Onderwystaalwet: BELA is nie kinderspeletjies nie

  • 0

Die Konsepwetswysiging op Basiese Onderwys is onlangs vir verdere openbare kommentaar oopgestel. Die konsepwet kom voor as ’n mengelslaai van koubare happies en ’n paar lelike taal- en beheerraadverwante naarhede.

’n Ontleding van BELA sal kortliks die volgende oplewer: ’n hoogs gesentraliseerde basieseonderwysstelsel wat skoolgemeenskappe se seggenskap oor skoolbestuur effektief op die woord van die Departement van Hoër Onderwys sal laat berus. Dit sluit bepalinge oor taal in, waartoe ek my in hierdie artikel grootliks beperk. Ek hoop om Afrikaanssprekers bewus te maak van die taalontneming waartoe BELA in staat is.

BELA het as spesifieke oogmerk om die taalbeleid van openbare skole in die finale hande van die provinsiale departementshoof te plaas. Wysigingswetklousule 5 plaas omvattende diskresie oor ’n skool se taalbeleid in die hande van die regeringshoofde van die Onderwysdepartement, wat aan die hand van sekere wetgewende faktore moet besluit of ’n skool se taalbeleid bestaanbaar is met die oogmerke van die Wet. Sou dit nie wees nie, het die departementshoof die mag om ’n beleidswysiging teweeg te bring. Met ander woorde, die departementshoof kan vir alle doeleindes ook ’n openbare skool se taalbeleid voorskryf.

Die bepalings lyk dalk met die eerste oogopslag nie so steurend nie. Dit is immers eerstens sekerlik normaal, aangesien openbare skole op staatsgrond en binne staatskurrikulums bestaan. En ook, waaroor hoef ’n openbare skoolgemeenskap beswaard te wees as die departementshoof net wil loer of die skool nie iets buitensporigs of diskriminerends met hul taalbeleid aanvang nie?

Eerstens is daar ’n enorme verskil tussen ’n “openbare-” en “staatsskool”-bedeling. Eersgenoemde is, in Suid-Afrika se geval, die skoolregime wat sedert die grondwetlike era in Suid-Afrika bestaan. Voor die 1970’s was daar ook ’n openbareskoolstelsel, maar daar was uiteraard ’n kurrikuluminhoud wat ’n stewige skeut staatsideologie bevat het. Met die Bantoe-onderwysstelsel en Christelik-Nasionale Onderwys het die staat die leeromgewing diep binnegedring. In die nadraai van die Soweto-opstande het die staatskool ontstaan, waarna magte in die skoolopset tydens die grondwetlike era toe weer na skoolgemeenskappe toe afgewentel is.

Openbare skole gee aan die skoolgemeenskap die magte om onder andere skoolfinansies te bestuur, asook om toelatingsbeleid en taalbeleid te bepaal met die kwalifikasie dat die Grondwet se waardes oor openbare stelsels en menseregte deurvloei na skoolbestuur. Gegewe ons oppermagtige Grondwet-bestel, is hierdie ’n benadering wat gesonde skoolgemeenskappe kan help verseker, veral wanneer skole grootliks selfstandig kan funksioneer weens gemeenskapsinsette. Plaaslike mense het inspraak in die skool se bestuur, buite die hande van politici, maar mag nie die Grondwet oortree soverre dit byvoorbeeld gelykheid en stelselbestuur betref nie. Dit is ’n skoolstelsel gebaseer op grondwetlike wigte en teenwigte. Die openbare status van ’n skool beteken dat die skool as bate van ’n gemeenskap met staatsondersteuning soos grond en geboue moet kan woeker om gehalteonderrig en kinderontwikkeling te bied. Die staat het onder so ’n stelsel gewoon nie die magte om mikrobestuur toe te pas nie, maar het ’n remediërende en hulpverleningsrol. Die staat het, anders as ’n private weldoener, vanweë sy aard as republiek wat aan die mense behoort, nie ’n behoorlike regstreekse rol in skole te speel nie, en word buitendien gereguleer deur ’n reeks menseregtelike bepalings wat teenoor mekaar opgeweeg moet word in die skep van wette, regulasies en beleid.

