David Willers het in ’n interessante opiniestuk op LitNet (26 Januarie 2023), “Getting the lights to work by teaching anti-corruption values”, geskryf oor die agteruitgang van Eskom, die gevolglike aanhoudende daaglikse kragonderbrekings en die onderliggende redes daarvoor. Hy vergelyk ons land se situasie met dié van lande soos Kenia, Malawi en Zambië en fokus dan op die vraag wat skeefgeloop het met Mandela se ANC en die reënboognasie. Die gevolgtrekking waartoe hy kom, is dat afgesien van sistemiese korrupsie, daar ook ’n gebrek aan sosiale kohesie in ons land is. Die gom wat ’n land se inwoners saambind in ’n sosiale kontrak, is die gemeenskaplike waardes wat deur inwoners geleef word. In die Verenigde Koninkryk byvoorbeeld word die waardes van die oppergesag van die reg, individuele vryheid, demokrasie en respek en verdraagsaamheid vir verskillende geloofsoortuigings en sienings in skole gevestig as deel van die regering se poging om ’n meer geïntegreerde samelewing te skep. Die filosoof Anton van Niekerk definieer waardes dan ook as “die oerafspraak wat ons met mekaar gemaak het om te lewe op ’n manier wat sal verhoed dat ons mekaar op groot skaal benadeel of verwoes”.
Willers is in sy artikel opgewonde oor die versiendheid van wyle Kader Asmal, voormalige minister van onderwys, wat in 2000 ’n werkgroep oor waardes in die onderwys op die been gebring het. Die werkgroep het, na talle beraadslagings, ’n indrukwekkende glansbladpublikasie, Manifesto on values, education and democracy, vrygestel op die nasionale saamtrekkonferensie in 2001. Die konferensie is deur niemand minder nie as oudpresident Mandela geopen. Die publikasie is na elke skoolhoof in die land gestuur, maar die idealistiese droom van waardegedrewe skole in ons land is doodgebore. Soos talle ander inisiatiewe in die onderwys is dit met groot fanfare “gelaunch”, “gelunch” en toe “geleave”. Die manifes het vinnig ’n mite geword en op rakke in kantore gelê en stof vergader, of dit is eenvoudig in snippermandjies weggegooi. Dit het ongelukkig geen bydrae gelewer om waardes in skole te vestig en daardeur die sosiale vesel van ons samelewing te verstewig nie. Die duur, idealistiese oefening het nie die gemeenskaplike sosiale kontrak wat oor ras en klas strek, versterk nie.
Daar is verskeie redes vir die mislukking van die waardesprojek:
- Die handves vir waardes en onderwys het heeltemal te veel waardes voorgestaan wat in skole gevestig moet word: demokrasie, sosiale geregtigheid en billikheid (equity), gelykheid, nierassisme en nieseksisme, ubuntu, ’n oop samelewing, verantwoordbaarheid en verantwoordelikheid, die oppergesag van die reg, respek en versoening. Mens kan natuurlik debatteer of hulle almal as waardes gesien kan word. Die ideale aantal kernwaardes wat enige organisasie of instansie suksesvol kan nastreef en leef, is drie tot vyf. As daar meer as vyf kernwaardes op mure en briefhoofde staan, is daar vir seker waardes wat as vensterversierings mooi lyk, maar nie geleef word nie. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement maak nou dieselfde fout deur in hul waardesprojek voor te skryf dat skole elke maand op ’n ander waarde moet fokus. Die outeurs van die 2001-manifes het later erken dat hulle dalk te ambisieus en idealisties was:
"Perhaps we have allowed ourselves to become buried in an avalanche of policies, programmes, priorities, and personal agendas, and have forgotten what the core goal of education is: to “free the potential” […] of all young South Africans by imparting to them the knowledge, skills and values that will make them effective, productive and responsible citizens."
Indien daar effektiewe, produktiewe en verantwoordelike werknemers by Eskom gewerk het, het ons ligte nou gebrand. Indien die waarde van respek al deel geword het van ons morele vesel, dan was nieseksisme en nierassisme nie nodig nie, want dan was daar respek vir alle mense, ondanks hul ras of geslag.
- Vir waardes om werklik deel van die DNS van ’n skool te word, moet dit verkieslik van onder af, vanuit die skoolgemeenskap self, ontwikkel en nie van bo af voorgeskryf word nie. Die ouers, onderwysers en leerders behoort self die kernwaardes van hulle skool te kan kies, want dan neem hul eienaarskap daarvan en is die kanse dat dit werklik geleef sal word en die kultuur van hulle skool sal kleur, soveel groter.
- Karakteropvoeding en die vestiging van waardes kan nie slaag in ’n wanfunksionerende skool nie, en ongelukkig is ongeveer 75% van die skole in ons land wanfunksionerend. As die kultuur van ’n skool nie die waardes van die skool ondersteun nie, kan die kultuur die waardes voor kort pouse opeet. Wanneer die hoof van die skool nie self hard werk nie, maar besig is met sy politieke aktiwiteite of sy “tweede” werk, kan daar nie ’n gesonde werksetiek in die skool gevestig word nie. Wanneer die skoolterrein onversorg en die kleedkamers en klaskamers vuil en onnet is, kan die waardes van netheid en orde moeilik gevestig word.
