing dalk. En beelde van of kort verwysings na iets wyers ook as net die letterlike, omdat dit ’n gedig is en woorde “spaarsamig” gebruik word!

Ná ek die gedig gelees het, dink ek dat die drie strofes, soos ek verwag het, oor drie verskillende aspekte handel: voorlopig dink ek dis die leefwyse van die ouma, die spreker se ma, en die “ek” self. Die lengte van die drie strofes verskil ook, so ek neem aan die belangrikheid van die inhoud sal ook verskil?

 

3.2.2. Eerste strofe: eie modellering van assosiasies/konneksies

Ek lees nou die eerste strofe alleen deur terwyl ek my eie konneksies, gedagtes, en idees verduidelik, en terwyl ek lees modelleer. Ek gaan soms stilbly en eers hardop dink sodat julle my gedagtes kan volg. Later gaan ek vir julle ook vra om julle eie gedagtes te noem of vrae te vra en dit onder mekaar te bespreek, maar die eerste gedeelte doen ek eers net op my eie.

Ek begin maar altyd by die titel (omdat ek weet by ’n gedig is die titel altyd belangrik – eintlik seker by enige teks!), “Die wêreld het so klein geword”. Ek ken die uitdrukking: “Die wêreld is darem maar klein.” Dis wanneer ’n mens iemand onbekends raakloop en wanneer julle begin gesels, julle gou agterkom julle ken albei ander mense, vriende, familie of onderwysers en dorpe. Ons het nou in ons tyd ook al begin sê die wêreld het klein geword, omdat jy so vinnig nuus van oorsee af kan kry of so vinnig daar kan kom. Nou nadat ek die gedig een keer vinnig deurgelees het, dink ek dit gaan ook oor al die maniere waarop ons vinnig kan kommunikeer. Maar dalk gaan dit oor baie meer. Ek sal maar eers stadig weer deur alles moet lees en daaroor dink.

In die eerste reël neem die spreker my terug na ’n vroeër tyd: “Toe my ouma ’n kind was.” Dis gewoonlik so 50 jaar gelede, of langer! In my eie geval is dit al meer as 100 jaar gelede! En die wêreld waarin sy kon speel, was oop en wyd, so klink dit vir my. Het dit dalk iets te doen met vryheid, min grense om ’n mens? En dan word “speel” ook spesifiek genoem. Is dit om te wys daarop dat kinders toe baie meer net kon speel? Dalk was dit op ’n plaas, want sy sê in die volgende reël hulle het granate in “die boord” gedeel, en ’n boord verwys tog na ’n hele klomp vrugtebome bymekaar. Dis in elk geval hoe ek daaroor dink. Maar in die ou dorpe was daar ook groot erwe met boorde. Dit het ek by my oupa op Villiersdorp gesien. En dit gaan seker ook nie net oor spesifiek “granate” nie. Dalk verwys die “granate” na enige soort vrugte in boorde? Die gebruik om die vrugte uit te deel, is ook vir my mooi. Wonder of ons dit nog doen?

Twee ander gewoontes uit die “ou” tyd word hierna genoem: mense moes nog hulle kennis in boeke kry – en tydskrifte, later. En darem, as ek reg onthou, oor die radio ook! Lees was toe al belangrik! Maar die maats was ook toe al belangrik. Daar word “geklets met maats” en “klets” is mos baie meer as net vinnig gesels, vandag nog. Ons gebruik “klets” ook nog vandag om te sê jy gesels sommer net, dis nie noodwendig baie belangrik nie, of hoe?

Nou is hier ’n “foun” ook. Dis die telefoon waaroor die ou mense gesels het. Een wat iewers in die huis teen die muur vas was, of op ’n tafeltjie gestaan het. As jy die “foun’’ geantwoord het, was jy dus by die huis! Dis eers met selfone dat jy op enige plek die “foun” kan antwoord. En wat is hierdie “twee kortes en drie langes”? Die telefoonlyn was gekoppel aan die sentrale in die dorp, of op ’n aparte lyn ook saam met ander telefone aan die sentrale gekoppel. Jou huistelefoon het dus ’n spesifieke kode gehad wat die ander mense of sentrale in die dorp gebruik het om na jou toe deur te skakel. Hierdie spreker-hulle se lui op die telefoon was dus twee kort luitjies en drie langes! Ons huis se kode was jare gelede twee langes en een korte!

