’n Manifes vir Afrikaans

  • 9

Johan van Wyk skryf in sy rubriek, Van alle kante (Die Burger, 2 Desember 2017, bl 10): "’n Onaangename verrassing ... wag op die naïewe, goedgelowige optimiste wat glo en verkondig dat ons niks [oor Afrikaans] te vrees het nie. Volgens hulle sal Afrikaans voortbestaan en selfs gedy so lank as wat dit gepraat word. Regtig? Glo hulle ook aan die tandemuis en dat die maan van kaas gemaak is? Ek kan onthou dat hierdie idealistiese maar onwetenskaplike, vals siening ook in die aanloop tot die oorname in 1994, toe daar ernstige kommer oor Afrikaans se toekoms was, met groot bravade verkondig is. Nogal deur bekende skrywers, digters, letterkundiges, taalgeleerdes, kunstenaars en natuurlik politici, die groot eksponente van die kuns van die moontlike, die leuen.

"Die waarheid is dat ten spyte daarvan dat ’n paar miljoen mense dit sedert die oorname in 1994 aangehou praat het, het Afrikaans se posisie as akademiese en saketaal sedertdien dramaties verswak. Die ironie is dat dit met die hulp en ondersteuning uit Afrikaanse geledere bewerkstellig is. ’n Nog groter ironie is dat dít wat veronderstel was om Afrikaans lewend te hou, naamlik om dit te praat, nog nooit so morsig soos in die afgelope 23 jaar gedoen is nie. As dit is hoe Afrikaans in die toekoms gebesig gaan word, gaan ek leer Engels praat en net in Afrikaans bid ... Die suiwer, keurige, welluidende Afrikaans van 50, 60 jaar gelede het my opnuut geïnspireer om dit na te streef. Ja, ek weet ’n taal is nie staties nie. Maar wanneer het ons dan so loslit en so slapgat geword?"

’n Mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), Fred Pheiffer, bied ’n voorbeeld van wat hedendaagse taalgeleerdes oor Afrikaans kwytraak: "Die verbete najaag van Afrikaanse taalsuiwerheid – met ’n sterk skeut nasionalisme en ’n antagonisme jeens Engels – dateer uit ’n vorige era. Dit was nouliks taalkundig gefundeer" (Netwerk24, 12 Julie 2019). Die wisselwerking van Afrikaans en Engels word ongekwalifiseerd taalontwikkeling genoem en lewer glo ’n bydrae tot die oorlewing van Afrikaans. Deur die oorname van Engelse woorde aan te wakker, ontmoedig Pheiffer woordskepping en dus die ontwikkeling van eiesoortige Afrikaans. Wat hy in werklikheid nastreef, is dat Afrikaans maar verder agteruit kan boer. Daar is geen aanduiding dat ’n snars omgegee word vir die oorlewing van Afrikaans in ’n agbare, nie-aanstootlike vorm nie. Die boodskap is: Afrikaanssprekendes moet ontslae raak van die bagasie wat veroorsaak dat hulle hulle teen anglisismes verset. Klaarblyklik moet geradbraakte Afrikaans ter wille van die taal se oorlewing verwelkom word. Dus, Afrikaans kan maar in oneer voortbestaan en hy berus daarin.

Sedert 1994 het dit die gewoonte geword om besware teen Afrikaner-nasionalisme te opper, maar nie teen swart nasionalisme nie. Ek dink nasionalisme behoort by alle ras- en etniese groepe geduld te word. Die strewe na selfbeskikking is iets natuurliks en nie noodwendig uit die bose nie. Om teen anglisismes gekant te wees, hoef ook nie op vyandigheid jeens Engels te dui nie. Wat wel in hierdie konteks nodig is, is die besef dat Engels, in die praktyk al hoe meer eintlik die enigste amptelike taal, ’n wesenlike gevaar vir die voortbestaan van Afrikaans inhou. Plaaslik probeer alle sprekers Engels so suiwer moontlik besig, maar met Afrikaans kan daar skynbaar maar onbeperk gemors word. Meertaligheid is ongetwyfeld ’n bate, maar as iemand Engels en Afrikaans magtig is, behoort hy nie sy tweetaligheid uit te stal deur met geradbraakte Afrikaans vorendag te kom nie.

