Die Nasionale Vergadering het die BELAB aanvaar. Daar word net gewag dat die President die wetsontwerp onderteken voordat dit van krag word. Jaco Deacon praat met Naomi Meyer oor die stand van sake.
Jaco, dit lyk of die wysigings aan die Skolewet wel nou binnekort onderteken sal word. Nog ’n stuk wetgewing wat enkele dae voor die verkiesing onderteken sal word. Ongeag wie aan die bewind is, of in koalisie saam met wie ... As die verkiesing verby is en die wysigingswetsontwerp word nou onderteken, wat erf die party aan bewind? Opsommenderwys.
Dis inderdaad ongekend dat die parlement met minder as twee weke voor ’n verkiesing nog wetgewing aanvaar. Die laat aanvaarding van die Bela-wysigingswetsontwerp plaas nou geweldige druk op die President, omdat hy behoorlike oorweging aan enige wetsontwerp moet skenk voordat hy dit onderteken. Hy moet dus seker wees dat die konsepwet aan alle grondwetlike bepalings voldoen, en partye kan (en gaan) petisies aan hom stuur. Baie partye het aangedui dat hulle hofaksie oorweeg.
Een van die grootste tameletjies vir die volgende administrasie sal wees om voldoende fondse te kry om graad R ten volle te kan befonds en seker te maak dat daar voldoende opgeleide opvoeders vir die graad is. Daar is ook regulasies oor die bepaling van skole se kapasiteit op pad en dit gaan beteken dat daar weer ’n belangrike fokus op skoolinfrastruktuur gaan wees.
Die meeste van die sogenaamde toelatings- of taalsake het in wese niks met taal of toelating te doen gehad nie, maar met beskikbare spasie (kapasiteit). Ons het eenvoudig te min skole in die meeste areas waar daar druk is. Baie skole sit ook met ernstige strukturele uitdagings. Die volgende administrasie sal dringend hieraan moet aandag gee.
Waarom sou jy dink dis vir die regering van belang om die BELAB nou te onderteken?
........
Ons sou naïef wees om die politieke redes mis te kyk. Net so voor ’n verkiesing oorskadu dit gewoonlik die ander sake, en iemand soos Mr Lesufi het dit aangevuur. Dit is geen geheim dat daar politieke druk is om BELAB voor die verkiesing deur te druk nie.
........
Ons sou naïef wees om die politieke redes mis te kyk. Net so voor ’n verkiesing oorskadu dit gewoonlik die ander sake, en iemand soos Mr Lesufi het dit aangevuur. Dit is geen geheim dat daar politieke druk is om BELAB voor die verkiesing deur te druk nie.
Nie alles in die wet is sleg nie, maar gaan ook nie noodwendig die strukturele probleme in die stelsel regmaak nie. BELAB het ook baie emosie losgemaak oor taal, toelating en tuisonderrig.
Die wysigings is van belang vir die departement, maar ons moet onthou dit is eerstens ’n groot oefening om ’n wet te wysig waar daar nasionale en provinsiale bevoegdhede is – dit vat lank en is omslagtig, en daar is praktiese sake wat dringend aangespreek moet word, soos die hantering van ongedokumenteerde leerders (nav ’n hofuitspraak), om leemtes in die definisie van lyfstraf aan te spreek en om graad R te inkorporeer (daardie besluit is al 22 jaar gelde geneem).
Wat is die aspekte hiervan wat jou steeds bekommer?
Fedsas stuur ook vandag ’n petisie na die President om sake wat ons steeds bekommer, onder sy aandag te bring voor ondertekening. Hoewel daar groot wysigings was oor die bevoegdhede oor die bepalings oor toelating en taal, wil ons sien dat die vennootskapbeginsel (“co-operatative governance”) baie sterkter moet deurkom. Besluite moet nie na konsultasie plaasvind nie, maar in konsultasie. Waar daar oor taal gepraat word, moet dit nie ’n opdrag (na ’n proses) wees nie, maar ’n versoek, waar vennote met mekaar praat en onderhandel. Daar is steeds voorsiening vir ’n proses van sentrale aankope, en beheerliggame kan met goeie rede besluit om nie deel te neem nie, maar dit kon baie beter verwoord gewees het. Ons is ook nog bekommerd oor die aard van die kwartaallikse finansiële verslagdoening, hoewel die departement nou onderneem het om verder met ons te beraadslag oor die praktiese implementering.
Tog verwys jy ook na sommige van die wysigings wat nie rede tot kommer bied nie, maar inderdaad ook stappe in die regte rigting is. Laat weet tog wat hoop gee, asseblief.
Die wet was van meet af aan omstrede, met verskeie bepalings wat ’n wesenlike gevaar vir openbare skole en die magte van beheerliggame ingehou het. Fedsas was vanaf die eerste konsultasies in 2015 deurlopend betrokke en ons het ’n paar belangrike veranderinge gesien. In 2017 het die konsepwet nog die besluite oor alle bevorderingsposte (departementshoofde, adjunkhoofde en skoolhoofde) in die hande van die staat geplaas.
