Jan Smuts, 1870–1950: ’n fotobiografie
Samesteller: Anton Joubert
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485302742
’n Generasie of drie gelede sou hierdie ’n ondenkbare gedagte gewees het: die bakkies van Slim Jannie wat op koffietafels in Afrikaanse huise pronk. Na Uniewording in 1910 het Jan Smuts se heldebeeld as Boeregeneraal en onderhandelaar van die Vrede van Vereniging gou onder Afrikaners gekwyn. Sy noue bande met die Britse Ryk en idees rondom Suid-Afrikaanse nasionalisme het hom in groot onguns gebring. Dis versnel deur sy hardhandige optrede teen 1914-Afrikaner-rebelle en die 1922-stakers aan die Rand. In die aanloop tot die 1948-verkiesing is eerste minister Smuts deur Afrikaner-nasionaliste as handlanger van die Empaaier en anti-Afrikaner uitgebeeld. Na sy dood in 1950 het die herinnering van Smuts onder Afrikaner-nasionalistiese bewind vervaag.
...........
Smuts se lewe is inderdaad oor die jare heen deur joernaliste, historici, en veral aanhangers in oënskou geneem. Daar is baie oor sy lewe geskryf, maar verbasend genoeg weinig oorspronklike en kritiese werke.
.............
In die voorwoord van Jan Smuts, 1870—1950: ’n Fotobiografie (2023) skryf die geskiedkundige Fransjohan Pretorius dat hierdie visuele werk oor Smuts se lewe daarop dui dat “die ritme van geskiedskrywing en die belangstelling daarin byna sikliese vorm aanneem” (7). Smuts se lewe is inderdaad oor die jare heen deur joernaliste, historici, en veral aanhangers in oënskou geneem. Daar is baie oor sy lewe geskryf, maar verbasend genoeg weinig oorspronklike en kritiese werke. Die vroegste biografiese werke, in Smuts se leeftyd gepubliseer, was hagiografies van aard met twyfelagtige metodologieë en herhalende tendense. Na meer as ’n dekade na sy dood het Keith Hancock se twee volumes – Smuts: The sanguine years, 1870–1919 (1962) en Smuts: The field of force, 1919–1950 (1968) – ’n redelike, professionele, en goed nagevorste weergawe van Smuts se lewe gebied. Werke wat daarop gevolg het, ly aan beperkte oorspronklikheid en selde is daar met diep argivale navorsing omgegaan. Dieselfde geld vir Richard Steyn se meer onlangse werke oor Smuts wat gemik was op toeganklikheid, maar met skrapse akademiese onderbou.[i]
Die vraag is dan waar hierdie fotobiografie inpas, veral as Pretorius se bewering reg is dat dit ’n “waardige bydrae tot die Smuts-literatuur” is. Jan Smuts, 1870–1950: ’n Fotobiografie moet uiteraard nie as ’n volledige biografiese werk beskou word nie. Dit is ’n versameling foto’s, saamgestel deur die afgetrede elektroniese ingenieur Anton Joubert en gee ’n chronologiese visuele uitdrukking aan Smuts se lewe. Die verhaal van hierdie besonderse lewe word in vyf hoofstukke opgedeel, elk met ’n inleidende biografiese skets, waarvan die meeste bladsye afgestaan word aan Smuts se rol tydens die Tweede Wêreldoorlog. Ooglopend met die deurblaai van die boek is die beeld van Smuts as militaris, staatsman, wêreldburger en akademikus. Tussen foto’s deur van Smuts en groot gebeure, onder andere die Nasionale Konvensie van 1908 (23), oorlogkonferensies van beide Wêreldoorloë (37; 78), die stigting van die Verenigde Volke-organisasie (VVO) (nou die Verenigde Nasies (VN)), in 1945 (106–7), en sy inhuldiging as kanselier van die Cambridge-universiteit in 1948 (120–1), sien ons ook iets van sy persoonlike lewe deurskyn. Smuts as natuurliefhebber, eggenoot, pa en oupa maak hier en daar ’n verskyning. Die onpretensieuse Isie Smuts is deurgaans ’n hoogtepunt, veral met haar breiery tussen hooggeagte geselskap (92)!
...........
Die uiteinde is ’n statige boek oor ’n statige staatsman. Daar blyk, soos ’n menigte vorige werke oor Smuts, niks nuut te wees aan hierdie versameling foto’s nie, asook geen afwykings in bestaande interpretasies van Smuts nie.
.............
