Afrikaans Huistaal se voorgeskrewe gedigte vir matrieks: Faeed Amardien se mening

  • 3

Foto van Faeed Amardien: voorsien; foto van boek: https://pixabay.com/photos/notebook-grades-stationery-draw-2246457/

Die Sondagkoerant Rapport het onlangs berig oor ’n nuwe lys van 12 gedigte wat vir Afrikaans moedertaalsprekers voorgeskryf is en die kontroversie daaromtrent. Faeed Amardien, ’n opvoeder wat Afrikaans Eerste Addisonele Taal onderrig, gee sy mening.

............
’n Uitgangspunt is dalk om daarop klem te lê dat leerders hedendaags nie daaruit baat of daarin genot vind om ’n boek op te tel en te lees nie. Dit is  ’n hartseer realiteit waarmee skole worstel. Dit is dus nie uniek tot ’n sekere skool nie. Voorts is dit geen geheim dat die poёsie-aspek self grotendeels bydra tot die regressie van leerders se akademiese vordering nie.
...............

’n Uitgangspunt is dalk om daarop klem te lê dat leerders hedendaags nie daaruit baat of daarin genot vind om ’n boek op te tel en te lees nie. Dit is  ’n hartseer realiteit waarmee skole worstel. Dit is dus nie uniek tot ’n sekere skool nie. Voorts is dit geen geheim dat die poёsie-aspek self grotendeels bydra tot die regressie van leerders se akademiese vordering nie. Om verskeie redes kan mens dié gevolgtrekking maak. Is dit ’n geval waar leerders sukkel om inhoud (voorgeskrewe poёsie) te begryp? Of dat die inhoud bloot te verouderd is? Dit het met ‘n bietjie van albei te doen.

’n Lys van gedigte word jaarliks voorgeskryf deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD). Skole in die provinsie moet die lys slaafs navolg omdat leerders enige twee van hierdie 12 gedigte in die eindeksamen kan verwag. In die geval van EAT is dit 10 gedigte. Die derde gedig in die eksamen is ’n ongesiene gedig, dus inhoud wat heeltemal onbekend is. Om dié rede mag ’n mens die volgende bevraagteken en vorentoe bring vir ’n gesprek.

 

Algemene kommentaar oor voorgeskrewe poёsie

  1. Die sosiohistoriese konteks. Binne die raamwerk van Suid-Afrika en sy geskiedenis is dit amper veilig om te vra hoe relevant die voorgeskrewe gedigte is. Die seleksie is inherent relevant tot die mate dat dit “responsive” behoort te wees met betrekking tot die emosionele en kulturele uitdagings wat veral jongmense daagliks in die gesig staar. Voorts word dit ook gekoppel met die tema of samehang. Watter boodskappe word gestuur en hoe reageer leerders op die boodskappe? Tye het drasties verander en sekere lesse wat voorheen belangrik was vir diegene wat die gedigte voorskryf, is nie noodwendig relevant vir die leerders nie.
  2. Hoe bevorder dit inklusiwiteit? Die voorgeskrewe gedigte akkommodeer nie almal se sosiale agtergrond nie. Dit is ’n probleem wat baie pertinent is in die sin dat die poёsie nie uitlopende leefwêrelde illustreer nie en dus nie verteenwoordigend is van die geleefde ervaringe van leerders nie. Gevolglik word sommige leerders akademies benadeel. Uiteindelik skep dit die vraag: Wie wen en wie verloor?
  3. Die Kurrikulum- en Assessering beleidsverklaring (KABV) is te voorskriftelik. Onderwysers word nie die vryheid en ruimte gegun om self te besluit watter poёsie relevant is vir die leerders nie. In dié sin kan onderwysers, wat direk met leerders werk, bydra tot die keuses wat gemaak word as dit kom by gedigte, aangesien hulle die meeste van die tyd met die leerders spandeer.
  4. Die invloed van ander variëteite. Hierdie faktor dra grotendeels by tot hoe leerders literatuur behartig. Met die nuutste sosiale-media-toepassings konseptualiseer leerders konsepte en terminologie binne die konteks en wêreld wat hulle verstaan. Veral as leerders nie die standaardvariëteit van Afrikaans by die huis praat nie. Op ’n kognitiewe vlak verg dit ekstra werk vir die leerder om dan eerstens elke versreël en strofe te begryp en tweedens te analiseer. Die bogenoemde belig ook die punt rondom die geweldige klomp inhoud wat in die meeste gevalle nie geassesseer word in die finale eksamen nie. Soos reeds gesê, binne die raamwerk van EAT word daar net twee behandelde gedigte getoets en een ongesiene gedig.

 

Vanjaar se voorgeskrewe gedigte

Ek noem vlugtig sekere gedigte wat deel vorm van vanjaar se voorgeskrewe lys. Uit die staanspoor kan jy reeds uit die datums sien dat dit deel vorm van die 20ste eeu, nie die 21ste eeu nie. Ek maak hierdie stelling met die grootste respek aan digters wat lesers altyd op hierdie magiese reis neem met hul werk. Ek kyk byvoorbeeld na die werk van Ernst van Heerden (“Die hardloper”) wat deel vorm van die lys. Dit is werk wat uit sy debuutbundel in 1942 verskyn het. Hoe relevant is hierdie werk vir leerders byna 80 jaar later?

