Joernalistieke pogings tot vrede deur geregtigheid

  • 1

Schalk Pienaar (foto: Wikipedia); Max du Preez (foto: Twitter); Frits Gaum (foto: Wikipedia)

  1. Inleiding

Die geskiedenis van die joernalistiek in Suid-Afrika, wat in 1800 begin het, staan in die teken van konfrontasie. Danksy die “Magna Carta” van 1829 (Ordonnansie nr 60) is ’n vrye pers diep ingebed in ons geskiedenis, maar staat, regering en pers was immer haaks (vgl De Kock 1983:71–7; Tyson 1987; 1993). So was dit ook in die dekades voor 1994, toe ’n aantal Afrikaanse joernaliste op ’n soms konfronterende wyse apartheidswette en -gebruike aan skerp kritiek onderwerp het. Ander se aanslag was weer versigtiger van aard, na gelang van hul onderskeie leserspublieke en eienaars en hul staanplek binne die Afrikaner-establishment.

In die lig van werk oor “vredesjoernalistiek” word die vraag hier gevra of die joernalistiek van Schalk Pienaar (Die Beeld), Willem de Klerk (Die Transvaler[i] en Rapport), Frits Gaum (Die Kerkbode)[ii], Doret Jansen (Wes-Transvaal Rekord[iii]) en Max du Preez (Vrye Weekblad) nie in ’n mindere of meerdere mate ’n konfronterende (“adversarial”) joernalistiek verteenwoordig het wat juis ook geregtigheid en vrede gedien het nie. Moet die begrip vredesjoernalistiek dus nie wyer gesien word as dit wat “versoenende” joernalistiek op die oog af inhou nie?

Die werk van genoemde joernaliste word hier ondersoek in die lig van die wyd-aanvaarde gedagte dat die gebrek aan konflik wel moontlik is sonder geregtigheid, maar dat vrede uiteindelik moontlik is slegs waar daar ’n beduidende mate van geregtigheid bestaan (Nürnberger ea 1989:11; König 2006:491; Van Wyk 2008:1175). Die vrede waarna hier verwys word, is dus nie oppervlakkige “rus en vrede” nie, maar iets dieperliggend. Dit veronderstel ’n aktiewe soeke na geregtigheid – al sou dit op niegewelddadige konflik neerkom, dus ’n konflik van idees deur “onbevange na die waarheid in elke situasie te vra” (Meiring 2008a:1176). Trouens, mens sou kon redeneer dat geen vrede moontlik is sonder ’n konflik van idees nie, wat uiteraard ook in en deur die joernalistiek voorkom. Die joernalistiek is soms juis die katalisator van sulke debatte. Uiteindelik sou hierdie soeke na vrede (deur geregtigheid) juis as ’n soort vredesjoernalistiek beskryf kon word.

In hierdie artikel hou ek dan enkele figure se joernalistieke werk as gevallestudies voor om hierdie aspek van ons mediageskiedenis te belig en by die meer bekende geskiedenis van mediaverset teen die apartheidsbestel aan te sluit. Die betrokke redakteurs is nie gekies omdat hulle “die beste” of “die invloedrykste” was nie, maar omdat hulle op grond van hul bewese rekord as betekenisvolle joernaliste beskou kan word. Hulle kom uit ’n verskeidenheid mediahuise en vyf verskillende tipes nuus-en-meningsblaaie, en het oor minstens vier dekades gewerk. Daar is ook een vroulike redakteur in die groep, wat op sigself sê: daar wás baanbreker-vroue, maar hulle is nie vroeër toegelaat om die rol te speel wat hulle sou kon gespeel het nie (Rabe 2011:xvii). Elk verteenwoordig dus ’n faset van die Afrikaanse mediageskiedenis asook ’n manifestasie van wat (dalk) as ’n tipe vredesjoernalistiek beskryf kan word.

  1. Ander joernaliste se bydrae

Hoewel ek hier argumenteer dat genoemde redakteurs en hul publikasies ’n betekenisvolle rol gespeel het in die voorbereiding van (wit) Afrikaanse lesers op politieke, sosiale, kulturele en teologiese vernuwing, was daar ook talle ander wat vermeld kan word. Daar moet ook beklemtoon word dat sommige publikasies (soos die Transvaler en Kerkbode) lang geskiedenisse het (of gehad het) wat nie altyd in die teken van nierassige vernuwing gestaan het nie (kyk bv Olivier 1998).

Afrikaanse redakteurs wat in die groter mediageskiedenis vermelding verdien as baanbrekers sluit in: Piet Cillié (Die Burger), Willem (Wollie) van Heerden (Die Vaderland[iv] en Dagbreek), Ton Vosloo (Beeld), Hennie van Deventer (Volksblad) en Harald Pakendorf (Oggendblad en Vaderland). Hulle moet krediet kry vir hul binnekringagitasie, soortgelyk aan (en soms dalk invloedryker as) genoemde redakteure (Erasmus sj:370–2; Pienaar 1979:128; Van Deventer 1998; 2003; Steyn 2002; Mouton 2002:163; Barnard en Stemmet 2004:61–71; Dommisse 2006; Rabe [red] 2007).

So kan verwys word na Dirk Richard, redakteur van Dagbreek en later Vaderland. Ook hy moet, met bepaalde voorbehoude, erkenning kry wanneer die geskiedenis van joernalistieke pogings tot vernuwing by nabaat (maar met kontekstuele billikheid) beskou word (Serfontein 1970:221–3, 225; Richard 1986; Botha 2012a). Soos die ander genoemde Afrikanerredakteurs het hy onder groot druk vernuwing bevorder en “bekeringswerk” gedoen (soos hy dit self genoem het) (Richard 1986:168).

Talle gemeenskapskoerantredakteurs, soos Elsabé Retief (Eikestadnuus), Anne Kruger (Paarl Post) en Tobie van den Bergh (Middelburg Observer), het bydraes op plaaslike vlak gelewer wat naas Doret Jansen van die Wes-Transvaal Rekord genoem kan word (Kruger 2012; Froneman 2012). Hul invloedsfere op dorpe soos die Paarl, Stellenbosch en Middelburg (Mpumalanga) is deur die jare in sterk sirkulasiesyfers weerspieël, maar kan op geen manier wetenskaplik gepeil word nie.

Die meningsblaaie Die Suid-Afrikaan (onder Hermann Giliomee, André du Toit en andere), Woord en Daad (onder verskeie redakteurs), Deurbraak (Jan van Eck) en Insig onder Piet Muller (en sommige van sy opvolgers) het idealisties politieke hervorming in hul kleiner, enigsins elitistiese leserskringe bevorder lank voordat FW de Klerk op 2 Februarie 1990 aangekondig het dat die politiek onherroeplik sou verander (kyk hoofartikelkommentaar, Insig Augustus 1987; Muller 2007; Venter 2007).

Op kerklik-teologiese terrein was ’n Beyers Naudé en sy Pro Veritate ’n klein maar simbolies belangrike stem lank voordat dit gangbaar geword het om ook vanuit die NG Kerk apartheid af te wys (kyk Meyer en Naudé 1971; Naudé 1995:63–9; Meiring 2008b). Talle joernaliste wat nie as redakteurs naam gemaak het nie, soos Rykie van Reenen (Gaum 2008a; Rabe 2011:322), Chris Louw (Louw 2001; Gaum 2008b) en groepe joernaliste soos Die Burger se kunsredaksie (Botma 2014) sou ook by die lys name gevoeg kon word wat apartheid via hul joernalistiek beveg het.

