Grant-Pierre van Wyk studeer Opvoedkunde in Kaapstad. ’n Taak wat hy vir sy studies moes doen en ’n proeftydperk by ’n skool het hom geïnspireer hom hierdie artikel te skryf en vir LitNet te stuur.
..........
Sonder moedertaalonderrig sal die voortslepende ekonomiese uitdagings in Suid-Afrika nie gou verdwyn nie. Dit is ’n harde realiteit wat elke landsburger moet besef.
...........
Sonder moedertaalonderrig sal die voortslepende ekonomiese uitdagings in Suid-Afrika nie gou verdwyn nie. Dit is ’n harde realiteit wat elke landsburger moet besef. Indien daar enige wilskrag onder Suid-Afrikaners oor is om hul mede-Suid-Afrikaners regoor die kultuurspektrum ekonomies te bemagtig (wat ook natuurlik misdaad logiesgewys sal verlaag en tot ’n mate bekamp), is moedertaalonderrig ’n absolute moet en mag dit nie eers as net ‘n moontlikheid beskou word nie. Die argument dat dit te veel geld en tyd gaan kos om moedertaalonderrig in Suid-Afrika te bevorder (gegewe die land se huidige toestand), is eenvoudig op onkunde geskoei. Die hoeveelheid navorsing wat wêreldwyd, onder andere deur Fernand de Varennes van die Verenigde Nasies, gedoen is, bewys totaal en al die teendeel: Moedertaalonderrig sal op die langtermyn meer welvaart skep al mag dit aanvanklik finansiering, soos alles wat belangrik is, benodig.
Ek, as ’n finalejaarstudent by KSUT (beter bekend as CPUT in, ja, ongelukkig Engels), het die kwessie rondom moedertaalonderrig wat gedurig tydens lesings bespreek word, bevraagteken. As ’n onderwysstudent was ek vir ’n lang ruk onder die indruk dat hierdie gesprekke eintlik nutteloos is. Totdat ek die negatiewe impak van verengelsing en eintlik onderdrukking van elke ander kultuurgroep in Suid-Afrika, voor my oë op ’n akademiese vlak kon sien uitspeel: Ek het onlangs by ’n hoërskool in Kuilsrivier gaan proef. My Engelse mentoronderwyser (Afrikaans en Engels is my hoofvakke – Engels is nie ’n probleem nie, maar wel hoe dit in ons land aangewend word) het my binne die eerste paar dae van my proeftydperk in kennis gestel dat 50% van haar Engels Huistaal-leerders in Graad 8 hulle eerste kwartaal met lof gedruip het. (’n Spreekwoordelike pragtig-pragtig tien uit tagtig.)
Enige logiese mens se eerste vraag sal natuurlik die volgende wees: Waarom? Die antwoord is verbasend eenvoudig. Afrikaanse/Xhosa ouers (die Wes-Kaapse taalgroepe buiten die moedertaal Engelssprekende ouers) stuur hul kinders na Engelse skole toe. Die waarom-vragie mag dalk weer onvermydelik opduik… Ouers is dikwels oningelig oor die belangrikheid van moedertaalonderrig. Dus stuur hulle hul kinders na Engelse skole toe sonder die wete dat hul kinders waarskynlik op die langtermyn die nadelige vrugte akademiesgewys sal pluk. Die aanname mag dalk wees dat die wêreld Engels is. My Afrikaanse lektor by KSUT het dit onlangs onder my aandag gebring dat ’n mens nie met die imperialistiese taal reg sal kom in Duitsland, Frankryk, Italië, ensovoorts nie. Mandaryn (die Sjinese taal) is besig om wêreldwyd oor te neem. Realistiesgesproke gaan bitter min mense regtig die taal uit die Ooste wil aanleer, ongeag die argument dat dit jou finansieel kan bevoordeel, aangesien dit baie kompleks is. Mense kan dus net sowel op hul moedertaal fokus en dit uitbou, veral in die Suid-Afrikaanse konteks.
Ongelukkig het die land wel in ’n groot mate verengels danksy verskillende faktore, waarvan die regering se swak ingesteldheid teenoor moedertaalonderrig ’n groot druppel in die emmer is. Die blote feit dat hulle nie ’n daadwerklike poging aanwend om Xhosa-skole te bou of selfs die taal te ontwikkel nie, is iets om van naar te raak, want hulle benadeel mense wat heel waarskynlik vir hulle stem juis om ekonomiese vooruitgang te bereik. Hoe op dees aarde vermag ’n mens laasgenoemde as mense nie eers verstaan wat onderwysers vir hulle wil leer nie omdat hulle in Engels (’n taal wat hulle nie verstaan nie) van jongs af onderrig moet word? (Retories.)