BELA is ’n besliste stap in die rigting van staatskole, waar maghebbers buite ’n skoolgemeenskap finale magte oor die skool kan uitoefen. Dit staan in stryd met die aard van die grondwetlike republiek, waar ’n afwenteling van magte in groter harmonie staan met goedgefundeerde en lewendige begrippe van die regte van die kind, van onderrigtaal, van gelykheid en menswaardigheid, en van taalgemeenskappe.

Dit bring my by die volgende punt, naamlik die eerste indruk oor BELA wat mens laat vra waaroor gemeenskappe beswaard moet wees as die departementshoof bloot oor die skouers van skoolgemeenskappe wil loer.

Die verkleining van skoolgemeenskappe se besware is nie volgens die teks en uitlegmoontlikhede van BELA ’n sterk teenargument nie, en ’n blote skouergeloerdery is ’n onderspeling van die konsepwet. Die wye magte wat die departementshoof deur BELA kan verkry, word met goeie rede in BELA-besprekingskringe die “Lesufi-klousules” genoem, weens daardie bedenklike Gautengse onderwysdepartementshoof (en nuutverkose ANC-leier vir Gauteng) se geskiedkundige program om telkens goedpresterende en Afrikaansmediumskole verdag te maak.

Die Lesufi-klousules rondom taal bestaan deels uit faktore wat vanuit die toonaangewende Konstitusionele Hof-uitspraak in Department of Basic Education, Mpumalanga v Hoërskool Ermelo geneem is. Hierdie faktore is weer gebaseer op standaarde van die internasionale menseregte wat onderrigtaal betref, en hul herkoms verder in ander veeltalige samelewings, soos België, het. Die faktore funksioneer op die behoefte dat onderrig, bepaald moedertaalonderrig, nie sonder baie goeie redes ontneem of afgewater kan word nie. Dit klink dalk goed en wel, selfs ietwat wollerig, maar ten minste bied dit die vooruitsig dat moedertaalonderrig, of ’n onderrig deur ’n bekende taal, as verstekposisie beskou moet word. Dit is die ontneming en vermindering daarvan wat regverdig moet word, nie die geregtigdheid op moedertaalonderrig nie.

Maar dan die Trojaanse perd: Die Lesufi-hand kom na vore in die uitheffing van wat ek die streeksbehoeftebepaling noem. Hierdie bepaling van BELA stel dit effektief dat alle ander faktore ter oorweging ondergeskik staan aan die departementshoof se oordeel dat die streek deur ’n taalbeleid soos deur hom gedikteer, bedien sal wees. Die bepaling het geen gronde in die Ermelo-uitspraak nie, wat nog te sê in die internasionale menseregte rakende onderrigtaal. Dit gee aan die departementshoof die vermoë om ’n skool se taalbeleid vóór die oorweging van enige ander faktore op sterkte van ’n onomskrewe en vae streeksbehoefte te beslis. ’n Departementshoof kan dus ’n geheel politieke besluit neem om ’n skool se taalbeleid te verander, onder die dekmantel van sy gevoel oor steeksbehoefte. Indien streeksbehoefte gebaseer op die huidige talige realiteit van ’n Engelstalige massa- basiese onderrig teenoor ’n handjievol Afrikaansmedium- en dubbelmediumskole verstaan word, beteken dit dat Engelsmedium- of meer dubbelmediumtaalbeleide die departementshoof se voorkeur sal wees. Die onlangse geskiedenis en maatskaplike patrone leer ons presies dit. Onder die retories kragtige uitwerpsel dat Afrikaansmediumskole taal voorhou terwyl hulle die duistere motief van rassediskriminasie beoog, kan die staat die openbare diskoers gemaklik oorheers.