Alvorens die gevallestudies aan die beurt kom, moet nog ’n belangrike aantekening gemaak word. Dit is dat die Engelstalige pers in Suid-Afrika hom sedert 1948 konstant teen geïnstitusionaliseerde apartheid uitgespreek het (kyk onder meer na Mervis 1989:453–65; Heard 1990:160–64; Tyson 1993:392–406; Manoim 1996; Diederichs en De Beer 1998:104–5; Shaw 1992:288–305; Gibson 2007:60–4). Hulle is by nabaat gekritiseer omdat hulle hul eienaars se belange (veral ekonomies en finansieel) meer dikwels beskerm het terwyl die makliker teikens van blatante rassediskriminasie en die Afrikaner se kulturele hegemonie (soos die beheer oor die SAUK) in beriggewing en kommentaar uitgewys is (Tomaselli en Tomaselli 1987:57–86; Diederichs en De Beer 1998:103, 107–8). Die sogenaamde alternatiewe Engelstalige Weekly Mail, South en New Nation was in hierdie opsig veel meer konsekwent uitgesproke en nie aan kapitalistiese belange verbind soos die destydse Argus- en SAAN-groepe nie.

Wit Afrikaanssprekende joernaliste se rol oor dekades heen in die Engelstalige politieke joernalistiek moet ook uitgelig word. Onder hulle tel JHP (Hennie) Serfontein (Sunday Times), Hans Strydom (Sunday Times, Sunday Tribune en ander Arguskoerante), Tos Wentzel en Frans Esterhuizen (albei by die [Cape] Argus) en redakteurs soos Koos Viviers (EP Herald en Cape Times) en Tertius Myburgh (Pretoria News en Sunday Times). In ten minste sommige gevalle het hul anti-apartheidstandpunte dit onmoontlik gemaak om loopbane by die ou Nasionale Pers se koerante (Die Burger, Volksblad, Oosterlig en Beeld) met enige sukses te volg (vgl bv Du Preez 2003:74). Volledigheidshalwe moet verwys word na Myburgh se moontlike rol as informant van die inligtingsdiens (Matison 2015:205–6). Nie almal se motiewe was noodwendig suiwer nie.

Waar die kollig in hierdie artikel op geselekteerde voorbeelde val, sluit dit dus pertinent nie die bydrae van ander uit nie – sekerlik ook nie dié van vroeëre aweregse redakteurs soos FS Malan (kyk Mouton 2011:29–82) en Eugène Marais (kyk Rousseau 1984:27–105; Heydenrych 2015) nie. Afrikaanse joernaliste het oor ’n tydperk van meer as ’n eeu in Afrikaanse en Engelse koerante en tydskrifte teen ongeregtigheid in verskillende vorme geskryf. Maar in hierdie artikel gaan dit veral oor die drie dekades voor die waterskeiding van 1990 en die jare pas voor die aanvang van die nuwe demokratiese bestel in 1994.

  1. Vyf redakteurs

Die redakteurs wat pertinent hier bespreek word, is voorbeelde van joernaliste wat geleenthede geskep en aangegryp het in die stryd om geregtigheid – maar dan sekerlik met die doel om vrede in ‘n verdeelde land te bevorder. Die punt is nie soseer om by nabaat ’n waarde-oordeel oor die redakteurs se werk in die geheel te vel nie. Wel wil ek begrip bevorder deur die redakteurs se werk in breë trekke te beskryf en te vergelyk. Die redakteurs word nie chronologies behandel nie, maar ek begin met die redakteur wat op die oog af die naaste aan ’n tradisionele vredesjoernalistiek gekom het en eindig met die mees konfronterende redakteur.

3.1 Doret Jansen

Suid-Afrika se eerste ten volle demokratiese verkiesing in 1994 is voorafgegaan deur wydverspreide geweld en onsekerheid (Giliomee 2004:593–610). Enkele koerantopskrifte uit daardie tyd lui: “Ons vat hulle saam hel toe” (Beeld, 30 Junie 1992); “ANC beloof nog geweld” (Beeld, 13 April 1993); en “Chaos en verwoesting” (Beeld, 15 April 1993). In die gebied Klerksdorp-Orkney-Stilfontein-Hartbeesfontein (bekend as KOSH), was daar ook spanning, hoewel rolspelers dit verskillend ervaar het (Koppejan 2005:130).

In hierdie konteks het Doret Jansen as groepredakteur van drie Klerksdorpse koerante vrede tussen gemeenskappe en politieke groeperinge probeer bevorder deur positiewe beriggewing oor die komende verkiesing en die gemeenskap in die algemeen. Sy het ook aktief aan bepaalde gemeenskapsaksies deelgeneem (Koppejan 2005:134–5).

Die inhoud en styl van die drie koerante onder haar redakteurskap, die Wes-Transvaal Rekord (WTR), Lentswe en die Klerksdorp Rekord (KR), het enigsins verskil. Eersgenoemde was ’n dik, lewenskragtige betaalde koerant, terwyl die ander twee gratis versprei is en dunner was – Lentswe in die swart gebiede om Klerksdorp en Klerksdorp Rekord in die meestal wit woongebiede.

In ’n MA-verhandeling oor die koerante se inhoud in die tydperk 1 Mei 1993 tot 30 April 1994 wys FWT Koppejan daarop dat die WTR se dekking op vier wyses neerslag gevind het: redaksionele hoofartikels, berigte, ’n reeks oor politieke partye en hul standpunte en ’n verkiesingsbylae (Election ’94).

In verskeie hoofartikels stel Jansen haar vlagskipkoerant se standpunt onomwonde. So argumenteer sy dat dit nie genoeg is om bloot ’n spieël van die gemeenskap te wees nie; dan misluk die koerant in sy missie (WTR, 17–18 Junie 1993, telkens soos aangehaal deur Koppejan 2005). Daarom moedig sy haar lesers aan tot positiewe betrokkenheid in die aanloop tot die verkiesing (15–16 Julie 1993); vra sy leiers om hul persoonlike geskille by te lê (5–6 Augustus 1993); wys sy daarop dat die verkiesing nie volmaak sal wees nie, maar dat lesers vrede daarmee moet maak (31 Desember 1993); en pleit sy dat apartheid én die one settler, one bullet-benadering plek moet maak vir ’n gees van versoening (14–15 April 1994).

In beriggewing word temas soos die werk van die Wes-Transvaalse Vredeskomitee (13–14 Mei 1993) en dergelike aksies gedek (17–18 Junie 1993; 26–27 Augustus 1993; 31 Maart – 1 April 1994 en ander). Koppejan (2005:112) bevind dat elemente van nasiebou (soos versoening) telkens geïdentifiseer kan word. Saam met die genoemde hoofartikels, inligting via bylaes en die reeks oor die partye se standpunte, het die WTR klaarblyklik ’n belangrike rol gespeel.

Die twee gratis koerante onder Jansen se redakteurskap het soortgelyke rolle gespeel. Die bylaes Active Voice en Election ’94 roep die swart lesers op tot aktiewe, deurdagte deelname (Koppejan 2005:114–6). In berigte word die dekking van vredesboodskappe voortgesit, byvoorbeeld die berig onder die opskrif “Pray for peace” (Lentswe, 27 Augustus 1993).

Soos Lentswe, het die KR geen redaksionele hoofartikel gedra nie. Daar was ’n sterker klem op mensstories en minder aandag aan die komende verkiesing as in die WTR of Lentswe (Koppejan 2005:122). Dit kan moontlik toegeskryf word aan die uitvoerige dekking wat die WTR reeds daaraan gegee het en waardeur ’n groot deel van die wit gemeenskap bereik is. Die aanname was moontlik dat die WTR betreklik min swart lesers het en dat Lentswe dus die voertuig was om juis hulle te bereik. In die groter konteks was die KR van mindere belang.

Jansen se benadering was anders as Schalk Pienaar en Max du Preez se dikwels konfronterende joernalistiek. Dit is wel begryplik, gegee die aard van Die Beeld as Sondagkoerant met ’n lewendige nuusinslag en Vrye Weekblad se anti-establishment-ingesteldheid. Frits Gaum en Willem de Klerk se rustiger pogings tot oorreding is eweneens in Jansen se WTR-hoofartikels gevind. As ervare, bekroonde redakteur van gemeenskapskoerante het Jansen die beperkinge en apolitieke tradisie van hierdie koerante goed verstaan. Sy het egter wel ook aangevoel dat die ou benadering nie in daardie tydsgewrig voldoende was nie. Hoewel sy nie kon of wou partypolitieke kant kies nie, het sy wel kant gekies – vir vrede via begrip en aanvaarding van ’n nuwe bedeling waarin almal se menswaardigheid ewe veel gewig sou dra.