Die oplossing moet uit ’n pragmatiese oogpunt begin by gestruktureerde onderwys waar daar na die belange van die leerder se akademiese vordering omgesien word. Die leerder moet dus geprioritiseer word sonder enige verpolitisering van moedertaalonderrig. Indien laasgenoemde nie geskied nie, sal dit uiteindelik tot verdere vertraging van ekonomiese vooruitgang lei. Die regering moet soveel moontlike fondse (die belastingbetaler se geld wat aan onderwys bestee moet word, sal ’n goeie beginpunt wees) na onafhanklike instansies wat moedertaalonderrig op ’n praktiese manier by skole wil implementeer, kanaliseer. Sodoende gaan instansies wat moedertaalonderrig vorentoe wil neem, die rol van die staat heeltemal moet oorneem inaggenome dat die ANC eenvoudig nie weet hoe om planne konstruktief uit te voer nie. (Let wel: Dis nie ’n politieke stelling nie, want dit word slegs op feite geskoei.) Selfs ’n burgerregteorganisasie soos AfriForum kan ingespan word om in die hof ’n saak te maak wat die voorafgaande voorstelle se implementering op ’n wettiese vlak moontlik kan maak. (Hopelik sal haat en vooroordeling vir die laasgenoemde voorstel uit verskeie oorde nie plaasvind nie, veral inaggenome dat daar na die groter prentjie van Suid-Afrika se onderwyssisteem gekyk moet word.) Die DA, IFP, VF+, PA, HOPE, GOOD en selfs die ACDP kan hulle stemme op ’n politieke wyse dik maak. Samewerking is uiteindelik die sleutel tot sukses, veral aangaande die belangrike kwessie van moedertaalonderrig.
Suid-Afrika se onderwyssisteem is volgens Statistics South Africa die swakste in die wêreld. Dit is nie hoegenaamd ’n goeie verskynsel nie, want dit beteken natuurlik dat Zimbabwe, Noord-Korea en selfs, ja, Venezuela beter as ons vaar. Dis ’n tragedie dat slegs 20% van Suid-Afrikaanse skole (waar leerders grotendeels onderrig in hul moedertaal ontvang) internasionale, akademiese standaarde handhaaf. Die res van die skole se maatstaf is wel laer as die lande wat vroeër genoem is.
Die belastingbetaler se geld moet na instansies toe gaan wat ’n daadwerklike verskil omtrent moedertaalonderrig wil maak – nie die onbevoegde ANC nie. Net soos belastingbetalers wanfunksionele munisipaliteite se funksies oorgeneem het, moet instansies, soos die MOS-inisiatief wat fokus op moedertaalonderrig, wanfunksionele skole se finansies oorneem om akademiese infrastruktuur te skep wat vooruitgang sal verseker. Die leeglêers van daardie betrokke skole moet dan natuurlik gepos word. Niemand word geforseer om te werk nie. Volgens die antieke boek (van waarheid) wat vol wysheid is, die Bybel, mag jy nie eet as jy nie werk nie (2 Tessalonisense 3 vers 10). Die “harde ingesteldheid” (volgens die moderne era se standaarde) is noodsaaklik vir volhoubare onderwys en ekonomiese vooruitgang in Suid-Afrika. Dit gaan oor die toekoms van die mooiste land in die wêreld, asook die nageslagte en nie slegs oor die huidige lewendige Suid-Afrikaners nie.
Standaarde en morele waardes gaan van voor af in sekere Suid-Afrikaanse skole (vir onderwysers, leerders en leiers gegewe die konteks van 80% wanfunksionele skole) gevestig moet word. Sonder laasgenoemde sal die akademiese prestasies van Suid-Afrikaanse skole en leerders nie kollektief kan verbeter nie. Wat nog gepraat van die fundamentele fondasie van moedertaalonderrig? (Weer eens, retories.) Die gewoonte om instellings af te brand indien jy nie jou sin kry nie, voel ek, is absurd. Ongelukkig is ek onlangs huis toe gestuur omdat ’n paar indiwidue volgens Maroela Media geboue by KSUT afgebrand het (toe NSFAS die uitbetaling aan studente met 60 studiekrediete of minder juis verminder het – laasgenoemde is volgens News24). Om skade aan geboue aan te rig, help sonder twyfel nie. Dit berokken ewe veel skade aan almal om geboue te beskadig as wat dit skade berokken as almal nie in hul moedertale onderrig ontvang nie. Die skade is jammer – veral gegewe die feit dat KSUT baie doen om moedertaalonderrig uit te brei en uit te bou.