BELA neem egter drie dinge nie in ag nie: Eerstens is moedertaalonderrig in die beste belang van die kind, wat swaar weeg ingevolge Artikel 28 van die Grondwet, wat die kind se beste belang vooropstel. Tweedens is daar die argument te maak dat artikels 30 en 31, betreffende taalgemeenskappe, nie los van ander menseregtelike bepalings gelees kan word nie. Skole is enjins vir die lewenskragtige en volhoubare groei van alle tale. Ons tale gaan nie net oor praat nie, maar oor dat ons doen binne taal. Taal is betekenisloos indien die rol daarvan as lens waarmee die wêreld vir ons geskep en tot ons insig kom, oor die hoof gesien word. Taal is onlosmaaklik deel van menswaardigheid, van ons bestaan, en op sterkte van daardie gelykheid tussen taalbelewenisse moet ons verseker dat taal nie afgetakel word nie, al word dit nie prakties gesproke te alle tye gelyk aangewend nie. Hierdie faktor, wat ook weer ingevolge die dikwels onderskatte bepaling rondom amptelike en inheemse tale in artikel 6 van die Grondwet groot belangrikheid verkry, word nie in BELA vermeld of oorweeg nie. Daar is daarby die empiries kragtige argument te maak dat wanbalanse tussen tale betreffende mag en openbare aansien ook deur instellings wat openbare belange dien, reggestel moet word. Wat Engels betref, het dit soveel hegemoniese mag dat beide taalgemeenskappe én staatshulpbronne aan die volhoubare gestanddoening van kleiner tale moet deel hê.

Dit is heeltemal geoorloof en gesond dat Suid-Afrikaners as individue met taal- en kultuurgroepe assosieer en ook daarin bedrywig is. Ons lewens is ryk aan interaktiewe potensiaal, en niemand word beperk tot slegs hul identiteitsbelewenisse nie. So baie van ons werk immers toenemend om ook sáám te leef, te ontwikkel en die maghebbers verantwoordbaar te hou. Die vloek van ons verlede is nie diversiteit nie; dit is wel meerderwaardigheidkomplekse en oorheersingsdrange wat in diskriminasie vergestalt. Indien die vrees bestaan dat die huidige skooltaalbeleidsbedeling veroorsaak dat Suid-Afrikaners van jongs af nie met mekaar meng nie, kan die skuld uit die staanspoor voor die staat se deur gelê word: Na amper 30 jaar in ’n grondwetlike bestel kon die staat nie geleenthede en programme help skep wat jongmense bymekaar bring, meertaligheid koester en uitruiling fasiliteer nie. Inteendeel, jongmense doen dit tot ’n groot mate self, en hul Suid-Afrikanerskap leef gemaklik saam met hul taal- en kulturele assosiasies.

BELA steek ’n stokkie voor ’n uiteenlopende, vloeibare en magsewewigtige Suid-Afrikanerskap, en vervang dit met ’n ontplooide kader en sy beskouing van ’n bykans ongekwalifiseerde streeksmeerderheidsbehoefte. Afrikaanssprekende mense op voetsoolvlak, en spesifiek die onderwyskorps, moet skaamteloos en moedig standpunt inneem saam met die organisasies en gemeenskapstemme wat reeds in protes teen BELA opgaan. Die ANC toets dalk die balans van magte met konsepwette soos BELA, maar alle matrose moet dek toe kom om hierdie wringkrag van die onherstelbaar verrotte regerende party te verwerp. Ons is saam in hierdie dinge, en kollektiewe optrede is ons wagwoord en grondwetlike plig.

Lees ook:

The Basic Education Laws Amendment Bill (BELAB): what parents should know

Die Konsepwysigingswetsontwerp op Onderwyswette (BELAB): Afrikaans oorleef op skool solank "redelikerwys doenlik"

Persverklaring: Onderwysverklaring na aanleiding van Wysigingswetsontwerp op basiese onderwys

Skoleseminaar en Wysigingswetsontwerp: waarom Afrikaanse ouers moet kennis neem

Skoleseminaar: Die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys

Skoleseminaar en die Wysigingswetsontwerp: Lesufi is die brein agter Afrikaans se verkragting

Kyk ook:

Reguit met Robinson: ’n videogesprek met Theuns Eloff

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top