- Waardes kan nie onderrig en geassesseer word soos ander kurrikuluminhoud nie. Daar word by die vestiging van waardes in skole dikwels te veel gefokus op die kognitiewe aspek daarvan, op die deurgee van informasie, terwyl dit eintlik gaan om die formasie van leerders deur die inoefen van gesonde gewoontes. Aristoteles het gesê ons is wat ons herhaaldelik doen. Morele vorming gaan nie net om kopkennis en feite nie, maar om die goeie te ken, daarvoor om te gee en dit te doen. Willers skryf in sy artikel oor “teaching anti-corrupt values”, maar waardes word nie onderrig soos ander kurrikuluminhoude nie – dit word op talle maniere gevestig (instilled). Morele vorming sluit oa in gesonde tradisies, die inoefen van goeie gewoontes, positiewe morele rolmodelle en stories.
- Die vestiging van waardes is omvattend en die kompleksiteit daarvan word dikwels onderskat. Leerders internaliseer waardes wanneer:
– hulle identifiseer met ander wat in ooreenstemming met die waardes leef
– hulle kernwaardes in ’n netwerk van verhoudings en interaksies ervaar
– daar positiewe versterking is van gedrag wat met kernwaardes strook en daar logiese negatiewe gevolge is vir gedrag wat direk in opposisie met kernwaardes is
– verskillende rolmodelle in hul lewe kernwaardes voor hulle uitleef
– hulle in ’n positiewe morele konteks leef, by die huis en in die skool.
Ongelukkig is die realiteit vir talle kinders in ons land dat hul onderwysers nie positiewe morele rolmodelle is nie en hulle nie tuis of in die skool, kernwaardes in hul verhoudings en interaksies beleef nie. Daar is selde vir hulle ’n positiewe morele konteks en op straat assosieer hulle ook dikwels met verkeerde rolmodelle. Baie leerders ervaar ook nie positiewe terugvoer wanneer hulle volgens kernwaardes leef nie, en daar is ’n gapende gebrek aan gevolge wanneer kernwaardes nie uitgeleef word nie.
Die gebrek aan morele leierskap en positiewe morele rolmodelle is ongelukkig ’n groot realiteit op alle vlakke in die onderwys.
- Die volgepakte klasse en oorvol kurrikulum maak dat oormoeg onderwysers nie nog energie en tyd het vir die vestiging van waardes en karakteropvoeding nie. Daar was ook geen geld en tyd spandeer om onderwysers behoorlik op te lei om die waardes wat in die manifes beklemtoon is, in hul skole te vestig nie. Transformasie na ’n waardegedrewe skool vind nie plaas deur bloot ’n manifes met idees en voorstelle te druk en te versprei nie. Die kompleksiteit van waardevorming is heeltemal onderskat deur die opstellers van die manifes.
- Karakteropvoeding en waardevorming verg die doelgerigte poging van ouers, onderwysers, gemeenskappe en geloofsgemeenskappe om kinders en jongmense te ondersteun om kernwaardes te verstaan, daarby in te koop en dit uit te leef. Dit is harde werk en dit neem jare om waardes werklik te vestig en ’n skool in ’n waardegedrewe skool te omskep. Daarom is dit nie ’n vinnige oplossing vir ons land se probleme nie.
Maar David Willers is op die regte spoor, want kwaliteitonderwys en waardegedrewe skole is die langtermynoplossing vir die meeste van ons probleme, ook vir die gebrekkige kragvoorsiening in ons land. Indien eerlikheid by leerders gevestig was, sou daar nie nou diesel by kragstasies gesteel word nie, en indien verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid deel van hul karakter was, sou Eskom-werkers die kragstasies onderhou het en gedoen het wat gedoen moet word om die ligte van ons land aan te hou.
.............
Maar David Willers is op die regte spoor, want kwaliteitonderwys en waardegedrewe skole is die langtermynoplossing vir die meeste van ons probleme, ook vir die gebrekkige kragvoorsiening in ons land. Indien eerlikheid by leerders gevestig was, sou daar nie nou diesel by kragstasies gesteel word nie, en indien verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid deel van hul karakter was, sou Eskom-werkers die kragstasies onderhou het en gedoen het wat gedoen moet word om die ligte van ons land aan te hou.
.............
Johan Gardner het die onmisbaarheid van gemeenskaplike waardes raak opgesom:
A nation is held together by shared values, shared beliefs, shared attitudes. That is what enables a people to maintain a cohesive society despite the tensions of daily life. That is what enables them to rise above the conflicts that plague any society.
Ons sal eenvoudig moet volhard in ons pogings om karakter te bou en waardes in ons huise en skole te vestig, en miskien moet ons hoofsaaklik fokus op respek, integriteit en verantwoordelikheid.
Bronne:
1. “Is daar universele waardes?", By van Die Burger, 1 Maart 2008, bladsy 11.
2. The Recovery of Confidence, John W Gardner, 1971.
- Jeanette de Klerk-Luttig, opvoedkundige, Stellenbosch
Lees ook:
Power crisis: Will Cape Town go completely off the Eskom grid?
Getting the lights to work by teaching anti-corruption values
Kommentaar
Elites in sekulêre samelewings dink hulle kan God Drie-Enig vervang met die sekulêre filosofie, sielkunde en opvoedkunde deur die inskerp van "waardes" op skool. Daar is egter geen plaasvervanger vir God Drie-Enig nie. Dus: Bekeer self en elke kind waarlik tot die ware Here Jesus Christus voor dit ewig te laat is asb.