Mag die geveg rondom die belangrikheid van moedertaalonderrig bly voortduur totdat alle Suid-Afrikaners die reg kry om werklik ekonomiese ongelykhede op ’n regverdige en nugter manier met ’n mentaliteit van selfverantwoordelikheid uit te wis. Dis onder andere hoe die land holisties vorentoe geneem moet word. Iemand het eenkeer gesê: Ek glo waar God se wil is, is daar ’n weg. Ek is oortuig dat moedertaalonderrig vir elke skoolkind, as ek na die navorsing van verskeie navorsingsinstitute kyk, God se wil is… Kom ons maak ’n weg – saam.
Bronnelys:
Moedertaalonderrig. Afrikaans.com. s.j. https://afrikaans.com/leerhulp/moedertaalonderrig/ (5 Junie 2023 geraadpleeg).
United Nations. 2020. Educate children in the mother tongue, urges UN rights expert. https://news.un.org/en/story/2020/03/1059241 (5 Junie 2023 geraadpleeg).
Language Magazine. 2022. South Africa Moves to Mother Tongue Education. https://www.languagemagazine.com/2022/07/23/south-africa-moves-to-mother-tongue-education/ (5 Junie 2023 geraadpleeg).
Lees ook:
BAQONDE and multilingual education in South Africa: An interview with Lorna Carson
BAQONDE, boosting the use of African language in education: an interview with Bassey Antia
Jonathan Jansen: Afrikaanse taalaktivisme beduiwel gesprek oor moedertaalonderrig
Internasionale Moedertaaldag: Wat is die belang van moedertaal?
Kommentaar
Uitstekend geskryf uit 'n nugter perspektief.
Jy is reg. Die regering kan nie met onderwys vertrou word nie. Die nuutste ontwikkelinge in wetgewing poog juis om mag verder te sentraliseer in die hande van 'n regering wat niks omgee nie en weg te neem van ouers wat omgee. Die uiteindelike doel is natuurlik om skole te bestuur in lyn met die tipe standaarde waarmee Eskom en die staatsdiens bestuur word. En natuurlik is daar geen plek eintlik vir moedertale in so sisteem nie.
Passop net om nie die bybel te idealiseer nie. Woorde soos 'wysheid' en 'waarheid' is nou nie juis dinge wat mens met die bybel kan assosieer nie. Weinig van die verhale in die bybel is werklike historiese gebeure. Daar is ook geweldige dwaasheid regdeur die bybel. Slawerny. Seksisme. Sinnelose geweld. Volksmoorde. Verkragting. Die lys gaan aan en aan en aan.
Maar vir die res stem ek nogal met heelwat saam van wat jy skrywe.
Barend van der Merwe, bekeer jou tot die Here Jesus Christus voor dit vir jou ewig te laat is, asb.
Hallo Hanno. Jesus Christus is nog een van die talle fiktiewe karakters van die bybel. Vermoedelik gebasseer op 'n historiese Joodse messiaanse figuur en sy volgelinge wat in antieke Israel geleef het, en mettertyd deur mense tot 'n god verklaar en tot vandag nog aanbid word. Niks daaraan is ongewoon nie. Daar was oor die jare talle voorbeelde van mense wat begin het om ander mense as gode te aanbid, ook in ons eie tyd, onder meer oorlede koninging Elisabeth van Engeland se oorlede man prins Philip, wat deur mense op 'n eiland in die Stille Oseaan aanbid was as 'n god. Daar is talle ander voorbeelde van mense wat ook so aanbid was. Die bybel skets hierdie Jesus as 'n aansienlike vriendeliker karakter as wat die god van die sogenaamde 'ou testament' skyn te wees. Soveel so dat gelowiges selfs soms onder mekaar stry oor die 'ou testament' en die diskrepansies tussen god in die 'ou testament' en dit wat in die sogenaamde 'nuwe testament' uitkristalliseer.