Die openbare deelname en druk in die proses was ongekend en het gelei tot wesenlike veranderinge oor die jare, en baie spesifiek in die C-weergawe (wat die D-weergawe geword het) van die konsepwet. Fedsas se standpunt is dat dit ’n werkbare weergawe is, dat openbare skole nie meer in staatskole omskep word nie, en dat daar ’n duidelike skeiding van magte is. Ons het ook ’n eksterne regsmening bekom om ons interne regsmening in die verband te bevestig.
Die “vetoreg” van die onderwyshoof is verwyder wat toelating en taal betref en teruggeplaas in die hande van skoolbeheerliggame. Tot die mate waarin ’n onderwyshoof wel ’n finale besluit oor iets moet neem, is dit nou in ooreenstemming met dit wat die Konstitusionele Hof in 2013 in die Rivonia Primary School-saak bevind het. Die proses vir die verandering van taalbeleid is ook nou baie duideliker en bied beter beskerming teen onbillike besluite van onderwyshoofde. Ons sou hierdie klousule sterker wou sien ten gunste van beheerliggame, maar ons kan binne die raamwerk funksioneer (en het dit reeds sedert die Konstitusionele Hof se Ermelo Hoërskool-uitspraak in 2010 gedoen).
Moet Suid-Afrikaanse ouers nou wag dat die regering oor alles besluit? Hoe maak mens as jy nou kinders in ’n openbare skool het, of tuisonderrig doen? En wat van ouers met kinders in onafhanklike skole?
In antwoord op jou eerste vraag: Glad nie, en dit hoort ook nie so nie. Ons het steeds openbare skole as aparte regspersone wat die reg het om enige administratiewe besluit in die hof uit te daag. Die Grondwet (en Skolewet) gee ouers die keuse om oor die aard van hulle kinders se onderrig te besluit. Ouers kan kies tussen ’n openbare skool, onafhanklike skool en tuisonderrig, en elke gesin gaan na hulle eie omstandighede en behoeftes moet kyk.
Witskrif 1 bepaal dat ouers die primêre plig het om onderrig aan hulle kinders te gee, en ons moet dit koester en daardie verantwoordelikheid ter harte neem.
Die konsepwet handel nie met onafhanklike skole nie, maar wel met tuisonderrig. Fedsas het ons kommentaar en insette egter tot openbare skole beperk, maar ons is bewus van baie bekommernisse vanuit die tuisonderriggemeenskap.
’n Laaste vraag, Jaco: Daar is nou net wetgewing onderteken oor die Nasionale Gesondheidsversekering. Hier is leemtes in ons land se openbare gesondheidstelsel wat die regering se fondse op hierdie stadium nie kan oplos nie. Om baie verskillende redes. Sien jy dalk ooreenkomste met die wysigings aan die skolewetgewing? Die regering sien hier is fout: Daar is te veel kinders in skole waar sake nie goed werk nie, en daar is kinders in ander skole waar sake inderdaad baie beter of uitstekend werk. Sou mens ’n aanname kon maak, of is dit ’n wilde gedagte, dat die regering nou iets soortgelyks met die Skolewysingswetsontwerp in gedagte het: Gebruik die skole waar dit werk om ongelykheid te probeer uitwis by skole waar dit nie werk nie? Wat is ’n beter manier om die ongelykheidskwessies aan te spreek?
Ek het onlangs Anthea Jeffery se Countdown to socialism. The national democratic revolution in South Africa since 1994 gelees. In die boek verbind sy die spreekwoordelike kolletjies en gee ’n baie goeie perspektief op hoe die laaste paar konsepwette ook met mekaar verbind is. Wette is onlosmaaklik deel van die regerende party se ideologie en dus ook begrotings, en iewers haal beloftes en swak besluite jou in. Die probleme in onderwys is legio, maar daar is nie kortpaaie in die regruk nie. 20% funksionerende skole kan eenvoudig nie vir 100% van die leerders onderrig gee nie, en daar word heeltemal te min gedoen om die 80% disfunksionele skole reg te ruk. Die houvas van Sadou op die departemente maak dit moeilik om van die spreekwoordelike vrot appels ontslae te raak, en dit gaan baie sterk leierskap verg om die draai te bewerkstellig. Hulle het groot inspraak in die beleidsrigtings van die regerende party en ideologie.
.......
Wette is onlosmaaklik deel van die regerende party se ideologie en dus ook begrotings, en iewers haal beloftes en swak besluite jou in. Die probleme in onderwys is legio, maar daar is nie kortpaaie in die regruk nie.
.......
Gelyke geleenthede moet geskep en bestuur word, en die veronderstelling is dat die gelyke geleenthede werklik beter geleenthede gaan wees – maar ek is bevrees dat baie van die planne meer gemik is op “equal misery”.
Dit gaan ook nie gebeur as gemeenskappe steeds dink dat die staat alles gaan doen nie – ons sal die potensiaal in gemeenskappe moet ontsluit om volle verantwoordelikheid vir openbare skole te neem, deel te wees van prosesse, en behoorlik erkenning daarvoor te kry. By die meeste skole in die land word die ouers maar erg die rug toegekeer en durf hulle nie vrae vra nie.
Lees ook:
Verander die regering hulle deuntjie oor die Bela-wetgewing?
Die Bela-wet is parlementêr aanvaar: ’n onderhoud met Jaco Deacon
BELAB en moedertaalonderrig: ’n gesprek met Jaco Deacon aan die begin van 2024