BELA-wetgewing en Afrikaans op skool: Merlyn van der Rheede gee haar mening

  • 2

Merlyn van der Rheede (foto: verskaf); foto van boeke: foto deur Kimberly Farmer op Unsplash

Die publiek kan nog tot 10 November 2022 op die BELA (Basic Education Law Amendment)-wetsontwerp kommentaar lewer. Hier is nog inligting aangaande die voorgestelde wysigings aan die Skolewet.

Merlyn van der Rheede is projekbestuurder van die Afrikaanse Taalraad, met spesifieke werksaamhede in die noorde van die land. Sy was voorheen vir meer as 20 jaar betrokke by die onderwys. Sy praat met Naomi Meyer oor die voorgestelde BELA-wetgewing.

Merlyn, jy was jare lank in die onderwys. Wil jy dalk iets oor jou onderwysagtergrond met ons lesers deel?

Heeltemal korrek, ek was vir meer as 25 jaar verbonde aan openbare skole sowel as privaatskole, en het in 2011 die onderwys vaarwel toegeroep. Die skolestelsel het oor die jare bewys dat dit in absolute chaos is – die regering spandeer elke jaar ’n enorme bedrag aan opvoeding, maar ons kry nie die gewenste uitkomste nie; die uitvalkoers is hoog en matriekuitslae pateties. Volgens The Read shop – supporting literacy today is die lees- en skryfvaardighede van Suid Afrikaanse graad drie en ses leerders ’n skamele 39%. Beteken dit dan nie dat daar ernstig fout is met ons onderwysstelsel nie?

............
Die agtergestelde gemeenskappe word dus die ergste geraak, behalwe die feit dat hierdie kinders reeds met ’n agterstand by die skool aanland weens ’n tekort aan hulpbronne en ondersteuning tuis, is daar ook nog die uitdagings van verbrokkelende infrastruktuur, oorvol klasse en swak opvoedkundige hulpbronne waarmee hulle moet worstel. Die vraag ontstaan of die staat nie juis moet fokus om ’n gesonde leermilieu te skep vir die jeug om as landsburgers te gedy en sodoende gelyke kanse vir almal te gee om positief tot die land se ekonomie by te dra nie?
...............

Die agtergestelde gemeenskappe word dus die ergste geraak, behalwe die feit dat hierdie kinders reeds met ’n agterstand by die skool aanland weens ’n tekort aan hulpbronne en ondersteuning tuis, is daar ook nog die uitdagings van verbrokkelende infrastruktuur, oorvol klasse en swak opvoedkundige hulpbronne waarmee hulle moet worstel. Die vraag ontstaan of die staat nie juis moet fokus om ’n gesonde leermilieu te skep vir die jeug om as landsburgers te gedy en sodoende gelyke kanse vir almal te gee om positief tot die land se ekonomie by te dra nie?

Die BELA-wet is in die nuus. Vanuit jou ondervinding in die praktyk: hoe belangrik is dit vir elke skool met sy eie identiteit om te kan bepaal hoe die beleid by die skool werk? Dit geld vir taal, toelating, en algemene etos?

Ek dink dat die huidige wetsontwerp tot groter probleme in ons skole kan lei en dat daar herbesin moet word. Dit gaan beslis meer skade aanrig omdat dit nie die belange van die leerders vooropstel nie; die huidige skoolstelsel faal reeds ons leerders. Die staat moet glad nie inmeng by die bestuur van skole nie. Elke skool en gemeenskap is uniek en ken die behoeftes van die skool die beste, daarom moet skoolbeheerliggame beleide kan bepaal en besluite kan neem in belang van die leerders. Daar is nie ’n “one size fits all” soos die staat beoog om met alle skole te doen nie. Ons weet ook dat Suid-Afrika ’n ontwikkelende land is en tog word duisende leerders van hul moedertaal, hul sleutel tot ontwikkeling, ontsê. Die gaping tussen die elite wat gehalte-onderwys kan bekostig en die massas wat in hul moedertaal ’n bestaan voer, word deur hierdie kortsigtigheid van die regering net nog verder vergroot. Die voorheen-benadeeldes word nou die teenswoordig-benadeeldes. Dit is ’n erge vorm van diskriminasie.

Wat weet jy alles van die voorgestelde BELA-wysigingswet? Hoe klink dit vir jou sal dit skole se situasie rondom die taal van onderrig beïnvloed, en hoeveel seggenskap sal die staat in hierdie verband verkry?