By haar ontydig vroeë dood in 2002 het huldeblyke uit alle sektore van die gemeenskap ingestroom en het die Noordwes Rekord (soos die Wes-Transvaal Rekord intussen hernoem is) verskyn met die voorbladhoofopskrif “Ons redakteur is dood, die stad rou ...” (Anon. 2002). Daarin het ’n groot aantal politieke en gemeenskapsleiers haar rol geloof. Sy is onder andere ’n “voorslag in die plattelandse joernalistiek” (Diederichs 2002), ’n “ware patriot” (Monama 2002) en ’n “steunpilaar” (Espag 2002) genoem. Dié lof laat egter na om reg te laat geskied aan die wyse waarop sy deur haar joernalistiek vrede-deur-geregtigheid bevorder het. Haar bydrae in hierdie verband kan, binne Suid-Afrikaanse konteks, as ’n model voorgehou word.

3.2 Frits Gaum

’n Predikant-joernalis wat ’n betekenisvolle bydrae gelewer het tot die strewe na vrede-deur-geregtigheid, is Frits Gaum. Hy was van 1986 tot 2004 redakteur van die Kerkbode, blad van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk).

As 17de redakteur van hierdie blad was hy met groot kreatiwiteit en dryfkrag betrokke by verskillende inisiatiewe om die kerklike media meer tersaaklik te maak en te hou in ’n tyd waar die stem van die kerk minder gesaghebbend geword het te midde van politieke, tegnologiese en maatskaplike veranderinge (Olivier 1998:191–5, 219; Die Kerkbode, 6 Maart 1992).

Dat die Kerkbode dalk nie meer so gereeld as voorheen in dagblaaie aangehaal is nie, was nie deur sy toedoen nie. Dit sou ’n verskraling wees van die Kerkbode se moontlike invloed as bloot hierna gekyk word (kyk Gaum 2004b; Froneman 2015). Gaum het buitendien via die Voorligter (later Lig genoem)en op allerlei ander openbare verhoë ’n deurdagte stem laat hoor – versigtig, selfs behoudend (soos oor dobbelary), maar algaande meer vernuwend (kyk Van Vlastuin en Froneman 1999; Spangenberg 2004).

Gaum het groter geregtigheid en gepaardgaande vrede bevorder deur begrip vir politieke vernuwing in die Kerkbode te bevorder – steeds binne die beperking wat ’n blad van hierdie aard aan sy redaksie stel. Gaum het gemeen hy het tog ook die reg om ’n mening te lug as een van die stemme binne die kerk (Heyns 1989; Rosenveld 2002; Gaum 2004a; Olivier 1998:215). In die laat 1980’s het Gaum byvoorbeeld kritiese standpunte oor die noodtoestande ingeneem (Olivier 1998:203–6). Volgens Rosenveld (2002) het hy die geregverdigde griewe van gewone swart mense egter apart gesien van die revolusionêre magte (Die Kerkbode, 22 April 1987 en 16 Februarie 1990, soos aangehaal deur Rosenveld 2002). Dit is hom ten laste gelê. Gaum gee later toe hy het te teoreties na swart mense se behoeftes gekyk, maar wys daarop dat hy via die Kerkbode ook vir vreedsame verandering gepleit het.

Ná die NG Kerk se algemene sinode van 1990 en die Rustenburg-kerkeberaad het die Kerkbode die saak só opgesom: “Nou weet almal wat moet weet: die amptelike Ned Geref Kerk erken dat apartheid sonde is en bely sy aandeel in die toepassing en handhawing daarvan as verkeerd” (Die Kerkbode, 16 November 1990, soos aangehaal deur Olivier 1998:200). Dit was dus Gaum se taak om in die kerk se amptelike blad ’n streep te trek deur die teologiese ondersteuning wat die kerk, en daarmee saam ook sy voorgangers, deur die jare aan rassediskriminasie gegee het. Ironies genoeg het Gaum meer as enigeen gedoen om die geskiedenis van die Kerkbode en sy redakteurs in ere te hou deur die uitgee van verskeie gedenkuitgawes.

Gaum was ook die skrywer van Die verhaal van die Ned Geref Kerk se reis met apartheid, 1990–1994, ’n getuienis en ’n belydenis, wat op versoek by die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) ingegee is (Olivier 1998:200–1). Dit is egter nie formeel deur die NG Kerk gesteun nie (Meiring 2003). Die Kerkbode onder Gaum het uitvoerige aandag aan die WVK gegee en lesers tot skulderkenning aangemoedig (kyk bv Thesnaar 2013 se verwysings).

Oor die sensitiewe kwessie van groter strukturele eenheid in die NG Kerk-familie het Gaum ’n positiewe stem laat hoor en “onbeskroomd” daarvoor gepleit (Olivier 1998:208; kyk ook Meiring 1991 se Kerkbode-verwysings). Hy het ook ’n maande lange debat in die Kerkbode oor die Belydenis van Belhar (wat nóú aan die eenheidskwessie verwant is) gehuisves (Olivier 1998:208–9). Tog meen Gaum (2010) dit was “vergeefs”.

Oor Geloftedag het Gaum al hoe meer vrae in die Kerkbode gestel – vrae wat toenemend in gelowiges se harte geleef het. Later het hy die nuwe Versoeningsdag (op 16 Desember) aanvaar en in die gees van vernuwing ’n heel ander stem laat hoor as wat sy voorgangers oor Geloftedag geskryf het (Froneman 2015). Hy het ook uit die eng kerklike konteks beweeg en onderhoude met uiteenlopende figure soos die destydse president FW de Klerk, die sanger Nataniël en oudpresident Nelson Mandela gepubliseer.

Self bestempel hy sy redakteurskap as ’n fase waarin afskeid van apartheid geneem is en vergeefs na kerkeenheid gesoek is (Gaum 2010). In die volgende fase openbaar die NG Kerk en die Kerkbode, aldus Gaum (2010), “’n meer akkommoderende, verdraagsame aanslag, ’n groter aarseling om oor alles en nog wat sterk en ‘finale’ uitsprake te maak”. Daartoe het Gaum self ’n bydrae probeer lewer en was die Kerkbode onder sy leiding ’n voorloper. So het hy die NG Kerk tot groter sensitiwiteit en ’n soeke na vrede-deur-geregtigheid aangepor.

Hoe suksesvol dit was – en watter rol (indien enige) die NG Kerk gespeel het in die betreklik vreedsame oorgang na ’n regverdiger bestel in 1994 – kan net oor gespekuleer word, en daarom sal menings noodwendig wissel (kyk Weise 2002). Daarmee saam sal Gaum se bydrae nou en in die toekoms wisselend beoordeel word. Maar dit kan nie geïgnoreer word nie. Vandag nog lewer hy steeds gereeld bydraes tot die Kerkbode en Afrikaanse koerante.

3.3 Willem de Klerk

Willem de Klerk het in 1973 hoofredakteur van Die Transvaler geword, ’n blad wat in 1937 in Johannesburg gestig is om die idees van Afrikanernasionalisme, soos voorgestaan deur die Nasionale Party (NP), uit te dra (Muller 1990:492–5). De Klerk, ’n filosofieprofessor wat vroeër ’n Gereformeerde Kerk-predikant was, is van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou NWU) ingebring om stukrag aan Die Transvaler te kom gee in sy opkomende sirkulasiestryd teen Beeld, die dagblad wat Nasionale Pers die volgende jaar in Johannesburg sou begin (Scholtz, Du Plessis en De Beer 1992:304), Dit was in vele opsigte ’n herhaling van die stryd tussen Die Beeld en Dagbreek.