Dit was een van die maniere van kommunikeer oor ’n lang afstand: briewe skryf, wat eers oor ’n paar dae by jou sou uitkom, en oor die telefoon. Jy het ook vir die tyd betaal wat jy gebruik om te gesels, nes nou met lugtyd en data.

Kan julle sien hoe wyd my gedagtes en assosiasies geloop het met die lees van die eerste kort strofe: hoe ek gedink het oor die betekenis van woorde en die wêreld van onthou en vandag wat dit insluit; hoe daar baie meer betekenis bygevoeg word as net die woorde wat daar staan. En dan het ek nog nie eers bygevoeg die stories oor kinders op plase wat ek al gelees het, of die flieks wat ek daaroor gesien het nie!

 

3.2.3. Tweede strofe: deurlees met gedeeltelike deelname van klas

Met die lees van en dink oor die betekenis van die tweede strofe gaan ek nou my eie gedagtes met julle deel, maar ook vir julle vra om deel te neem en julle eie assosiasies te noem en konneksies te maak. Die doel is om te kyk hoe ons gedagtes daaroor dieselfde kan wees en ook verskil!

Die tweede strofe bring vir my nader na ons eie tyd, maar nog altyd in die verlede: die ma se tyd en nie meer die ouma nie, maar albei se ervaring as kinders. Stem julle saam? Jean? Ja, jy is reg: dis nog altyd lank gelede as ons kyk waarna verwys word, soos “die kassie” en die eerste selfone!

Die plek het ook nou verander: ons is nou in die dorp, op ’n erf, met drie bome. Wie van julle bly op ’n erf met bome? En beteken “drie bome” dalk dit moet ’n redelike groot erf wees, of nie? Hoe vergelyk dit nou met die eerste strofe? Bettie? Ja, dis kleiner. Zelda? Ja, die “drie bome” is heelwat minder as die “boord” van die eerste strofe. Dink julle ook dis vrugtebome, of nie? My pa het altyd oral vrugtebome geplant, maar deesdae is dit maar skaars in die dorpe en voorstede. Het enige van julle vrugtebome op die erf? En deel julle ma’s ook die vrugte uit?

Is die “kassie” waarvoor die ma “vasgenael sit” die TV? Kan julle dink watter groot verandering dit vir die kinders van daardie tyd, vanaf laat 1970 en tot middel 1980, was? En sit party mense nog altyd “vasgenael” voor die TV, of selfone, of met WhatsApp, of Instagram? Ken julle sulke mense? Ek sien al die koppe knik. En droom julle ook van plekke oorsee om te sien of besoek? Chrizelmarie, waar sou jy graag wou wees? Switserland! Dis nogal ’n goeie gedagte. So, is ons wêreld vandag tog maar so ’n bietjie dieselfde as in ons ma’s se tyd? Dit lyk vir my so.

En tog ook nie. Die reël: “Sy ken mense wat al oorsee was!” laat my dink dat dit nog baie skaars was, dat min mense nog oorsee gegaan het. En nou? Wie van julle ken nou mense wat al oorsee was, of het familie wat al oorsee woon. Is dit deel van die veranderinge wat plaasgevind het?

Maar maak dit nou die wêreld groter of juis kleiner – dis mos waarna die titel verwys, dink ek nou skielik. Wat sê julle? Pieter? Hy sê kleiner, omdat ’n mens nou maklik kan skakel met vriende en familie. Ja, Justus, vliegtuie vlieg ook baie vinniger. En Marie? Ja, ons sien en hoor onmiddellik wat oor die hele wêreld gebeur.

