Bestekopname in die middel van die jaar: ’n gesprek oor skoolrapporte

  • 0

Foto: Alissa De Leva op Unsplash

In die hartjie van die wintervakansie praat Dierdre Bester, ’n afgetrede opvoedkundige sielkundige, met Naomi Meyer oor hoe ouers en leerders terug kan kyk na hul uitslae van die tweede kwartaal – en vorentoe kan kyk na die res van die jaar se akademie.

1. Dierdre, wat is jou agtergrond?

Ek is ’n grootliks afgetrede opvoedkundige sielkundige wat meestal betrokke was as onderwyser en sielkundige by skole vir kinders met leerbehoeftes. Hoewel ek nie voltyds praktiseer nie, is ek steeds op ’n ad hoc-basis betrokke by opleiding van kinders en ouers in verskillende aspekte van kinderontwikkeling.

2. Die meeste skole se uitslae na die tweede kwartaal is bekend – en sommige kinders wat nog daarvoor en ontvang eers rapporte aan die begin van die derde kwartaal. Het jy raad vir ouers as hulle kinders se uitslae teleurstellend is?

Die uitslae van eksamens is die kulminering van verskeie faktore: die algemene gesondheid- en emosionele toestand van die kind tydens die skryf van die eksamen, die voorbereiding wat vooraf gedoen is, vertroue wat die kind in sy eie vermoë het rondom die spesifieke leerarea en sy voorbereiding daarvoor, die beantwoording van die vraestel, ens.

.....
Indien die punte teleurstellend is, is daar dus ’n uitstekende geleentheid tot gesprekvoering tussen die ouers en die kind. In die eerste plek moet die kind weet dat dit nie die einde van die wêreld is as hy in ’n eksamen nie te goed gevaar het nie, en die gesprek moet ook in die trant gevoer word dat die kind weet dat dit nie ’n vingerwysing- of teregwysingsgesprek is nie, maar ’n gesamentlike soeke na waar die probleem of probleme gelê het en om oplossings te soek om daardie probleme dan aan te spreek.
.....

Indien die punte teleurstellend is, is daar dus ’n uitstekende geleentheid tot gesprekvoering tussen die ouers en die kind.

In die eerste plek moet die kind weet dat dit nie die einde van die wêreld is as hy in ’n eksamen nie te goed gevaar het nie, en die gesprek moet ook in die trant gevoer word dat die kind weet dat dit nie ’n vingerwysing- of teregwysingsgesprek is nie, maar ’n gesamentlike soeke na waar die probleem of probleme gelê het en om oplossings te soek om daardie probleme dan aan te spreek. Dit is ook nog net die tweede kwartaal, en alle struikelblokke kan nou nog aangespreek en opgelos word voordat die volgende belangrike eksamen geskryf word.

Temas wat tydens so ’n gesprek bespreek  kan word:

  • Verstaan die kind die werk? Moontlike oplossings: Vra die onderwyser se hulp; tutor, ekstra lesse om spesifieke aspekte aan te spreek
  • Het hy genoeg tyd aan die voorbereiding bestee en is die beskikbare tyd goed bestuur? Kinders sit soms lang ure en “leer” terwyl hulle nie die tyd werklik nuttig gebruik het nie. Het hulle genoeg tyd in die middae om aan skoolwerk en leerwerk te spandeer? Soms is die kinders tot 6-uur smiddae so besig met buitemuurse aktiwiteite en sport dat daar skaars tyd vir huiswerk is. Onthou dat huiswerk reeds ’n vroeë aanduiding vir die ouers/kind kan wees indien hulle hulle werk nie verstaan nie, en daar kan dan vroegtydig iets daaraan gedoen word.
  • Is die kind positief ingestel teenoor die skool en die gepaardgaande werk? Het hy ’n toekomsvisie?
  • Gebruik die kind goeie studiemetodes om sy werk te leer en te memoriseer? Oplossing: ’n Studiemetodeskursus om hom aan die tegnieke bekend te stel. Kinders sal liewer tegnieke probeer toepas wat ’n “buitepersoon” aan hulle verduidelik as wat hulle dieselfde inligting sal probeer toepas wat hulle vanaf hul ouers kry.
  • Is sy werkplek/lessenaar georganiseerd en word dit alleenlik vir sy huiswerk en leerwerk gebruik? (Dus nie die eetkamertafel nie.)
  • Let die kind op in die klas? Die eerste leergeleentheid vind in die klaskamer plaas, maar kinders kla gereeld dat hulle nie kan konsentreer nie omdat ander kinders hul aandag in die klas aftrek. In so ’n geval moet jou kind liewers voor in die klas sit waar hy minder bewus sou wees van wat die ander kinders doen.
  • Kan jou kind gekonsentreerd werk? Indien hy nie kan konsentreer nie (dalk dagdroom of hiperaktief is en nie kan stilsit nie), is dit ’n goeie idee om oplossings daarvoor te vind – ’n aandagtekort los homself nie sommer maklik vanself op nie.
  • Het jou kind genoeg geslaap, geoefen en ’n goeie gebalanseerde dieet gevolg tydens die skryf van die eksamen (en handhaaf oor die algemeen ’n gesonde gebalanseerde lewenswyse)?
  • Was hy gestres of angstig terwyl hy die eksamen geskryf het? Bespreek redes daarvoor en hoe dit aangespreek kan word.