De Klerk was toe reeds ’n bekende kommentator en het die terme verlig en verkramp in die politieke woordeskat bekendgestel, hoewel hy dit eintlik meer genuanseerd verwoord het en ’n derde opsie, ’n “positiewe nasionalisme”, geopper het (Serfontein 1970:15–6; Giliomee 2004:500). Die twee terme is lank gebruik om die meer konserwatiewe of regse Nasionaliste van die meer progressiewe, hervormingsgesindes te onderskei. De Klerk se denke het deur sy artikels in die Calvinistiese meningsblad Woord en Daad, as rubriekskrywer in Rapport en deur landwye optredes ’n groeiende openbare status gekry. Hy was ’n “prominente verligte” (Steyn 2002:93). Van daar Nasionale Pers se eerste poging om hom by Beeld te kry, as assistentredakteur (of “mederedakteur”), pas voor hy as hoofredakteur van Die Transvaler aangestel is (Scholtz, Du Plessis en De Beer 1992:303–4). Later is die redakteurskap van ’n oënskynlik sukkelende Beeld hom aangebied (Du Plessis 2009; Botha 2012a).

As redakteur het hy uit die staanspoor politieke leiding gegee, maar dit het hom ’n jaar of twee geneem om “volle beheer” oor die koerante te verkry. Binne maande was Die Transvaler “uitgesproke verlig en sterk krities teen sekere beleidsaspekte van die Vorster-regering – klein apartheid, sensuur, sport, stedelike swartes en die deel van geriewe” (Botha 2012b; kyk ook Steyn 2002:257). Kortom, De Klerk het van Die Transvaler “’n meer verligte koerant gemaak” (Mouton 2002:144). Daarby het De Klerk sy rubriek in Rapport voortgesit en sy groot, landwye gehoor behou (Scholtz 1992a:267, 268). Hierdie gewaande of werklike “invloed van die pen” het De Klerk se ego gestreel. “Ook die omgang met invloedryke mense – politici, sakebaronne, hoë amptenare, buitelanders in hoë posisies – het my die invloedsbehae gegee dat ek werk met geskiedenismakers en self aan die geskiedenis timmer. Dis nie grootheidswaan nie, maar die waarheid,” skryf hy later (Botha 2012b).

Sy aanspraak dat hy in hierdie jare die voorste Afrikaanse politieke kommentator was, mag hooggestem klink, maar by sy dood in 2009 skryf ’n senior Naspersredakteur dat De Klerk ’n bepaalde “gravitas” aan Die Transvaler verleen het en lesers daarheen gelok het (Du Plessis 2009). Hy was ook ’n redakteur wat graag opgetree het en na wie mense graag geluister het. De Klerk was, aldus Du Plessis, “’n woordsmid wat trefseker woord of frase kon vind om iets te beskryf”. Saam met Schalk Pienaar en Piet Cillié het hy “die gearriveerdheid in die denke van Afrikaner-nasionaliste oor hul oplossings vir die land se vraagstukke aanhoudend bevraagteken. Ons kan nie klaar gedink wees nie, was hul refrein” (Du Plessis 2009).

De Klerk se standpunte het heelwat skerp reaksie ontlok. So is hy in 1975 deur die hoofbestuur van die NP aangespreek. In ’n brief aan die leier van die NP in Transvaal, Connie Mulder, maak hy beswaar teen die “verkleinerende, beledigende, onbeheerste en kwetsende woorde” (Richard 1986:105). Maar hy bedink hom en pos nie die brief nie. Later verwoord hy sy ervaring van die aanvalle op hom soos volg: "Dit het baie moed, taaiheid, vernedering en angs gebring om weerstand te bied teen verkrampte drukgroepe, die Regering se onbehaaglikheid met my rigting en sommige lede van die direksie se klagtes oor my koers” (Botha 2012b).

Intussen word hy in Februarie 1978 ’n mede besturende direkteur, ‘n posisie wat hy saam met sy redakteurskap moes beklee. Teen September 1980 staan Die Transvaler se sirkulasie op 80 000, maar op 12 September 1980 word bekend gemaak dat die Perskorkoerante se sirkulasiesyfers in twyfel getrek word deur die Ouditburo vir Sirkulasie en dat Beeld eintlik ver voor Die Transvaler was (Scholtz 1992b:291–2; Botha 2012b). Dit tref De Klerk geweldig hard. Hy bly onder moeilike omstandighede aan terwyl sy verhouding met Perskor se besturende direkteur, Marius Jooste, net verswak. Uiteindelik bedank hy, maar word later, in 1983, as redakteur van Rapport aangestel (Scholtz 1992a:273). Daarmee is sy status en posisie as meningsvormer herstel.

Sy vier jaar by Rapport (wat in daardie stadium om die helfte deur Naspers en Perskor besit is (Scholtz 1992:255, 273-74) was die hoogtepunt van sy loopbaan. Hy skryf daaroor:

My verligtheid het in nuwe raamwerke inbeweeg met temas soos: ons moet ons onttrek uit Suidwes en die oorlog beëindig deur onafhanklikheid te bespoedig, die grondwet sal moet verander om ook swart mense in te sluit en daar moet met nuwe oë na die ANC gekyk word, want hulle is deel van die oplossing en nie deel van die probleem nie, swart meerderhede is ons voorland en ons moet werk na vennootskappe met swart mense, onderhandeling met ʼn ontbanne ANC moet nou dringend aandag kry en wat nog alles het ek geskrywe om die NP te help voorberei vir sy volgende spronge. (Botha 2012a)

In 1984 bundel hy sy gedagtes in Die tweede (r)evolusie. Hy skryf byvoorbeeld in Rapport van 7 Julie 1985 “dat die apartheidsbeleid geen basis is waarop die toekoms gebou kan word nie”, en in ’n hoofartikel dat “swartmense van onder tot bo deelname gegee moet word in besluitnemingsprosesse” (Rapport, 4 Augustus 1985). Daarmee is kwalik ’n demokratiese bestel bepleit soos wat dit in 1994 beslag gekry het. Tog het De Klerk ongetwyfeld baanbrekerswerk gedoen, hoewel ook beklemtoon moet word dat Rapport sedert sy ontstaan in 1970 ’n onafhanklike, kritiese styl onder Willem Wepener gehandhaaf het (Kapp 2008; Scholtz 1992a:260–1).

Rapport se voortgesette uitgesprokenheid onder De Klerk het spanning tussen hom en die direksie laat opbou. Effe swakker sirkulasiesyfers het nie sy posisie gehelp nie en De Klerk bedank onder enorme persoonlike druk in 1987 (Scholtz 1992:274). Daaroor skryf hy later:

Die redes vir my bedanking het ek aangegee as dat die dalende sirkulasiesyfers aan my gewyt word (wat waar is) en dat politieke druk op my om meer NP-propagandisties te wees my aanstoot gee, my politieke gewete belas, my geloofwaardigheid aantas en my versper in my funksie as koerantredakteur. (Botha 2012c)

Die direksie het hom op vroegtydige aftrede geplaas en hy word professor in kommunikasie by die Randse Afrikaanse Universiteit (nou UJ) (Scholtz 1992a:274; Botha 2012c). Hy skryf in 2000 nog ’n boek, Kroes, kras, kordaat, wat aanleiding gee tot skerp reaksie deur Chris Louw, wat eens onder hom by Die Transvaler gewerk het. In ’n buitengewoon reguit ope brief wat in Beeld verskyn het en as die “Boetmanbrief” bekend geword het, verwyt Louw vir De Klerk vir sy morele en intellektuele ondersteuning van die NP. ’n Lang openbare polemiek is daardeur ontketen (Louw 2001:7–35).

De Klerk sterf in 2009 en word vanuit allerlei oorde geloof vir sy bydrae tot vernuwing in die Afrikanerpolitiek (Du Plessis 2009). Sy destydse kollega Harald Pakendorf het byvoorbeeld opgemerk: “Ons het op dieselfde vloer gewerk toe ons redakteurs was – hy by Die Transvaler en ek by Vaderland. Ek dink ons het dieselfde soort politiek bedryf: Hy dalk net ’n bietjie meer filosofies. Hy het mense meer ontvanklik vir ’n nuwe politieke benadering gemaak” (Beeld, 8 Augustus 2009). Dit kan as ’n bydrae tot die uiteindelike daarstelling van ’n nierassige demokrasie bestempel word – ’n betekenisvolle joernalistieke bydrae tot vrede-deur-geregtigheid.