Anders as Pheiffer het Willem Botha, die hoofredakteur van die WAT sedert 2003, en Tom McLachlan, wat van 1995 tot 2013 ’n lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) was, hulle in onlangse jare ten gunste van Afrikaanstaalsuiwerheid uitgespreek. Pheiffer se gebruik van die frase "nouliks taalkundig gefundeer" verwys na die geykte hedendaagse gewoonte om die verengelsing van Afrikaans te vergoeilik met die bewering dat geen taal suiwer is nie. Dit behoort egter nie as afdoende regverdiging te dien vir die grootskaalse gebruik van onnodige Engelse woorde en uitdrukkings in die Afrikaanse spreektaal – en in toenemende mate ook in die skryftaal – nie. Die aangewese manier waarop Afrikaans naas Engels sinvol kan bly voortbestaan, is deur in woordeskat en uitdrukkings ’n taal uit eie reg te wees. As taal moet Afrikaans duidelik van Engels onderskeibaar wees; dus sy eiesoortige idioom behou en koester. Idioom: "vaste uitdrukking/segswyse wat eie is aan ’n bepaalde taal" (HAT).

Engels word as ’n bedreiging vir Frans beskou. Die Académie Française (gestig in 1635) waak oor die belange van Frans. Daardie akademie is gekant teen enige verengelsing en vervrouliking van Frans, dus anglisismes en feminismes. Bowenal word Standaardfrans bevorder en nie variëteite van Frans nie, omdat daar in eenheid krag is. In Suid-Afrika is die bevordering van die gebruik en gehalte van Afrikaans deel van die missie van die SAAWK. Sedert 1994 word daar egter nie meer daadwerklik hieraan gevolg gegee nie. Die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) oorbeklemtoon deesdae die diversiteit van Afrikaans, dus skynbaar al sy variëteite, maar in die praktyk maak hulle meer propaganda vir Kaaps, die mees Engelsbesoedelde Afrikaansvariëteit, as vir Standaardafrikaans. "Die Afrikaanse Taalraad bevorder Afrikaans en haar [!] sprekers in hulle volle diversiteit. Ons gee dus erkenning aan alle sprekers en variëteite van die taal, van Standaardafrikaans deur tot Kaaps" (ATR-webwerf).

As Afrikaansinstansies, soos die SAAWK, ATR, ATKV en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), werklik die heil van Afrikaans wil bevorder en die taal se toekoms wil probeer verseker, is dit noodsaaklik dat die voorbeeld wat die Académie Française stel, nagevolg word. Hulle aksies behoort op Standaardafrikaans te fokus. Standaardafrikaans word deurlopend evolusionêr aangepas. Dit gee uitdrukking aan ’n voortdurend veranderende, dus dinamiese, taal. Hedendaagse Standaardafrikaans is geen ortodokse, verstokte oorblyfsel uit die verre verlede nie. Soms word daar om politieke redes voorbrand vir die revolusionêre herstandaardisering van Afrikaans gemaak. Weens die haglike situasie waarin Afrikaans hom tans bevind, sou so ’n stap louter dwaasheid wees. Revolusionêre herstandaardisering sou baie van die getrouste ondersteuners van Afrikaans vervreem terwyl in ruil waarskynlik bitter min nuwe Afrikaansentoesiaste gelok sou word.

Hoewel dit seker nog nooit openlik deur Afrikaansinstansies erken is nie, is Kaaps, in soverre dit onverdunde Engels is, dié kernprobleem in die stryd om Afrikaans se voortbestaan te verseker. Dit hang saam met die feit dat bruin mense in al hoe groter mate die meerderheid Afrikaanssprekers word. In veral die stedelike gebiede praat baie bruin mense Kaaps. Maar baie van hulle, ook dié op die platteland, is tot goeie, idiomatiese Afrikaans in staat. Afrikaansinstansies, asook Afrikaanstaalkundige en -letterkundiges, versuim deesdae doelbewus om Afrikaanstaalsuiwerheid te bepleit. Dit word gedoen omdat hulle nie Kaapssprekers aanstoot wil gee nie. Die redenasie is dat die toekoms van Afrikaans om demografiese redes al hoe meer deur bruin mense bepaal sal word. Daarom word Kaaps sonder meer goedgepraat; dus dat Afrikaans vorentoe maar al hoe meer Engelsbesoedeld kan word, solank dit in ’n mate bly voortbestaan. Omdat Afrikaanstaalsuiwerheid nie bepleit word nie, is dit geensins meer net bruin mense wat Afrikaans verengels nie. Dit is in toenemende mate wittes wat geradbraakte Afrikaans besig.