Wie sê die wêreld is in ’n sekere sin nou groter? Cherry? O, jy wonder of ons nie nou baie meer weet van die hele, wye wêreld nie, en baie meer daarvan kan sien nie. Lewendig, direk. Ek stem saam. Dis reg, Bonangi, en daar is soveel programme wat kennis oordra dat dit heeltemal te veel is om eers op te noem.

Hoe pas die niggies in die stad “wat kan gaan fliek” nou hierby? Was daar meer moderne dinge in die stad as in die dorp? Watter ander dinge of plekke is/was daar in die stad wat nie in die dorp was nie? Kan julle ’n paar noem? Is dit beter om in die stad as in die dorp te woon? Hoe dink die spreker daaroor en hoe weet jy dit? Ja, Frieda? Stem julle saam dat die spreker verlang na die voordele van fliek, byvoorbeeld? Maar nou sê Elizabeth dis veiliger in die dorp. Hoe voel julle daaroor. Of is dit eensamer en verveliger in die dorp as in die stad? Is dit hoe die spreker ook voel?

En die strofe sluit af met die eerste selfone! Dink net aan al die soorte selfone wat daar vandag bestaan. Ek is self maar redelik onkundig daaroor! Noem gou ’n paar en wat dit alles al kan doen: dit sluit aan by julle eie kennis van die wêreld om julle wat baie van myne verskil! Praat gou met mekaar en maak ’n lysie van 5, dan vergelyk ons dit met mekaar s’n.

Is die stad nou deel van die groter wêreld teenoor die kleiner wêreld van die dorp waarvan die titel praat? Wat dan nou van die “wye vlakte” van die eerste reël? Was dit nie ook baie groter nie?

Kom ons dink net ’n bietjie saam oor al die konneksies wat ons nou saam oor die tweede strofe gemaak het. Watter konneksies was net jou eie assosiasies, watter konneksies het te doen met dinge wat jy reeds weet? Dink jy al ’n bietjie oor die betekenis van die titel en die vraag of die wêreld nou groter geword het?

 

3.2.4. Die gedagtes en konneksies rondom die derde strofe

Onthou eers weer die aard en doel van hierdie leesstrategie: ons lees die teks om konneksies te maak tussen die teks en ons eie gedagtes en assosiasies, ons eie denke en kennis, en ook ander soorte tekste wat dit ons aan laat dink. En hoe sluit dit aan by die wêreld en mense wat jy ken?

Ek gaan julle nou in klein groepies van 4 verdeel en dan moet julle op julle eie deur die volgende strofe gesels. Ek dink dit is naby genoeg aan julle wêreld om self daaroor te dink. Julle moet die volgende doen:

  1. Eers net weer deur die derde strofe lees.
  2. Eers net self dink watter woorde of reëls jy nie dadelik verstaan nie of waar jy vrae het.
  3. Kyk waar hierdie strofe deur woorde en beelde skakel met die vorige twee strofes.
  4. Deel hierdie gedagtes met mekaar in die groepie.
  5. Bespreek die volgende vrae dan met mekaar. Hoe dink julle oor die betekenis van die volgende:
    1. “muis in my huis” (ook wat dit jare gelede kon beteken het!);
    2. “web is my werf”;
    3. “Gumtree my boom”;
    4. “gedeeltelik ontsluier” (is die benaming “Facebook” dan ’n bietjie misleidend of ironies?);
    5. “klankloos klets” (moet ’n mens dit positief of negatief lees?);
    6. “duiselingwekkend GROOT”?
  6. Hoekom is kennis “onmiddellik” EN “op aanvraag” beskikbaar? Wat is die verskil tussen die twee?
  7. Hoe klein is haar fisiese wêreld nou?
  8. Hoe verskil hierdie wêreld van die eerste twee strofes s’n?
  9. Klink sy tevrede met hierdie klein wêreld?

Lees nou eers weer op jou eie die gedig stadig deur.