3.4 Schalk Pienaar

Die Sondagkoerant Die Beeld is in 1965 deur Nasionale Pers begin met Schalk Pienaar as redakteur. Daarmee het Nasionale Pers vir die eerste keer noord van die Vaalrivier beweeg en is ’n hewige persstryd met ideologiese ondertone ontketen (De Villiers 1998:220-53). Die Beeld was nie net ’n ongewenste konkurrent vir Dagbreek en Sondagnuus (later genoem Dagbreek en Landstem) nie, maar het onder Pienaar met ’n uitdagende, agiterende joernalistieke styl vorendag gekom. Dit het lesers gelok en vyande gemaak, veral onder die verregse Nasionaliste, wat later weggebreek het en die Herstigte Nasionale Party (HNP) gestig het (Serfontein 1970:219–30).

In die eerste uitgawe van Die Beeld skryf Dawie[v] van Die Burger dat die nuwe koerant “langs die weg van diens aan die Afrikaner die hele Suid-Afrika en al sy bevolkingsgroepe [wil] dien” (De Villiers 1998:242). As so ’n uitspraak in 2015 vanselfsprekend vir ’n Afrikaanse redakteur is, was dit nie in 1965 nie. Toe was die “kleurgevoel nog gedug” (De Villiers 1998:224). ’n Week later skryf Pienaar onder die opskrif “Die oop gesprek” dat dit tot voordeel van die Afrikaner en die regerende Nasionale Party (NP) sou wees as daar minder gefluister en meer openlike gesprekke gevoer word (Mouton 2002:57).

Pienaar se koerant het daarmee gepoog om die Afrikaner se denkwêreld oop te skryf (of te laat skryf, onder andere deur Engelssprekende gasskrywers en sy sterrubriekskrywer, Rykie van Reenen) (Pienaar 1979:82–5; Rabe 2011:26,108–11). Politieke beriggewing was ook veel meer krities as waaraan Afrikaanse lesers van Nasionaalgesinde koerante gewoond was. Davis (1983:34) maak die gevolgtrekking dat die koms van Die Beeld die proses van “vrywording” van die Afrikaanse joernalistiek verhaas het: “Dit was die begin van die einde van lakei-gedienstigheid by Afrikaanse koerante.” Trouens, Pienaar het, aldus sy biograaf, Alex Mouton, ’n “rigtinggewende” rol gespeel in die bevryding van die Afrikaanse pers, hoewel hy nie alleen die eer hiervoor moet kry nie (Mouton 2002:163).

So het Die Beeld nie weggeskram van berigte wat die NP as party of die NP-regering in die verleentheid sou bring nie. Die redaksie het geglo dat politiek “groot nuuswaarde” het en het openlik daaroor geskryf (De Villiers 1992:233, 246). Dit het veral gegeld die sogenaamde Hertzogiete en hul broeiende opstand teen die regering van John Vorster. Die Beeld het hulle openlik en genadeloos aan die kaak gestel (Serfontein 1970:219, 220; Mouton 2002:86–95). Ondanks die klag van “onverantwoordelike sensasiejag en rusie-stokery” wat teen Die Beeld ingebring is, het die blad geweier om te aanvaar dat “alles rustig en vreedsaam in die party is” (Serfontein 1979:102; De Villiers 1998:245). Uiteindelik het sommige weggebreek en die HNP gestig, wat Vorster se taak effe makliker gemaak het (Mouton 2002:164). Later, in 1982, sou die NP weer eens ’n regse afskilfering beleef, waarsonder die hervormings van die 1980’s, hoe gebrekkig ook al, nie sou kon plaasgevind het nie (Giliomee 2012:174–6).

Pienaar se koerant het as (gedeeltelik) populistiese blad openliker oor morele en ander misstappe van (veral) gesiene mense geskryf as ander Afrikaanse koerante en die “heilige koeie” van die Afrikaner-establishment aangevat (Mouton 2002:82–4). Daarvoor is hy ten regte of onregte kwaai deur kerkleiers en ander gekritiseer (De Villiers 1992:250). Van die kritiek was waarskynlik ook weens die ongemak wat die “suidelike” Die Beeld in sommige kringe veroorsaak het omdat hy besig was om die gevestigde, “noordelike” Dagbreek opdraande te gee (Pienaar 1979:103) Ironies genoeg het Dagbreek self kritiese geluide oor NP-politiek, die verhouding pers en party en “klein apartheid” gemaak wat sy redakteur, Dirk Richard, in die spervuur gebring het (Richard 1986:97–102;111–4, 118–22; Mouton 2002:52).

Pienaar se bydrae het uitgestyg bo die blootlegging van politieke binnegevegte, openliker beriggewing oor morele skandes en die wyse waarop hy die Afrikaner-establishment in die algemeen aangevat het. Sy passie was om wit mense in die algemeen, en Afrikaners in die besonder, te konfronteer met die “harde werklikhede en uitdagings” van die tyd (Mouton 2002:110, 164). Hierdie benadering het hy ook met oorgawe by Beeld, die dagblad waarvan hy ook die eerste hoofredakteur was, gevolg (Mouton 2002:137–46), maar sy verswakkende gesondheid en uiteindelik vervroegde aftrede het daarvoor gesorg dat sy bydrae by Die Beeld uitstaan – soos sy vriend DJ Opperman dit in Pienaar se outobiografiese Getuie van groot tye treffend saamvat (Opperman in Pienaar 1979, voorwoord).

Hy het dit “van binne” gedoen. Soos ’n gewese kollega dit gestel het:

Anders as sy tydgenoot Beyers Naudé, die toenmalige NG predikant wat uit die Afrikanerlaer padgegee en van die kantlyn af gekritiseer het, was Pienaar se benadering: Ja, daar moet verandering in Afrikanerdenke kom. Ja, hy verpes sy eie party se “kleinlike, aanstootlike, kranksinnige diskriminasie op grond van kleur alleen” soos dat wit en gekleurd volgens “gek wette” nie eens dieselfde hysbak mag gebruik nie. Maar jy skel nie van buite nie. Die verandering moet van binne kom. (Holtzapfel 2016)

Hoewel hy nie die tuislandbeleid as antwoord op alles beskou het nie en diskriminasie, gedwonge verskuiwings en dergelike praktyke wat in die naam van aparte vryhede gepleeg is, skerp afgewys het, was hy tog ’n voorstander van “groot apartheid” (Mouton 2002:110–2, 120), dus ’n beleid wat nie aan die swart meerderheid seggenskap in een parlement sou gee nie. Desondanks is hy deur ’n tydgenoot as ’n revolusionêre redakteur bestempel en is sy soeke na oorlewing in geregtigheid as betekenisvol genoeg deur Nelson Mandela geag om hom daarvoor te huldig (Mouton 2002:163–4). Dit sou goedskiks as ’n betekenisvolle bydrae tot vrede-deur-geregtigheid bestempel kan word, een wat van hom ’n persoonlike prys vereis het.

By sy dood skryf Die Burger in ’n hoofartikel onder meer: “Sy waagmoed, sy avontuurlus, sy afkeer van uitgediende denk- en handelswyses in die openbare lewe, sy blymoedigheid en sin vir humor in die stryd, was oor ’n lang skeppingstyd ’n voortdurende vlam van besieling” (Cillié 1980:74). So gesien was Pienaar se morele leiding by Die Beeld veel belangriker as die prestasie wat sy koerant as koerant behaal het – en dit is as “een van die uitsonderlikste prestasies” nog in die Afrikaanse joernalistiek bestempel (Serfontein 1970:221).