Sommige instansies sien hierdie voorgestelde wysigingswet as die staat se manier om totale beheer oor skole oor te neem en om skole die reg op moedertaalonderrig te ontsê. Dit is betreurenswaardig, omdat dit die huidige onderwyskrisis net sal vererger, veral die lae vlakke van geletterdheid en syfervaardigheid wat reeds bestaan. Politici het die geneigdheid om alles te politiseer en dit is nie noodwendig in die landsburgers se belange nie.

.............
Sommige instansies sien hierdie voorgestelde wysigingswet as die staat se manier om totale beheer oor skole oor te neem en om skole die reg op moedertaalonderrig te ontsê. Dit is betreurenswaardig, omdat dit die huidige onderwyskrisis net sal vererger, veral die lae vlakke van geletterdheid en syfervaardigheid wat reeds bestaan. Politici het die geneigdheid om alles te politiseer en dit is nie noodwendig in die landsburgers se belange nie.
..............

Wat beskou jy as problematies hieromtrent? Of kan jy ook aan ander aspekte van die wet dink wat wel positief is?

’n Positiewe aspek van die voorgestelde wetsontwerp is beslis die implementering van graad R as ’n integrale deel van verpligte basiese onderwys, maar hoe regverdig is dit om die toelatingsouderdom tot graad R as 4 jaar te stel?

Uit jou ervaring in die onderwys, sowel as jou huidige posisie in die Afrikaanse Taalraad: wil jy iets sê oor wat die belangrikste aspekte vir Afrikaanstalige onderrig vir Afrikaanse kinders is? Dalk wil jy iets sê oor moedertaalonderrig in die algemeen.

Is ouers bewus genoeg van die voordele van moedertaalonderrig en meertaligheid? Weet ouers dat ’n kind wat in die moedertaal onderrig ontvang, ’n voorsprong het bo ’n Engels-eentalige persoon in die opsig dat werksgeleenthede beter is, omdat hy of sy meer as een taal kan praat? Indien die staat in belang van die leerders optree, sal moedertaalonderrig bevorder word en nie teen die Afrikaanssprekendes gediskrimineer word nie.

...........
Indien die staat in belang van die leerders optree, sal moedertaalonderrig bevorder word en nie teen die Afrikaanssprekendes gediskrimineer word nie.
...............

Moedertaalonderrig gaan om die bemagtiging van mense; daar is dikwels ’n direkte verband tussen die ekonomiese ontwikkeling van gemeenskappe en die mate waartoe hul taal ontwikkel het. Volgens akademici en kenners leer kinders kognitiewe begrippe die beste aan in hul moedertaal, veral in die grondslagfase. Te vroeë oorskakeling na ’n taal wat nie die moedertaal is nie, kan katastrofies wees en hierdie kinders sukkel in die meeste gevalle om by te hou by die kinders wat onderrig in hul moedertaal ontvang. Die ontwikkelingsvlak van ’n kind se moedertaal is ’n sterk voorloper vir die aanleer van ’n tweede of derde taal, omdat begrippe dan makliker van die moedertaal na ander tale oorgedra word. ’n Persoon wat hom-/haarself goed kan uitdruk, is meer selfversekerd en ’n persoon wat twee of meer tale magtig is, het nóg meer selfvertroue. Die Taalraad beskou meertaligheid as ’n voorvereiste vir die handhawing van Afrikaans en ’n ware meertalige en demokratiese politieke en ekonomiese bestel in die land. Sonder meertaligheid kan die volle ekonomiese en sosiale ontwikkelingspotensiaal van die land nie bereik word nie.

Lees ook:

Skoleseminaar en Wysigingswetsontwerp: waarom Afrikaanse ouers moet kennis neem

BAQONDE and multilingual education in South Africa: An interview with Lorna Carson

Skoleseminaar en die Wysigingswetsontwerp: Lesufi is die brein agter Afrikaans se verkragting

Die Konsepwysigingswetsontwerp op Onderwyswette (BELAB): Afrikaans oorleef op skool solank "redelikerwys doenlik"

The Basic Education Laws Amendment Bill (BELAB): what parents should know

Onderwystaalwet: BELA is nie kinderspeletjies nie

 

  • 2

Kommentaar

  • Ek wonder hoeveel Afrikaanse tuisonderrig-gesinne bewus is van BELA se moontlike impak op hul keuse om sake in eie hande te neem wat betref hul kinders se opvoeding. Al waaroor ons ooit in die media hoor, is die taal-aspek van die wetsontwerp. LitNet, gaan 'n bietjie in ook op hierdie aspek?

  • Dankie vir jou opmerking en voorstel, en ons gaan kyk wat ons kan vasstel. Sodra dit kan! Groete, Naomi Meyer, senior inhoudsbestuurder

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top