.............
Ek kyk byvoorbeeld na die werk van Ernst van Heerden (“Die hardloper”) wat deel vorm van die lys. Dit is werk wat uit sy debuutbundel in 1942 verskyn het. Hoe relevant is hierdie werk vir leerders byna 80 jaar later?
................

In dieselfde asem is dit veilig om byvoorbeeld te noem dat die gedig “Die hanswors” ook deel vorm van werk wat verouderd is. Byna 80% van hierdie gedigte in beide HT en EAT is deur besonderse skrywers geskryf, maar die werk weerspieël nie die huidige konteks nie. Bygevoeg, wat ook belangrik is: die eksodus van ouer onderwysers wat dalk aanklank gevind het by die werk van dié digters, maar daar is ’n groot ouderdomsgaping tussen die ervare en nuwe onderwysers. Bowenal dink ek die gekose werk spreek nie die konsep diversiteit aan nie. Daar is briljante werk deur skrywers soos Chase Rhys, Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal wat die potensiaal het om skoolvlak te bereik. Dit spreek nie net kwessies soos armoede, marginalisering, diversiteit, politiek, chauvinisme ens aan nie, maar dit versinnebeeld werk van voorheen verworpe skrywers. Daar is nie een voorgeskrewe gedig wat in Kaaps geskryf is nie. Die daadwerklike moeite rondom inklusiwiteit in ’n postapartheid klaskamer lyk asof dit tevergeefs is.

Lees ook:

Afrikaans Huistaal se voorgeskrewe gedigte vir matrieks: Dewald Koen se mening

Onderwyshulp en leesbegripstrategieë 4: Die voorbereiding van die onderwyser vir die onderrig

Onderwyshulp en leesbegripstrategieë 3: Metakognisie en agtergrondkennis

Onderwyshulp, deel 2: Leesbegripontwikkeling – hardoplees en leesbegripstrategieë

Onderwyshulp en leesbegrip: Johan Anker beantwoord lesers en opvoeders se navrae

Onderwyshulp en leesbegripstrategieë 5: Eksplisiete strategie-onderrig

  • 3

Kommentaar

  • Ek stem 100% saam. Dit is skokwekkend om dit te sien. Daar moet meer gebruik gemaak word van jonger skrywers en hul gedigte wat hededaags gepubliseer word. Daar is soveel digters wat gedigte publiseer, maar daar word nie gebruik gemaak daarvan op skoolvlak nie, soos Veronique Jephtas en Jolyn Phillips. Dit is asof die paneel wat besluite maak oor watter gedigte behandel gaan word, nie oop is vir verandering nie.

  • Wat is die doel en relevansie van gedigte as leerlinge verkies om liefs te ontspan met ’n speurverhaal of liefdesverhaal?

  • Amourie Wortmann

    Goeie dag. Ek is van mening dat in hierdie geval daar meer as een kant van die saak is. Ek het hierdie jaar ook al die 10 gedigte onderrig aan my leerders wat Afr EAT neem en vir wie dit eintlik 'n derde of vierde taal is. Ek was verras om te hoor van watter gedigte hulle gehou het. Die gedig "Krisis" was 'n absolute gunsteling by die leerders van ons skool, alhoewel al die buurskole ons gewaarsku het dat dit nie 'n lekker gedig is nie en ons dit moet los vir laaste. Ek is van mening dit het 'n goeie basis vir die jaar gelê. Ons het lekker gesels oor watter krisisse hulle elke dag het, bv. my hart sê gaan kuier en my kop sê gaan leer. Ons kon sommer 'n bietjie lewenswysheid by die les voeg en hulle attend maak op hierdie krisisse wat hulle gaan teëkom en hulle punte kan beïnvloed. Hulle kon hulle heeltemal inleef en assosieer met die gedig. Die gedig "Die hardloper" het ons aan die einde gedoen en was vir hulle interessant, want hulle het besef dat hulle toe in hierdie matriekjaar ook 'n "ongesiene makker" of "vreemde spanmaat" gehad het, want, toe hulle hulle oë uitvee, het Vadertjie Tyd hulle ingehaal en was hulle heeltemal onvoorbereid vir hulle wenstreep en dat hulle lewe vol sulke "ongesiene makkers" is. Ons het lekker gesels in "Die hanswors" oor die "gedemarganiliseerde mense" van die samelewing, veral die uit die LBQ gemeenskap. Pride Parades begin al hoe meer hulle kop uitsteek in ons land en ons leerders is bewus daarvan. Ons kinders het ook baie sterk menings daaroor. Ek dink dat, indien ons uit die boks begin dink oor ons voorgeskrewe werk, ons werklik ons kinders kan begelei verder in hulle lewens. Ek was verbaas toe een leerder vir my vertel hoe sy vir haar ma gaan vertel het van hierdie gedig "Die uitvaart" wat ons in klas gedoen het en hoe hulle kon bande op tel na 'n hartseer sterfte in hulle familie. Ek het dit geniet om die gedigte hierdie jaar te onderrig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top