Hy was inderdaad ’n “vegter-prins in ons eeu van beroering en smart” (Cillié 1980:74), 'n leier van onverskrokke en geëmansipeerde Afrikaanse joernalistiek (De Klerk, aangehaal deur Davis 1983:195). So het hy geregtigheid nagestreef en die fondamente gelê van ’n Afrikaanse joernalistiek wat verder as eiebelang gekyk het. Soos hy in Beeld se eerste hoofartikel gesê het: “Baie seker sal ‘Beeld’ sy taak in moderne Suid-Afrika veel ruimer opvat as in diens te staan van die Afrikanervolk alleen ...” (Scholtz, Du Plessis en De Beer 1992:314). Om by daardie insig te kom, het wel tyd geverg.

3.5 Max du Preez

Te midde van ’n noodtoestand met allerlei beperkinge op die media, het Max du Preez en ’n klein groep Afrikaanse joernaliste in 1988 hul rug op die gevestigde media gedraai en Vrye Weekblad gestig (Du Preez 2005:5; Du Preez 2009:217–24). Teen die tyd dat die blad in 1994 gesluit het, het Suid-Afrika onherkenbaar verander. Daarin het Vrye Weekblad ’n simbolies belangrike rol gespeel – simbolies omdat dit in Afrikaans weerstand teen apartheid en die Afrikaanse regering gebied het.

Du Preez het sy loopbaan by die Afrikaanse dagblaaie Die Burger en Beeld begin, maar het later na die Financial Mail, Sunday Times en Business Day gemigreer soos wat sy politiek linkser geneig het. Die Engelse establishment het hom ewe min aangestaan (Du Preez 2003:139). Vrye Weekblad was die gevolg van ’n ongedurigheid met oorwegend wit koerante, veral Afrikaanse koerante se voortgesette ondersteuning van die NP-regering en die gebrek aan werklik radikale Afrikaanse anti-apartheidspublikasies. Du Preez wou iets heeltemal anders daarstel en het dit met moeite ook reggekry (Du Preez 2003:172, 173). Wat gevolg het, was ’n blad wat beelde op politieke, kulturele, teologiese en maatskaplike terreine in reguit, soms kras, telkens humoristiese Afrikaans stormgeloop het.

Polities-gemotiveerde geweld het sterk gefigureer, terwyl die “skynheiligheid en ongeregtigheid van apartheid” telkens op die voorblad aangeroer is (Honiball 2013:54). Daarmee saam is Afrikaans geraam as soveel meer as die taal van die onderdrukker. Norton (2013:48) verwys na die gebruik van spotprente van politieke figure wat ’n dubbele doel gehad het: dit het die alte swaar agenda ligter probeer maak, maar ook die doel gehad om die spot met apartheidsfigure te dryf.

Taal en identiteit was deurlopende temas en het Afrikaners gedaag om ook hul Afrika-identiteit te omarm. Vir die oorgang van ’n apartheidsbestel na een waar etniese en rasidentiteit nie meer voorop sou staan nie (sekerlik nie vir die wit minderheid nie) was Vrye Weekblad se vrae belangrik. So lui ’n voorbladopskrif: “Wit velle in Afrika: setlaars of wit Afrikane?” (Vrye Weekblad, 28 Augustus – 3 September 1992). Sommige voorblaaie het mites aangevat, soos die voorblad van 7 Desember 1990, wat die volgende opskrif gehad het: “Was Adam en Eva dalk swart?”

By geleentheid skryf Du Preez dat hy nie skaam is om Afrikaner of Boer genoem te word nie (Vrye Weekblad, 30 Mei – 6 Junie 1991:74), maar net ’n week later word hy deur sy kollega Jacques Pauw weerspreek. Hierdie debat het iets gesê van die dinamika in die redaksie, maar sekerlik ook van Du Preez se verbondenheid aan die mense waaruit hy gekom het (Vrey 2013:31–2; Pretorius en Froneman 2014). Hy was nie in terme van tradisionele vakkies te klassifiseer nie.

Du Preez skryf: “[D]ie apartheid-staat se sluipmoorde (het) al nader aan my gekom; ek wil amper sê my besigheid geword. En Vrye Weekblad s’n” (Du Preez 2005:66). Vrye Weekblad se mees opspraakwekkende berigte het dan ook gehandel oor die sogenaamde apartheidsmoordbendes, in die besonder die marteling van en moorde op anti-apartheidsaktiviste. Oudpolisieman Dirk Coetzee se onthullings is met groot prominensie gedra (Du Preez 2005:38–47; Vrey 2013:33–5). Daarmee het Vrye Weekblad sy betreklik klein leserskring met brutale realiteite gekonfronteer. Vermoedelik het Du Preez en sy span vir die bekeerdes gepreek, maar Vrye Weekblad se onthullings kon nie geïgnoreer word nie – sekerlik nie deur ander media nie. Vir Du Preez-hulle moes die misdrywe in die naam van apartheid eers volledig aan die kaak gestel word alvorens daar geregtigheid en vrede kon kom.

Vrye Weekblad het hom die argwaan van die regering op die hals gehaal en verskeie lastereise is teen die blad aanhangig gemaak (insluitende deur PW Botha). Genl Lothar Neethling se lastersaak was egter die laaste strooi. Nadat Vrye Weekblad sy saak met sukses in die Hooggeregshof verdedig het, het die Appèlhof téén die blad bevind en moes die blad die generaal R90 000 plus sy regskoste betaal (Du Preez 2003:224–31). Vrye Weekblad was bankrot en het op 2 Februarie 1994 noodgedwonge gesluit. Later het die volle waarheid uitgekom en is Vrye Weekblad in die gelyk gestel (Du Preez 2003:232).

Du Preez het daarna ’n effe stormagtige loopbaan by die SAUK gehad waar hy luisteraars en kykers soms met sy reguit benadering gekonfronteer het (Du Preez 2003:254–64) Hy was betrokke by programme soos Special assignment en die dekking van die Waarheid-en-Versoeningskommissie se sittings. Uiteindelik het sy kompromislose soeke na die waarheid die nuwe SAUK-bestuurders ongemaklik gelaat en is hy afgedank (Du Preez 2009:294–304).

Vandag is Max du Preez ’n gerespekteerde politieke kommentator en skrywer, en verskyn rubrieke deur hom op die webwerf News24, in Die Burger en ook in Beeld, die blad wat hy soveel jaar gelede om politieke redes verlaat het (Pretorius 2008:17–20; Retief 2015). Sy redakteurskap van Vrye Weekblad bly egter ’n hoogtepunt in sy loopbaan en sal altyd ’n belangrike komponent van sy joernalistieke bydrae wees.

  1. Samevattend

Die soeke na vrede, langs joernalistieke of ander weg, is ’n soeke na geregtigheid. En dit impliseer botsende belange, uiteenlopende metodes en wisselende mates van sukses. So was dit ook in die soeke na vrede-deur-geregtigheid deur die joernaliste Doret Jansen Frits Gaum, Willem de Klerk, Schalk Pienaar en Max du Preez.

Sowel Pienaar as Du Preez het die establishment met ’n kombinasie van agiterende kommentaar en ‘n robuuste aktualiteitsagenda aangevat. Waar Die Beeld egter as massakoerant sy politieke fokus met populistiese stof moes balanseer, het Vrye Weekblad sy lesers selde blaaskans gegee. Selfs wanneer kulturele kwessies aangeraak is, was daar ’n politieke dimensie. Die Beeld (en sy redakteur) was steeds met ’n naelstring aan party, volk en beleid verbind – al het Pienaar ’n bepaalde (“verkrampte”) interpretasie daarvan aktief beveg; Vrye Weekblad was inderdaad vryer van alle konvensies en lojaliteite, maar kon (soos Die Beeld) nie van finansiële beperkinge loskom nie. Vrye Weekblad het, anders as Die Beeld, ’n veel kleiner maar vrydenkende leserskorps gehad wat aan die redaksie ’n groter mate van vryheid gegee het. Ironies genoeg het albei koerante onder hartseer omstandighede gesluit: Vrye Weekblad het onder ’n berg skuld weggesink (maar darem met die wete dat die redaksie die beloofde land help skep het en dit op die horison kon waarneem); Die Beeld is opgeneem in ’n nuwe Sondagblad, Rapport. Enkele jare later het die gees van Die Beeld in die dagblad Beeld herrys, weer (vir ’n wyle) onder Schalk Pienaar se redakteurskap.