Tog is Jesus in die bybel, en nie dat mens die bybel eintlik kan 'glo' vir die historisiteit daarvan nie, maar in die bybel kom Jesus ook as fundamentalisties voor, en vyandig en onverdraagsaam teenoor wie ook al van hom mag verskil. Ek dink nie ek hou in alle opsigte van die Jesus-karakter nie. Sou Jesus werklik op 'n historiese karakter gebou gewees het, dan was nog Jesus, nog sy volgelinge, mense wat ons vandag as 'Christene' sou kon beskryf. Hierdie mense het hulle eie godsdiens gehad, 'n antieke weergawe van die Israeliete se godsdienste van daai tyd, wat, so terloops, ook talle sektes en strydende groeperinge gehad het (the more things change).
Hierdie mense was ook deel van 'n voor-wetenskaplike samelewing. Mens kan hulle stories lees, dit geniet en selfs iets daaruit leer, maar dit is baie belangrik om altyd te onthou dat die bybel net nog 'n boek is wat deur mense geskryf is. Dit bestaan uit mense se idees en moet krities gelees word. Gelukkig kan gelowiges onder mekaar geensins saamstem oor die inhoud van die bybel en wat hulle god of gode presies met die bybel probeer oordra nie. Van daar die feit dat daar meer as 40 000 sektes is, wat almal verskillende waarhede het.
Die NG kerk, waarmee ek grootgeword het, in reeds een keer in my lewe geskeur, in 1987, en skyn op hierdie oomblik weer besig wees om verder te skeur, met klomp sogenaamde dolerende gemeentes wat besig is om in 'n nuwe 'sinode' te organiseer. Sommige vry ook na die vorige skeurders, die APK, maar andere sal nie met die APK wil meng nie. Die verskillende groepe het weinig tot niks goeds om van mekaar se kennis van die bybel en mekaar se Christenskap te se nie. Dit is onduidelik vir my wie van hulle is nou die ware Christene en wie nie. Dit is benewens die ander kerkdenominasies, soos die kredobaptiste, wat ook nie die NG kerk as 'ware' Christene beskou nie.
Jesus se rol in al hierdie dinge is nul. Alles wat die gelowiges doen of versuim om te doen, is die keuses van mense. Gode is nie betrokke by enige iets wat die mensdom aanvang nie.
Ek sit en dink aan 'n Sondag-preek. God en Jesus het nie persoonlik oorlewerings in bybel geskryf nie. Tewens, die bybel as boek is 'n taamlike onlangse gebeurtenis en mense het dié tekste geskryf. Paulus het kerkbriewe binne konteks aan gemeentes van daardie tyd geskryf. Die skrywer Johannes van bv Openbaring, het nie toekomsvoorspellings geskryf aan die vervolgde gemeente in Rome nie, maar kodetaal gebruik. Die tekste was gebruik aanvanklik, vir opvoeding van die publiek. Daarby het die Israeliete en later die Jode van Judea, 'n teokratiese gebaseerde sivielregtelike en ook strafreg stelsels ontwikkel. Die priestersklas in samehang met die koning, het beregting gedoen, oa Salomo. Die enigste opvoedingsinstansie was die Jeshiva vir sg wetsgeleerdes, die res moes toesien.
Die Bela-wetgewing herinner aan Oekraïene, waar die wetlike staatstaal Oekraïense taal is. Hier by ons word Engels, die taal van die Britse kolonaliseerders, weer na honderd jaar terug, heringestel as enigste amptelike taal. Die papier Grondwet veronderstel daar is elf amptelike spreektale, maar noem nêrens iets oor moedertaalonderrig nie. Maw die regering skep hul konstitusie met nuwe wetgewinge en regulasies en gebruik sodoende daardie skuiwergate om die geskrewe Grondwet aan die wetlike werklike konstitusie onderdanig te maak. Daar is vele sg "afstandonderrig-leerders", wat een of ander aanlyn, buitelandse kurriculum volg, wat niks met moedertaalonderrrig uit te waai het. Daar is vele sg "privaatskole" met kurriculums van een of ander buitelandse onderrigmodel.
As moedertaalonderrig so belangrik was, sou volksvreemdes in townships, wat skole gekaap het, tog kon aandring op hul moedertale uit Afrika?
Feit is, onderrig en skole is verpolitiseerd. Terselfdetyd, hoe gaan watter kwalifikasie-owerheid die uiteenlopende klomp skoolkwalifikasies uiteindelik kan waarde gee in die opvoedingstelsel van SA?
Wat aan die gebeur is, is dat vele jonger swartes hul taal en kulture prysgee om Engelse "coconuts" te word, soos die "township" uitdrukking dit beskryf. As dit so aangaan, verdwyn vele Afrikatale in SA, soos die Khoi-tale reeds uitgesterf het.