Hierdie is maar enkele voorbeelde van dinge wat tydens gesprekke bespreek kan word.  Breek die berg af in kleiner molshope wat hy kan prioritiseer en een vir een kan aanspreek.

Dit is belangrik dat die kind inkoop in die soeke na oplossings en dat dit nie net by gesprekvoering bly nie, maar dat daar veranderinge gemaak word ten opsigte van die gebiede waar probleme geïdentifiseer is.

Daar is egter ook nie een towerplan wat vir almal werk nie – elke kind in die gesin is uniek en wat vir een werk, is nie noodwendig die beste oplossing vir die ander nie. Beplan saam met jou kind aan oplossings wat vir hom sal werk en waarmee hy kan volhou – natuurlik deurlopend met jou volle steun sonder dat jy die verantwoordelikheid daarvan op jou neem.

3. Maak punte en resultate in die skool werklik so baie saak?

Die punte en resultate wat ’n kind op skool behaal, bepaal definitief nie die kind se “waarde” as persoon nie, en “goeie” punte is ook geen waarborg dat ’n kind in sy volwasse of  beroepslewe suksesvol gaan wees nie. In die tradisionele skoolstelsel word slegs die akademiese aspek van die kind in spesifieke leerareas tydens eksamens getoets, en ander baie belangrike vaardighede en talente waaroor die kind  beskik, word nie in aanmerking geneem nie. Dit is reeds ou nuus dat baie beroepe wat vandag bestaan, in die volgende dekade nie meer sal bestaan nie en dat baie beroepe nog nie bestaan waarmee ons kinders hulself eendag gaan besig hou nie.

.....
Uiteindelik is die mikpunt nie om net goeie resultate en uitslae op skoolrapporte te kan wys nie, maar om ’n gebalanseerde kind  groot te maak wat later as volwassene die uitdagings wat die lewe aan hom stel, met selfvertroue te kan aanpak en ’n gelukkige lewe te kan lei.
.....

Ja, eksamenuitslae en rapportpunte is wel van die mees voor die hand liggende meting- en vergelykingsinstrumente vir instansies waar daar keuses gemaak word tussen verskillende kandidate wat om ’n spesifieke pos of beurs ens meeding. Maar daar word ook baie spesifiek gekyk na vaardighede soos:

  • Vermoë om krities te dink
  • Kreatiewe denke
  • Aanpasbaarheid
  • Ontleding van inligting
  • Besluitnemingsvaardighede
  • Probleemoplossingsvaardighede
  • Vermoë om in groepe saam te werk
  • Verantwoordelikheidsin
  • Kommunikasievaardigheid
  • Waagmoed en selfvertroue om nuwe terreine te betree
  • Selfbestuur en selfmotivering.

Uiteindelik is die mikpunt nie om net goeie resultate en uitslae op skoolrapporte te kan wys nie, maar om ’n gebalanseerde kind  groot te maak wat  later as volwassene die uitdagings wat die lewe aan hom stel, met selfvertroue te kan aanpak en ’n gelukkige lewe te kan lei.