Willem de Klerk was veel minder betrokke by die dag-tot-dag-aktiwiteite van sy koerante, Die Transvaler en Rapport. Hy was primêr denker en versigtige soeker na maniere om apartheid tot ’n meer regverdige beleid te omvorm. As rubriekskrywer was hy sekerlik toonaangewend. Dat sy soeke na vrede-deur-geregtigheid as redakteur tekort geskiet het, het hy self later erken. Maar dit nivelleer nie sy bydrae as redakteur met ’n duidelik stem nie. In dieselfde asem kan na Frits Gaum verwys word. As Kerkbode-redakteur was hy versigtig, maar hy het nuwe weë geloop as kerklike joernalis en bedryfsleier. Hy het die media in die geheel as ‘n geleentheid gesien en nie as ’n bedreiging nie; hy het gestreef na uitnemendheid en sy stem as lojale, dog kritiese kerkmens laat hoor.

Die sagter toon van Gaum se joernalistiek word geëggo in Doret Jansen se werk by die Wes-Transvaal Rekord (en susterkoerante). Soos Gaum se Kerkbode debat aangemoedig het, het ook Jansen dit gedoen. Waar Gaum sterk hoofartikels geskryf het en buite die eng beperkinge van sy joernalistieke werk opgetree het, het ook Jansen sterk geskryf en in haar gemeenskap haar deel gedoen. Die kerklike gemeenskap was ’n ander groep as dié waarin Jansen gefunksioneer het, maar die een was seker nie “makliker” as die ander nie. Albei redakteurs was soekers na vrede, maar Gaum se blad kon noodwendig in ’n ander toonaard en diepgang met sy lesers kommunikeer. Jansen se blad moes ook maar berig oor die gewone weeklikse vreugdes en trane. Maar haar joernalistiek het by uitstek gestaan in die teken van ’n doelgerigte vredesjoernalistiek, iets wat sy in haar konteks kon en wou doen.

Bibliografie

Anon. 2002. Noordwes Rekord, 10–11 Oktober 2002.

Barnard, L en J Stemmet. 2004. ’n Lewe van sy eie: Die bibliografie van Volksblad. Kaapstad: Tafelberg.

Beeld, 30 Junie 1992.

Beeld, 13 April 1993.

Beeld, 15 April 1993.

Beeld, 8 Augustus 2009.

Beukes, WD (red). 1992. Oor grense heen: Op pad na ’n nasionale pers 1984–1990. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk.

Botha, A. 2012a. PW het twee keer vir my gelieg. Mediamense. http://mediamense.co.za/index.php?frontend_action=display_compound_text_content&item_id=2883 (18 Mei 2015 geraadpleeg).

—. 2012b. Waarom het Perskor verloor? Mediamense. http://mediamense.co.za/index.php?frontend_action=display_compound_text_content&item_id=2894 (18 Mei 2015 geraadpleeg).

. 2012c. Vreemde bedmaats by Perskor. Mediamense. http://mediamense.co.za/index.php?frontend_action=display_compound_text_content&item_id=2905 (18 Mei 2015 geraadpleeg).

Botma, GJ. 2014. Brothers in armchairs: Post-apartheid cultural struggles at Die Burger. Stellenbosch: Sun Press.

Cillié, PJ. 1980. Tydgenote. Kaapstad: Tafelberg.

De Beer, AS (red). 1998. Mass media: Toward the millennium. 2de uitgawe. Pretoria: JL van Schaik.

De Klerk, W. 1984. Die tweede (r)evolusie: Afrikanerdom en die identiteitskrisis. Johannesburg: Jonathan Ball Uitgewers.

De Kock, W. 1983. ’n Wyse van spreke. Kaapstad: Saayman & Weber.

De Villiers, DC. 1992. Die Beeld. In Beukes (red) 1992.

Diederichs, P en AS de Beer. 1998. The fourth estate: A cornerstone of democracy. In De Beer (red) 1996.

Diederichs, P. 2002. Ons sal jou mis ... Noordwes Rekord, 10–11 Oktober, bl 4.

Du Plessis, T. 2009. Verligte rebel in die binnekring. Beeld, 10 Augustus, bl 7.

Du Preez, M. 1985. Oranje blanje blues: ’n nostalgiese trip. Kaapstad: Zebra Press.

. 2003. Pale native: Memories of a renegade reporter. Kaapstad: Zebra Press.

. 2009. Dwars: Mymeringe van ’n gebleikte Afrikaan. Kaapstad: Zebra Press.

Erasmus, LJ. sj. ’n Volk staan op uit sy as: Verhaal van die Afrikaanse Pers (1962) Beperk. Johannesburg: Uitgewer nie vermeld nie.

Espag, K. 2002. Met trane groet ek, skryf vriendin. Noordwes Rekord,  10–11 Oktober, bl 4.

Froneman, JD. 2012. ’n Betekenisvolle redakteur. Mediamense.

http://mediamense.co.za/index.php?frontend_action=display_compound_text_content&item_id=2740 (25 Mei 2015 geraadpleeg.)

—. 2015. Die Kerkbode en die viering van Geloftedag, 1910–2010. Stellenbosch Teologiese Joernaal, 2015(1):125–50.

Gaum, F. 2004a. Op pad met God en mense. Kaapstad: Ex Animo.

. 2004b. “Fun to annoy people ...”? Kerkbode maak al 155 jaar lank rimpels ... Kerkbode Bylaag, 30 Januarie, bl 8.

. 2008a. Van Reenen, Rykie van der Byl. In Gaum, Boesak en Botha (2008).

. 2008b. Louw, Chris (“Boetman”). In Gaum, Boesak en Botha (2008).

—. 2010. Kerkbode ná 160 jaar. NGTT, 51:95–103. http://reference.sabinet.co.za/webx/access/electronic_journals/ngtt/ngtt_v51_supp1_a8.pdf (13 Mei 2015 geraadpleeg).

Gaum, F, A Boesak en W Botha. 2008. Christelike kern-ensiklopedie. Wellington: Lux Verbi. BM en Bybelkor.

Gibson, R. 2007. Final deadline: The last days of the Rand Daily Mail. Kaapstad: David Phillips.

Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners: ’n Bibliografie. Kaapstad: Tafelberg.

. 2012. Die laaste Afrikaner-leiers: ’n Opperste toets van mag. Kaapstad: Tafelberg.

Giliomee, H en H Adam. 1981. Afrikanermag: Opkoms en toekoms. Stellenbosch: Universiteitsuitgewers.

Heard, T. 1990. The Cape of storms: A personal history of the crisis in South Africa. Johannesburg: Ravan Press.

Heydenrych, H. 2015. Eugène N. Marais as redakteur van Land en Volk, 1890–1896. LitNet Akademies, 11(3):896–948.

http://www.litnet.co.za/assets//pdf/joernaaluitgawe_11_3/GW_14_Eugene_Marais_as_redakteur_van_Land_en_Volk_Heydenrych.pdf (13 Mei 2015 geraadpleeg).

Heyns, J. 1989. ’n Spieël en ’n venster. Die Kerkbode, 27 Januarie, bl 2.

Holtzapfel, J. 2016. Die Boer wat buite die boks dink. http://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/die-boer-wat-buite-die-boks-dink-20160730 (1 Augustus 2016 geraadpleeg).

Honiball, A. 2013. Vrye Weekblad: The context, cover agenda and framing of main themes (November 1988 – June 1989). Honneursskripsie, Noordwes-Universiteit.

Insig, Augustus 1987.

Kerkbode, 22 April 1987.

Kerkbode, 16 Februarie 1990.

Kerkbode, 16 November 1990.

Kerkbode, 6 Maart 1992.