Wat glad nie in afdoende mate in ag geneem word nie, is die uitkoms van hierdie proses: Afrikaans as ’n mengeltaal, ’n brouseltaal; ’n taal wat kennis van Engels veronderstel; ’n taal wat nie meer ’n taal uit eie reg is nie; ’n taal waarop Afrikaanssprekers kwalik trots kan wees (veral in vergelyking met wat Afrikaans eens was); ’n taal waarvan die bestaan naas Engels al hoe minder geregverdig kan word; ’n taal wat met die hartlike samewerking van Afrikaansinstansies en Afrikaanstaalkundiges en -letterkundiges voorbestem is om te verdwyn. Hoekom is dit besig om sienderoë te gebeur? Omdat taalsuiwerheid nie bevorder, byvoorbeeld gepropageer, word nie. Dit het ’n taboe-onderwerp geword. Omdat – dít is die kern van die saak – daar weens die sug na politieke korrektheid (dus politieke byderwetsheid) versuim word om ten gunste van Standaardafrikaans en teen Engelsbesoedelde Kaaps kant te kies. Dit is bedroewend dat politieke byderwetsheid (bv versoening en nasiebou) vir diesulkes swaarder as die belange van Afrikaans weeg. Soos tydens die grondwetlike onderhandelinge in 1990/94 word die verkeerde strategie met Afrikaans gevolg. Die Here sou Sodom nie verdelg het as daar selfs maar net tien regverdiges was nie (Genesis 18:32). Onder Afrikaansinstansies en -dosente is daar eintlik nie ’n enkele een nie.

Weens die sug na politieke byderwetsheid word ons deesdae op grond van Christo van Rensburg se wilde bewering wysgemaak dat Afrikaans op ’n spesifieke dag ontstaan het, naamlik toe Khoi-Khoin in 1595 die eerste keer met matrose van ’n Nederlandse skip handel gedryf het. Nederlands was egter toe nog nie eens gestandaardiseer nie en daardie matrose het nie noodwendig Nederlands gepraat nie. As dit waar sou wees dat Afrikaans op daardie dag ontstaan het, sou dit Afrikaans uniek maak omdat dit in die geval van ander tale nie moontlik is om so presies ’n ontstaansdatum te bepaal nie.

Nog ’n polities byderwetse mite wat deesdae aanhang geniet, is dié van Hans den Besten. Volgens hom was die Khoi-Khoin en slawe by die ontstaan van Afrikaans die invloedryke hoofstroom. Die Nederlandse invloed was in hierdie proses glo bloot ’n systroom. Maar meer as 90% van die Afrikaanse woorde toon geen Khoi-Khoin- of slawe-invloed nie. By ander tale word algemeen aanvaar dat die elite, nie die gepeupel nie, beslag aan daardie tale gegee het. Om polities byderwetse redes word daar egter deesdae voorgegee dat Afrikaans ook in hierdie opsig uniek is.

Aansluitend hierby is daar die kombuistaalhipotese: dat Afrikaans aan die Kaap in die kombuise van Nederlanders ontstaan het. Dit word gedoen om die rol van wittes in die ontstaan van Afrikaans te marginaliseer. Dwarsoor die wêreld is dit die elite wat vanweë hulle invloedryke posisie in die samelewing beslag aan ’n taal gee. Ook in hierdie opsig is Afrikaans nie uniek nie. Die lede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) het op 14 Augustus 1875 in ‘n voorkamer (die eetkamer) van Gideon Malherbe se huis in die Paarl byeengekom. Daarna het die Eerste Afrikaanse Taalbeweging gevolg. Afrikaans is veel eerder ’n voorkamer- as ’n agterkamer- (oftewel kombuis-) taal.