 

  1. Klasgesprek

Ons deel net eers ons antwoorde op die bostaande vrae. Elke groepie kry ’n paar om te beantwoord en die ander reageer daarop. Let op waar ander lesers ander gedagtes as joune byvoeg en ook of jy saamstem met hulle. Die belangrike vraag bly ook altyd of jou gedagtes iets met die teks te doen het!

Dan wil ek graag hê ons moet net ’n bietjie dink oor wyer boodskappe as waaraan ons dalk tot nou gedink het. En weer eens mag en kan ons hieroor verskil!

As jy so in jou kamertjie sit met jou rekenaar en selfoon, is jy dan dalk maar net ’n “muis in die huis”?

Kommunikeer ’n mens meer of minder met jou regte vriende en huismense?

Wat is die voordele van al hierdie moontlikhede wat nou beskikbaar is? En daar is baie!

Is ons nie dalk so besig met al hierdie tegnologie dat ons nooit by ons regte self uitkom nie? Nie genoeg tyd het om net oor ons self te dink nie?

 

  1. Slot

Dink weer oor die maak-van-konneksies-strategie.

Watter van die konneksies het jy alles gemaak in hierdie proses en watter voorbeelde kan jy gee daarvan.

Dink: wat is my eie assosiasies oor woorde en omstandighede met nuwe woorde of uitdrukkings (woordeskat), met kennis wat ek reeds oor beskik het, en ander gedagtes as wat ek aan die begin van die gedig gehad het.

Hoeveel meer betekenis is tot die gedig bygevoeg as wat net in die teks staan?

Was daar genoeg gesprek oor die teks en het die gesprekke en terugvoering bygedra tot jou denke oor die teks?

Hierna sou ’n gesprek oor die spesifieke tegnieke wat in die gedig gebruik word, baie sinvol wees, omdat dit dan sal handel oor hoe die tegnieke die oordra van die betekenis ondersteun.

Dit bly uiteindelik ook belangrik om te onthou dat hierdie verskillende fases herhaal moet word met verskillende tekste en met verskillende vakke voordat ’n strategie deel word van ’n mens se wyse waarop jy lees. Dis deel van die metakognisie wat moet ontwikkel.

In ’n volgende bydrae kan ons aandag gee aan die gebruik van voorspellings met behulp van tekseienskappe in ’n feitelike teks.

 

Enkele bronne:

Block, C.B., L. Gambrell en M. Pressley. 2002. Improving Reading Comprehension Instruction. Newmark: International Reading Association (Jossey-Bass).

Goldman, S.R.M.A., W. Britt, G. Brown, M. Cribb, C.D. George, C. Greenleaf, Shanahan en Project READI. 2016. Disciplinary Literacies and learning to read for understanding: A Conceptual framework for disciplinary literacy. Educationalist Psychologist, 52(2):219–46.

Goldman, S.R., C.E. Snow en S. Vaughn. 2016. Common themes in teaching reading for understanding. Journal of Adult and Adolescent Literacy, 60(3):255–64.

Kelly, J.M. en N. Clausen-Grace. 2007. Comprehension Shouldn’t Be Silent. Newmark: International Reading Association.

Klopper, B. 2012. Riglyne vir effektiewe onderrig van leesbegripstrategieë in die seniorfase. MEd-verhandeling. Cape Peninsula University of Technology.

Snow, C.E. 2002. Reading for Understanding. Toward a research and development program in reading comprehension. Santa Monica: RAND.

 

Lees ook:

Onderwyshulp en leesbegrip: Johan Anker beantwoord lesers en opvoeders se navrae

Onderwyshulp, deel 2: Leesbegripontwikkeling – hardoplees en leesbegripstrategieë

Onderwyshulp en leesbegripstrategieë 3: Metakognisie en agtergrondkennis

Onderwyshulp en leesbegripstrategieë 4: Die voorbereiding van die onderwyser vir die onderrig

  • 1

Kommentaar

  • Dankie Johan. Goeie uiteensetting en toepassing. Ek wens jy was lankal in my lewe toe ek hierdie goed met onderwysstudente moes behandel en ek hierdie planne self moes uitdink en toepas. Ek leer baie by jou. Bravo!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top