 4. Hoe kan ouers hulle kinders help floreer – veral akademies?

  • Skep ’n leeratmosfeer in die huis waar waarde geheg word aan werksetiek en die aanvaarding van die verantwoordelikheid deur die kind om te wil leer. Maak dit vir die kind ’n lekker aktiwiteit om sy huiswerk te doen en om tyd aan leerwerk te spandeer.
  • Maak seker dat hy ’n toegewyde ruimte het waar hy altyd sy werk kan doen en dat alle aandagafleiers verwyder is, bv prente teen die muur, of ’n venster waardeur hy na buite kan staar eerder as om te werk. Geen selfone of televisie mag in sig wees nie.
  • Help hom om sy beskikbare werktyd nuttig te bestee, om prioriteite te kan identifiseer en werkskedules vir elke dag en week vooraf uit te werk sodat hy weet wat hy moet doen wanneer hy by sy lessenaar gaan sit. Al het hy die middag geen huiswerk nie, moet hy steeds die tyd wat daarvoor opsy gesit is, benut deur byvoorbeeld opsommings te maak, ens.
  • Maak tyd vir ontspanning elke dag, maar geen televisie of rekenaarspeletjies gedurende die week nie (insluitend Vrydae).
  • Skep ’n periode van 20 tot 30 minute per dag wanneer elke lid van die gesin aan ’n leesaktiwiteit deelneem – selfs ook die voorlees van ’n boek deur een van die ouers as die kinders nie graag self lees nie. Om met begrip te kan lees is een van die belangrikste voorvereistes vir ’n kind se sukses met leerhandelinge en ook wanneer hy eksamen skryf; doen dus alles in jou vermoë om die kind te help om ’n liefde vir lees aan te kweek, maar ook om met begrip te lees.
  • Belê in ’n goeie studiemetodeskursus. Om te leer en eksamen te skryf is ’n werklikheid waarvan kinders nie kan ontsnap nie – help hulle dus om van die begin af op die regte maniere te leer en om die leer- en memoriseertegnieke baas te raak. Hierdie vaardighede sal hy vir die res van sy lewe baie nuttig kan gebruik.
  • Help die kind om sy gegewe talente en sterkpunte te ontdek en te ontwikkel.
  • Om eksamen te skryf is ’n kuns wat aangeleer kan word, en hoe meer oefening die kind kry, hoe beter. Daar is verskeie instansies en organisasies wat oefenvraestelle vir elke graad en leerarea aanbied. Laat jou kind vraestelle deurwerk asof dit sy eksamen is (dus ook binne die tydsduur wat op die vraestel aangedui is) en werk die memorandums met hom deur.
  • Wanneer die vraestelle wat jou kind geskryf het, beskikbaar gestel word vanaf die skool, is dit ’n baie goeie praktyk om saam met jou kind die vraestelle deur te gaan en te kyk watter foute hy begaan het: byvoorbeeld vraag verkeerd gelees; nie genoeg of regte afdelings geleer nie; tydsbestuur tydens die eksamen was nie goed nie; verstaan nie die werk nie. Ontleed die foute wat begaan is en werk saam aan oplossings sodat dieselfde foute nie later weer gemaak word nie
  • Prys jou kind vir alle goeie uitslae, positiewe opmerkings van onderwysers of ander mense, harde werk en pogings wat hy aangewend het om iets baas te raak. Moedig hom aan as hy werklik probeer het, al was die poging nie so suksesvol nie. Praat oor mislukkings en help hom om by ’n oplossing vir probleme rondom sy akademie of ander sake uit te kom.
  • Help jou kind om ’n gesonde, positiewe selfbeeld te bou met ’n “ek kan”-houding wat bereid is om te waag en om oplossings vir struikelblokke te vind. 

5. Skoolvakansie ...moet kinders die skool vergeet of hoe kan mens hul gestimuleer bly. Moet mens nou dink aan nuwe kanse wat voorlê?

Ek is ’n sterk voorstander daarvan dat die skoolvakansies geniet moet word en dat dit ’n welkome breek van die harde skoolwerk vir die kinders moet wees. Dit beteken egter nie dat jy as ouer nie ’n bietjie “vindingryk” kan wees in die tipe ontspanning waaraan die kinders deelneem nie. Veral nou, in die wintervakansie, kan leesaktiwiteite goed ingespan word. Benewens die leesstof wat die kinders self kies (moenie ’n leessnob wees nie – laat hulle lees wat hulle wil), kan daar ’n saamleestyd elke dag geskep word, waar ’n stuk van ’n boek wat moontlik nog bo die kind se vuurmaakplek is, vir hom voorgelees word – soos ’n vervolgverhaal. Na elke leessessie kan die inhoud van die boek met die kind bespreek word, byvoorbeeld: Hoekom dink jy het hulle dít gedoen? Dink jy dit was die  regte besluit? Wat kon hulle anders gedoen het? En as hulle dit eerder só gedoen het, wat sou die gevolge gewees het? Wat dink jy gaan nou gebeur? Ens.

Speletjies, byvoorbeeld kaartspeletjies soos Snap, kan ook ’n bietjie aangepas word om wiskundige aspekte by die kind in te skerp. Besluit byvoorbeeld vooraf of dit vandag optel, aftrek of vermenigvuldiging is. Twee spelers sit elkeen ’n kaart neer en die eerste een wat die antwoord van die betrokke som korrek het, kry albei kaarte. Die wenner is die persoon wat op die end al die kaarte in die hand het. (Sorg maar dat daar ’n arbiter byderhand is!)

Dobbelsteentjies en dominoblokkies kan op dieselfde manier ingespan word.

Bowenal, geniet die vakansie sodat julle weer met nuwe ywer en met ’n positiewe houding en motivering die volgende skoolkwartaal kan aandurf!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top