Soos by die Franse bestaan daar deesdae by die Nederlanders kommer oor die toenemende invloed van veral Engels. In WAM Carstens en EH Raidt se boek Die storie van Afrikaans, Deel 1: Uit Europa en van Afrika (Pretoria: Protea Boekhuis, 2017) staan: "Die kommer oor die invloed van ander tale, veral Engels, op Nederlands het in Julie 2015 gelei tot ’n belangrike manifes oor die Nederlandse taal. Hierdie manifes, wat saamgestel is deur ’n aantal invloedryke persone in die Nederlandse tersiêre sektor, druk die bekommernis uit oor die invloed wat (’n taal soos) Engels kan hê op die gehalte en volhoubare gebruik van Nederlands in die onderwys en aan universiteite. Een van die stellings in die manifes dui aan dat die ’beheersing van de Nederlands taal het zwaarst wegen: zij is de noodzakelijke basis om andere talen goed te kunnen leren.’ En verder: ’Het hoger onderwijs – en dus ook de universiteit – heeft een bijzondere verantwoordelijkheid met betrekking tot het onderwijsgebouw als geheel. De cultivering van het Nederlands als de instructietaal in ons onderwijs is om die reden een kerntaak van de desbetreffende wetenschappelijke vakdisciplines’" (bl 399). "Die volledige teks van die manifes is te lees by http://www.beteronderwijsnederland.nl/taalmanifest" (bl 516).

Daardie twee aanhalings gee die kern van die manifes weer in soverre dit op Afrikaans betrekking het. Die klem word geplaas op die gevare wat die toenemende gebruik van Engels as onderrigtaal aan Nederlandse universiteite inhou en maniere word gesoek om ’n omkering van hierdie neiging te bewerkstellig. Die afskaling van Nederlands in die onderrigsektor kan as ’n weerspieëling van gebrekkige taaltrots by Nederlanders vertolk word. Dieselfde kan ongelukkig ook van Afrikaans en Afrikaanssprekendes gesê word. Ander onderliggende redes is internasionalisering/globalisering, met Engels as die leidende voertaal in die Weste, asook politieke byderwetsheid deurdat die eie opgeoffer word ten bate van buitelanders wat aan Nederlandse universiteite studeer. ’n Soortgelyke mentaliteit vier hoogty in Suid-Afrika in die verengelsing van die tradisioneel Afrikaanse universiteite.

Die situasie in Suid-Afrika is veel erger as in Nederland. ’n Andersoortige manifes is nodig. Afrikaans word nie net aan universiteite deur verengelsing bedreig nie; dit geld ook vir skoolonderrig. En Afrikaans word nie slegs in die onderwyssektor afgeskaal nie, maar in alle staats-, openbare en selfs privaat sektore. In ’n poging om die situasie te beredder, word ’n konsep-Afrikaansmanifes hiermee as ’n werks- of gespreksdokument voorgelê.

Ons as Afrikaanssprekendes verklaar hiermee dat

  • ons trots is op wat in Afrikaans tot stand gebring is
  • ons groot waarde heg aan Afrikaans as ’n volwaardige taal
  • ons eis dat Afrikaans as amptelike taal tot sy reg kom
  • ons Afrikaans oral en altyd gebruik waar en wanneer dit enigsins sinvol is
  • ons bereid is om telkens vir Afrikaans in die bres te tree
  • ons daarop aandring dat skool- en naskoolse onderrig in Afrikaans beskikbaar moet wees
  • ons Afrikaans so suiwer moontlik hou en gebruik
  • ons veral teen die verengelsing van Afrikaans waak
  • ons Standaardafrikaans as rigsnoer koester
  • ons die Europees-vastelandse grondslae van Afrikaans aanvaar
  • ons Kaaps, in soverre dit Engels is, as ’n bedreiging vir Afrikaans beskou.
  • 9

Kommentaar

  • Hannes Underhay

    Ag dankie, Johannes Comestor. Ek dag dis net ek en ene Henk Kruger wat so voel en gatvol is vir die verminking.