Die uiteinde is ’n statige boek oor ’n statige staatsman. Daar blyk, soos ’n menigte vorige werke oor Smuts, niks nuut te wees aan hierdie versameling foto’s nie, asook geen afwykings in bestaande interpretasies van Smuts nie. “Ondanks sy foute en tekortkominge,” sluit Joubert die laaste hoofstuk af, “was Smuts ’n invloed-ryke, visionêre voorloper, medestigter van twee wêreld-organisasies van die twintigste eeu en 'n belangrike rolspeler as Suid-Afrikaanse leier en 'n wêreldleier van sy tyd” (111). Tog word daar weinige kritiek gelewer op hierdie sogenaamde “foute en tekortkominge”. Trouens, hierdie werk is ’n onkritiese, amper hagiografiese uitbeelding van sy lewe.
...........
Die skreiende ironie byvoorbeeld, dat Smuts op wêreldverhoë kon praat oor demokrasie en vryheid, maar tuis wit oppergesag en rassediskriminasie gehandhaaf het, word verdoesel.
.............
Die skreiende ironie byvoorbeeld, dat Smuts op wêreldverhoë kon praat oor demokrasie en vryheid, maar tuis wit oppergesag en rassediskriminasie gehandhaaf het, word verdoesel. Vae verwysings na “rassebeleid”, “kleurbeleid”, en ewe eufemisties, “rasgeskille” word hier en daar genoem sonder om werklik rekening te hou met Smuts se rassisme. Op bladsy 117 pronk ’n foto waar Smuts diep aan’t gesels is met die ANC-leier Albert Luthuli in 1947, terwyl daar geen melding gemaak word daarvan dat dié party, nes Smuts, die Versailles-vredeskonferensie in 1919 bygewoon het waar hulle hulle tevergeefs uitgespreek het teen die diskriminerende wette teen swart mense onder die Unie-regering nie. Verder word die feit geïgnoreer dat dit onder Smuts se regering was, eers tussen 1910 en 1924 en daarna tussen 1933 en 1948, dat die wit minderheidsregime segregasiewetgewing afgedwing het op die meerderheid Suid-Afrikaners as ’n manier om goedkoop swart arbeid te verseker. Smuts se aandadigheid aan die slagting by Bulhoek in 1921 en die bombardering van Namibiese Khoekhoe die jaar daarna word ook onvermeld gelaat. Geresperkteerde werk oor Smuts en ras deur onder andere Noel Garson, Saul Dubow en Shula Marks word geïgnoreer.
.............
Die glansblaaie van hierdie fotobiografie bied dan ook net dit: die glanskant van Smuts. Die publikasie is ’n voortsetting van vroeëre Smuts-fotobiografieë (volgens Pretorius “puik voorgangers”) wat die geskiedkundige Martin Legassick tereg opsom as “koffietafelboeke vir nostalgiese witmense, [en] nie ernstige geskiedenis nie, wat 'n ou Verenigde Party-mite weerspieël van Smuts [as die liberale visionêre voorloper] wat poog om opgeknap te word vir die nuwe Suid Afrika.
...............
Die glansblaaie van hierdie fotobiografie bied dan ook net dit: die glanskant van Smuts. Die publikasie is ’n voortsetting van vroeëre Smuts-fotobiografieë (volgens Pretorius “puik voorgangers”) wat die geskiedkundige Martin Legassick tereg opsom as “koffietafelboeke vir nostalgiese witmense, [en] nie ernstige geskiedenis nie, wat 'n ou Verenigde Party-mite weerspieël van Smuts [as die liberale visionêre voorloper] wat poog om opgeknap te word vir die nuwe Suid Afrika.”[ii] Hierdie is nie, soos Pretorius se voorwoord verklaar, ’n boek wat Smuts “onder die leeslamp van vandag se leser” plaas nie. Dit is ’n boek vir gister se lesers wat hulle onder ’n dowwe lig wíl blind staar vir ’n verhaal van wit weleer.
[i] Sien Du Pisani, K. 2016. The Smuts biographies: analysis and historiographical assessment. South African Historical Journal, 68(3):437–463; Ahnie, G. 2018. Retelling “the same old stories in books with brand-new covers”: three more biographical studies on Jan Smuts. African Historical Review, 50(1–2):151–8.
[ii] Lagassick, M. 1995. Reviewed work(s): Jan Smuts: an illustrated biography by Trewhella Cameron: The religious Smuts by Piet Beukes. Kronos, 22:141–3.
Lees ook:
Jan Smuts: Afrikaner sonder grense by Richard Steyn – a book review