König, A. 2006. Die groot geloofswoordeboek. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

Koppejan, FWT. 2005. De verzoeningsrol van drie Klerksdorpse kranten in de aanloop naar de Suid-Afrikaanse algemene verkiezing in 1994. MA-verhandeling, Noordwes-Universiteit.

Kruger, A. 2012. 29 jaar by die Paarl Post. Mediamense. http://mediamense.co.za/index.php?frontend_action=display_compound_text_content&item_id=2949. (25 Mei 2015 geraadpleeg).

Lentswe, 27 Augustus 1993.

Louw, C. 2001. Boetman en die swanesang van die verligtes. Kaapstad: Human & Rousseau.

Manoim, I. 1996. You have been warned. Londen: Viking.

Meiring, P. 2003. The Dutch Reformed Church and the Truth and Reconciliation Commission. Scriptura, 83:250–7. http://reference.sabinet.co.za/webx/access/electronic_journals/script/script_v83_a5.pdf

(13 Mei 2015 geraadpleeg).

. 2008a. Vredestaak van die kerk. In Gaum, Boesak en Botha (2008).

—. 2008b. Naudé, Christaan Frederik Beyers (Beyers). In Gaum, Boesak en

Botha (2008).

—. 2010. Sending en eenheid: ’n Perspektief vanuit die Ned Geref Kerk. Verbum et ecclesia, 12(2):292–306. http://www.ve.org.za/index.php/VE/article/view/1041 (13 Mei 2015 geraadpleeg).

Mervis, J. 1989. The fourth estate: A newspaper story. Johannesburg: Jonathan Ball.

Meyer, R en B Naudé. 1971. Geloftedag: Christusfees of Baälfees? Bylaag tot Pro Veritate, 15 Desember.

Monama, C. 2002. For her journalism was a calling. Noordwes Rekord, 10–11 Oktober, bl 4.

Mouton, A. 2002. Voorloper: Die lewe van Schalk Pienaar. Kaapstad: Tafelberg.

Mouton, FA. 2011. Prophet without honour. Pretoria: Protea Boekhuis.

Muller, P. 2007. Redakteursbrief. Insig, Junie/Julie, bl 13.

Naudé, B. 1995. My land van hoop. Kaapstad: Human & Rousseau.

Norton, CCA. 2013. Die konteks, voorbladagenda en raming van Vrye Weekblad tussen Julie 1989 tot Februarie 1990. Honneursskripsie, Noordwes-Universiteit.

Nürnberger, K, J Tooke en W Domeris. 1989. Conflict and the quest for justice. Pietermaritzburg: Encounter.

Olivier, A. 1998. Bode op die spoor van die word: 150 Jaar met Die Kerkbode. Kaapstad: Lux Verbi.

Pienaar, S. 1979. Getuie van groot tye. Kaapstad: Tafelberg.

Pretorius, C en JD Froneman. 2014. Max du Preez’s Vrye Weekblad and the redefining of the Boer-Afrikaner identity. Referaat aangebied by Sacomm-konferensie, Oktober 2014, Potchefstroom.

Pretorius, L. 2008. Maverick Max. The Media, September, bl 17.

Rabe, L. 2011. Rykie: ’n Lewe met woorde. Kaapstad: Tafelberg.

Rabe, L (red). 2007. Ton van ’n man. Kaapstad: NB Uitgewers.

Rapport, 4 Augustus 1985.

Retief, H. 2015. “Minder baklei, meer lief wees”. Rapport Weekliks, 25 Januarie.

Richard, D. 1986. Tussen bid en droom: ’n Koerantman het albei nodig. Pretoria: Constantia.

Rosenfeld, A. 2002. Reporting on the state of emergency in Die Kerkbode, 1985–1990. Google Books. http://books.google.co.za/books?hl=en&lr=&id=hnTvMmD1UsEC&oi=fnd&pg=PA193&dq=Gaum+Kerkbode&ots=q6QpWyyPfa&sig=oV0UU8bjovdeRdEkLSItDNF1vAs#v=onepage&q=Gaum%20Kerkbode&f=false (13 Mei 2015 geraadpleeg).

Rousseau, L. 1984. Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N Marais. 3de uitgawe. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

Schoeman, BM. 1973. Van Malan tot Verwoerd. Kaapstad: Human & Rousseau.

. 1974. Vorster se 1000 dae. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

Scholtz, JJJ. 1992a. Rapport. In Beukes (red) 1992.

. 1992b. Sirkulasiestryd. In Beukes (red) 1992.

Scholtz, JJJ, T du Plessis en AS de Beer. 1992. Beeld. In Beukes (red) 1992.

Serfontein, JHP. 1970. Die verkrampte aanslag. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

. 1979. Brotherhood of power: An exposé of the secret Afrikaner broederbond. Londen: Rex Collings.

Shaw, G. 1999. The Cape Times: An informational history. Kaapstad: David Phillips.

Spangenberg, IJJ. 2004. Om oor God te praat: ’n Kritiese oorsig van gesprekke onder Afrikaanssprekende Christene van die gereformeerde tradisie (1998–2003). Verbum et ecclesia, 25(1):274–93 http://reference.sabinet.co.za/sa_epublication_article/verbum_v25_n1_a15 (13 Mei 2015 geraadpleeg).

Sparks, A. 1990. The mind of South Africa: The story of the rise and fall of apartheid. Londen: Mandarin.

Steyn, JC. 2002. Penvegter: Piet Cillié van Die Burger. Kaapstad: Tafelberg.

Thesnaar, C. 2013. Reformed Churches struggle for justice: Lessons learnt from their submissions before the TRC: the Reformed Churches in South Africa and the struggle for justice: remembering 1960–1990. NGTT, 54(3/4):54–66. http://reference.sabinet.co.za/sa_epublication_article/ngtt_v54_n3_4_a5 (13 Mei 2015 geraadpleeg).

Tomaselli, K, R Tomaselli en J Muller. 1987. Narrating the crises: Hegemony and the South African press. Johannesburg: Richard Lyon & Co.

Tyson, H. 1987. Conflict and the press. Johannesburg: Argus.

. 1993. Editors under fire. Kaapstad: Random House.

Van Deventer, H. 1998. Kroniek van ’n koerantsman: ’n Persoonlike perspektief op die jare ná 80. Welgemoed: Tarlehoet BK.

. 2003. In kamera. Pretoria: Protea Boekhuis.

Van Vlastuin, E en JD Froneman. 1999. Die hantering van eties sensitiewe kwessies deur Beeld, Rapport en Die Kerkbode. Ecquid Novi, 21:1.

Van Wyk, JH. 2008. Vrede. In Gaum, Boesak en Botha (2008).

Venter, I. 2007. Redakteursbrief. Insig, Junie/Julie, bl 6.

Vrey, M. 2013. Die konteks, voorbladagenda en raming van Vrye Weekblad tussen November 1990 en Junie 1991. Honneursskripsie, Noordwes-Universiteit.

Vrye Weekblad, 30 Mei – 6 Junie 1991.

Vrye Weekblad, 28 Augustus – 3 September 1992.

Weise, W. 2002. The DRC’s role in the context of transition in South Africa. Google Books. http://books.google.co.za/books?hl=en&lr=&id=hnTvMmD1UsEC&oi=fnd&pg=PA13&dq=Frits+Gaum+Kerkbode&ots=q6QpWyyIh7&sig=8vndY8AVRX93IBwBRqywPHk1cbA#v=onepage&q=Frits%20Gaum%20Kerkbode&f=false (13 Mei 2015 geraadpleeg).

[i]  Later bloot Transvaler genoem.

[ii]  Later bloot Kerkbode genoem.

[iii]  Later hernoem na Noordwes Rekord.

[iv]  Later bloot Vaderland genoem.

[v] Skuilnaam van Die Burger se redakteur; in daardie stadium Piet Cillié.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Estelle Kruger

    Wat 'n voorreg en inspirasie was dit om in Willem de Klerk se klasse te wees, voorgraads in Filosofie sowel as nagraads in Sielkunde honneurs by PU vir CHO.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top