  • Die skrywer vertoon ’n goeie kennis van taal en die geskiedenis daarvan, maar ongelukkig weinig indien enige taalinsig.
    Ek is dit met hom eens dat ons moet bly veg vir die status van Afrikaans op regs-, akademiese en sakegebied. Taal as kommunikasiemiddel kan ons maar net oor kla, maar kan absoluut niks daaraan doen nie. Taal word gemaak deur die sprekers daarvan, hulle vir wie dit hulle moedertaal is. Taalkundiges kan hier bolangs grom en regstel waar hulle dink dit verkeerd loop, maar dit help uiteindelik nie om die versene teen die prikkels te slaan nie. Dit help nie om ’n taal in ’n 1960-kanfroetfles te druk en in suikerstroop te bewaar nie. Daar sal hy vrek. Dis eintlik onmoontlik, want ’n lewende taal sal uitpeul.
    Dis is nou maar enemale so dat Afrikaans naas Engels hier in Suid-Afrika bestaan. Aangesien beide Germaanse tale is, is dit heeltemal onmoontlik om die twee van mekaar weg te hou. Aangesien Engels ’n wêreldtaal is, en buitendien ook die wetenskaplike taal van die wêreld is, is dit eintlik ’n aanwins vir Afrikaans. Engels is die voedingsaar vir Afrikaans. Sonder Engels sou Afrikaans vergelyk kon word met Tofu in Rusland.
    Ek weet dit klink aardig en krap aan baie taalpuriste se senustelsels as mense sommer so Engelse woorde gebruik as hulle Afrikaans praat. Dan is daar ook nog Kaaps en ander variëteite Afrikaans wat ’n mens se nekhare laat rys, maar dis die mense se moedertaal. Nou hoe gemaak? Jy kan nie sommer vir miljoene mense wil vertel hulle praat verminkte taal, en hulle moet liewer soos jy, suiwer Afrikaans praat nie. Nee, as ’n taal eers sy loop geneem het, kan jy of wie ook al, niks daaraan doen nie. So was dit met Engels, en haas elke ander taal.
    Vir die Afrikaanssprekende klink dit asof Afrikaans opgemors word, en nie Engels nie. Allermins. “Why can’t the English learn their children how to speak?” het prof. Higgins lank terug reeds gehuil.

  • Die dae toe Afrikaners en Afrikaner nasionalisme die Afrikaanse taalsepter geswaai het, is vir altyd verby. Weg is die dae toe LW Hiemstra by Die Burger en die Taalbulle by die destydse SAUK se Afrikaanse diens namens alle Afrikaanssprekendes besluit het wat goed en reg is vir die taal. “Suiwer Afrikaans” het byna godsdienstige afmetings aangeneem. Hierdie hovaardige houding oor die “suiwerheid” van Afrikaans het baie, veral Bruin Afrikaans eerstetaalsprekers, geheel en al vervreem van Afrikaans omdat dit hulle minderwaardige Afrikaanssprekers gemaak het.
    Maar kom ons praat bietjie apartheidspolitiek, iets waarvoor jy heeltemal toondoof is. Op 27 Maart 2014 skryf John Fagodien ’n brief (Nie verstoot nie en nie vertrap nie) op hierdie forum oor sy familie wat in 1950 na die Groepsgebiedewet uit hul jarelange tuiste in Goodwood uitgegooi is.
    Jy reageer soos volg (28.03.2014) op Fagodien se skrywe: “Daardie afgesaagde verwysing na stootskrapers en kindertjies is ’n ANC-strontstorie. Wanneer ’n krotbuurt opgeruim is (iets wat in alle beskaafde lande gedoen word), is lank vooraf en selfs by herhaling kennis daarvan gegee. Dit is diegene wat te hardegat was om te gehoorsaam wat gekla het toe die opruiming begin. Gelukkig was daar toe nog wet en orde. As die Fagodiens eiendom in Goodwood verloor en op die Kaapse vlakte hervestig is, het dit nie sonder kompensasie geskied nie. Baie, waarskynlik die meeste, van die bruines wat verskuif is (bv. uit Distrik Ses), het beter huisvesting gekry as wat hulle voorheen gehad het.”
    In hierdie selfde kommentaar skryf jy verder… “In Suid-Afrika is algemene stemreg in ’n eenheidstaat ’n onding. Dit is sowel onregverdig as gevaarlik as die onontwikkelde, ongeletterde, oningeligte en maklik geïntimideerde massa beheer oor ’n goed of redelik ontwikkelde land oorneem…”
    My punt is die volgende: Jy verwag dat die meerderheid Afrikaanssprekers, maw Bruinmense, oorgehaal moet word tot Standaardafrikaans. Hoe op dees aarde verwag jy om dit reg te kry, nadat Afrikanernasionaliste soos jy in die ou bedeling vóór 1994, hierdie mense figuurlik in die tande geskop het, en na ’94 absoluut géén berou daaroor het nie?
    Maar verder: Waarskynlik die meerderheid wit Afrikaners, jonk, middeljarig en oud voel so skuldig oor ons apartheidsverlede en die prominente rol wat Afrikaans vanaf veral 1948 daarin gespeel het, dat hulle vere voel vir ’n taalstryd soos wat jy propageer. Dis die laaste plek waar hulle gesien of gehoor wil word. Ek het nuus vir jou, niemand van belang in die Afrikaanse dampkring stel belang nie.
    Hoe dink jy gaan goeie, ordentlike en medemenslike wit Afrikaners hulle laat betrek by ’n manifes van iemand wat versoening en nasiebou gelykstel aan politieke byderwetsheid?
    Laastens, ek sien jy verwys na die Khoi-Khoin as die “gepeupel” en die witmense van die GRA as die elite? Met hierdie meerderwaardigheid gaan jy en jou manifes nêrens kom nie. Nie in SA in 2020 nie.

  • Ek lees in bogenoemde artikel ook dat die mening toegedaan word dat die wisselwerking tussen Engels en Afrikaans lei tot die ontmoediging van nuutskeppinge. Die teendeel is egter waar; dit is juis Engels wat die skepping van nuwe woorde in Afrikaans aanmoedig.
    Dit werk so: ’n Engelse woord word net so oorgeneem, of dit word vertaal, of dit word verafrikaans, of ’n nuwe woord word geskep met bestaande woordmateriaal.
    Daar sal altyd een of ander rede wees waarom van ’n Engelse woord gebruik gemaak word; dis nie sommer loslittigheid en slapgattigheid van taalgebruikers soos die skrywer beweer nie.

  • Anthony Wilson

    Die rigting en die gebruik van 'n taal - so ook Afrikaans - word deur sy sprekers bepaal; net soos geskiedenis deur die wenners geskryf word en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. Soos Professor Adam Small gesê het oor Kaaps. “Dit is ‘n volwaardige taal waarin mense hul eerste skree in die lewe gee, al die transaksies van sy lewe afhandel en dan sy laaste doodsroggel uiter.” Vir dié mense kan jy nie besluit met so ‘n ras gebaseerde taal manifest nie. Jy sluit die grootste groep Afrikaans sprekers uit en hoe durf jy? Dit nogal in 2020! Maar dan wil ek ook sê dit is belangrik dat daar ‘n standaard Afrikaans is en wat bestaanreg het. Ons mag nie die en bo die ander bevoordeel nie. Prof Tony links het altyd gesê:”Elke gesprek word bebek.” Bedoelende jy pas jou taal aan volgens jou toehoorder. Ons praat dus anders met die predikant, onderwyser en prokureur as met jou vriende om die braaivleisvuur. Daar is plek vir Suiwer Afrikaans en ‘n lekker loslit Afrikaans wat nie juis ‘n swakker of afgewaterde Afrikaans is nie – nie in die oë van sy sprekers nie. Kyk maar op Kyknet – ons praat SOE! En … julle praat SO!

  • Hendrik Scheepers

    'n Taal wat sy status verloor is 'n sterwende taal. Afrikaans het sy status verloor. Johannes Comestor. Dankie vir jou uitstekend stuk. Korrelkoppe sal wel hulle kommentaartjies lewer.

  • Hendrik Scheepers

    Johannes Comestor. Dankie vir jou stuk. Ek stem 100% saam. Die korrelkopbrigade sal natuurlik hulle kommetare lewer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top